Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 15 JULIE 2007

SARLNUUS SONDAG 08 Julie 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die afsterwe van J.J. Joubert (Jody), ZS6BLW, op Donderdag 5 Julie 2007 aangekondig word. Na sy uitrede uit die Vloot was hy betrokke by die Lugmagmuseum by Swartkops LMB en die Nasionale Museum vir Krygsgeskiedenis in Johannesburg betrokke.

Ons bestuig ons innige meegevoel aan sy vrou Faith, familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

SIEN JOU IN BLOEMFONTEIN KOMENDE SATERDAG

WANNEER NOORD NIE NOORD IS NIE!

LIDMAATSKAPKAARTJIES IS OP PAD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor die voorgenoemde en ander belangrike en interresante nuusitems.

SIEN JOU IN BLOEMFONTEIN KOMENDE SATERDAG

Die SARL-Tegnologie-in-Aksie-program tref Bloemfontein komende Saterdag, 21 Julie by die Gevorderde Opleidingsvleuel van die Pantserskool. Registrasie is om 08:30 en die amptelike opening om 09:00. Die program is propvol interessante aanbiedings. Tony Voorvelt gaan open met sy aanbieding “Die Raaisel van die padda se boud” – die verhaal van die uitvinding van die battery.” Ander items sluit in “Kognitiewe Radio, ’n ontluikende tegnologie wat moontlik meer intelligente gebruik sal maak van die beskikbare radiospekrtum”, “Navorsing van Ionosferiese radiovoortplanting”, “Węreldradiosport spankampioenskap en DXpedisies”, “WSJT-sagteware en antennas vir langafstand BHF-gebruik” en “BACAR 2007-styl, ’n pretprojek om na skole of klubgeleenthede te neem”. Die toegangsfooi is R20 per persoon, leerders en studente kry gratis toegang. Die toegangskaartjie sluit ’n prysloting in.

Volledige besonderhede is beskikbaar op die SARL-webblad by www.sarl.org.za, klik op RTA.

WANNEER NOORD NIE NOORD IS NIE!

Het jy al ooit gedink dat wanneer jy jou rigstraler met behulp van ’n magnetiese kompas noordwaarts rig, dat jy eintlik heelwat van koers af is en dat hoe verder suid jy is hoe groter die fout sal wees? Pieter Kotze van die Geomagnetismegroep van die Hermanus Magnetiese Observatorium gaan met die volgende Integnet op Sondag 29 Julie vir ’n interessante gesprek sorg. Jy sal dalk voor hierdie geleentheid die wetenskapfiksieroman “Polar Shift” deur Clive Cussler wil lees. Wanneer gaan die pole omkeer en noord, suid word? Clive Cussler het ’n eersterangse fiktiewe drama geskep maar Pieter Kotze sal ons die werklikheid wysmaak en bespreek wanneer dit moontlik mag gebeur. Moet ons daaroor bekommerd wees of moet ons eerder ons rigstralerroteerders korrek gerig kry? Die Integnetbespreking is om 20:00, na die Presidentsnet op 29 Julie op die lug.

Klubs wat hul herhalers will koppel aan beide die Presidentsnet en die Integnet moet ’n e-pos aan armi@sarl.org.za stuur met besonderhede van die telefoonnommer wat by die konferensie ingeskakel moet word.

LIDMAATSKAPKAARTJIES IS OP PAD

Lede wat hul 2007/2008 ledegeld betaal het sal binnekort hul lidmaatskapkaartjies ontvang. Finale logistieke sake word nog uitgesorteer. Hierdie jaar sal lede self die kaarte moet uitknip wat onderaaan ’n erkenningsbrief gedruk sal wees. ’n kredietkaartgrootte plastiekhouer sal voorsien word sodat die kaartjie geredelik in jou beursie of kaarthouer sal pas. Die SARL-Administrateur verwag om teen die einde van die week te begin om die kaarte te pos.

Die SARL bedank alle lede wat so stiptelik hulle 2007/2008 lidmaatskapfooie betaal het. ’n Bykomende faktuur sal gepos word aan lede wat dalk die eerste een verloor het en nog nie betaal het nie.

Indien jy nog nie ’n lid is nie, is dit nou ’n goeie tyd om aan te sluit. Die lidmaatskapfooi is minder as R6 per week of R305 per jaar vir gewone lede. Seniors oor 65 jaar betaal R184 per jaar met ’n bykomende afslag van 20% vir hierdie finasiële jaar wat dan slegs R147 beloop.

KOMPETISIENUUS

DIE BOLAND ARK 40 METER KOMPETISIE

Hierdie is 'n pretaktiwiteit om kontakte op 40 meter te bevorder tussen radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande en sal Sondag 22 Julie op die lug wees vanaf 15:00 tot 18:00 SAT. 'n RS-verslag en poskode word uitgeruil. Slegs draadantennas en 'n maksimum uitset van 100 watt mag gebruik word.

Kontakte met Suider-Afrikaanse stasies tel 1 punt. Die Boland ARK stasie, ZS1BAK, sal op die lug wees en 'n kontak met hierdie stasie tel 5 punte en slegs een kontak word toegelaat. Logstate moet binne 15 dae na die kompetisie per e-pos aan zs1bak@mailbox.co.za of per slakkepos aan BARK, Posbus 2105, Dennesig, 7601 gestuur word.

Die kompetisiekomitee vir die SARL Digitale kompetisie het nog net vyf logstate ontvang en daar is besluit om die sluitingsdatum uit te stel tot Maandag 23 Julie 2007. Logstate kan per e-pos aan zs6bne@nwinternet.za.org gestuur word, of per gewone pos aan die Lichtenburg ARK, Posbus 410, Lichtenburg, 2740. Onthou, die wenner van hierdie kompetisie ontvang ‘n Yaesu VX-2R draagbare send/ontvanger.

KLUBNUUS

PEARS verskaf radio kommunikasie.

Die jaarlikse Volkswagentydren (een in 'n reeks van nasionale tydrenne) word op 20 en 21 Julie gehou in die algemene omgewing van Port Elizabeth, Uitenhage en Jeffriesbaai. Van die spesiale trajekte word in die Longmore plantasie naby Loerie in die Gamtoosvallei gehou, en hierdie trajekte is toeskouervriendelik met klippe en stof wat in alle rigtings spat.
Soos gewoonlik sal die Port Elizabeth Amateurradiovereniging radiokommunikasie verskaf vir tydrenbeheer en die deurgee van trajektye - PEARS is amper twintig jaar al betrokke by hierdie geleentheid. Behalwe dat die die bedieningsvermoë van lede opskerp, is dit ook baie genotvol en een van die hoogtepunte van die PEARS se jaarlikse program.

VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteit sal wissel tussen lae en baie lae vlakke. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees met moontlike aktiewe vlakke gedurende 19 Julie. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 15 wees.

20 m en 40 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m openinge vanaf 15:30 SAT na Indië. Na Australië toe kan daar 'n kort 20 m opening om 08:00 wees. 40 m kan vanaf 18:00 oopmaak. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 m openinge na Europa. Om 16:00 is daar moontlike kort 20 m openinge na die Weskus van die VSA. Andersins gaan kontakte met die Verenigde State baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik is 40 m die beste keuse gedurende die dag en 80 m na sonsonder. Dit is nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m WAZS-toekenning. Onthou dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

20 Julie - Laaste dag om referate vir SA AMSAT Ruimte Konferensie in te stuur;
22 Julie – Boland ARK 40 m kompetisie;
5 Augustus – SARL HF-foonkompetisie;
15 Augustus – Laaste dag vir voorlegging van opsomming oor voorgestelde lesings vir SA AMSAT se Ruimtekonferensie;
23 Augustus - Klas B RAE;
6 Oktober - SA AMSAT Ruimtekonferensie;
18 Oktober - Klas A RAE.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger Conroy, ZR3RC, saamgestel is en uitgesaai is deur (jou naam en roepsien).

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003