Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 18 NOVEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN,, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van Derrick George Hellyer, ZS6AWU / ZS5EU / ZS1EU op 22 Oktober 2007 op de ouderdom van 86 aangekondig moet word. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

PEARS HF QSO GESELLIGHEID

INTEGNET GAAN OP ARRP FOKUS

WRC-07 EINDIG IN GENEVE

IRAK WEER OP DIE LUG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PEARS HF-QSO-GESELLIGHEID

Die Port Elizabeth ARV het die reëls van die jaarlikse PEARS-HF-QSO-Geselligheid drasties verander na die swak deelname tydens 2006 se geselligheid en het ook besluit dat ’n tweedagkompetisie nie effektief is nie. Die HF-QSO-geselligheid is nou verkort na ’n Sondagmiddagkompetisie en verander om Z- en ZR-deelname te bevorder met aparte deelname- en puntestrukture.

Die 2007 PEARS-HF-QSO-geselligeid sal op Sondag 09 Desember gehou word, dit begin om 12:00 UTC en eindig om 16:00 UTC. Die doel van die QSO-geselligheid is om DX- en Suid-Afrikaanse stasies die geleentheid te gee om soveel moontlike kontakte met ander Suid-Afrikaanse stasies te maak. Dit is ’n foonalleenkompetisie op 40 en 80 meter.

Daar is vier klasse van deelname, naamlik Beginners – stasies met ZU-voorvoegsels; Beperk – stasies met ZR-voorvoegsels; Onbeperk – stasies met ZS-voorvoegsels en DX – stasies buite Suid-Afrika. Roepseine, ’n seinrapport en die operateurs se name word uitgeruil.

Die volledige reëls sal in die HF Happenings-nuusbrief gepubliseer word en sal gedurende volgende week op die SARL se webwerf beskikbaar gestel word.

INTEGNET GAAN OP ARRP FOKUS

Die laaste Integnet vir 2007 sal Sondagaand 20 November om 20:00 plaasvind wanneer Reiner Floesser, die IARU se ARRP-voorsitter, die gasspreker sal wees. Klubs en individuele radioamateurs word aangemoedig om aan die bespreking deel te neem aangesien hierdie die eerste hoofstap sal wees tot Suid-Afrikaanse deelname aan wêreldkompetisie in 2009.

WRC-07 EINDIG IN GENEVE

Die finale werksessie van die 2007 World Radiocommunication-Konferensie (WRC-07) in Geneva is op Donderdag 15 November gehou. Die seremonie waartydens die “Final Acts” geteken is, het op Vrydag plaasgevind. Volgens die Internasionale Amateurradiounie (IARU) se Sekretaris David Sumner, K1ZZ, is die voor- en nadele vir die amateurradiodiens as volg:

Voordele:
* Die behoud van bestaande amateurtoekennings, insluitend die 7,200 – 7,300 MHz-toekenning in ITU Streek 2 (die Amerikas) wat in gedrang was met die moontlike toekennings vir HF-uitsaaiers.
* ‘n Nuwe wêreldwye sekondêre toekenning by 135,7 – 137,8 kHz met ’n maksimum uitsetkrag van 1 W e.i.r.p.
* Die insluit van ’n item op die voorlopige agenda vir WRC-11 "om te besluit oor ’n toekenning van ongeveer 15 kHz in gedeeltes van die band 415 – 526,5 kHz aan die Amateurdiens op ’n sekondêre basis met voorbehoud dat bestaande dienste beskerm word".
* Vermyding van toekomstige agenda-items wat ’n bedreiging inhou aan amateur sleuteltoekennings.
* Verbeterings in die sogenaamde "lande voetnotas" wat verskillende toekennings per land in die gehele of gedeeltes van die 1,8, 3,5, 50 en 430 MHz amateurbande.

Teleurstellings:
* Geen nuwe toekennings vir die amateurdiens in die omgewing van 5 MHz en geen agenda item om dit by ’n toekomstige konferensie te bespreek nie.
* Geen toekomstige agenda-item om amateurtoekennings by 50 MHz in ITU Streek 1 (Europa, die voormalige Soviet-Unie, Mongolië, Afrika en dele van die Midde-Ooste) te bespreek nie

Die amateurangeleenthede was natuurlik ‘n mindere deel van die WRC-07-agenda, maar die amateurdiens was betrokke by een van die meer kontensieuse agenda-items wat gehandel het oor die toekennings tussen 4 en 10 MHz. ,n Reeks van Europese gemeenskaplike voorstelle het voorgestelde veranderings ingesluit om ‘n uitbreiding van 350 kHz toe te laat in HF-uitsaaitoekennings, met ‘n voetnota om amateurdiens toe te laat om 5,260 – 5,410 kHz op sekondêre basis, met ‘n kragbeperking van 250 W, te mag gebruik. HF-uitsaai het egter geen ondersteuning van ander streeksorganisasies ervaar nie, en daar kon ook geen kompromievoorstel gevind word wat vir alle partye aanvaarbaar was nie. Uiteindelik moes die Europese administrasies “geen verandering” vir HF-uitsaaitoekennings aanvaar, wat ons kans vir ‘n 5 MHz-toekenning effektief laat skipbreuk ly het.

Die IARU het gehoop dat indien ‘n toekenning nie tydens WRC-07 gedoen kon word nie, daar ‘n toepaslike agenda-item vir WRC-11 ingesluit kon word. Die 2007-konferensie het egter min belangstelling getoon om HF-aangeleenthede tydens die volgende konferensie te bespreek wat tentatief vir 2011 geskeduleer is, ook aangesien min getoon is vir baie energie wat gespandeer is ten opsigte van HF ter voorbereiding vir WRC-07. Die enigste HF-aangeleenthede op die voorlopige WRC-11-agenda gaan om oseanografiese radartoepassings en die implementering van nuwe digitale tegnologieë vir die maritieme mobiele diens.

IRAK VOLGENDE WEEK TERUG OP DIE LUG

Diya Sayah, YI1DZ, President van die Irak Amateurradiovereniging (IARS), het op 13 November berig dat vanaf 20 November alle amateurradioaktiwiteit in Irak terug na normaal sal wees. Sayah het gesê, "Alle amateurradio-operateurs in Irak wat ’n geldige Iraki-lisensie het, sal weer hulle radios kan gebruik volgens die regulasies van IARU Streek 1 en die IARS”.

Amateurradioaktiwiteit in Irak is in Maart hierdie jaar opgehef, dit het beide burgers van Irak en enige buitelanders, insluitende militêre personeel en kontakteurs, beïnvloed.

SLUITINGSDATUM VIR MOSIES EN NOMINASIES

Die sluitingsdatum vir mosies vir die 2008 SARL-AJV en nominasies vir SARL-raadslede is Vrydag 30 November 2007. Die mosies en nominasies moet gestuur word aan die Sekretaris, SARL, Posbus 1721, Strubensvallei, 1735 of per e-pos na secretary@sarl.org.za.

SARL-TOEKENNINGS

Tjerk, ZS6P, die SARL se Toekenningsbestuurder nooi lede en klubs uit om nominasies vir die volgende SARL-toekennings by die Raad in te dien:

Lewenslange Erelidmaatskap - die SARL se hoogste toekenning;

Willie Wilson Goue Wapen – toegeken deur die Raad vir uitsonderlike en voortreflike diens aan die Liga;

Jack Twine Toekenning – toegeken aan amateurs wat in die opinie van hul mede-amateurs en die Raad van die Liga, die voorbeeld is van die goeie eienskappe wat 'n Radioamateur moet hê;

Arthur Hemsley 2 meter Trofee – toegeken vir uitsonderlike prestasie op AMA of soortgelyke troposferiese voortplanting;

Barney Joel Trofee – toegeken vir die beste vertoning op HF terwyl mobiel;

ICOM Uitmuntendheidstrofee – toegeken aan 'n amateur vir internasionale erkenning verkry vir Suid-Afrika, in die amateurdiens;

Joseph White Plaak – toegeken vir uitsonderlike prestasies op die 432 MHz-band;

Bert Buckley Sesmeter Trofee – toegeken vir individuele prestasie in die 6 meterband;

Die name van die genomineerdes en toekenning, tesame met 'n kort motivering moet gestuur word aan Die Sekretaris, SARL, Posbus 1721, Strubensvallei, 1735 of per e-pos aan secretary@sarl.org.za of per faks aan 088 011 675 2793 voor 16 Februarie 2008.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees behalwe gedurende 21 tot 22 November wanneer die geomagnetiese veld lae stormvlakke kan bereik. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

Die DX-toestande is gelukkig nog steeds 'n bietjie warmer, veral na Indië en die VSA. 15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 10, 15 en 20 m-openinge vanaf 06:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië om ongeveer 06:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike flou 15 en 20 m openinge na Europa. Vanaf ongeveer 20:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Verder is dit nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 m WAZS-toekenning. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

17 tot 18 November - SARL-HF-velddag;
24 November – Wesrand ARK Vlooimark;
24 tot 25 November - Uitstalling by die Johannesburg militêre museum;
25 November - Integnet aangaande ARRP;
30 November - Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir 2008 AJV;
01 Desember – Centurion ARK Toets Jou Toerusting dag.

SARLnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003