Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 4 MEI 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In vandag se SARLNuus:

SARL-RTA IN DURBAN – SAL JY EERSKOMENDE SATERDAG DAAR WEES?

ARRL WENNER TEEN FCC IN KLT-SAAK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-RTA IN DURBAN – SAL JY EERSKOMENDE SATERDAG DAAR WEES?

Die SARL se jaarlikse program Radiotegnologie-in-Aksie sal op Saterdag 10 Mei in Durban en op 31 Mei in Port Elizabeth aangebied word. Hierdie is geleenthede om in pas te kom met nuwe tegnologieë en interessante aktiwiteite wat amateurreadio tot groter hoogtes as ooit tevore sal neem. Die aanbieding in Durban sal plaasvind in die Skool van Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese in die Howard-kollegekampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Leer aangaande spreispektrum met John Willescroft en ‘n praktiese demonstrasie oor hoe om aan die gang te kom met spreispektrumkommunikasie.

Neem met lokale klubvoorsitters deel aan ‘n debat aangaande waarheen amateurradio gedurende die volgende 5 jaar sal gaan. Die voorsitter tydens hierdie debat sal die SARL se President, Rassie Erasmus, ZS1YT, wees.

Ruimteweer en HF-voortplanting is nog ‘n onderwerp wat die gedagtes gaan prikkel wanneer die nuwe sonsiklus opwaarts gaan begin beweeg.

Vind alles uit aangaande die SARL se bakenprojek en hoe jy uit die gemak van jou eie radiokamer daarby betrokke kan raak. Hierdie projek geniet wye aanhang. Moedig jou luisteraarsvriende aan om saam met jou die RTA by te woon.

WiFi is nie meer beperk tot die tot die inkopiesentrum se koffiekroeg nie. Dit wurm hom in amateurradio in en verbind klublede teen hoëspoed en voorsien goedkoop toegeng tot die internet. Chris Scarr van die Port Elizabeth Radioamateurvereniging sal vir jou wys hoe hulle dit bereik het en hoe jou klub dieselfde kan doen.

Rick Hambly sluit vanuit die VSA by die RTA aan met ‘n insiggewende aanbieding oor die toekoms van amateurradiosatelliete. Hierdie telekonferensie sal jou vir ‘n lang tyd aan die praat hou.

Daar is ‘n nuwe manie met die gebruik van GPSse, genoem geo-opsporing. Dit het Durban stormerhand oorweldig. Sluit aan by Peter Dryer van die Sterrekundige Vereniging om uit te vind hoe jy ‘n GPS kan gebruik om vir versteekte dinge te kan soek.

Die prys vir bywoning is ‘n omvattende gereedskapstel wat geskenk is deur Northside Electrical Wholesalers en daar is ook nog baie ander pryse. Toegang is R20 wat by die deur betaalbaar is. Studente en skoliere woon die verrigtinge gratis by.

Besoek www.sarl.org.za vir addisionele inligting aangaande plek van byeenkoms en roeteaanwysings.

ANTENNADESKUNDIGE L. B. CEBIK, W4RNL, STIL SLEUTEL

L. B. Cebik, W4RNL, die ARRL se Tegniese Adviseur en antennaspesialis is verlede week op 68-jarige ouderdom oorlede. Hy was lewenslange lid van die ARRL en was bekend aan baie amateurs vir die veelvuldige artikels wat hy oor antennas en antennamodellering geskryf het en wat in meeste van die Amerikaanse amteurtydskrifte gepubliseer is. Larry Wolfgang, WR1B, die redakteur van QEX het van hom gesę “heelwaarskynlik die mees gepubliseerde en meeste geleesde outeur van amateurradioantenna-artikels wat ooit oor die onderwerp geskryf het”. Frank, VK2AKG, het gesę “dit word gehoop dat Cebik se webwerf, wat hulp verleen aan amateurs sowel as professioneles, nog vir jare aan die gang sal wees”, dit is www.cebik.com/.

ARRL WEN FCC IN KLT-SAAK

Die ARRL het ‘n merkwaardige oorwinning behaal in sy geveg om die impak van breëband oor kraglynstelsels, as KLT in Suid-Afrika bekend, te minimaliseer. Die appelhof in die VSA het besluit dat die FCC nie die tegniese studies, waarop die FCC staatgemaak het, en wat die ARRL se tegniese span weerlę het, ten volle aan die publiek bekend gemaak het nie. Die FCC moet nou weer kyk na die tegniese basis waarop sy reels vir KLT gebaseer is.

‘n Breedvoerige verslag is beskikbaar op die ARRL se webwerf nl. www.arrl.org.

RSGB SE HK HET VERHUIS

Die RSGB het sy verhuising na Bedford voltooi en is ten volle operasioneel. Die kantoor in Bedford is suiwer administratief en is nie oop vir besoekers nie. ‘n Doelgerigte besoekersentrum, die RSGB-Pawiljoen, sal in Bletchley Park gebou word. Dit sal die Nasionale Amateuradiobiblioteek en museum en die GB3RS-stasie insluit.

KOMPETISIENUUS

Die ZS3 / ZS4 40 Meter Naelloop is 'n pretgeleentheid om kontakte tussen radioamateurs in die Noord-Kaap en Vrystaat en die res van Suider-Afrika te bevorder. Dit is 'n foon- en GG/PSK31-kompetisie op die 40 meterband. Die naelloop is Sondag 4 Mei op die lug vanaf 16:00 tot 17:00 SAT. 'n RS(T) verslag en die provinsie- of landsafkorting word uitgeruil.

Die Antieke Draadloosvereniging se Lamp-QSO-Geselligheid is 'n foonalleenkompetisie op 40 en 80 meter. Verkieslik moet slegs radios met lampe gebruik word. Die AM-QSO-geselligheid vind plaas op Sondag 10 Mei vanaf 16:00 tot 18:00 SAT en die ESB-QSO-geselligheid vind plaas op Sondag 11 Mei ook vanaf 16:00 tot 18:00 SAT.

Volledige besonderhede oor beide kompetisies is beskikbaar is die 2008 SARL Kompetisieboek asook HF Happenings 299.

KLUBNUUS

Tydens die AJV van die Durban Amateurradioklub wat onlangs gehou is, is al die lede van die komitee wat al vir ‘n aantal jare aan die stuur van sake ataan herkies. Hulle is:

Voorsitter Louis de Bruin, ZS5LP;
Visevoorsitter Dave Long, ZS5FR;
Sekretaris Laurie Devereux, ZS5DL;
Tesourier Louis de Bruin, ZS5LP;
Lede Dave Smith, ZS5LPT, Harry Houlihan, ZS5H, Glen
Duffy, ZS5GD, en Neil Slogrove, ZR5NAS.

Baie dankie aan die komiteelede vir die werk gedurende die vorige jare gedoen en sterkte vir wat voorlę.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen onrustig tot aktief wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m-openinge na Europa.

Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Nie te lank van nou af nie gaan 160 m weer baie bruikbaar begin word.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

4 Mei - ZS3 / ZS4 40 Meter Naelloop;
5 Mei – Logstate vir Herfs-QRP-naelloop moet in wees.
10 Mei – RTA in Durban;
10 Mei - AM-QSO-geselligheid;
11 Mei - ESB-QSO-geselligheid;
31 Mei – RTA in Port Elizabeth;
8 Junie – Sluitingsdatum vir inskrywings vir Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging se klubwapenkompetisie.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, en George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003