Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 08 Julie 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).


STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:

Llew Strydom, ZSL-0062, op 15 Junie 2007. Ons innige meegevoel aan sy gade, Pat, ander familie en vriende.

Ossie Osborne, ZS1KP, se sleutel het op Vrydag 6 Julie stil geraak. Aan sy familie en vriende ook ons innige simpatie.

(POUSE)

SPESIALE AANKONDIGING

Dit blyk dat die SARL-web probleme ondervind met die aanname en aanstuur van nuusberigte vir die bulletin en dit is moontlik waarom daar geen berigte van klubs in hierdie bulletin ingesluit is nie. Ons maak verskoning vir die ongerief. Ons vertrou dat die webmeester spoedig die probleem sal oorkom en dat nuusberigte weer glad sal vloei.

In die nuus vandag:

SARL KONDIG ‘N VERMINDERING VAN RAE-FOOIE AAN

MEER VIR LEDE

ITCHEN VALLEY RADIOKLUB BEURSE TOEGEKEN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en en ander belangrike en interresante nuusitems.

SARL KONDIG ‘N VERMINDERING VAN RAE-FOOIE AAN

Gedurende laas Sondag se Presidentsnet het die SARL-President, Graham Hartlett, ’n beduidende vermindering van die RAE-fooie aangekondig. Die vermindering is moontlik gemaak deur OKOSA se instemming dat die SARL, as nasionale liggam vir Amateurradio, gemagtig word om voortaan RAE-sertifikate uit te reik. Die RAE-fooie vir beide die Klas A en Klas B eksamen sal van nou af R300 beloop. Daar is ’n adisionele vermindering vir studente onder 25 jaar mits hulle kan bewys dat hulle voltydse studente of skoliere is. Hulle fooie sal R200 wees. Die fooi sluit in een hereksamen indien die kandidaat nie die eerste keer slaag nie, geen terugbetalings sal gemaak word nie.

Die eksamenregistrasieproses is ook gestroomlyn. Kandiddate kan nou die nodige vorms van die SARL-webwerf aflaai of van die SARL se kantooradministrateur aanvra en na voltooiing dit aand die SARL faks of pos. Dit is belangrik dat die kandidaat die kontrolelys sorgvuldig nagaan om te verseker dat alle vereiste dokumentasie ingedien is. Sodoende kan onnodige vertragings vermy word.

Die SARL werk tans met OKOSA om die RAE-sertifikaat met die HAREC-sertifikaat te kombineer soos in die regulasies gespesifiseer. Sodra dit gefinaliseer is sal kandidate, wat die Klas A eksamen slaag, ’n HAREC ontvang wat geldig sal wees om aansoek te doen vir ’n amateurradiolisensie in CEPT-lande en ander lande wat by die HAREC-sisteem ingekontrakteer is. HAREC staan vir “Harmonised Amateur Radio Examination Certificate”. ierdie proses mag ’n paar weke neem.


MEER VIR LEDE

Graham Hartlett het ook die saak van meer voordele vir lede bespreek. Hy het gesê dat die Raad die beginsel aanvaar het dat lede maksimaal voordeel moet kry uit hul lidmaatskap. As nasionale liggam vir amateurradio moet ’n aantal dienste beskikbaar wees vir alle radioamateurs waarvoor die SARL in die toekoms ’n administrasiefooi sal hef. Hy het die voorbeeld van die opgradeeringsproses van ZR na ZS genoem. DIt sal kosteloos wees vir lede maar vir nie-lede sal ’n administrasiefooi van R100 gehef word. Die SARL sal weer na die verskeie dienste wat deur die webwerf gebied word kyk en waar nodig dit opgradeer en die inhoud vir lede aanvul. Hierdie veranderings sal nie almal dadelik in werking tree nie maar dit is ’n deurlopende proses wat oor ’n tydperk sal strek.

ITCHEN VALLEY RADIOKLUB SE BEURSE TOEGEKEN

Die suid-Afrikaanse Amateurradioontwikkelingstrust het drie YARP – “Young People in Amateur Radio Programme” beurse toegeken wat deur die VK se Itchen Valley Radioklub geborg word. Die suksesvolle kandidate is: Bongani Mondlana, Nfumo Khoza en Suzette van Wyk. Hulle sal vir die Klas A eksamen studier en in Oktober skryf. Baie geluk aan die drie studente, ons wens hulle sukses met hul studies toe.

BANDPLANNE EN SPEKTRUMBESTUUR

Weens die tekort aan lokale nuus het ons dit goed gedink om ‘n item uit WIA News in te sluit aangesien op alle radioamateurs wêreldwyd van toepassing is en dit goed is om ons geheues daaromtrent te verfris. (In die berig lees SARL waar WIA News voorkom).

Amateur Selfregulering.

Amateurs gebruik ‘n groot verskeidenheid van modusse. Binne een amateurband kan aktiwiteit GG, spraak, satelliet- en AMA-werking sowel as ATV insluit. Die beste manier om botsings te vermy is om verskillende bandsegmente opsy te sit vir elk van hierdie aktiwiteite, sodat alle amateurs hulle voorkeure sonder steurings kan beoefen.

Amateurbandplanne is vrywillige ooreenkomste, dikwels bekend as "Gentlemen’s Agreements". Die planne word in werking gestel deur die WIA, maar hulle is tot voordeel van alle amateurs. Meeste amateurs, WIA-lede of te nie, lê hulle neer by die bandplanne aangesien dit sinvol is om elkeen ‘n redelike kans te gun.

Botsings gebeur nog by tye, en die rede is gewoonlik ‘n gebrek aan bewus wees van die bandplanne. Meeste amateurs is gewillig om frekwensie te verander indien die probleem vriendelik aan hom verduidelik word.

Bandplanne behoort aan ‘n aantal teenstrydige kriteria te voldoen:

Hulle behoort lokale toestande in ag te neem, maar hulle moet in ooreenstemming met internasionale gebruik wees.

Hulle behoort die nuttige gebruik van spektrum aan te moedig, maar behoort te verseker dat alle modusse ‘n billike gedeelte van die spektrum het.

Hulle behoort die populariteit van elke modus in ag te neem, maar steeds genoeg spektumwydte voorsien vir die minder populêre aktiwiteite. Byvoorbeeld ATV vereis baie meer bandwydte per operateuras ander modusse, en aktiwiteite soos AMA is van meerdere belangrikheid ongeag van die aantal stasies betrokke.

Bandplanne moet buigbaar genoeg wees om by veranderende behoeftes aan te pas, maar hulle neig om ondersteuning te verloor indien hulle te dikwels verander word. Die mikpunt moet wees om vooruit te dink en seker te maak dat toekomstige opsies nie uitgesluit word nie.

Op die BHF/UHF-bande is daar drie hoofgroepe:

GG/ESB: Die voorkeurmodusse vir swakseinbedryf.

FM: Nie geskik vir swakseinbedryf nie en nie versoenbaar met GG of ESB nie. Hierdie kategorie sluit ook digitale modusse soos pakket in, wat gewoonlik FM in die BHF-bande gebruik.

ATV: Vereis ‘n baie groot bandwydte maar het ‘n lae kragintensiteit, dus vereis dit ‘n uitsluitlike steuringsvrye bandsegment.

Roepfrekwensies.

In die BHF-bande word roepfrekwensies ingesluit. Hierdie frekwensies is die “ontmoetingsplekke” en behoort slegs gebruik te word vir ‘n inisiële kontak voordat na ‘n ander frekwensie geskuif word. Indien jy die roepfrekwensie langdurig beset, sal jy verhinder dat andere kan roep of om ander verafgeleë stasies te hoor wat op die frekwensie hul opwagting mag maak.

VOORTPLANTINGSTOESTANDE

Moontlik weens die webwerfprobleem en ook omdat ons nie ons gereëlde byraer, ZS6BZP, telefonies kon opspoor nie, het Marten, ZS6ZY, vir ons die inligting wat volg bekom.

Tans is die sonvlekgetal 12 met gepaardgaande sonvloedgetal van 71. Dit getuig van baie lae sonaktiwiteit soos die beeld van die son aandui. Die geomagnetiese toestand sal stil tot ongestadig wees met sporadiese aktiewe periodes gedurende die komende week.

Voortplantingsgrafieke dui aan dat kommunikasie na Europa op 14 MHz tussen 09:00 UTC en 17:00 UTC moontlik mag wees en op 21 MHz sporadies tussen 09:00 en 16:00 UTC.

Na die verre Ooste sal 7 MHz tussen 02:00 en 18:00 UTC moontlik suksesvol wees en op 21 MHz tussen 17:00 en 23:00 UTC. Dis interessant dat geen gegewens vir 14 MHz aangedui word nie.

DAGBOEK VAN GEBEURE

14 – 15 Julie – IARU-HF-Wêreldkampioenskap;
20 Julie - Laaste dag om referate vir SA AMSAT Ruimte Konferensie in te stuur;
22 Julie – Boland ARK 40 m kompetisie;
5 Augustus – SARL HF-foonkompetisie;
15 Augustus – Laaste dag vir voorlegging van opsomming oor voorgestelde lesings vir SA AMSAT se Ruimtekonferensie;
23 Augustus - Klas B RAE;
6 Oktober - SA AMSAT Ruimtekonferensie;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger Conroy, ZR3RC, saamgestel is en uitgesaai is deur (jou naam en roepsien).

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003