Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 11 MEI 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In vandag se SARLNuus:

SLUIT NOU BY DIE SARL AAN EN KRY MEI EN JUNIE GRATIS

SA AMATEURRADIOONTWIKKELINGSTRUST TOEKENNINGS AANGEKONDIG

STUUR JOU NAAM NA DIE MAAN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SLUIT NOU BY DIE SARL AAN EN KRY MEI EN JUNIE GRATIS

Sluit nou aan by die SARL en kry Mei en Junie se lidmaatskap gratis. Jy kom ook in aanmerking vir die R15 kontantkorting. Die lidmaatskapfooi vir gewone lede vir 2008/2009 is R320, maar as dit voor 31 Augustus betaal word, is daar ‘n R15-korting. Dit beteken dat as jy nou aansluit of jou lidmaatskap herniu voor 31 Augustus, jy teen verlede jaar se tarief betaal.

Seniorlede kry n soortgelyke aanbod. Die nuwe seniorlidmaatskapfooi is R200, maar as dit teen 31 Augustus betaal word, is daar ‘n R16-korting wat die fooi afbring na R184. Nuwe seniorlede wat nou aansluit, kry ook Mei en Junie gratis teen R184.

Besoek www.sarl.org.za vir die lidmaatskap-aansoekvorm of skakel Vee Maandae tot Vrydae tussen 09:00 en 13:00 by 011 675-2393.

SA AMATEURRADIOONTWIKKELINGSTRUSTTOEKENNINGS AANGEKONDIG

Die Suid-Afrikaanse Amateurradioontwikkelingstrust het die wenners van die 2008 toekennings bekend gemaak. Die Garth Milne Tegnologietoekenning sal tydens ‘n funksie volgende Vrydag in Midrand aan John Willescroft, ZS6EF, gemaak word. Die Nokia Siemens Radioamateur van die Jaar Toekenning gaan aan Graham Hartlett, ZS6GJH, en die Nokia Siemens Networks Gemeenskapsdienstoekenning gaan aan Craig Symington, ZS6RH. Luister volgende week vir meer besonderhede oor hulle prestasies.

RADIOAMATEUR-EKSAMEN 15 MEI

Die Radioamateur-eksamen word Donderdagaand 15 Mei in verskeie sentra in Suid-Afrika geskryf. SARLNuus wens alle kandidate sterkte toe met die eksamen.

STUUR JOU NAAM NA DIE MAAN

NASA nooi mense van alle ouderdomme om aan te sluit by die maaneksplorasiereis met die geleentheid om hulle name aan boord die Maanverkenningswenteltuig, of LRO-ruimtetuig, na die maan te stuur.

Die Stuur Jou Naam na die Maan webwerf laat almal toe om deel te neem aan die maanavontuur en hulle name in ’n wentelbaan om die maan te plaas vir die toekoms. Deelnemers kan hulle besonderhede by http://www.nasa.gov/lro indien, ‘n sertifikaat druk en hulle naam in ’n databasis laat insluit. Die databasis sal op ’n mikroskyfie geplaas word wat geïntegreer sal word in die ruimtetuig. Die sluitingsdatum vir die indien van name is 27 Junie 2008.

Die LRO-sending is die eerste stap in NASA se planne om teen 2020 weer mense op die maan te plaas en jou naam kan eerste daar wees.

Die Wenteltuig, wat bestaan uit ses instrumente en een tegnologiese demonstrasie, sal die mees omvattende datastel nog ooit van die maan terugstuur. Die sending sal fokus op die keuring van veilige landingsplekke en die identifisering van maanhulpmiddels. Dit sal ook ’n studie maak van die uitwerking van die maan se uitstraling op die mens.

Die LRO sal ook ’n omvattende atlas opstel van die maan se terreinvorm en ’n opname maak van die hulpbronne wat deur NASA benodig word vir die ontwerp en bou van die beoogde maan-buitepos. Die sending sal toekomstige menslike eksplorasie ondersteun en terselfdertyd dien as wegspringplek vir toekomstige wetenskaplike sendings. Volgens beplanning sal die LRO laat in 2008 gelanseer word.

Die Maanverkenningswenteltuig word by Goddard gebou. Die sending sal sal bestuur word by die sentrum vir NASA se “Explorations Systems Mission Directorate” in Washington.

Om jou naam na die maan te stuur, besoek http://www.nasa.gov/lro en moet nie jou roepsein vergeet nie!

NUWE ADVERTENSIEGELEENTHEID VIR KLEIN ADVERTEERDERS

Die SARL gaan spasie beskikbaar stel op die tuisblad vir kommersiële adverteerders wat “ham ads” wil plaas. Die diens is beskikbaar op ’n kontrakbasis, sodat die advertensie maandeliks verander kan word. Die advertensie mag slegs teks wees met die maatskappy se naam, kontakbesonderhede en ’n klikskakel na sy tuisblad. Die advertensie sal baie lyk soos dié in die snuffelkolomme van die dagblaaie.

Om volledige besonderhede te bekom, stuur ’n blanko e-pos met “ham ads” in die onderwerplyn aan armi@sarl.org.za.

SKA OP DIE AGENDA BY DIE RTA IN PORT ELIZABETH

Adrian Tiplady van die “Square Kilometre Array” se span sal ‘n aanbieding lewer tydens die Port Elizabethse SARL se Radiotegnologie in Aksie-simposium wat op Saterdag 31 Mei 2008 op die Noordkampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gehou word. Hy sal een van die baie sprekers wees wat radioamateurs en elektroniese entoesiaste sal inlei na die eeu van wetenskap en tegnologie.

Volledige besonderhede oor die program en die ongelooflike bywoningspryse sal in die komende week op www.sarl.org.za gepos word.

OEFENING DOUBLE BARREL 3

71 Seineenheid, ’n reserwemag-eenheid, hou oor die naweek van 24 en 25 Mei 2008 sy jaarlikse militêre/amateur- HF-kommunikasie-oefening, Oefening Double Barrel 3. Hulle gaan vanaf Rawsonville in die Wes-Kaap aktief wees met die roepsein ZS71SIG. ’n QSL-kaart sal uitgegee word om die oefening te gedenk.

Die doel van hierdie oefening is om die eenheid en sy lede die kans te gee om waardevolle HF-ondervinding op te doen. Terselfdertyd verskaf dit ’n opwindende platform vir die amateurradiogemeenskap om in ’n opleidings- en voorbereidingsoefening te kommunikeer met ander rolspelers, byvoorbeeld militêre en ander noodoperateurs.

Amateurfrekwensies wat gebruik sal word, is 1,845 LSB, 3,760 LSB, 7,060 LSB en 14,300 HSB, asook 10,135 HSB +- QRM. Die militêre opleidingsfrekwensies sal per seininstruksie uitgereik word aan deelnemers. Deelnemende radioamateurs word aangemoedig om deel te neem as ’n veld-, mobiele of basisstasie terwyl daar met verskillende antennas en kraguitsette geëksperimenteer word. Die radioamateurgemeenskap word daaraan herinner dat bogenoemde frekwensies in gebruik sal wees oor die naweek van 23 tot 25 Mei 2008 en word gevra om voorsiening te maak vir die oefening.

Skakeling met ander rolspelers sal eersdaags afgehandel wees. Deelnemers kan Pierre, ZS1HF, by zs1hf@telkomsa.net of 083 321 1449 kontak vir meer besonderhede.

KOMPETISIENUUS

Die Antieke Draadloosvereniging se Lamp-QSO-Geselligheid is 'n foonalleenkompetisie op 40 en 80 meter. Verkieslik moet slegs radios met lampe gebruik word. Die AM-QSO-geselligheid is gister gehou en vanmiddag word die ESB-QSO-geselligheid gehou vanaf 16:00 tot 18:00 SAT.

Volledige besonderhede oor die kompetisie is beskikbaar in die 2008 SARL Kompetisieboek.

RADIO ZS

Die redakteur is op soek na materiaal vir publikasie in die Mei/Junie 2008-uitgawe van Radio ZS. Materiaal kan in MS Word- of PDF-formaat en prente in jpg- of PDF-formaat versend word. Stuur jou bydrae op die laatste Sondag 18 Mei aan radiozs@sarl.org.za .

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil tot onrustig wees behalwe gedurende 13 Mei, wanneer aktiewe vlakke verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX toestande is goed vir die noordelike rigtings maar taamlik swak vir die hoofsaaklik noordwestelike paaie.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15- en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike goeie 15- en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die mMorse-kode en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Nie te lank van nou af nie gaan 160 m weer baie bruikbaar begin word.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd nog steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

11 Mei - ESB-QSO-geselligheid;
15 Mei – Radio Amateur Eksamen;
23 tot 25 Mei – Oefening Double Barrel 3;
31 Mei - RTA in Port Elizabeth;
8 Junie - Sluitingsdatum vir inskrywings vir Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging se klubwapenkompetisie.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003