Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 16 MAART 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Louw, ZS6LME, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In vandag se SARLNuus:

UITNODIGING VIR NOMINASIES VIR DIE NOKIA-SIEMENS NETWERKTOEKENNINGS

UITSLAE VAN DIE SARL HF-VELDDAG

KAAPSE RTA GOED ONTVANG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

UITNODIGING VIR NOMINASIES VIR DIE NOKIA-SIEMENS NETWERKTOEKENNINGS

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust vra vir nominasies vir die 2008 radioamateurtoekenings geborg deur Nokia-Siemens Netwerke. Die tegniese toekenning wat verlede jaar bekend gestel is, staan nou bekend as die Garth Milne Tegnologiese toekenning in herkenning van oorlede Garth Milne se verskeie bydraes tot die ontwikkeling van amateurradiosatelliete in Suid-Afrika. Hy was verantwoordelik vir die insluiting van amateurradio op SUNSAT en het die amateurradiovrag fasiliteer op SumbandilaSat wat eersdaags gelanseer sal word.

Die Garth Milne Toekenning erken tegniese innovasie in amateurradio.

Die Nokia-Siemens Netwerk Radioamateur van die Jaar toekenning verleen erkenning aan ‘n persoon vir sy or haar bydrae tot die ontwikkeling van amateurradio en die Amateurradio Gemeenskapsdienstoekenning verleen erkenning aan ‘n persoon of groep van persone wat ‘n diens gelewer het aan die gemeenskap.

Volledige besonderhede en nominasievorms is beskikbaar by www.amateurradio.org.za of die dokumente kan per e-pos aangevra word vanaf saardt@intekom.co.za.

Die sluitingsdatum vir nominasies is 21 April 2008.

RADIO ZS NOU AANLYN BESKIKBAAR

Die nuutste uitgawe van Radio ZS is nou op www.sarl.org.za beskikbaar en dit bevat interessante leesstof. Dave Ingram, K4TWJ, skryf oor ‘n QRP-pen, ‘n vindingryke toestel om jou vriende te beïndruk. Jan Botha, ZS4JAN, gee meer advies oor suksesvolle kompetisewerking. George Honiball, ZS6NE, vertel hoe ons die ISO-eenhede moet gebruik. Jy kan alles lees oor museums, BHF mobiele antennawerkverrigting en “Automatic Link Establishment”, om van die ander artikels te noem.

Om dit aanlyn te lees, klik op die ledeknoppie reg bo-op die SARL-tuisbladsy, voltooi jou roepsein en PIN en volg die skakels om Radio ZS af te laai.

KAAPSE RTA GOED ONTVANG MAAR BYWONING WAS LAER AS VERWAG

Die doelwit van die SARL se Radiotegnologiesimposiums is om radioamateurs en elektroniese knutselaars bekend te stel aan nuwe tegnologie en ontwikkelings in amateurradio en kommunikasie. Die program bereik die doelwit deur gebruik te maak van aanbiedings van hoogstaande gehalte oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe.

Met so min blootstelling aan nuwe tegnologieë, sou groter bywoning verwag word. As jy nie bygewoon het nie, laat ons weet hoekom sodat ons iets kan doen aan jou besorgdheid vir toekomstige RTA’s. Stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za. Die terugvoer ontvang van die meeste van die 40 bywoners was goed.

Die volgende twee RTA’s is in Durban op 14 Mei en Port Elizabeth op 31 Mei. Besonderhede sal op die web gepubliseer word.

UITSLAE VAN DIE SARL-HF-VELDDAG

Die voorlopige uitslae van die Februarieskof van die SARL-HF-Velddag is bekend gemaak. Die komitee het 14 logstate en 1 kontrolelog ontvang. Die uitslae is soos volg:

Multi-operateur Veldstasie:

1ste Sasolburg ARK, ZS4SRK - 71 420 punte;
2de Pretoria ARK, ZS6PTA - 39 888 punte;
3de Wesrand ARK, ZS6WR - 26 552 punte;
4de Hibiscuskus ARK, ZS5HAC - 25 944 punte;
5de Kaapstad ARS, ZS1CT - 10 732 punte;
6de Boland ARK, ZS1TB - 4 514 punte.

Enkeloperateur Veldstasie:

1ste Jan Botha, ZS4JAN - 55 440 punte;
2de Marthinus Herbst, ZS6MHH - 7 200 punte;
3de Andre v Deventer, ZS2BK - 6 816 punte;
4de Christo vd Merwe, ZU4CM - 4 036 punte.

Algemene stasies:

1ste Philip Esterhuizen, ZU4PE - 19 924 punte;
2de Theunis Potgieter, ZS2EC - 5 061 punte;
3de Pierre v Deventer, ZS6BQS - 4 560 punte;
4de Dennis Green, ZS4BS - 2 898 punte;

Kontrolelog - Lichtenburg ARK, ZS6LRK.

2 METERBAKENPROJEK

Die tweemeterbakenprojek is begin deur John Sygo, ZS6JON, en daar is reeds vier bakens op die lug, met nog ’n klompie wat eersdaags op die lug sal wees. Die uitsetkrag van die bakens wissel tussen 10 en 20 W. Die “keyers” wat deur John, ZS6EF, geskenk is, werk in twee modusse. Wanneer die baken aanskakel word, word die roepsein en ruitblok in GG op FM uitgesaai. Dan word dieselfde boodskap in ’n FM-formaat uitgesaai wat operateurs met GG/ESB-toerusting toelaat om dit te ontvang. Die boodskap word aanhoudend uitgesaai. Die bakens om vir uit te luister is:

ZS6SRL, NARS op 144,405 MHz; ZS4AFV, Bloemfontein op 144,415 MHz; ZS5LEE, Durban op 144,420 MHz en ZS1NAZ, Kaapstad op 144,435 MHz. Ontvangsverslae kan gepos word op die ZSVHF e-poslys en ook aan die bakeneienaars gestuur word.

SARL NASIONALE KONVENSIE

Die reëlingskomitee stel graag lede in kennis dat die sluitingsdatum van 6 April niks met verblyf te doen het nie, maar met bywoningsyfers vir spyseniering by die verskillende funksies. Lede moet self verblyf reël. Die funksiebesprekingsvorm en ’n lys van verblyfplekke is beskikbaar op www.sarl.org.za of ’n versoek kan gerig word aan zs4bs@netactive.co.za.

KLUBNUUS

'n Groep radioamateurs het nou 'n werkgroep gevestig onder die naam Tshwane Amateurradiokonstruksiegroep. Die doelstelling van die groep is om gesamentlik en afsonderlike konstruksiebehoeftes van die lede te bevredig en almal is welkom.

Geen klubkostes is ter sprake nie en die enigste finansiële implikasie wat moontlik mag ontstaan is waar medelede nie met komponente behulpsaam kan wees nie. Die volgende byeenkoms is Saterdag 22 Maart 2008 om 13:00 by die huis van Len, ZS6LEN.

Indien jy belangstel in die konstruksie van 'n 80 m antenna wat uit 2 meter PVC pyp, jou vrou se aluminiumfoelie en ‘n klein aantal draaie koperdraad vervaardig word, kontak Len, ZS6LEN, by 012 345 4447 / 082 416 2598 of Whitey, ZS6JJJ, by 012 993 1167 / 082 416 7250.

Die Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging (KARTS) het op 8 Maart hulle AJV gehou en die volgende komitee is verkies:

Voorsitter - Clive Reeks, ZS6BT; Ondervoorsitter - Viv Dold, ZS6VD; Sekretaris - Theo Barkhuizen, ZS6KI en Finansies - Paul Cornelius, ZS6PJC.

Die vereniging het ook vaarwel gesê aan Hannes, ZS6LW, wat eersdaags na Nieu-Seeland verhuis.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen rustig wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noord-Oos paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike kort 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd nog steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie;
31 Maart - Sluitingsdatum vir nominasies vir Tinus Lange-toekennings;
3 April - SARL 80 meter QSO-geselligheid;
6 April - Sluitingsdatum vir bywoningsbesprekings vir die SARL se AJV;
11 tot 13 April - SARL AJV in Bloemfontein;
12 April - Kemptonpark AmateurRadio Tegniese Vereniging begin met 'n Klas B RAE-kursus;
19 April - SA AMSAT Ruimtekommunikasiekonferensie;
21 April – Sluitingsdatum vir Nokia-Siemens Netwerktoekennings.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003