Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARLNUUS SONDAG 16 DESEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Aangesien ZS6FCS tans besig is om sy stasie op te gradeer, sal daar vanaf vandag 9 Desember tot 23 Desember ongelukkig geen Echolink- en Internetstrome vanaf ZS6FCS beskikbaar wees nie. Die volledige diens sal weer vanaf 24 Desember beskikbaar wees.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van drie radioamateurs onlangs stil geraak het, hulle is:

OK Herman Dormehl, ZS6SN, op 8 Desember 2007 in die ouderdom van 80 jaar;

OK Gys du Plessis, ZS6GDP, ‘n lid van die SARL en die Wesrand Amateurradioklub, in die ouderdom van 67 jaar, op 10 Desember;

OK Lodé Pieterse, ZS4LP, ook op 10 Desember.

Ons innigste meegevoel gaan aan hul families en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

AMATEURRADIO KRY ’N VERSKONING VAN ’N GARTNERANALIS

SARL – HMO – KOMPETISIE. HET JY DIE @ GELEES?

BACARPROJEK GAAN WEER INGESTEL WORD

APRS TREK IN SUID-AFRIKA OP HF WEG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

AMATEURRADIO KRY ’N VERSKONING VAN ’N GARTNERANALIS

Die SARL het ’n klagte aan Gartner gerig nadat een van hul analiste ’n neerhalende aanmerking gemaak het tydens ’n simposium wat vroeër die jaar in Kaapstad gehou is. Hier is ’n vrye vertaling van die brief wat Will Hahn aan die SARL gerig het:

“Ek skryf om verskoning te maak vir ’n ongevraagde aanmerking wat ek gedurende my deelname aan die sessie van Desktop Collaboration by hierdie jaar se Kaapstadse simposium gemaak het. Ek is baie jammer vir beide die woorde self, wat nie my werklike posisie verteenwoordig nie, en ook vir die vertraging om Mnr Willemstijn se klagte oor wat deur my gebesig is, te beantwoord. Sy klagte is oorspronklik dadelik aan my gerig; ek kan nie onthou dat ek die aanmerking gemaak het nie, en was my kollegas dus verplig om die opname van die geleentheid na te gaan, wat dit nou duidelik maak dat ek wel gesê het dat amateurradio ‘’n klein stokperdjie’ is”.

“Ek is baie bewus daarvan dat dit nie die geval is nie, dit is slegs die manier hoe sekere proponente van KLTK (ten minste hier in die VSA) amateurradio uitbeeld, in ’n poging om hul posisie te bevorder in die lig van klagtes oor steurings. Ek is op rekord in ’n vorige publikasie oor die spoed van KLTK waarin die klagtes van radioamateurs geensins verkleineer is nie. Maar ek sien myself as ’n groot grapmaker, en tydens al my voorbereide voordragte, asook by hierdie informele paneel, het ek myself dikwels as een van die industrie se rolspelers voorgedoen deur hulle sienswyses op ’n lighartige manier te karakteriseer. Ek kan slegs veronderstel dat dit my bedoeling was toe, ek in antwoord op ’n vraag van die vloer, in ’n ad lib situasie, die opmerking gemaak het. Dit was duidelik onsuksesvol en ongevraagd en ek is spyt dat ek dit gemaak het”. Aldus Will Hahn.

SARL – HMO – KOMPETISIE. HET JY DIE @ GELEES?

Eerste verslae in die SARL-HMO-kompetisie is reeds ontvang. Die kompetisie gaan oor die ontsyfering van die boodskap wat in die seine van die drie bakens ZS6SRL, ZS1HMO en ZS2LAW ingesluit is. Volledige besonderhede oor die kompetisie wat tot 21 Januarie 2008 loop is op die web van die SARL by www.sarl.org.za beskikbaar deur te klik op “services” en “Beacon Project” te kies. Die bakens het hul eie QSL-adres nl. bcn@sarl.org.za.

Het jy gewonder hoe die @-teken in die e-posadres in morsekode gestuur word? ’n Paar jaar gelede het Paul Rinaldo van die IARU gevra dat die ITU ’n nuwe morsekodekarakter moet erken vir die @ teken. Dit bestaan uit die letters A en C as een karakter met geen spasie tussen in nie dws Ditdahdahditdahdit.

BACARPROJEK GAAN WEER INGESTEL WORD

SA AMSAT gaan gedurende 2008 die BACAR-projek laat herleef. Gedurende informele besprekings by snuffelmarkte in Gauteng is die idee van die herinstelling van BACAR bespreek. BACAR staan vir “Balloon Carrying Amateur Radio”. Die aktiwiteit behels die opstuur van ’n ballon met ’n amateurradiodravrag wat ’n groot aantal entoesiaste betrek vanaf ’n lanseerspan en ’n herwinningsspan tot indiwiduele radioamateurs wat die seine naspoor vanaf hul QTH en dit aan die karterende span rapporteer.

Vandag is daar baie nuwe uitdagings om te oorkom; miskien is die moeilikste om toestemming van die Burgerlikelugvaartoutoriteit te verkry vir die lansering, tot ’n groot hoogte, van ’n groot ballon of verskeie klein ballonne.

Om die projek te bespreek en om ’n BACAR-span saam te stel word radioamateurs, kortgolfluisteraars en elektroniese entoesiaste, wat belangstel, uitgenooi na ’n bespreking om 11:00 op Saterdag 26 Januarie 2008 by die Nasionale Amateurradiosentrum. Indien jy belangstel om deel te neem aan die projek besoek www.amsatsa.org.za vir meer inligting en hoe om in te skryf op die BACAR-poslys.

APRS TREK WEG OP HF IN SUID-AFRIKA

Henry Chamberlain, ZS1AAZ, berig dat HF-APRS besig is om in Suid-Afrika weg te trek. ’n Hele aantal stasies is reeds bedrywig en spoor ander amateurs na wat deur die land reis.

Die voordeel van HF is langer reikafstand. Shaun Rudling, ZR5S, bedryf ’n stasie namens Highway met die roepsein ZS5PMB-4. ZS1AAZ en ZS1TX bedryf ’n stasie in die Kaap.

HF-APRS is die ideale modus om jagte ter see op te spoor en daardeur die maritiemmobielenet aan te vul deur hul posisies op ’n 24-uur basis vas te lê.

“Ons is in die beginstadium van HF-werking in die RSA, maar ons hoop dat meer stasies by ons sal aansluit sodat ons die hele kuslyn van die RSA kan dek sowel as Mosambiek en Namibië”, sê ZS1AAZ. Luister na Amateur Radio Mirror International vandag vir meer oor APRS en besoek ook www.sarl.org.za se lede-afdeling.

BEGIN ‘N NUWE SONSIKLUS?

Die sonwetenskapgemeenskap is hierdie week opgewonde. Nee, daar was nie enige groot uitbarstings of storms op die son nie. Die oorsprong van die opwinding is matige kol van magnetisme wat op 11 Desember oor die oostelike kim van die son verskyn het. Sonfisikus David Hathaway van die Marshall Ruimtevlugsentrum het gesê dat miskien nie na iets besonders lyk nie, maar hierdie kol van magnetisme mag ‘n voorteken van die volgende sonsiklus wees. Vir meer as ‘n jaar was daar ‘n kalmte in sonaktiwiteit wat die einde van siklus 23 aangedui het, wat gedurende 2000 tot 2003 met kwaai storms gepiek het. “Die sonminimum is op ons”, sê hy.

Die groot vraag is nou wanneer sal die volgende sonsiklus begin? Luister vanoggend na die volledige storie op Amateur Radio Mirror of besoek www.sarl.org.za.

KOMPETISIENUUS

UITSLAE VAN DIE SARL 80 METER QSO-GESELLIGHEID

Die uitslae van die Oktoberbeen van die SARL 80 Meter QSO-geselligheid is deur die kompetisiekomitee bekend gemaak en in HF Happenings 274 gepubliseer maar dit is nooit in SARLNuus gepubliseer nie.

Jan, ZS4JAN, neem die eerste plek in die Oktoberbeen in met 810 punte, gevolg deur die Adventure ARK met 790 punte, die Oosrand ARK met 625 punte, Christo, ZU4CM, met 515 punte, Jo, ZR5PO, met 290 punte, Marius, ZS4MP, met 230 punte, George, ZS6NE, met 100 punte, Allan, ZR1AAH, met 80 punte en Ian, ZS5IAN, met 60 punte. 'n Kontrolelog is van Charl, ZS1CF, ontvang.

Die gesamentlike uitslae van die twee bene van die kompetisie het Jan, ZS4JAN in die eerste plek met 1 340 punte, die Adventure ARK tweede met 1 270 punte en die Oosrand ARK derde met 805 punte. Die vierde tot negende plekke is soos in die Oktoberuitslae.

KLUBNUUS

DIE SUID-KAAP AMATEURRADIOKLUB-AJV

Die Suid-Kaap Amateurradioklub het hul AJV op die 1 Desember 2007 gehou, en die volgende bestuurslede is vir 2008 verkies:

Voorsitter ZS1PC Dawid Petzer;
Visevoorsitter ZS1M Chris Meyer;
Sekretaris + Tesourier Bets Meyer;
Bestuurslede ZS1ZR John Fletsher;
ZS1DRM John Mostert;
ZS2CC Wille Hewitt;
ZS1FA Chris Nortier;
ZS1WC Jacques Vermeulen.

Innige dank aan die uittredende komiteelede en sterkte aan die nuwe komitee vir die werk wat voorlê.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week bietjie hoër gaan wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees maar sal gedurende 17 tot 19 Desember aktiewe vlakke bereik. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 30 wees. Die DX-toestande is goed vir die Oos-Wes-paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 14:00. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, flou 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 10, 15 en 20 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Januarie 2008 - NARS heropen;
21 Januarie – Sluitings datum van SARL-HMO-bakenkompetisie;
26 Januarie – BARC vergadering om 11:00 by NARS;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie.

SARLNuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003