Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 22 April 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

In die nuus vandag:

HELP DIE SARL OM DIE ROEPSEINBOEK OP DATUM TE KRY

VOLGENDE INTEGNET BIED ‘N BESPREKING OOR DIE OOS-KAAPSE HERHALERNETWERK

SUIDER-AFRIKAANSE DX-OPNAME

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

HELP DIE SARL OM DIE ROEPSEINBOEK OP DATUM TE KRY

‘n Roepseinboek is slegs so goed as die korrektheid van die inskrywings. SARL-lede word uitgenooi om inskrywings na te gaan en opdaterings aan die SARL se kantoor te stuur.

Gaan asb. die inskrywings vir u gebied na met gebruik van die beskikbare gevorderde fasiliteite by www.sarl.org.za. Met gebruik van die fasiliteite kan ‘n lid al die roepseine in ‘n dorp, of in ‘n poskodegebied, of net in ‘n gedeelte daarvan, oproep.

Byvoorbeeld, indien u die besonderhede van al die amateurs in Oos London wil sien, gebruik die soekopsie “Poskode” en tik in “52”, dit sal al die roepseine vertoon waar die QSL-inligting met 52 begin. Soortgelyk, as “00” ingetik word, sal al die inskrywings in die poskodegebied 00, wat Pretoria en omliggende gebiede insluit, vertoon word.

Deur van so ‘n lys name en roepseine gebruik te maak, help asb. om stil sleutels, wat nie aan die SARL of OKOSA gerapporteer is nie, te identifiseer. Indien u inligting het oor enige sulke persone, of ander wat weggetrek het, en nie langer hulle Suid-Afrikaanse roepseine het nie, laat asb. die kantoor van die SARL weet.

Die kantoor se faksnommer is 088 011 675 2793, of u kan e-pos stuur aan Vee Antal met e-posadres admin@sarl.org.za.

Nie-SARL-lede kan ongelukkig nie die gevorderde fasiliteite gebruik nie, maar hulle kan hul eie roepseine nagaan en enige verbeterings laat aanbring deur ‘n faks of e-pos soos in die vorige paragraaf aangedui, te stuur. Dit is dalk nou die regte tyd om aan te sluit.

Onthou die SARL maak staat op alle amateurs om die roepseinboekdata korrek te hou. Wanneer het u laas u inskrywing nagegaan? Die SARL se roepseinboek word deur uitgewers van internasionale roepseinboeke en webnaslaanfasiliteite gebruik. Dit is daarom in u eie belang om te verseker dat u eie inligting op datum is.

Bo en behalwe die normale QSL-inligting wat jy verwag om in enige roepseinboek te sien, het jy geweet dat:
- Jy kan sien of ’n roepsein op APRS aktief is, en dat jy selfs sy laaste gerapporteerde ligging kan sien sowel as enige van sy SSIDsse?
- Jy kan sien hoeveel QSO’s deur hierdie persoon bevestig is met gebruik van die SARL se QSL-stelsel?
- Dat jy kan sien of jy voorheen met hierdie stasie ’n QSO gehad het, en bevestig is dmv. die SA-QSL-stelsel?
- Jy ’n foto van hierdie persoon kan sien?
- Jy sy ruitverwysing kan sien, indien dit gelys is, en, indien wel, jy ook ’n Google Earth tipe kaart kan sien van die gebied waar die stasie geleë is? In geval van stadsgebiede kan hierdie kaarte ook vergroot word tot waar jy die geparkeerde moter in die toegangspad kan sien.
- Jy ook hierdie kaart kan gebruik om jou eie QTH se posisie tot binne ‘n paar meter vas te stel?
- Jy kan sien of hierdie persoon ‘n SARL-lid is en daarom deur die liga se QSL-buro bereikbaar is?

VOLGENDE INTEGNET BIED ‘N BESPREKING OOR DIE OOS-KAAPSE HERHALERNETWERK

Die volgende Integnet vind op Sondagaand 6 Mei plaas met Chris Scarr, ZS2AAW, as die geleentheidspreker. Chris sal die konsep agter die Oos-Kaapse herhalernetwerk bespreek wat nou van die Kaap tot so ver as Bloemfontein strek. Hy sal ook van die nuwe idees meedeel wat hy vir die netwerk in gedagte het.

Die Presidentsnet sal die Integnet om 19:00 voorafgaan. Graham Hartlett sal luisteraars op datum bring aangaande verskeie wenke wat tydens die onlangse AJV aan die hand gedoen is en implementeringstrategieë toelig wat tydens die eerste raadsvergadering die week voor die net bespreek gaan word. Integnet volg om 20:00 na die Presidentsnet. Klubs word aangemoedig om hulle lokale herhaler aan die konferensienet te koppel. Stuur besonderhede van die landlyn wat gekoppel moet word aan armi@sarl.org.za.

SARL-KANTOOR FAKSFASILITEIT

Die SARL-kantoor is toegerus met ‘n faksposstelsel om fakse te ontvang. Dit bied die fasiliteit om fakse onder raadslede vir hulle aandag te versprei. Dit is daarom belangrik dat die volledige faksnommer 088 011 675 2793 gebruik word; en gebruik slegs hierdie nommer in die toekoms.

ZR’re en ZU’s GENIET MEER VOORDELE AS HUL VSA-EWEKNIEë

Tegnikusklaslisensiehouers in die VSA, aan wie op 22 Februarie vanjaar ekstra voorregte toegeken is, is steeds nie toegelaat om spraak op enige frekwensie laer as hulle toekenning in die 10 m band te gebruik nie.

Benewens alle amateurradiobedryfsvoorregte bokant 50 MHz, het Tegnikusklasamateurs, wat nooit ‘n morsekodetoets geslaag het nie, nou GG-voorregte in sekere gedeeltes van 80, 40 en 15 m plus nuwe GG-, RTD-, data- en ESB-voorregte in sekere segmente van die 10 m band.

Te danke aan die inset deur die SARL en sy lede, het amateurs in Suid-Afrika, wat lisensies hou gelykstaande aan die VSA se Tegnikusklaslisensie, vir die afgelope twee jaar byna soortgelyke voorregte as die ZS-lisensiehouers. Selfs die onlangs veranderde ZU-klas lisensie het meer foonvoorregte.

Dit is stof tot nadenke terwyl jy nog twyfel of jy die stap moet doen om ’n ligalid te word.

KOMPETISIENUUS

SUIDER-AFRIKAANSE DX-OPNAME

Watter DX-entiteite word die meeste gesoek deur Suider-Afrikaanse radioamateurs? Hoe lyk die "most wanted" lys vir Suider-Afrika? Dennis, ZS4BS, het 'n MS-Excel-dokument geskep met die 2007 DXCC-lys en daar is plek waar jy kan aandui watter DXCC-entiteite jy benodig op GG-, foon- en digitale modusse (RTD, PSK, ens). Die dokument kan van Dennis zs4bs@netactive.co.za aangevra word, of jy kan dit vanaf die SARL se webwerf www.sarl.org.za aflaai. Die sluitingsdatum vir die opname is 30 Junie 2007.

PEARS DIGITALE EN MIKROGOLFKOMPETISIE

Die Port Elizabeth ARV het die SARL se kompetisiebestuurder ingelig dat hulle besluit het om die PEARS Digitale en Mikrogolfkompetisie te skraap. Vir die afgelope twee jaar was daar geen deelnemers nie.

KLUBNUUS

NUWE KLUB

‘n Nuwe klub, die Laeveld Amateurradioklub, is onlangs in Nelspruit, Mpumalanga, gestig met die volgende lede op die bestuurskomitee:
Voorsitter, Piet Badenhorst, ZS6PJB;
Visevoorsitter, Henri Steyl, ZS6ST;
RAE, Helgi Braithwaite, ZS6HB;
Herhalers en Tegnies, Nic Cronje, ZS6WW.

Die klub het ‘n nuwe TAIT-herhaler op 145,625 MHz opgerig wat dekking in die Nelspruit-, Witrivier- en Sabiegebiede, sowel as gedeelte van die N4 hoofpad bied.

Die klub eksperimenteer ook met APRS en UI VIEW, en het ‘n IRLP-nodus deurlopend aan die gang.

Veels geluk met die inisiatief in die laeveld, mag die klub van krag tot krag gaan.

KALAHARI-KAROO-AKTIWITEITE

Die langnaweek van 27 April tot 1 Mei gaan 'n baie besige tyd in Afdeling 3 wees. Die Kalahari-Karoo Amateurradioklub berig dat die volgende aktiwiteite almal dan gaan plaasvind:

Die Land Cruiserklub van SA (LCCSA) hou 'n saamtrek by Boegoebergdam. Carel, ZS3OBE, gaan 'n opvoedkundige stasie, ZS3FLY, daar bedryf om die LCCSA-lede se belangstelling in amateurradio te prikkel, en sodoende van die lede te kry om die RAE te skryf. Na wat verneem word is daar 5 of 6 nuwe ZU-amateurs onder die deelnemers.

Die Voortrekkers hou 'n "Vasbytkamp” in die Lohatla Weermagopleidinggebied. Gerhard, ZS3TG, Daniël, ZS3DS, en Piet, ZS3DI, sal sal 'n opvoedkundige veldstasie as ZS3ARK van Lohatla af bedryf om blootstelling aan hierdie jeugdiges te gee. Hulle sal hoofsaaklik op 40, 80 en bietjie op 2 m wees. QTH sal hoofsaaklik KG11nv wees. Hulle sal aktief wees vanaf Saterdag 28 tot Maandag 30 April.

Die Adventure Radio Club besoek ook Afdeling 3. Hulle gaan op Verneukpan kampeer met hul veldstasie ZS3ARC.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal wissel van onrustige tot hoë stormvlakke gedurende 28 tot 29 April. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m en 15 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m openinge vanaf 08:00 en weer om 13:00 SAT na Indië. Na Australië toe gaan die toestande uitdagend wees. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 10, 15 en 20 m openinge na Europa. Kontakte met die Verenigde State gaan baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Alhoewel die toestande nie juis opwindend is nie, kan HF jou nog steeds altyd verras. Skakel jou stel aan, luister en roep CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

sDAGBOEK VAN GEBEURE

27 April tot 1 Mei – ZS3FLY met die Land Cruiser Club by Boegeoebergdam op die lug asook ZS1 Amateur Radio Club vanuit Verneukpan;
28 tot 30 April – ZS3ARK met die Voortrekkers by Lohatla aktief;
5 Mei – Kaapstad ARS snuffelmark asook die Wesrand Radioklub se snuffelmark;
6 Mei – Presidentsnet en Integnet;
30 Junie – Sluitingsdatum vir SA-DX-opname.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en vertaal is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003