Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 30 MAART 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat Jack Koen, ZR1JAC (ex ZR6JCK), lid van die Tuinroete Radioklub op Woensdag 9 April op 72-jarige ouderdom oorlede is nadat hy vier jaar gelede 'n beroerte gehad het wat hom gedeeltelik verlam gelaat en sy spraak bemoeilik het. Aan sy eggenote Pam en drie seuns ons innige simpatie.

G Kleynhans, ZS5GK, van Newcastle, lid van Noord-Natal Rdaioklub en vader van Gert, ZS5GJK, is op Donderdag die 11de oorlede. Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In vandag se SARLNuus:

2008/2009 SARL-RAADSLEDE EN PORTFOLIOS

RASSIE ERASMUS, ZS1YT, SE PRESIDENTSREDE

DIE SARL SE WENNERS VAN TOEKENNINGS VIR DIE AFGELOPE JAAR

LAASTE GELEENTHEID OM VIR SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM TE REGISTREER

WENNERS VAN DIE EERSTE RONDTE VAN DIE KONSTRUKSIEKOMPETISIE AANGEKONDIG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

2008/2009 SARL-RAADSLEDE EN PORTFOLIOS

Dertien lede was as Raadslede benoem van wie Graham Hartlett en Piet Badenhorst hul nominasies teruggetrek het. Die oorblywende 11 genomineerdes is dus as Raadslede vir 2008/2009 verklaar.

Met die eerste Raadsvergadering gehou na afloop van die AJV is portfolios as volg toegeken:
Rassie Erasmus, ZS1YT - President en Tesourier;
Dennis Green, ZS4BS - Visepresident en Radio ZS;
Henry Chamberlain, ZS1AAZ – Sekretaris;
Louw Erasmus, ZS6LME – Wetsadviseur en Kantoorbestuurder;
Hans van den Groenendaal, ZS6AKV – ICASA, Publieke Skakeling;
Fred Scheepers, ZS1FCS – Opleiding;
Mark Zank, ZS6YES – RAE;
Graham Butler, ZS1GVB – Advertensiebestuurder;
Laurie Devereaux, ZS5DL – Notulesekretaris en IARU-moniteringsdiens;
Malcolm Kriel, ZS4SM – STARS en Jeugontwikkeling;
Ivan Newman, ZS1ILN – Lidmaatskap en Webwerf.

Francois Botha, ZS6BUU, is tot die Raad geko-opteer met die portfolios Hamnet en QSL-bestuurder.

Aangesteldes is:
George Honiball, ZS6NE – Bulletins;
Tjerk Lammers, ZS6P – Toekennings;
Richard Seddon, ZS2CLI – Webwerf.

Veels geluk aan julle almal, sterkte vir die werk wat voorlę en ons vertrou dat al die ligalede hul volle ondersteuning aan almal sal bied.

RASSIE ERASMUS, ZS1YT, SE PRESIDENTSREDE

Met sy toespraak na sy inhuldiging as President van die Suid-Afrikaanse Radioliga tydens die AJV van die Liga gister in Bloemfontein, het die nuutverkose President Rassie Erasmus, ZS1YT, gesę dat amateurradio ‘n fondament is vir tegniese kennis. Hy het gesę dat dit geen geheim is nie dat baie professionele persone in die veld van radio, TV, kommunikasie en elektronika hulle tegniese opleiding as jong radioamateurs begin het en dat dit steeds gebruik kan word as ‘n uitsonderlike aantrekkingskrag vir toekomstige jong radioamateurs.

Vir sy Presidensiële jaar het hy drie temas gekies wat volg uit die SARL se leuse: “Aamteurradiotegnologie in Aksie”

Die drie temas vir die jaar het ‘n gemeenskaplike doelwit – groei!

• Groei in die toepassing van nuwe tegnologieë, gebou op die Radiotegnologie-in-Aksie-simposia wat die SARL jaarliks in die hoofsentra aanbied en tegniese besprekings op die lug en opleiding..

• Groei van die SARL se lidmaatskap tot die punt waar ons kan sę dat ons werklik die radioamateurs van Suid-Afrika verteenwoordig. Tans verteenwoordig die SARL die meerderheid van alle aktiewe radioamateurs, maar ons sal graag almal onder ons kombers wil inbring, insluitende mense wat ‘n belangstelling toon in kommunikasietegnologie en wat die wonder van die magiese wil ondervind om met die węreld te kan praat.

• Groei van die amateurradiogemeenskap in Suid-Afrika deur meer jongmense in te bring maar ook deur te fokus op die waarde van amateurradio vir die ouer mense as ‘n kwaliteitstydsverdryf.

Hy het gesę dat amateurradio geen ouderdoms- of geslagspeperking het nie, dit vereis slegs ‘n ywerige belangstelling en begeerte om betrokke te raak by ‘n tegniese aktiwiteit en kommunikasie. Vir baie mense het amateurradio die toegang verleen tot ‘n loopbaan in elektronika en kommunikasie. Die tegniese kennis wat verkry word deur ‘n kursus te volg wat dien as voorbereiding vir die radioamateureksamen dien goed as ‘n fondament vir vęrdere studies in hierdie veld.

Hy het hulde gebring aan die uittredende President Graham Hartlett, ZS6GJH, vir sy leierskap oor die afgelope aantal jare en het Graham vereer met lewenslange erelidmaatskap van die SARL.

HOOGTEPUNTE VAN DIE AJV-VERRIGTINGE

Gister se AJV van die SARL was heelwaarskynlik die kortste ooit.

Graham Hartlett, die uittredende President het gerapporteer dat ‘n bevredigende situasie gedurende sy ampstermyn van 5 jaar bereik is.

Lidmaatskap oorskry nou 1 300, die gemiddelde ouderdom het met 1 jaar gedaal weens ‘n toename in die aantal studentelede en die instelling van die ZU-lisensie.

‘n Aansienlike bedrag is bestee aan die RTA-aanbiedings, wat van hoogstaande gehalte was, maar om een of ander rede was bywoning nie soos verwag nie.

Radio ZS het gestyg van zero tot ses uitgawes per jaar.

Die voorgestelde begroting is aanvaar met sekere afslagte op lidmaatskapfooie.

Mosies: No.1 is verwerp en No.2 is eenparig aanvaar.

DIE SARL SE WENNERS VAN TOEKENNINGS VIR DIE AFGELOPE JAAR

Tydens die formele ete gisteraand is die volgende toekennings gemaak:

Lewenslange erelidmaatskap, die SARL se hoogste eerbewys.
Graham Hartlett, ZS6GJH.

Willie Wilson Goue wapen.
Aan amateurs wat voortreflike diens aan die SARL gelewer het.
Peter Hers ZS6PHD;
Colin de Villiers, ZS6COL;
Richard Seddon, ZS2CLI.

Jack Twine Merietetoekenning.
Vir erkenning van kwaliteite soos onselfsugtigheid, skoon bedryfsprosedures, en ‘n werklike belangstelling in amateurradio en sy aangeleenthede, aan:
Johan de Bruyn, ZS6JHB;
Bill Hodges, ZS2AB;
Johan Nel, ZS6JPN;
Richard, Peer ZS6UK;
Paul Ras, ZS6PR.

Icom Voortreflikheidstoekenning, die “premiertoekenning” van die SARL, aan:
Francois Botha, ZS6BUU.

Radio ZS-skildld.
Vir die beste ondersteuning aan Radio ZS gedurende die jaar aan:
Dave Ingram, K4TWJ, vir sy Ham Pride kolomme.

JJ Pienaartrofee vir die beste artikel gepubliseer in Radio ZS gedurende die vorige jaar aan:
Eric Strokenstrom, ZS6BUJ, vir sy artikel “Introduction to Software Designed Radio”

SARL HF-kompetisietoekennings.
Die volgende wisseltrofees word toegeken aan die wenners van die verskillende kategorieë van die jaarlikse HF-kompetisies van die SARL.

Stil Sleutels Herdenkingstrofee, ESB.
Toegeken aan die amateur met die hoogste puntetelling in die jaarlikse HF-foonkompetisie, Dit gaan aan:
Jan Botha, ZS4JAN.

Stil Sleutels Herdenkingstrofee, GG.
Toegeken aan die amateur met die hoogste puntetelling in die jaarlikse HF-GG-kompetisie, Dit gaan aan:
Allan Smith, ZS1AAX;
Vidi le Grange, ZS1EL.

Joseph White-trofee.
Toegeken aan die amateur met die hoogste telling in enige band, gedurende die jaarlikse HF-foonkompetisie, aan:
Andre Botes ZS2ACP.

Fred Mills-trofee.
Aan die amateur met die hoogste telling gedurende die jaarlikse HF-foon of GG-kompetisie en wat nooit tevore ‘n SARL-HF-kompetisietrofee gewen het nie, aan.
P Jendrissek, ZS1JX.

Anon-trofee.
Vir die amateur wat die hoogste telling in enige enkele band gedurende die jaarlikse HF/GG-kompetisie aanteken, aan:
Allan Smith, ZS1AAX;
Vidi le Grange, ZS1EL;
Jan Botha, ZS4JAN;
Hans Kappetijn, ZS6KR.

HOS-trog.
Aan die amateur met die hoogste gesamentlike puntetelling in beide die jaarlikse HF-kompetisies, aan:
Jan Botha, ZS4JAN.

Die Klub- (of Tak) deelnametoekenning.
Toegeken aan die klub (fo Tak) met die hoogste deelname in beide jaarlikse HF-GG- en foonkompetisies, aan:
Bloemfontein Radioamateurklub, ZS4BFN.

Baie geluk aan al die ontvangers van toekennings, julle almal verdien dit.

LAASTE GELEENTHEID OM VIR SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM TE REGISTREER

SA AMSAT se ruimtesimposium vind volgende Saterdag in Durban plaas. Laai die volledige besonderhede van www.amsatsa.org.za af. Vir laatregistrasie bel Laurie Deveraux, ZS5DL, by 031 709 1598.

Die program bied ‘n interessante reeks onderwerpe, wat ook ‘n lewendige koppeling met AMSAT-NA se President, Rick Hambly, insluit. Hy sal ‘n aanbieding doen aangaande die insluiting van amateurradiotransponeerders op geofisiese platforms.

WENNERS VAN DIE EERSTE RONDTE VAN DIE KONSTRUKSIEKOMPETISIE AANGEKONDIG

Die Suid-Afrikaanse Amateurradioontwikkelingstrust het die wenners aangekondig van die eerste rondte van die 2008 konstruksoekompetisie. Met beoordeling van die inskrywings het die trust vier projekte gekies vir die tweede rondte wat die bou van ‘n prototipe vir evaluering behels en waaruit die wenner vir ‘n Icom D-star sendontvanger, geborg deur Multisource Telecommunication aangewys sal word.

Die vier finaliste, in geen besondere volgorde, is:
Christo Pelser, ZS6AQH: ‘n Oudio/RF-meetsender (1 Hz tot 30 MHz).
Louis de Bruin, ZS5LP: ‘n Elektroniese telefoon tot stel koppelapparaat.
Mike Brink, ZS6MEG: Digitale Toets- en Meetbeheerder.
Wessel du Preez, ZS5BLY: ‘n Modulęre weerstasie.

Die vier finaliste sal elk fondse ontvang vir die bou van ‘n prototipe.

Veels geluk aan alvier!

KOMPETISIENUUS

Die Herfs-QRP-Sprint word op Sondag 20 April vanaf 14:00 tot 16:00 SAT op 40 meter gehou. Dit is ’n foon- en GG-kompetisie. Meer besonderhede in volgende Sondag se bulletin.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Kontakte na Australië gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike 10, 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 April - Overberg ARK AJV;
18 April – Wereldamateurradiodag;
19 April - SA AMSAT Ruimtekommunikasiekonferensie; Magalies ARK Snuffelmark en sluitingsdatum vir toekennings deur die SA-Amateurradioontwikkelingstrust en sluitingsdatum vir Nokia Siemens NetwerkToekennings.
20 April - Die Herfs-QRP-Sprint.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003