Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 18 MEI 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die Magalies Amateurradioklub moet aankondig dat ‘n oudlid van die klub Gijs de Vries, ZS6AKO, in die ouderdom van 84 jaar se sleutel op 2 Mei stil geraak het. Ons innige meegevoel aan sy eggenote Nellie, kinders, kleinkinders en vriende.

(POUSE)

In vandag se SARLNuus:

SARL VERANDER VAN BANK

DIE RTA IN PORT ELIZABETH IS ‘N MOETBYWOON

VLIEG DEUR DIE IONOSFEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL VERANDER VAN BANK

Die Raad van die SARL het besluit om die SARL se bankrekenings vanaf Standard Bank na ABSA te skuif. As jy deur middel van ‘n bankoordrag of die internet betaal, neem kennis van die volgende besonderhede:

Rekeningnaam: Suid-Afrikaanse Radioliga;
Bank: ABSA;
Takkode: 632 005;
Rekeningnommer: 4071588849.

Wanneer betaling elektronies gedoen word, vra die bank om ‘n e-pos aan admin@sarl.org.za of ‘n faks aan 088 011 675 2793 te stuur.

DIE RTA IN PORT ELIZABETH IS ‘N MOETBYWOON

As jy binne ’n paar ure se ry vanaf Port Elizabeth is, word jy aangemoedig om na die vriendelike stad te reis om die RTA by te woon. Die program is seker een van die beste wat al tydens ’n RTA aangebied is. Kyk net na die verskeidenheid vanaf leer alles oor Spreispektrumkommunikasie, tot ’n praktiese aflaai op die PEARS WiFi-stelsel en alles oor hoe die SKA – “Square Kilometre Array” radiokommunikasie in ‘n sekere gebied in Suid-Afrika sal beïnvloed. Hierdie is maar sommige van die aanbiedings. As dit nie genoeg is nie, behoort die bywoningspryse dit te doen. HRO Suid-Afrika het ’n Yaesu VX120E BHF-handdraagbare radio, ’n MFJ kunsmatige grond en ’n JNC GPS geborg. Van Commco kan jy ’n doen dit self draadloosdiefalarm wen. Dit gebeur alles op 31 Mei 2008 met registrasie om 08:15 en die program begin om 09:00.

Kry al die besonderhede op www.sarl.org.za.

RADIO ZS IN DIE POS EN OP DIE WEB LATER HIERDIE WEEK

Later in hierdie week sal ’n volgende uitgawe van Radio ZS in die pos wees vir lede en ook op die web beskikbaar wees. Hierdie uitgawe is vol leesartikels en projekte. Bou ’n weerligvoorspeller om jou te waarsku wanneer weerlig na jou gebied beweeg. Hierdie interessante projek is ontwerp deur John Willescroft, ZS6EF, en bevat al die inligting wat jy nodig het om hier handige toestel te bou. Ons internasionale korrespondent, Dave Ingram, skryf oor die WARC-bande en Australië se VK4FUQ verduidelik die voordele van ‘n geraasbeperkende lusantenna. Dan ook die gereelde bydraes. Moenie hierdie uitgawe misloop nie.

As jy nou aansluit kry jy hierdie uitgawe van Radio ZS en die volgende een as deel van die twee maande gratis lidmaatskap. Jy moet aansluit vir 14 maande maar betaal slegs vir 12 maande en dit teen die kontant terug tarief van R305. Die normale tarief vir 2008/ 2009 is R320. Lidmaatskap word eers geaktiveer na ontvangs van betaling met die aansoek. En nog kry jy toegang na die lede alleen gedeelte van www.sarl.org.za met vorige uitgawes van Radio ZS en ander interessante items om af te laai.

VLIEG DEUR DIE IONOSFEER

Sonder om jou huis te verlaat kan enigiemand deur die geïoniseerde gaslaag wat die aarde omsirkel aan die rand van die ruimte vlieg. Al wat nodig is, is ’n internetkoppeling en ’n gratis kopie van Google Earth wat beskikbaar is vir aflaai by http://earth.google.com/.

NASA noem die ionosfeer die laaste gedeelte van die aarde se atmosfeer wat ruimtemanne agterlaat as hulle die ruimte in vaar. Die ionosfeergebied strek vanaf 50 tot 500 myl bo die oppervlak van die aarde waar die atmosfeer uitdun tot ’n amper vakuum en aan die woede van die son blootgestel word. Ultravioletuitstraling van die son breek molekules en atome op en skep ’n wêreldwye waas van elektrone en ione.

Deur gebruik te maak van Google Earth se koppelvlak kan gebruikers bokant, om en deur hierdie gebiede vlieg om ’n werklike 4D beeld van die situasie te kry. "Die vierde dimensie is tyd. Dit is ’n werklike tydstelsel wat elke 10 minute bygewerk word”.

Die regte naam vir die stelsel is CAPS, ‘n afkorting vir “Communication Alert and Prediction System.” Satelliete in wentelbane om die aarde voer die stelsel met op die minuut inligting oor sonaktiwiteit. Die metings word dan verwerk tot elektrondigtheid deur natuurkundige gebaseerde rekenaarkodes. Dit is belangrik om onthou dat CAPS die ionosfeer nie net wys soos dit nou is nie, maar ook wat in die nabye toekoms gaan gebeur.

Volgens voortplantingspesialis Carl Luetzelschwab, K9LA, sal hierdie model vir radioamateurs ’n wye beeld gee van wat die ionosfeer nou doen.

“Vir radioamateurs is hierdie ’n goeie program omdat dit hulle toelaat om te bepaal watter frekwensies beskikbaar gaan wees vir kommunikasie met enige deel van die wêreld waarheen hulle op daardie tydstip wil kommunikeer. Die belangrikheid van hierdie nuwe produk is dat dit die eerste fisiese model van die ionosfeer is wat beskikbaar is vir die wye amateurradiogemeenskap. Tans gee dit slegs ’n wye oorsig, maar dit is ’n teken van dinge wat nog kom, het Carl gesê.

Wil jy deur die ionosfeer vlieg, besoek http://science.nasa.gov/.

NOU IS DIT HIER, NOU IS DIT WEG

Vinnige optrede deur lede wat die SARL-webmeesters in kennis gestel het dat daar probleme op die SARL-webwerf is en hulle vinnige reaksie het gesorg vir ’n skoon webwerf. Iemand het Henry Chamberlain se wagwoord gebruik en URL-adresse van volwasse webwerve gepos en die indruk geskep dat dit vanaf Henry kom. Die forumgedeelte is vinnig gesluit en ondersoek is ingestel om uit te vind hoe dit gebeur het. Henry se wagwoord is alreeds verander.

KOMPETISIENUUS

Die volgende kompetisie-uitslae is bekend gemaak:

BHF/UHF-naelloop gehou op 24 Februarie: 1ste Marius Preston, ZS4MP, met 52 punte, 2de Dennis Green, ZS4BS, met 46 punte en 3rde Tyron Brown, ZU5T, met 20 punte.

SARL BHF/UHF-ikompetise gehou op 15 en 16 Maart: Veldstasie multi-operateur Pretoria ARK 54682 punte; Veldstasie Enkel operateur Oosrand ARK, ZS6ERB, met 10917 punte; Vaste stasie Bert Howes, ZS6HS, met 790,5 punte.

Herfs QRP-naelloop gehou op 20 April: 1 watt klas Pierre van Deventer, ZS6BQS, met 2 400 punte; 5 watt klas 1ste Jan Botha, ZS4JAN, met 3 484 punte, 2de Allan Wood, ZR1AAH, met 1 120 punte, 3rde Vidi le Grange, ZS1EL, met 588 punte en 4de Gary Potgieter, ZS5NK, met 336 punte.

Tot op hede het die SARL se Kompetisiebestuurder nog geen uitslae van die SARL Hamnet 40 meter kompetisie wat op 2 Maart gehou is, ontvang nie.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZ, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil tot onrustig wees behalwe gedurende 20 Mei wanneer lae stormvlakke verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Nie te lank van nou af nie gaan 160 m weer baie bruikbaar begin word.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

23 tot 25 Mei – Oefening Double Barrel 3;
31 Mei - RTA in Port Elizabeth;
8 Junie - Sluitingsdatum vir inskrywings vir Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging se klubwapenkompetisie.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003