Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 1 JUNIE 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

QSL-BURO BENODIG VRYWILLIGERS

JEUGDAGNAELLOOP OM DIE JEUG AAN DIE PRAAT TE KRY

SARL-FAKSNOMMER GEBRUIK ASSEBLIEF DIE VOLLE 13 SYFERS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

QSL-BURO BENODIG VRYWILLIGERS

Sluit twee dae ’n maand aan by die QSL-Burospan en deel in goeie spangees met ander lede van die sorteerspan. Met slegs twee persone wat inkomende QSL-kaarte sorteer is daar vertragings met die uitstuur van kaarte aan lede. Die span sien uit na ’n paar nuwe lede om by hulle aan te sluit.

Vir diegene wat kaarte wil optel of QSL-sake met die span wil bespreek is bywoningsdae vir die volgende twee maande 3 en 17 Junie en weer op 1 en 15 Julie.

Kontak asseblief vir Francois, ZS6BUU, op 011 679 5260 om by die QSL-burospan aan te sluit en so die diens te bespoedig terwyl u ‘n interresante tydjie met kaarte vanaf sommige van die mees eksotiese plekke op aarde geniet. Deur iets terug te sit in amateurradio sal u soveel meer bevrediging put uit u tydverdryf. Bel nou vir Francois.

JEUGDAGNAELLOOP OM DIE JEUG AAN DIE PRAAT TE KRY

Die Jeugnaelloop op 16 June 2008 is daarop gemik om om die jeug met mekaar te laat gesels, en u kan die katalisator wees wat dit laat gebeur. Die geleentheid duur 2 ure van 10:00 tot 12:00 SAT op die 40 meterband. Stel u stasie op in ‘n openbare plek of nooi jongmense na u hok. ’n RS-verslag en die operateur se ouderdom word uitgeruil.

Die tellingstruktuur is 5 punte vir kontakte tussen twee operateurs onder 25 jaar, slegs 2 punte indien een operateur 26 of ouer is en een punt indien albei 26 of ouer is.

Daar is prettige pryse te wen deur deelnemers onder 25, nie net vir die hoogste punte nie, maar ook deur ’n loting sowel as ’n sertifikaat vir alle deelnemers onder 25.

Besoek www.sarl.org.za vanaf volgende Dinsdag en klik op “Youth Activities” vir besonderhede en ander pretigge geleenthede.

Ongelisensieerde jeugdiges onder 25 kan ook deelneem deur ’n stasie te gebruik van ’n gelisensieerde operateur wat geregistreer het as ’n opvoedkundige stasie. Om te registreer besoek www.sarl.org.za, klik op SARL-vorms en kry dit op die lys.

SY SLEUTEL HET TOE NIE STIL GEWORD NIE

Soms kan ‘n enkele letter- of syferfout ‘n ernstige glips veroorsaak wanneer ’n boodskap ’n stil sleutel rapporteer wat nie stil geword het nie. Ons is verheug om te bevestig dat die sleutel van Colin McNally, ZS6MAC, nie stil geraak het nie en dat hy springlewend is. Ons bied opregte verskoning aan Colin en sy familie en vriende. Die redakteur van Radio ZS, wat die inligting vanaf SARL nuus ontvang bied ook verskonong aan.

SARL-FAKSNOMMER, GEBRUIK ASSEBLIEF DIE VOLLE 13 SYFERS

Die SARL faksnommer het 13 syfers, skakel asseblief almal. Die nommer is 088 011 675 2793. Die e-posadres is admin@sarl.org.za. Indien u aan die Raad wil skryf is die korrekte adres secretary@sarl.org.za.

KOMPETISIENUUS

AWA-HF-QSO-PARTYTJIE

Die volgende is die uitlag van die AWA se HF-QSO-partytjie wat op die 10de en 11de Mei gehou is:

In die AM-afdeling:
1ste Jan, ZS4JAN, 130 punte;
2de Andre, ZS2ACP, 124 punte;
3de Rad, ZS6RAD, 72 punte.

In die SSB-afdeling:
1ste Andre, ZS2ACP, 224 punte;
2de Mitch, ZS2DK, 210 punte;
3de Rad, ZS6RAD, 209 punte.

’n Totaal van 9 logstate is in elke afdeling ontvang. Aan die AM-kant was daar 67 deelnemers en op SSB was daar 101 deelnemers. ’n Volledige lys sal op die SARL se Webforum sowel as in die AWA-nuusbrief geplaas word.
Die AWA-komitee bedank almal wat deelgeneem het en ook die wat logstate ingestuur het.

ZS-AMATEURS NEEM TOPPLEKKE IN IN DIE ARRL 10 METERKOMPETISIE

Vidi le Grange, ZS1EL, het die eerste plek behaal in die Enkeloperateur, Gemengde Modusse, Hoë Kragklas met 47 838 punte.

Rhynhardt Louw, ZS6DXB, het die tweede plek bereik in die Enkeloperateur, Foon alleen, Hoë Kragklas met 39 888 punte.

Wel gedaan Vidi en Rhynhardt.

2007 CQ WPX RTD-KOMPETISIE

Drie Ooskaapse amateurs het deelgeneem in die 2007 CQ WPX RTD-kompetisie. Barry Murrell, ZS2EZ, het in die Enkeloperateur Bygestaande klas en behaal 354 720 punte.
Donovan van Loggerenberg, ZS2DL, het 302 152 punte in die Enkeloperateur, Alle Bande, Hoë Kragklas behaal en Thian de Jager, ZS2Y, behaal 6 450 punte in die Enkeloperateur, Alle Bande, Lae Krag klas.

UITLSAE VAN DIE ZS3/ZS4-NAELLOOP

Die kompetisiekomitee het die uitslae van die ZS3/ZS4-naelloop gehou op Sondag 4 Mei 2008 vrygestel. Agt kompetisielogs en 1 kontrolelog is ontvang.

1ste, Jan Botha, ZS4JAN, 149 punte;
2de, Bloemfontein RAC, ZS4BFN, 83 punte;
3de, Johan Roos, ZS4KB, 75 punte;
4de, Sasolburg ARC, ZS4SRK, 70 punte.

BHF/UHF-NAELLOOP

Vanmiddag vind die tweede bHF/UHF-naelloop plaas vanaf 16:00 tot 17:00 SAT op 2 meter en 70 sentimeter. Klim in jou motor en ry rond om verskeie ruitverwysings te aktiveer. Elke kontak tel twee punte en kyk hoeveel ruiverwysings jy kan bereik. Die reëls kan in die SARL se Kompetisiehandboek gevind word. Logs moet aan hfcontests@netactive.co.za gestuur word, moet nie die adres in die handboek gebruik nie.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië.

Kontakte met Australië gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk na sonsonder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laat middag goeie resultate oor die korter afstande te lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Nie te lank van nou af nie gaan 160 m weer baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

1 Junie - BHF/UHF-naelloop;
8 Junie - Sluitingsdatum vir inskrywings vir Kempton Park Amateurradio Tegniese Vereniging se klubwapenkompetisie;
16 Junie - Jeugdagnaelloop;
18 tot 23 Junie - SARL Top Band QSO-geselligheid.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003