Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 27 MEI 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied en 145,7875 en 438,850 MHz in die Johannesburggebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat SA AMSAT gehoor het van die afsterwe van Garth Milne, ZR1AHF, verlede Vrydag, na ’n kort siekbed. Garth het aan Suid-Afrikaners die eerste satelliet, Sunsat, gegee en was grootliks verantwoordelik dat ’n amateurradiodrapak op Sumbandilasat geplaas is. Hy was ’n ware pionier in tegnologie. Sy sleutel het stil geword maar sy bydrae aan wetenskap en tegnologie sal lank onthou word. Ons gedagtes en simpatie gaan aan sy eggenote, ander familie en vriende. ‘n Herdenkingsdiens word Maandag 28 Mei om 14:30 in die Welgelegen NG-kerk in Dalsig, Stellenbosch, gehou.

(POUSE)

In die nuus vandag:

ALLE PAAIE LEI VOLGENDE SATERDAG NA STELLENBOSCH

KANDIDATE DOEN GOED IN DIE MEI-RADIOAMATEURSEKSAMENS

SLUIT VANAAND BY DIE PRESIDENTSNET EN INTEGNET AAN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

ALLE PAAIE LEI VOLGENDE SATERDAG NA STELLENBOSCH

’n Opwindende dag wag op die Weskaap se radioamateurs wanneer die SARL se Radiotegnologiegeleentheid plaasvind op Saterdag 2 Junie 2007 aan die Universiteit van Stellenbosch. Die geleentheid vind plaas by die Departement van Elektriese en Elektroniese ingenieurswese in lesingsaal 203 van die Elektroniese ingenieurswesegebou. Die koste is R20 per persoon en sluit inskrywing vir die bywoningsprystrekking in. Studente en leerders het gratis toegang. Die dag sal geopen word deur Prof. Christo Viljoen.

Lesings en demonstrasies sluit die volgende in:

Die geheim van die padda se been – die storie van die uitvindng van die battery. Hierdie is ’n baie populêre lesing met demonstrasies van hoe die battery wat ons vandag ken, ontwikkel het.

Navorsing in ionosferiese radiovoortplanting – Suid-Afrika is in die voorpunt van navorsing in hierdie gebied. Die lesing sal die werk wat by die Hermanus Magnetiese Observatorium gedoen word, uitlig.

Kognitiewe radio, ’n ontluikende tegnologie wat dalk ’n meer intelligente gebruik van die beskikbare radiospektrum sal maak.

Outomatiese Posisierapporterende Sisteem of te wel APRS, ’n sisteem wat gebruik maak van amateurradio om verslae oor posisie, weerverslae en boodskappe tussen gebruikers. ’n Lewende demonstrasie sal gedurende die aanbieding gedoen word.

BACAR 2007, ’n Nuwe benadering aan die aanbieding van amateurradio by skole en ’n pretprojek vir klubs waar gebruik gemaak word van partytjieballonne om ’n miniatuursatelliet te lanseer. BACAR is die akroniem van “Balloon Carrying Amateur Radio”.

Die volle program is beskikbaar op www.sarl.org.za en klik op “Radio Technology in Action”.

KANDIDATE DOEN GOED IN DIE MEI-RADIOAMATEURSEKSAMENS

Uitstekende resultate in Mei se radioamateurseksamen behaal. Van die 65 kandidate wat die A-klaseksamen geskryf het, het 57 geslaag, wat die slaagsyfer op 87,7% plaas. 26 van die 31 kandidate wat die klas B-eksamen geskryf het, het geslaag het ’n slaagsyfer van 86,7% behaal. Hierdie was die eerste eksamen waar kandidate wat die klas A eksamen geskryf het ook die klas B eksamen kon skryf indien hulle gevoel het dat hulle nie die klas A eksamen geslaag het nie. Van die 9 kandidate wat die klas A eksamen gedruip het, het 8 ook die klas B eksamen geskryf van wie 5 wel geslaag het.

Die hoogste punte, 98%, in die klas A eksamen is deur twee kandidate behaal. Gelukwense gaan aan L Kreideman, ZS1LEO, en Me L Fitchat, ZS6LIZ.

Die hoogste punt in die klas B eksamen was 93%. Gelukwense aan D G Jackman, ZU6DG, en H D Steyn, ZU6SAP.

Die oudste persoon wat die A klaseksamen geskryf het was 73 jaar oud en die jongste 14. Die jongste kandidaat in die B klaseksamen was 13.

Die SARL wens al die suksesvolle kandidate geluk en hoop dat hulle gou amateurradio op die lug sal geniet. Indien u dit nie gemaak het nie, moenie opgee nie, studeer nog meer en skryf die volgende klas A eksamen wat op 18 Oktober gehou sal word of die klas B eksamen op 2 Augustus 2007. alle uitslae is op www.sarl.org.za beskikbaar.

SLUIT VANAAND AAN BY DIE PRESIDENTSNET EN INTEGNET

Sluit vanaand (Sondag 27 Mei 2007) by SARL president, Graham Hartlett, om 19:00 aan wanneer hy party van die verwikkelings in KLT sal bespreek. Die gasspreker op Integnet, wat om 20:00 begin, is Dick Stratford, ZS6RO, wat oor APRS sal praat en vrae asl beantwoord oor hoe om daarby betrokke te raak. Sy bespreking word ondersteun deur ’n PowerPointaanbieding wat beskikbaar is op www.sarl.org.za en klik op ARMI om die koppeling te sien. Die voordrag is in PDF-formaat vir maklike aflaai.

Klubs wat wens om hul herhaler aan die net te koppel word genooi om besonderhede aan armi@sarl.org.za te stuur. Beide programme word op internet en echolink gestroom. Die koppelings kan op die SARL-web onder ARMI gevind word.

DIE TRUST NOOI JOU UIT OM AAN DIE KONSTRUKSIEKOMPETISIE DEEL TE NEEM

Is jy in jou hart ’n bouer? Waarom nie inskryf vir die 2007 konstruksiekompetisie nie? Dit is ’n ope kompetisie wat beteken dat jy jou gunstelingprojek kan inskryf. Daar is twee Yaseu BHF-send/ontvangers op die spel wat deur Versay geborg word asook ’n aantal 2007 ARRL-jaarboeke. Volledige inligting van hoe om in te skryf is op www.amateurradio.org.za te vinde.

BESPREEK ’N TYDGLEUF VIR JOU GROEP OM MET MARK SHUTTLEWORTH TE PRAAT TYDENS DIE SARL-JEUGDAGGELEENTHEID

Om seker te maak dat die groep jongmense wat deur jou en jou klub as gaste op Jeugdag, 16 Junie met Mark Shuttleworth sal kan praat moet jy nou ’n tydgleuf bespreek. Tydgleuwe word op ’n eerstekombasis toegeken en sal wissel tussen 5 en 15 minute, afhangende van die grootte van jou byeenkoms. Mark sal beskikbaar wees tussen 10:00 en 11:30.

Om tydgleuwe te bespreek stuur ’n e-pos aan armi@sarl.org.za met die volgende inligting: Groep/Klub waar die byeenkoms gehou sal word en hoe jy beplan om aan die net te koppel. Dit word beplan om die normale President-/Integnetkoppelings te gebruik. Hoeveel jongmense verwag jy? Wie is jou skakelbeampte en sy/haar kontakbesonderhede? ’n Gedetailleerde gids sal ’n week voor die geleentheid aan die skakelbeampte gepos word.

Moet nie uitstel nie. Doen dit nou of jy of jou klub mag dalk die geleentheid misloop.

KLUBNUUS

APRS-BELANGSTELLINGSGROEPVERGADERING

Verskoning word gemaak aan lede wat gereis het om die APRS-belangstellingsgroep se vergadering op 19 Mei 2007 by te woon. Die vergadering is op kort kennisgewing gekanselleer en nie almal kon bereik word om daaroor ingelig te word nie. ’n Nuwe datum is nog nie vasgestel nie.

DURBAN AMATEURRADIOKLUB SE AJV

By die onlangs gehoue AJV van die Durban Radioamateurradioklub is die volgende komitee verkies:

Voorsitter Louis de Bruin ZS5LP;
Ondervoorsitter Dave Long ZS5FR;
Sekretaris Laurie Devereux ZS5DL;
Tesourier Louis de Bruin ZS5LP;
Lede Dave Smith ZS5LPT;
Danny Giraud ZS5DG;
Glen Duffy ZS5GD;
Neal Slogrove ZR5NAS.

Ons wens die nuwe lede voorspoed toe en bedank die uittredende komitee vir hul harde werk.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal wissel van stil tot onrustige vlakke gedurende 3 tot 4 Junie. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m en 15 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Na Australië toe kan 40 m om 20:00 oopmaak. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m openinge na Europa. Kontakte met die Verenigde State gaan baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste kan dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Alhoewel die DX-toestande tans nie te opwindend is nie, is dit nou die beste tyd om saans 80 m kontakte vir jou 80 m WAZS te maak. Onthou dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vanaand 27 Mei – Presidentsnet en Integnet;
16 Junie - SARL-Jeugdag;
30 Junie - Sluitingsdatum vir SA-DX-opname;
2 Augustus – Klas B RAE;
18 Oktober – Klas A RAE.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003