Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 4 NOVEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 28,235, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Ons het verneem dat Servaas Harmsen, ZS6XL, ‘n tyd gelede stil sleutel geraak het. Ons innige meegevoel aan sy naasbestaandes en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

LAASTE GELEENTHEID OM ‘N ARRL-HANDBOEK TE WEN DEUR DIE BOODSKAP OP DIE SARL-BAKEN TE ONTSYFER

SARL SE SENDONTVANGERPROJEK GESTAAK

BESONDERHEDE VAN DIE 2008 KONSTRUKSIEKOMPETISIE AANGEKONDIG

MOSIES VIR 2008 SARL-AJV INGEWAG

WRK GEEN BESLUITE NOG VIR AMATEURRADIO

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

LAASTE GELEENTHEID OM ‘N ARRL-HANDBOEK TE WEN DEUR DIE BOODSKAP OP DIE SARL-BAKEN TE ONTSYFER

Luister na die SARL-baken op 7 023 kHz, dekodeer die morsekodeboodskapm en stuur jou inskrywing aan armi@sarl.org.za en jy mag die wenner van ‘n ARRL-handboek word. Die sluitingsdatum is 6 November 2007. Die morsekode word teen 6 wpm gestuur en behoort maklik wees om te kopieer. Sluit ook jou adresbesonderhede by jou inskrywing in sodat, indien jy die wenner is, die boek aan jou gepos kan word.

SARL SE SENDONTVANGERPROJEK GESTAAK

Na sorgvuldige oorweging het die Raad van die SARL in oorlegpleging met die kernspan van die projek besluit om die SARL se sendontvangerprojek te staak. Daar is deur ‘n aantal persone baie waardevolle navorsingswerk gedoen maar ‘n uiteindelike analise het getoon dat die laekostedoelwit nie bereik sal word nie gegewe die lae volume wat deur die projek aangetrek sal word. Die SARL spreek sy opregte dank uit teenoor al die persone wat daaraan deelgeneem het.

MIKE BRINK SLUIT BY HANNES COETZEE AAN AS ‘N WENNER IN DIE SA AMATEURONTWIKKELINGSTRUST SE KONSTRUKSIEKOMPETISIE

Die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust het Vir Mike Brink, ZS6BRI, beloon vir sy inskrywing in die 2007 konstruksiekompetisie. Hy sluit by Hannes Coetzee aan wat tydens vanjaar se RTA in Gauteng beloon is vir sy inskrywing van ‘n 40 meter direkte omsettingsontvanger. Hulle het elkeen ‘n Yaesu 2 m-sendontvanger ontvang wat deur Verstay geborg is.

Mike Brink se projek is ‘n werkstasie vir 1,2 GHz, ‘n interessante maar komplekse samestelling van verskeie eenhede. Die funksie van die SHF-werkstasie is om ‘n ontwikkelingsplatform beskikbaar te stel wat al die boustene en instrumentasie insluit wat benodig word om projekte in die 1,2 GHz-band te ontwikkel. Dit sluit ‘n spektrumanaliseerder, frekwensieteller, stroombaanopsteller, inbaankomponenttoetser,(wat dit onnodig maak om al daardie moeilik hanteerbare oppervlakgemonteerde komponente los te soldeer), ‘n RF-meetsender ‘n oudio/data/videofunksieopwekker, bandskandeerder en ‘n volledige sendontvanger in. Dit werk saam met ‘n ossilloskoop of ‘n persoonlike rekenaar om ‘n beeld te vertoon.

Besonderhede van Mike se inskrywing sal binnekort op www.amateurradio.org.za beskikbaar wees.

Baie geluk aan Mike.

BESONDERHEDE VAN DIE 2008 KONSTRUKSIEKOMPETISIE AANGEKONDIG

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust het besonderhede van die 2008 konstruksiekompetisie aangekondig. Dit is ‘n ope kompetisie, jy kan jou eie projek kies. Dit werk as volg: vir fase 1 van die kompetisie moet deelnemers besonderhede verskaf van die projek wat hulle wil aanpak. Dokumentasie moet besonderhede van die projek en sy gebruiksdoelwit verstrek. ‘n Raming van die boukoste van die projek moet ook ingesluit word. Op 1 Maart 2008 sal die Trust drie projekte kies en aan elk van hierdie drie ‘n som geld toeken, wat nie R3 000 per projek sal oorskry nie, ten einde ‘n werkende prototipe te bou en voor te lê. Fase 2 van die kompetisie sal die bou en voorlegging van hierdie drie gekose projekte behels en vir die beste projek sal die hoofprys, waarvan besonderhede binnekort bekend gemaak sal word, toegeken word. Vir meer besonderhede besoek www.amateurradio.org.za.

MOSIES VIR 2008 SARL-AJV INGEWAG

Mosies word ingewag van SARL-lede of geaffilieerde klubs vir die 2008 SARL-AJV. Teen hierdie tyd is alle SARL-lede bekend met die vereistes vir mosies. Stuur u mosies aan secretary@sarl.org.za voor 30 November.

WRK GEEN BESLUITE NOG VIR AMATEURRADIO

Die einde van die tweede week van die vierweek 2007 Wêreld Radiokommunikasiekonferensie in Geneve is byna verby, maar, ten minste sovêr dit die amateurdienste betref, rapporteer die IARU-span wat aan WRK 2007 deelneem, dat daar nog min in terme van vaste besluite is. Hier volg ‘n verslag wat deur die IARU-sekretaris, David Sumner, K1ZZ, opgestel is.

“n Onverwagte hoogtepunt van die voltallige openingsitting was die aankondiging deur die Sekretaris-Generaal, Hamadan Touré, aan die einde van sy voorbereide opmerkings, dat hy sy amateurlisensie verwerf het. Ons het selde, indien ooit, sulke prominensie tydens die openingseremonie van ‘n konferensie ontvang. Onmiddellik na die opening van die konferensie het hy na Kigali vir die Verbind Afrika Spitsberaad vertrek, maar hy word volgende week in Geneve terug verwag.

Vordering met items op die agenda wat vir amateurdienste van belang is, was stadig. Die 4-10 MHz-aangeleentheid val vas, met die opponente teen uitbreiding van HF-uitsaaidienste wat vasstaan in die posisie van “geen verandering”. Voorstanders vir HF-uitsaaidienste is nie naastenby soveel as in 2003 nie, en is meesal in Europa; hulle het teruggestaan van ‘n oorspronklike situasie van 350 kHz uitbreiding af na 200 kHz, maar daar was nognie ‘n beweging van die anderkant af nie. Intussen kan werk aan die ander 4-10 MHz-aangeleenthede, insluitende die moontlikheid van ‘n 5 MHz sekondêre amateurtoekenning (wat tot dusvêr deur die Europese voorstanders ondersteun is), nie voortgaan nie. Selfs indien oor die HF-uitsaaidienstoekennings vinnig afgehandel kan word, blyk dit op hierdie stadium onwaarskynlik want die tyd loop uit om die werk op die res van hierdie aangeleenthede te voltooi. Vergaderings sal oor die naweek en tot goed in volgende week voortgaan.

Vroeg in die week het dit gelyk asof ‘n 135,7-137,8 kHz sekondêre toekenning aan die amateurdiens gunstig afgehandel is. Dit blyk egter dat bedenkinge van sommige Arabiese administrasies nie ten volle bevredig is nie, en dat nog werk gedoen sal moet word. Op Vrydagoggend 2 November is die toekenning op die vlak van Werkgroep 4C met twee voetnotas goedgekeur, waarvan een die kraguitset tot 1 W eirp beperk en die tweede lande in streek 1 toelaat om nie van die toekenning gebruik te maak nie indien hulle so verkies. Saudi Arabië het sy teenstand vir die toekenning bevestig en versoek dat dit in die verslag van werkgroep aan Komitee 4, sowel as die voltallige vergadering, aangeteken word. Die volgende vergadering van Komitee 4 is vir Dinsdagmiddag 6 November geskeduleer.

Die proses om moontlike frekwensiebande vir toekomstige internasionale mobiele telekommunikasie (selfone en dies meer) te identifiseer is baie kontensieus. Een frekwensieband waarna gekyk word is 2,3-2,4 GHz, wat vir ons ‘n besorgdheid is alhoewel daar nie onmiddellike rede vir kommer is nie.

Voor elke WRK kyk ons na geleenthede om van die sogenaamde “landsvoetnotas” ontslae te raak wat individuele administrasies toelaat om van die streeks- of internasionale toekennings af te wyk wat in die Tabel van Frekwensietoekennings staan. Dit is bevredigend dat verskeie lande ingestem het om hulleself te verwyder van die voetnotas wat betrekking het op 160, 80 en 6 m, en in enige Europese lande, op gedeeltes van 70 cm.

Aangaande agenda-items vir toekomstige WRK’s, sal besprekings ernstig op Saterdag 3 November begin. Voorstelle in die verband is ingedien aangaande moontlike amateurtoekennings rondom 500 kHz, 5 MHz, en (in Streek 1) 50 MHz; 50 MHz is natuurlik reeds in streke 2 en 3 aan die amateurdiens toegeken. Daar is meer as 40 voorstelle vir toekomstige agenda-items wat minstens tweemaal soveel is as wat waarskynlik goedgekeur sal word, dus moet die lot van “ons” toekomstige agenda-items nog bepaal word. Die IARU-span beskou die ander voorgestelde agenda-items baie goed ten einde vas te stel, en tot sovêr dit binne ons vermoë is, hulle potensiële impak op die amateurdienste te minimaliseer.

SARL HF-VELDDAG

Die tweede been van die SARL se HF-velddag vind plaas oor die naweek van 17 en 18 November 2007. Hierdie GG- en foonkompetisie begin om 12:00 SAT en eindig 24 uur later met werking op 160 tot 10 m. Die reëls is beskikbaar in die 2007 SARL-Kompetisieboek.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die DX-toestande verbeter gelukkig na 'n bietjie warmer, veral na Indië en die VSA.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 10, 15 en 20 m-openinge vanaf 08:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië om ongeveer 06:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m openinge na die VSA.

Vir die morsekode en digitale -entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Verder is dit nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m-WAZS-toekenning. Dit is nou as die donderstorms vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
17 tot 18 November – SARL-HF-velddag;
24 tot 25 November – Uitstalling by die Johannesburg militêre museum;
25 November – Integnet aangaande ARRP;
30 November – Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir 2008 AJV.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003