Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 14 OKTOBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

MOENIE DIE QSL-BURO LAAT VERSTOP RAAK MET JOU KAARTE NIE

KAN U ‘N SARL/HMO-BAKEN HUISVES?

NOG ‘N HERINNERING AAN LEDE WAT NOGNIE HERNU HET NIE

KLUBS GENOOI OM STREEKSEKSAMENSENTRUMS TE WORD VIR ZU-EKSAMENS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

MOENIE DIE QSL-BURO LAAT VERSTOP RAAK MET JOU KAARTE NIE

Hierdie is ’n dringende versoek aan lede van die SARL om asseblief nie die QSL-Buro te laat verstop raak met jou inkomende QSL-kaarte nie. Stuur ’n self-geadresseerde en gefrankeerde koevert aan die QSL-Buro sodat kaarte gereëld aangestuur kan word. Neem asseblief noukeurig kennis van die volgende. Indien u ’n DL-koevert stuur is ’n standaardposseel voldoende. ’n DL-koevert kan tot 10 kaarte bevat. Indien u ’n ywerige DXer is, stuur ’n groter koevert. Die vereiste posgeld is as volg: Vir ’n B5-koevert, ook bekend as C5, is posgeld R3,90. Vir ’n B4-koevert, ook bekend as A4, beloop posgeld R4,89. Onthou dat posgeld op 1 April jaarliks verhoog, so, indien u verlang om maandeliks kaarte te ontvang, moet u in April elke jaar 12 koeverte instuur, of anders soos nodig. Na April elke jaar kan ou koeverte nie meer gebruik word nie weens onvoldoende posgeld.

Die QSL-buro is deel van die dienste wat lede ontvang. Die uitgaande QSL-diens is slegs aan SARL-lede beskikbaar.

Die adres van die QSL-buro is SARL QSL-Buro, Posbus 1721, STRUBENSVALLEI 1735.

KAN U ‘N SARL/HMO-BAKEN HUISVES?

Radioamateurs word benodig om bakens in of naby verskeie plattelande dorpe te huisves. Indien u in een van die volgene areas woon, oorweeg asseblief om by die bakenprojek aan te sluit.

Swellendam, Weskaap;
Lamberts Bay / Graafwater, Weskaap;
Queenstown, Ooskaap;
Umtata, Ooskaap;
Sutherland, Noordkaap;
Pofadder, Noordkaap;
Kenhardt, Noordkaap;
Kokstad, KwaZulu Natal;
Louwsburg / Vryheid, KwaZulu Natal;
Mmbatho, Noordwes;
Klerksdorp, Noordwes;
Bothaville, Vrystaat.

Om te kwalifiseer om een van die bakens te huisves moet u ’n gelisensieerde amateur en ’n SARL-lid wees. Stuur asseblief e-pos aan Lee-Anne, ZS2LAW, by beacon@hmo.ac.za indien u wil deelneem aan hierdie projek. Daar is geen koste aan verbonde nie aangesien die baken kosteloos veskaf word met antenna, kragbron en weerligbeskerming ingesluit.

Hierdie bakendiens sal waardevol wees om werklike intydse voortplantingstoestande te bevestig vir navorsing en voorspelling van ionosferiese toestande. Die Ruimtefisikagroep van die HMO sluit ’n aktiewe ionosferiese komponent in en verskaf ionosferiese data vir ruimteweervoorspelllings, wat HF-voortplantingsvoorspellings insluit. Die HMO het onlangs die Ruimteweer Streekswaarskuwingsentrum vir Afrika geword, wat onder andere die verskaffing van HF-voortplantingsvoorspellings insluit.

’n Aantal vrywillige radioamateurs sal bakens by hul stasies huisves. ’n Sentrale databasis sal onderhou word wat ’n rekord van elke baken, die amateur wat dit huisves, sowel as die baken se tydgleuf sal bevat. ’n Toetsbaken is reeds vanaf die Krugersdorparea in werking. Luister daarna op 7 023kHz. Verdere inligting en nuttige skakels is op www.sarl.org.za beskikbaar.

NOG ‘N HERINNERING AAN LEDE WAT NOGNIE HERNU HET NIE

Soos verlede week berig, is ledegeldfakture in Juniemaand gepos, met opvolgherinnerings in Augustus en September. Indien u nognie u lidmaatskap hernu het nie, doen dit asseblief so gou as moontlik. Lede wat nognie hul ledegeld teen die einde van Oktober betaal het nie, sal nie langer Radio ZS ontvang nie of toegang to die slegs-vir-lede deel van die SARL webwerf hê nie. Jou lidmaatskap is belangrik vir amateurradio; dit is ons gesamentlike stem deur die SARL, die Nasionale Liggaam vir Amateurradio, wat sterk en verteeenwordigend moet wees. Jou lidmaatskap maak die verskil. Indien u nognie ’n lid is nie, is dit nooit te laat om aan te sluit nie. Aansoekvorms is beskikbaar by www.sarl.org.za.

KLUBS GENOOI OM STREEKSEKSAMENSENTRUMS TE WORD VIR ZU-EKSAMENS

Klubs ge-affilieer by die SARL word genooi om ZU-streekseksamensentrums te word. Na registrasie mag ’n klub so gereëld as nodig eksamens vir die intreevlaklisensie reël. Volledige besonderhede is op die slegs-vir-lede deel van die SARL-webwerf beskikbaar. Besoek www.sarl.org.za, klik op die “member” skakel links bo op die tuisblad en voeg jou roepsein en wagwoord in. Die huidige reëling om ’n nasionale eksamen vir alle klasse twee maal per jaar te hou bly onveranderd.

CQ HOU KOERS OP SATURDAG DIE 20STE OKTOBER

CQ Hou Koers, Die Voortrekkers se jaarlikse radiokommunikasiedag, vind op Saterdag die 20ste Oktober plaas. Daar is reeds meer as vyftien stasies wat landswyd aktief gaan wees. Ondersteun asseblief hierdie aksie en staan 'n paar minute af om met die entoesiastiese jongklomp te gesels! Alle kontakte word verwelkom en 'n spesiale QSL-kaart is beskikbaar.

As jy ondersteuning aan 'n plaaslike Voortrekkerkommando kan lewer, kontak asseblief vir Gerhard, ZS6GSC, by gerjan@absamail.co.za of Andries, ZS6VL, by andries.visagie@natref.com. Die jongste inligting sal op die forums van die SARL-webtuiste gepubliseer word.

KLUBNUUS

Die Pretoria Amateurradioklub het op Saterdag 29 September hul 77ste AJV gehou. Die Almero du Pisani is as Voorsitter verkies met die volgende lede op die komitee:
Johan de Bruyn, ZS6JHB;
Richard Peer, ZS6UK;
Craig Symington, ZS6RH;
Pierre Holtzhausen, ZS6PJH.
Geko-opteerde komiteelede is:
Graham Reid, ZR6GJR;
Johann de Beer, ZR6YV;
Johan Lehman, ZS6JPL;
Hans Kappetijn, ZS6KR;
Willie Greyling, ZR6WGR;
Roy Newton, ZS6XN;
Tjerk Lammers, ZS6P;
Andre van Tonder, ZS6BRC;
Molly Peer, ZR6MOL;
Doreen de Bruyn, ZR6DDB;
Thobile Koni, ZS6TDK.

Baie dankie aan die uitgaande komiteelede en welkom aan die nuwe komitee.

Die Midlands Amateurradioklub beplan om op Saturdag, 13 Oktober om 09:00, ’n kursus van tien weke in basiese elektronika te begin. Dit sal in die klubhuis, by die Natal Carbineers Drill Hall, in Geerestraat, Pietermaritzburg plaasvind. Hierdie plan is wyd in die plaaslike pers geadverteer. Studente sal R80 vir die volledige kursus betaal, wat ’n gratis kursushandboek insluit.

Belangstellendes moet vir Bert Cornell, ZS5MQ, kontak op telefoonnommer 033 344 3659.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees behalwe gedurende 17 tot 20 Oktober wanneer lae stormvlakke verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Met somer in die lug is die DX-toestande ook gelukkig bietjie meer rooskleurig. Dit is nou te sê as daar genoeg elektriesiteit beskikbaar is om 'n HF-stel van krag te voorsien!

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van 20 m-openinge na Australië vanaf 06:00. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na Europa. 10 m kan mens ook dalk gedurende die tydperk verras. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15 en 80 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees en selfs 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Verder is dit nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m WAZS toekenning.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 Oktober - Midlands Amateur Radio Klub se Basiese elektronika kursus begin;
18 Oktober - Klas A RAE;
20 Oktober - Kommentaar oor SARL 2008 Kompetisiehandboek moet ingestuur wees;
20 Oktober – CQ Hou Koers;
20 en 21 Oktober - JOTA en JOTI.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003