Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


Verskoning aan die intekenare wat gewoond is daaraan om die bulletin redelik vroeg op ‘n Saterdagaand te ontvang, dat dit vanaand redelik laat is. Ek moes ‘n funksie bywoon waarvandaan ek nie vroeg kon vertrek nie. Red.



SARL NUUS – SONDAG – 29 JUNIE 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie – en vorige bulletins – kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

RADIOAMATEURS UITGENOOI OM KOMMUNIKASIE TE VOORSIEN VIR DIE “BULL OF AFRICA”-AVONTUURWEDLOOP

ELEKTRONIESE OORBETALINGS VIR LEDEGELD MOET DUIDELIK GEMERK WORD

SCI-BONO BENODIG ‘N RADIOMAS

INTEGNET VANAAND OM 19:30

INTEGNET VANAAND OM 19:30

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIOAMATEURS GENOOI OM KOMMUNIKASE AAN DIE “BULL OF AFRICA” WEDLOOP TE VOORSIEN

In die vroeëre uitgawe van die bulletin is foutiewelik na hierdie wedloop as ‘n motertydren verwys. Hier volg die gekorrigeerde weergawe van die item.

Die “Bull of Africa”-wedloop is ’n multi-dissiplinêre buitelugsport wat bergfietsry, kanovaart, voetslaan, touklim en navigasie van punt-tot-punt insluit. Die roete strek deur afgeleë areas wat nie normaalweg deur die algemene publiek gesien word nie. Spanne en vrywilligers sien dele van die land waarvan hulle nooit sou kom droom nie.

Die "Bull of Africa" is ’n sewe-dag, 570 km, wedloop. Die wêreld se top spanne sal teen ons eie spanne meeding, wat al in ander kompetisies wêreldwyd sukses behaal het. Spanne ding sonder onderbreking mee, en rus of slaap volgens hulle eie oordeel waar en wanneer hulle dit nodig ag. Hulle moet deur vaste kontrolepunte op die roete gaan, sowel as oorgangspunte, waar die dissiplines verander.

Die wedloop vind vanjaar in die Oos-Londen-area plaas en begin op Saterdag 9 Augustus en eindig op Saterdag 16 Augustus. Vrywilligers moet van 7 tot 17 Augustus beskikbaar wees sodat hulle in hul onderskeie posisies geplaas kan word. Daar is 10 kontrolepune op die roete wat kummunikasie met die basis op ’n 24 uur-grondslag benodig.

Dit is vir hierdie 10 punte waarvoor Ian Jacobs, ZS6AIN, amateurradiospanne benodig om ’n kummunikasienetwerk te voorsien.

Die pligte is baie dieselfde as met motortydrenne – maar met minder stof en modder! Dit is ’n uitstekende geleentheid om ons vaardighede te toets om op afgeleë plekke ’n kommunikasienetwerk op te rig en vir ’n aaneenlopende tydperk te bedien. Spanne op die eerste dele van die roete sal nie noodwendig vir die hele tydperk ontplooi wees nie; sodra al die deelnemers deur ’n kontrolepunt is, sal dit gesluit word. Spanne op die verdere dele van die roete sal egter vir die volle duur benodig word.

Die organiseerders bied R100 per dag om uitgawes te dek, gratis kampering by die Areena karavaan- en vakansieoord in Oos-Londen vir die wegspring en einde. Dit sluit koste in van die maaltyd by die prysuitdeling die aand van 16 Augustus, ‘n gratis t-hemp met die “Bull”-logo en brandstofkostes na Oos-Londen per direkte roete en terug tuis.

Hierdie uitnodiging is oop aan alle gelisensieerde radioamateurs. Die sukses van die geleentheid sal baie afhang van amateurradio-ondersteuning. Kontak Ian Jacobs, ZS6IAN, by cherian@iburst.co.za of bel hom op 083 650 9289.

ELEKTRONIESE BETALING VAN LEDEGELD – IDENTIFSEER ASSEBLIEF U BETALING

Die SARL-kantoor het ’n groot aantal ledegeldinbetalings per direkte inbetaling ontvang, sonder enige identifikasie. Wanneer u elektroniese inbetalings doen, bied banke die fasiliteit om ’n faks of e-pos aan die begunstigde te stuur. Gebruik asseblief hierdie metode om te verseker dat die kantoor die gelde ontvang, aan die korekte rekenings kan toeskryf. Indien u die ledegeld oor die toonbank inbetaal, faks asseblief die depositostrokie so gou moontlik aan die SARL. Die SARL se faksnommer is 088 011 675 2793 en die e-posadres is admin@sarl.org.za.

SCI-BONO BENODIG ’N RADIOTORING

Sci-Bono bedryf verskeie projekte gemik op die bevordering van amateurradio in skole. Oor die volgende paar jaar sal baie onderwysers en leerders, veral die van ekonomies-benadeelde gemeenskappe, van amateurradio leer en dit gebruik. Die projekte behels om onderwysers en leerders op te lei om radioamateurs te word vir die ontwikkeling van ’n amateurradioprojek wat in skole gebruik sal word as deel van die nuwe kurrikulum in elektronika. Gedurende 2007 het meer as 56 000 skoolkinders die sentrum besoek en blootstelling aan amateurradio gekry.

Sci-Bono is tans besig met die voltooiing van die nuwe fase 2-gebou oos van die hoofuitstalsaal. ’n Radiotoring sal op die dak van die nuwe gebou gemonteer word wat met nuwe antennas die werking van die amateurradio- uitstalling grootliks sal verbeter.

Radioamateurs en hul maatskappye word genooi om deel te word van die antennaprojek deur skenkings aan die spesiale amateurradio-konstruksiefonds van Sci-Bono te maak. Aangesien Sci-Bono ’n geregistreerde nie-winsgewende opvoedingsinstansie is en geregistreer as ’n Afdeling 18A opvoedkundige fonds, is alle skenkings aan Sci-Bono van belasting aftrekbaar. ’n Belastingsertifikaat sal met elke donasie uitgereik word. Donasies kan inbetaal word by Standard Bank, takkode 00 02 05. Die rekeningnommer is 000 134 171. Merk asseblief u skenking ‘Amateurradio’.

U ondersteuning sal baie help om amateurradio aan die jeug van Gauteng bekend te stel.

INTEGNET VANAAND OM 19:30

Tydens die onlangse Radiotegnologie-in-aksie simposia, was daar ’n dringende beroep gedoen dat die SARL ondersoek instel na boustelle om jongmense aan elektronika en amateurradio bekend te stel. In vanaand se Integnet sal boustelle bespreek word. Wat is beskikbaar, en wat is die geskikste vir die hierdie doel? Sluit by ons aan op ’n herhaler naby u of deur die webuitsending, of echolink. Vir meer besonderhede besoek www.sarl.org.za, kies “publications” en klik op ARMI.

BACAR-VERGADERING 12 JULIE 2008

Die volgende BACAR-vergadering sal by die Nasionale Amateurradiosentrum om 11:00 op 12 Julie plaasvind. Die hoofdoel van die vergadering is om die onderskeie subitems te identifiseer en te toets.

Indien u beplan om deel van die lansering vroeg in Augustus te wees is dit belangrik om hierdie vergadering by te woon. Die lansering sal vanaf die Irene Weerstasie plaasvind.

KOMPETISIENUUS

SARL DIGITALE KOMPETISIE

Die SARL PSK-digitale kompetisie vind vandag plaas vanaf 15:00 tot 18:00 (SAT).

Die Lichtenburg-Amateurradioklub is die gasheer van hierdie kompetisie. Stuur asseblief die logstate aan Eddie, ZS6BNE, met e-poadres zs6bne@nwinternet.za.org en nie aan die adres in die “Blouboek” nie, wat weens oormatige gemorspos, gekanselleer is.

Kry u stasie gereed met ’n klankkaartkoppelvlak en sagteware sodat ons ’n rekord aantal deelnemers hierdie naweek sal hê.

Die kompetisie-frekwensies op HF is: 3,580 MHz, 7,035 MHz en 14,070 MHz. Op BHF en UHF is dit: 50,290 Mhz, 144,1144 MHz en 432,200 Mhz op hoër syband. ’n SARL-digitale kompetisieforum sal op die SARL-webforum geskep word. Hierdie kompetisie is slegs vir enkel-operateurs. Die kategorieë is: Laekrag, 10 W of minder, en Hoëkrag, meer as 10 W en Enkelband of Alle Bande.

Rapporte is RS en ’n driesyfer-reeksnommer wat met 001 begin, byvoorbeeld, 59001. Tellings is soos volg: Dieselfde afdeling, 2 punte; ‘n ander afdeling of Suider-Afrikaland, 4 punte; buite Suider-Afrika, 1 punt. Let asseblief daarop dat kontakte op verskillende bande met dieselfde stasie ook tel.

Vermenigvuldigers vir elke roeparea per band, 1 punt. Die totale telling is die som van die punte vir al die bande. Die sluitingsdatum vir indiening van logstate is 14 Julie 2008.

DURBAN ARK MID-WINTER NAELLOOP

Die Durban ARK Mid-Winter Naelloop geskied op Woensdagaand 2 Julie vanaf 19:00 tot 20:00 SAT op die lug met foon-, GG- en PSK-werking op die 80 meterband. 'n RS of RST verslag en die bediener se ouderdom word verstrek.

Logstate moet binne 15 dae na die kompetisie ingedien word en kan per e-pos aan zs5lp@sharksden.co.za of per gewone pos aan die Durban Amateurradioklub, Brownleeplek 17, Bluff, Durban, 4052. Die sluitingsdatum vir die logstate is 17 Julie 2008.

KLUBNUUS

Die “Antique Wireless Association”, of AWA, in samewerking met die "Friends of the Museum", het ’n Ope dag by die Swartkops Lugmagbasis te Pretoria gereël vir Saterdag 5 Julie 2008. Die AWA se Saterdagnet op 7 070 sal vanaf die perseel bedryf word en enigeen wat in ’n oggenduitstappie belangstel is welkom om by te woon.

Geniet ’n dag in die buitelug met die gesin en sien hoe veteraanvliegtuie opstyg en land, sien statiese uitstallings van vliegtuie en besoek die radiomuseum. Deelnemers aan die Silver Queen Lugwedren sal ook by Swartkops aandoen as deel van hul roete.

Enigeen wat dit wil bywoon moet asseblief vir Cliff, ZS6BOX, by 082 898 9772 of Dave, ZS6AAW, op 012 667 2153, kontak aangesien u motorregistrasie, naam en aantal toeskouers vooraf benodig word om toegang tot die basis te verkry. Dit sal ook help met die spyseniering, aangesien daar worsrolletjies, ens., beskikbaar sal wees.

Tydens die AJV van die Boland Amateurradioklub gehou op 21 Junie, is ’n nuwe komitee verkies. Die nuwe voorsitter is Johan le Roux, ZS1RX, en Karl Canitz, ZS1KC, die sekretaris.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees met aktiewe vlakke wat gedurende 12 en 13 Julie verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die noordelike rigtings maar swakkerig vir die hoofsaaklik noord-westelike bane.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 08:00 en weer om 17:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.

Saans is 80 m die beste keuse, veral noudat die meeste donderstorms en statiese toestande agter die rug is. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees. Dit is nou die ideale tyd om 'n plan vir 'n 160 m-antenna te maak as u nie alreeds een het nie en die opwinding en nukke van topband wil beleef.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u steeds kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

29 Junie – SARL digitale kompetisie;
2 Julie – Durban ARK se midwinter naelloop;
5 Julie – AWA ope dag by Swartkops;
6 Julie – Sperdatum vir indien van BHF-/UHF-/Mikrogolfstate;
12 Julie – Bacar-vergadering.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolf luisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003