Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARLNUUS SONDAG 6 JANUARIE 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

30 METER DIGITALE NAWEEKAKTIWITEIT OP 19 EN 20 JANUARIE

HUNTING LIONS IN THE AIR


U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

30 METER DIGITALE NAWEEKAKTIWITEIT OP 19 EN 20 JANUARIE

‘n Tweedaagse aktiwiteit is deur 30 meter entoesiaste gereël ten einde amateurs wat in PSK 31, en ander digitale modusse, belangstel ‘n geleentheid te bied om op 10 MHz te gesels. Die aktiwiteit sal om 00:01 UTC op 19 Januarie begin, oor twee dae strek en om middernag op 20 Januarie eindig. Die 10 MHz-band behoort interessante DX-toestande gedurende die nagure op te lewer. Die aktiwiteit sal fokus op 10,135 tot 10,145 MHz. Die hoofmodus sal PSK31 op 10,140 MHz plus minus 1 000 Hz wees. Die doelwit is vir amateurs wëreldwyd om met EU-stasie kontak te maak ten einde aktiwiteit dmv. digitale modusse te promoveer en en digitale aktiwiteit op 30 m aan te wakker.

Hierdie is nie ‘n kompetisie nie, maar ‘n aktiwiteit om 30 meter digitale aktiwiteite aan te blaas in samewerking met die 30 Meter Digitale Groep. Logstate word nie benodig nie, maar deelnemende radioamateurs word verssoek om e-pos te stuur aan m5aav@30meterdigital.org waarin vermeld word met hoeveel stasies kontak gemaak is.

Die oogmerk van die 30 Meter Digitale Groep is om die gebruik van digitale modusse op die 30 m-band aan te moedig en om die aandag te vestig op hoe wonderlik hierdie band in werklikheid is. Die groep bevorder bewustheid van hierdie unieke HF-band wat deur baie genoem word ‘die bes bewaarde geheim’ van HF-radio. Die groep wakker ook goeie digitale bedryfsprosedures, verskillende digitale modusse, eksperimentering, bekende weeklikse en maandelikse aktiwiteite, afsprake, aktiwiteitsfrekwensies, antennas en voortplantingsrapporte vir slegs die 30 m-band. Vir verdere inligting aangaande die groep, besoek www.30meterdigital.org.

HUNTING LIONS IN THE AIR

Die jaarlikse Hunting Lions in the Air kompetisie vind plaas oor die naweek van 12 en 13 Januarie 2008. Hierdie is 'n gesamentlike aktiwiteit met radioamateurs en lede van die LIONS-organisasie. Dit is 'n foon- en GG-kompetisie op 80 tot 10 meter, 'n RS- of RST-verslag en 'n reeksnommer word uitgeruil. Die reëls sal saam met HF Happenings uitgestuur word.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag tot laag gaan wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees behalwe gedurende 6 tot 8 Januarie wanneer onrustige toestande verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 25 wees.

Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noord-Oos- en Noord-Wes-paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings. 15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 15:00. Vanaf ongeveer 18:00 is daar ook moontlike kort, flou 20 m openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode-en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse, dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Wie weet, dalk bring die nuwe jaar sakke vol kontakte? Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Januarie 2008 - NARS heropen;
12 en 13 Januarie - Hunting Lions in the Air kompetisie;
19 en 20 Januarie – 30 meter digitale aktiwiteit;
21 Januarie - Sluitingsdatum van SARL-HMO-bakenkompetisie;
26 Januarie – BACAR-vergadering om 11:00 by NARS;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie.

SARLNuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003