Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL NUUS – SONDAG – 20 JULIE 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie – en vorige bulletins – kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwes dat SARLNUUS bekend maak dat die sleutels van twee radioamateurs gedurende die jongste tyd stil geraak het; hulle is:

Gawie Neethling, ZS1WH, op Woensdag 9 Julie.

Louis de Wet, ZR6AA, op Donderdag 17 Julie aan hartversaking in die ouderdom van 73 jaar.

Aan die familielede en vriende van die afgestorwenes, ons innige meegevoel.

(POUSE).

In die nuus vandag:

PRETORIA-AMATEURRADIOKLUB BIED VLOOIMARK-PLESIER VIR DIE DAMES EN DIE JONGSTE ARRL-BOEKE VIR DIE MANNE

MEER RADIOAMATEURS GESOEK VIR BULL OF AFRICA-WEDLOOP

PRESIDENTSNET FOKUS OP SARL-HF-WESDTRYDE

NA BUITENSTE RUIMTE MET AMATEURRADIO

INTEGNET VANAAND OM 19:30

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PRETORIA-AMATEURRADIOKLUB BIED VLOOIMARK-PLESIER VIR DIE DAMES EN DIE JONGSTE ARRL-BOEKE VIR DIE MANNE

Die vlooimark wat die Pretoria-Amateurradioklub op Saterdag 26 Julie aanbied, beloof ook dinge wat die dames sal boei. ’n Aantal vroue gaan tuisgemaakte en ander interessante items te koop aanbied. Bring u maat vlooimark toe. Kontak Michelle, ZS6TO, by 083 533 8719 vir besonderhede as u ook items te koop wil aanbied. Daar gaan ook ’n gelukstrekking wees.

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust het pas ’n versending ARRL-handboeke, ARRL Antennahandboeke en ’n paar ander interessante boeke uitgepak. Dit is die laaste versending van die jaar – moenie hierdie splinternuwe boeke deur u vingers laat glip nie. Tjerk Lammers, ZS6P, gaan die verkope hanteer. Die wins op die boekverkope is ten bate van die Trust se pas gestigte studietoekenningsfonds vir jong gelisensieerde radioamateurs wat in 2009 vir die eerste keer inskryf vir tersiêre studie in telekommunikasie en elektronika. Kry besonderhede oor die studietoekenning en oor hoe om by te dra, by www.amateurradio.org.za.

MEER RADIOAMATEURS GESOEK VIR BULL OF AFRICA-WEDLOOP

Die Bull of Africa is ’n multidissiplinêre buitelugsportsoort wat alles van bergfietsry, kano, voetslaan, touklim, abseil en punt-tot-punt-navigasie insluit. Die wedlooproetes loop deur afgeleë areas waar Jan en Alleman normaalweg nie uitkom nie en die spanne en vrywilligers sien ongerepte dele van die land waaroor hulle nie eens sou kon droom nie.

Meer radioamateurs word benodig vir dié sewedaagse (570 km) wedloop. Die wêreld se top-internasionale spanne gaan teen ons eie spanne meeding. Spanne ding sonder onderbreking mee en rus en slaap waar en wanneer hulle dit nodig ag.

Die Bull vind vanjaar in die omgewing van Oos-Londen plaas. Dit begin op Saterdag 9 Augustus en eindig Saterdag 16 Augustus. Vrywilligers word egter versoek om van 7 tot 17 Augustus beskikbaar te wees sodat hulle na hul onderskeie punte uitgeplaas kan word. Daar is 10 punte op die wedlooproete wat op 24-uur-grondslag met die hoofkantoor in verbinding moet bly.

Pligte is soortgelyk aan dié by motorsportrenne – daar is net nie so baie stof of modder nie! Dit is ’n wonderlike geleentheid om vaardighede te toets – om in afgeleë plekke op te stel en vir ’n uitgebreide tydperk kommunikasie te handhaaf. Die spanne op die eerste been van die roete hoef nie noodwendig vir die duurte van die wedloop aan diens te wees nie; wanneer alle deelnemers verby die beheerpunt is, word dit gesluit. Die spanne op die laaste seksie moet egter die hele tydperk aan diens wees.

Die organiseerders bied R100 per persoon per dag aan vir voedsel, gratis kampeerplek by die Areena-woonwa- en vakansieoord in Oos-Londen vir die begin en einde, die koste van die ete by die prysuitdeling vir alle vrywilligers (aand van 16 Augustus), gratis T-hemp met die "Bull"-logo en brandstofkoste via die mees direkte roete na OL uit en tuis.

Die uitnodiging word aan alle gelisensieerde radioamateurs gerig. Die wedloop se sukses hang grootliks af van amateurradio-ondersteuning. Kontak Ian Jacobs, ZS6IAN, by cherian@iburst.co.za of skakel hom by 083 650 9289. Hy het u ondersteuning baie nodig. As u lus is vir die ondervinding van ’n leeftyd, skakel hom vandag nog.

PRESIDENTSNET FOKUS OP SARL-HF-WESDTRYDE

Sluit vanaand, 20 Julie 2008, by die President van die SARL, Rassie Erasmus, ZS1YT, aan vir die Presidentsnet. B enewens sy verslag oor die afgelope 6 weke se gebeure sal Dennis Green, ZS4BS, by hom aansluit om die HF-kompetisies wat op 3 en 31 Augustus plaasvind, te bespreek.

Die Presidentsnet begin om 19:30 op ’n herhaler naby u en word uitgesaai op 3 718 kHz deur Marten du Preez, ZS6ZY, en gestroom deur Chris, ZS6FCS, op die internet en Echolink. Besonderhede op www.sarl.org.za.

NA BUITENSTE RUIMTE MET AMATEURRADIO

4-10 Oktober word jaarliks opsy gesit vir Wêreld-ruimteweek, ’n viering van ruimte-aktiwiteite om jongmense bewus te maak van die belangrikheid van die ruimte in ons daaglikse lewens. Die tema van Wêreld-ruimteweek 2008 is "Ontdek die Heelal". Dié tema moedig deelnemers aan om na te dink aan die ruimte as die volgende grens. Ontdekkingstogte kan talle gedaantes aanneem, van wetenskaplike ontdekkings tot menslike kolonisasie.

Amateurradio het ’n trotse tradisie van ruimtedeelname; die eerste amateursatelliet is slegs drie jaar na die Russe se Spoetnik 1 gelanseer. Die Suid-Afrikaanse Radioliga (SARL) en die Suider-Afrikaanse Amateurradio-satellietvereniging (SA AMSAT) het saamgespan met die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust om dit vir Suid-Afrikaanse jongmense moontlik te maak om in Wêreld-ruimteweek se aktiwiteite betrokke te raak.

Die gedagte is om amateurradiostasies by verskillende skole oral in Suid-Afrika te vestig, en dan deur middel van ’n landwye koppeling vir jongmense die geleentheid om kennis te maak met mense wat reeds in die ruimte gereis het. Om te kwalifiseer en vir die nasionale koppeling gekies te word, moet leerders vir ’n opstelkompetisie inskryf.

Leerders onder die ouderdom van 18 word genooi om ’n opstel te skryf oor: "Die mens as maanbewoner: kan Amateurradio ’n rol speel?" Danksy amateurradio was die radio die wêreld se eerste globale kommunikasiestelsel; kan dit ook ’n rol speel as mense op die maan gaan woon?

Deur ’n opstel van tussen 500 en 1 000 woorde te skryf, kom deelnemers in aanmerking om gekies te word vir die nasionale amateurradio-koppeling. Daarby kan elke deelnemer meeding om een van talle pryse, onder meer:

Die skrywer van die kreatiefste en mees insigryke opstel wen ’n ultramoderne Acer Aspire One-skootrekenaar. Die Aspire One is nie sommer net nog ’n ultra-mobiele skootrekenaar nie: dis ’n splinternuwe kommunikasietoestel wat ontwerp is vir deurlopende toegang tot die internet en eenvoudiger koordlose werking. Lees meer oor dié prys op www.amateurradio.org.za.

Ander puik pryse sluit in Norton 360- en Smartphone-sekuriteitsagteware van Symantec, plus ’n aantal radioboustelle, sowel as blitsvoorspeller- en 40 m-direkte-omsetting-ontvangstelle.

Elke deelnemer ontvang ’n kleurryke sertifikaat vir deelname aan Wêreldruimteweek. Hou www.amateurradio.org.za dop vir meer besonderhede soos dit bygewerk word.

WENNERS VAN SARL-JEUGNAELLOOP

Hartlik geluk aan al die deelnemers aan die SARL se jeugdagnaelloop. Sertifikate is reeds op pad. Die volgende is die wenners van die gelukstrekking en sal binnekort hul pryse per pos ontvang: Francois Herbst, Byron Engler, ZR5KH, Denise Gray en Hugo Coetzee, ZU3H.

KOMPETISIENUUS

Uitslae van die SARL Digitalekompetisie.

Die kompetisiekomitee het slegs 'n paar logstate vir die Digital ekompetisie ontvang, al was daar meer as dertig stasies op die lug. Die afdelingwenners is:

Enkelband, lae krag.
Johan Terblanche, ZS1I, 140 punte;
Enkelband hoëkrag - Johan van Aarde, ZS2I, 290 punte;
Alle bande, laekrag - Tienie Herbst, ZS6MHH, 52 punte;
Alle bande, hoëkrag - Pierre van Deventer, ZS6BQS, 368 punte.

Die volledige uitslae sal in HF Happenings 312 gepubliseer word.

Regstelling van die uitslae van die SARL Topbandkompetisie.
Die uitslae van die SARL Topbandkompetisie is reggestel nadat twee appèlle ontvang is.

1ste Gary Immelman, ZS6YI, 366 punte;
2de Ed Willers, ZS6UT, 294 punte;
3rde Jacques Vermeulen, ZS1WC; 228 punte.

Die volledige uitslae is in HF Happenings 311 beskikbaar.

Boland ARK 40-meter-kompetisie.

Die jaarlikse Boland ARK 40 m-foonkompetisie sal op Sondag 27 Julie vanaf 15:00 tot 18:00 SAT op die lug wees. 'n Roepsein, RS-verslag en poskode word uitgeruil.

Letsplay Radio borg 'n Yaesu VX3-handstel aan 'n gelukkige deelnemer aan die BARK 40 m-kompetisie. Alle logstate met 20 of meer kontakte kom in aanmerking vir die gelukstrekking.

SARL HF-Foonkompetisie. Die SARL HF-Foonkompetisie sal op die lug wees vanaf 15:00 to 18:30 SAT op Sondag 3 Augustus. Luister na die President se Net vanaand om meer uit te vind.

KLUBNUUS

Nuwe Klubkomitees.

Twee radioklubs het onlangs hulle AJV’s gehou en nuwe komitees verkies. Hulle isL:

Die Zululand Amateurradioklub wat hulle AJV op 13 Julie 2008 gehou het, het die volgende lede tot hulle komitee verkies:
Voorsitter: John Kramer, ZS5J;
Visevoorsitter: Jan Erasmus, ZS5G;
Tesourier: Willie Axford, ZS5WI;
Sekretaris en Nuusredakteur: Dawn Snyders, ZR5ME.
Lede: Andrew Jansen, ZR5MH;
Warren Snyders, ZR5WOZ;
Thys Janse van Rensburg, ZR5TVR.

Die 60ste AJV van die Wesrand Amateurradioklub is op die 5de Julie gehou. Die nuwe komitee bestaan uit die volgende lede:
Voorsitter, Joop Hesp, ZS6C;
V isevoorsitter, Geoff Levey, ZS6GRL;
Sekretaris, John Brock;
Finansies, Craig Woods, ZS6CRW;
Herhaleronderhoud, Phillip van Tonder, ZS6PVT;
Tegnies, Ron Eva, ZR6RON;
Lede, Remeo Nardini, ZS6ARQ;
Willem Weideman, ZS6WWJ.

Baie dankie aan die uittredende lede van die vorige komitees en sterkte word toegewens aan die nuwe komitees vir die werk wat voorle.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen aktief wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 16:00 SAT na Indië. Daar is moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nieu-Zeeland om 18:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Zeeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. K ontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laat middae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.

Saans is 80 m die beste keuse, veral noudat die meeste donderstorms en statiese steurings agter die rug is. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees. Dit is nou die ideale tyd om 'n plan vir 'n 160 m antenna te maak as jy nie alreeds een op het nie en die opwinding en nukke van topband wil beleef.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

20 Julie – Presidentsnet, dit is vanaand om 19:30.;
26 Julie – Pretoria-vlooimark;
27 Julie – Boland ARK 40 m-kompetisie;
3 Augustus - SARL HF-Foonkompetisie.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolf luisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003