Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG – 17 AUGUSTUS 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat SARL-nuus moet bekend maak dat die sleutel van Willie, ZS6BZ, onlangs stil geraak het. Ons het ongelukkig geen verdere besonderhede nie. Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

2 METER KONTAK TUSSEN ZS2GK EN FR5DN PER GEUTGELEIDING TOON DAT VOLHARDING BETAAL

KLT-STANDAARDE – SUID-AFRIKA VERWERP OPROEP TER VERSLAPPING VAN STANDAARDE

SARL SE LIDMAATSKAPHERNUWINGS KOM STEEDS IN

WANNEER SAL ‘N BUITE-AARDSE SEIN ONTVANG WORD?

SPREISPEKTRUM – LEER MEER DAAROOR BY DIE RTA

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

2 METER KONTAK TUSSEN ZS2GK EN FR5DN PER GEUTGELEIDING TOON DAT VOLHARDING BETAAL

Glenn Kraut, ZS2GK, van Mqandulin, ‘n dorpie in die Oos-Kaap het ‘n historiese kontak op 2 m met FR5DN op Reunion oor ‘n afstand van 2 875 km gemaak.

Op Dinsdag 12 Augustus om 10:40 lokale tyd het ZS2GK die Reunionbaken teen seinsterkte 1 gehoor. Hy het Phil, FR5DN, op Reunion gebel wat gesê het dat hy van sy werk af huistoe jaag en dat hy binne 30 min. tuis sal wees. Hy was ongelukkig in swaar verkeer opgehou. Teen die tyd dat hy tuisgekom het, was die band toe.

Op Woensdagaand het ZS2GK teen ongeveer 22:30 lokale tyd bedtoe gegaan maar het sy stel aangeskakel gelaat met sy antennas op Reunion gerig. Hy het om 02:15 wakker geword en ‘n bakensein gehoor. Die sein was baie swak en hy is terug bedtoe. Skaars een uur later het hy ‘n sterker bakensein gehoor. Dit was ‘n perfekte kopie op die GG-dekodeerder.

Glenn het vir Phil op sy selfoon gebel, sy liniêr en voorversterker aangeskakel en ‘n ESB QSO op 144,200 en ‘n FM QSO op 144,400 MHz om 03:39 SAT met seinrapporte van 5/6 in beide rigtings aangeteken. “Ons het vir ongeveer 20 min gepraat. Ek het ook probeer om by die Reunionherhaler in te kom, maar sonder enige sukses”, het hy SARL-nuus meegedeel. “Daar was geen QSB op die ESB-sein nie maar op die FM-sein was daar geringe kwyning tot in die geraasvlak”. Luister na die QSO op www.sarl.org.za.

Glenn gebruik 4 x EX6OB 2 m, 9 element antennas, gebou deur ZS6OB, op ‘n H-raamwerk 2 m bokant die dak. Hy het 400 W op ESB en 200 W op FM gebruik wat ongeveer 28 100 W effektiewe uitgestraalde krag op ESB gelewer het. Aan die otvangskant gebruik hy ‘n GasFet voorversterker, ‘n voorvereiste vir alle ernstige BHF-werk.

BHF- en UHF-golwe kan oor die horison voortplant wanneer die laer atmosfeer die elektromagnetiese velde buig, versprei en/of dit reflekteer. Hierdie verskynsels staan kollektief as troposferiese voortplanting of kortliks as tropo bekend.

Die mees bekende vorm van tropo word buiging genoem. In lug is die voortplantingspoed van golwe laer as in ‘n vakuum. Hoe digter die lug, hoe hoe laer is die voortplantingspoed en dus hoe groter is die indeks van refraksie. Die digtheid en refraksie-indeks is die hoogste naby die aardoppervlakte en dit verminder met toename in hoogte. Die effek hiervan is dat radiogolwe teen baie hoë frekwensies na die aardoppervlakte gerafrakteer word. ‘n Golf wat horisontaal uitgestraal word, kan dus die kromming van die aarde vir honderde kilometer volg.

‘n Minder gereelde, maar dikwels dramatiese, vorm van tropo word geutgeleiding genoem. Dit gebeur wanneer daar ‘n gedefineerde, horisontale grens tussen lugmassas met verskillende digthede bestaan. Wanneer ‘n koel lugmassa deur ‘n warm lugmassa oordek word, soos die geval langs en naby warm en koue fronte is, word BHF- en UHF-radiogolwe by die grens weerkaats wanneer hulle dit teen ‘n baie vlak hoek (binne die koeler lugmassa) van onder af bereik. Omdat die radiogolwe ook van die aarde se oppervlakte weerkaats word, kan die resultaat effektiewe voortplanting vir honderde of, in sommige gevalle,op tot 1 600 km, wees soos die golwe alternatiewelik deur die frontale grens en die oppervlakte weerkaats word.

Volgens Mike Bosch, ZS2FM, is dit moeilik om te bepaal of dit tropogeutgeleiding of sporadiese E-voortplanting was. Wat ook al die geval, dit bly ‘n wonderlike prestasie. Welgedaan ZS2GK en FR5DN.

KLT-STANDAARDE – SUID-AFRIKA VERWERP OPROEP TER VERSLAPPING VAN STANDAARDE

Die TC73 Komitee vir Elektromagnetiese Versoenbaarheid, van die SABS, het toe Woensdag vergader, soos verlede week aangekondig, en het onder andere verslapping van KLT-standaarde bespreek.

Daar was ‘n vlaag van internasionale aktiwiteit om CISPR te oortuig dat, wanneer dit later hierdie jaar vergader, nie verlaagde standaarde te aanvaar nie. Die SARL het ag geslaan op die IARU se versoek om die lokale CISPR-verteenwoordiger te be-invloed om die IARU se oproep te ondersteun wat daarop gemik is om die HF-frekwensiespektrum te beskerm deur standaarde te stel wat die spektrum bevredigend sal beskerm. Die SABS se TC73-komitee het die SARL –verteenwoordiger se voorstel om nie die 18 dB verslapping te ondersteun nie, eenparig aanvaar met twee lede buite stemming. Die Suid-Afrikaanse CISPR-verteenwoordiger sal Suid-Afrika se teenkanting teen die verslappingsvoorstel ter tafel lê wanneer CISPR in Oktober vergader.

Die voorgestelde aanhoor van objeksies wat ingedien is teen die voorgestelde tussentydse KLT-regulasies sal steeds voortgaan. Daar is adminstratiewe take wat gefinaliseer moet word voordat OKOSA ‘n datum kan bepaal.

SARL SE LIDMAATSKAPHERNUWINGS KOM STEEDS IN

Op Vrydagoggend het die hernuwings van die SARL se lidmaatskap vir die 2008/2009 finansiële jaar op 1 034 gestaan. Baie dankie aan almal wat sonder versuim hernu het.

Daar is nog twee en ‘n halwe week oor om voordeel te trek uit die laer tarief van R305. Indien jy nognie hernu het nie, doen dit nou. Help ons om die 1 100 mikpunt teen volgende Vrydag verby te steek.

Alle hernubare of nuwe subskripsies wat voor 31 Augustus 2008 ontvang word, is onderhewig aan ‘n korting. Jy betaal slegs R305 en nie die nuwe tarief van R320 wat vanaf 1 September van toepassing sal wees nie. Senior lede betaal slegs R184 indien betaling voor 31 Augustus geskied. Na daardie datum styg dit na R200. Kontak Vee Antal by 011 675 2393 vir betalingsbesonderhede.

Alle volopbetaalde lede sal ‘n lidmaatskapsertifikaat vir 2008/2009 ontvang. Indien u nognie ‘n lid is nie, sluit nou by die SARL aan en versterk die krag van jou stem by die owerheid.

WANNEER SAL ‘N BUITE-AARDSE SEIN ONTVANG WORD?

Sluit vanaand, Sondag 17 Augustus, om 19:30 by INTEGNET aan wanneer Paul Shuch, President van die SETI-liga, die soeke na buite-aardse intelligensie sal bespreek.

Die soeke na buite-aardse intelligensie is ‘n wetenskaplik gebaseerde aktiwiteit waaraan jy kan deelneem deur jou antennas na die ruimte te rig en te soek vir daardie ontwykende sein wat ‘n lang tyd gelede deur intelligensie uitgestuur is.

Paul Shuch is ‘n interessante spreker en beloof ‘n interessante Sondagaand aan deelnemers.

Die integnet sal ook deur Radio Today in Gauteng op 1 485 kHz en op kanaal 169 op DSTV audio bouquet uitgesaai word.

SPREISPEKTRUM – LEER MEER DAAROOR BY DIE RTA

Een van die vele interessante aanbiedings op die RTA-program gaan oor spreispektrum. Die pad van die Wiskundige Teorie van Kommunikasie, deur Claude Shannon, tot by vandag se Ortogonale Frekwensieverdeling Modulasietegnieke was ‘n revolusionêre reis. Dit het alle vorige kommunikasie-ontwikkelings oorskadu, selfs die van die vonksender en Radar. Met geraasvlakke wat aan die toeneem is, sal amateurradio ander modusse moet ondersoek. Spreispektrumtegnieke op HF, BHF en UHF is een van die opsies.

In die aanbieding deur John Willescroft, ZS6EF, word in alledaagse taal verduidelik hoe spreispektrum werk, en die tegniese redes waarom dit die enigste manier sal wees waarop ons in die toekoms sal kan kommunikeer. Sy aanbieding sluit ‘n aantal interessante praktiese voorbeelde in.

Die RTA- (Radiotegnologie in Aksie) program word deur die SARL aangebied by die Nasionale Amateurradiosentrum op 13 September, vanaf 08:30 tot 16:00. Besoek www.sarl.org.za vir meer besonderhede..

KOMPETISIENUUS

SARL-HF-KOMPETISIE – STUUR ASSEBLIEF JOU LOGSTATE IN

Die SARL se HF-ESB-kompetisie was goed ondersteun en ‘n groot aantal logstate is ontvang. Indien jy nognie jou logstaat versend het nie, het jy nog tot Maandag om dit te doen. Alle logstate met 20 of meer kontakte sal deelneem aan ‘n gelukstrekking vir ‘n 2008 ARRL-handboek.

KLUBNUUS

SANDTON ARK STEL ‘N NUWE PRETTOEKENNING IN

Die Sandton Amateurradioklub kondig met trots die instelling van ‘n nuwe toekenning, met ingang 1 Augustus 2008, aan. Die toekenning is die “ZS WAGS - Worked all South African Grid Squares - "Chasing Maidens".

Voordat jy die verkeerde indruk kry, die “Maidens” waarna verwys word is die Maidenhead ruitverwysings.

Suid-Afrika word geheel-en-al bevat in 83 ruitblokke, alhoewel slegs ‘n klein stukkie grondgebied binne party van die blokke geleë is.

Die vereiste van hierdie toekenning is om met ‘n stasie kontak te maak wat in elk van die 83 blokke geleë is.

Twee toekennings word aangebied: die “Hunter’s Award” en die “Activator's Award”.

Die “Hunter’s Award” mag aangevra word vir vanaf 25 blokke opwaarts b.y.v. aansoek kan gedoen word vir ZS WAGS 25, ZS WAGS 50, ZS WAGS 60, ens. Tot by die magiese nommer 83.

Om amateurs aan te moedig om die verafgeleë of onbegaanbare blokke te besoek, kan vir die “Activator’s Award” aansoek gedoen word deur ‘n amateur wat ‘n minimum van 10 kontakte gemaak het vanaf enigeen van die blokke sonder amateurbevolkings.

Die stelsel is gebaseer op eerlikheid en vertroue, en bewys van kontakte word nie vereis nie. Daar is ooknie ‘n begin- of einddatum nie, jy kan dus teruggaan in jou ou logboeke ten einde al die kontakte te vind wat kwalifiseer.

Vir meer inligting, gaan na die webtuiste www.zs6stn.org.za/zswags/, of stuur ‘n e-pos aan zswags@gmail.com ten einde ‘n kopie van die reels te ontvang, of bel Peter, ZS6PHD, by 083 445 4634.

NUWE KOMITEE VIR DIE PRETORIA AMATEURRADIOKLUB

Die Pretoria Amateurradioklub het hulle AJV op 9 Augustus 2008 gehou en die volgende lede tot hulle komitee verkies:
Johan de Bruyn, ZS6JHB, Voorsitter;
Alméro du Pisani, ZS6LDP;
Craig Symington, ZS6RH;
Richard Peer, ZS6UK;
Graham Reid, ZR6GJR;
Doréén de Bruyn, ZR6DDB

Die oorblywende funksies sal by die eerste komiteevegadering toegeken word. Ons dank die uitgaande komitee vir hulle werk en ons beste wense aan die nuwe komitee sy ampstermyn.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen wissel tussen aktiewe tot onrustige vlakke tot 20 Augustus waarna stil toestande tot 3 September verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 16:00 SAT na Indië. Daar is moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nu-Zeeland om 20:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nu-Zeeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer om die draai is dit is nou die ideale tyd om kontakte vir jou 80 m WAZS te maak. Een van die dae is die donderstorms en statiese steurings weer terug. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

17 Augustus – INTEGNET, dit is vanaand om 19:30;
30 Augustus – AJV van die Oos-Rand Radioklub;
31 Augustus – Laaste dag vir betaling van ledegelde teen korting;
13 September – Radiotegnologie in Aksie by die Nasionale Amateurradiosentrum;
03 Oktober – Jongdamestoer van SA begin;
08 Oktober – Rig ‘n stasie by ‘n skool op as deel van ruimteweekaktiwitete.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003