Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG – 24 AUGUSTUS 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat SARL-nuus moet bekend maak dat die sleutel van V C Quixley, ZS1HU, ex ZS6BEO aan die einde van Julie stil geraak het.Ons innige meegevoel aan sy eggenote Rina, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

OKOSA WERK AAN LISENSIëRINGSAGTERSTAND

SARL SE LEDETAL STYG WEER GEDURENDE DIE WEEK

EKSAMINATORE, OPSIENERS EN ASSESORE MOET REGISTREER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

OKOSA WERK AAN LISENSIëRINGSAGTERSTAND

OKOSA het met ‘n proses begin om die agterstand in die bewerking van lisensieaansoeke te verminder. Die agentskap ontvang soveel as 2 000 aansoeke per maand. Wanneer die agterstand uitgewis is, sal die kantoor wat aansoeke hanteer hergeorganiseer word en spesifieke tipe lisensies sal deur ‘n aangewese groep personeel gehanteer word. Elke groep sal slegs ‘n spesifieke tipe aansoek hanteer, ongeag waar in die land die aansoek vandaan ingedien is. Slegs een groep sal amateurradiolisensies hanteer. Terwyl OKOSA aan die agterstand werk, wees asb. geduldig. Die SARL werk nou saam met OKOSA om die proses te bespoedig.

SARL SE LEDETAL STYG WEER GEDURENDE DIE WEEK

Die SARL se ledetal het die afgelope week weereens toegeneem. Dit staan nou op 1 067, wat nognie die mikpunt is wat verlede week gestel het nie. Help ons om teen volgende Vrydag 1 100 verby te steek. Baie dankie aan almal wat hernu het en wat die welstand van amateurradio ondersteun. Hernu, of indien jy nie ‘n lid is nie, sluit voor 31 Augustus aan en geniet ‘n korting. Verkry die volledige besonderhede vanaf die SARL se webtuiste by www.sarl.org.za.

NOG ‘N UITGAWE VAN RADIO ZS VOL VAN INTERESSANTE ARTIKELS IS OP PAD

Later gedurende hierdie week sal die Julie/Augustusuitgawe van Radio ZS gepos word en daarna sal dit op die webtuiste beskikbaar wees. Soos die laaste aantal uitgawes, is hierdie een weereens vol interessante artikels.

Lees aangaande ‘n “soda pop” 2 meter vertikale antenna, of nog beter, bou een. Dennis Wells kyk na die goeie ou dae en ZS6BFH beskryf aan lesers hoe “hula hoop” antennas gebou word. Vidi la Grange skryf aangaande die verbeterings op 17 m van die “Force 12” antenna en ZS6BNE neem ons terug na die basiese beginsels van die digitale modusse. Henry Chamberlain vra die vraag “waarheen met digitale radio?”

Radio ZS is vry aan lede op die web beskikbaar. Nie-lede moet by die SARL aansluit indien hulle ‘n gedrukte eksemplaar wil ontvang of op die webwerf Radio ZS wil verkry.

EKSAMINATORE, OPSIENERS EN ASSESORE MOET REGISTREER

Die registrasies van alle eksaminatore, opsieners en assesore verstryk op 30 September. Dit is van toepassing op almal wat nie gedurende hierdie jaar geregistreer het nie. Indien iemand na 1 Januarie 2008 geregistreer het, sal sy registrasie tot 30 September 2009 geldig wees. Indien iemand nie geherregistreer het nie, moet diesulkes sonder versuim hulle aansoeke voor die einde van September indien. Besoek www.sarl.org.za vir die nodige vorms.

OKTOBER 2008 RAE

Hierdie is ‘n vriendelike herinnering aan klubs om hulle studente mee te deel dat inskrywings vir die RAE in Oktober nie later nie as 12:00 op 11 September 2008 by die SARL se kantoor ontvang moet wees. Geen laat inskrywings sal oorweeg word nie. Enige laat inskrywing sal die kandidaat die reg ontneem om in Oktober die eksamen af te lê en sulke kandidate sal dan moet wag tot die volgende geleentheid wat eers in 2009 sal plaasvind.

Ons moedig alle klubs aan om te verseker dat die aansoekvorms aan die SARL-kantoor gestuur word en ook dat die vereiste dokumentasie korrek voltooi is, veral OKOSA se aansoekvorm.

Die SARL-kantoor verwag om die volgende vorms te ontvang:
1) Voltooide eksamenaansoekvorm met ‘n keuse van minstens drie roepseine.
2) ‘n Volledig voltooide OKOSA-aansoekvorm met akkurate inligting aangaande die naasbestaande.
3) ‘n Kopie van die kandidaat se identiteitsdokument of geboortesertifikaat of ‘n kopie van sy/haar paspoort in die geval van nie-Suid-Afrikaanse burger.
4) Waar ‘n kandidaat by die SARL wil aansluit, ‘n voltooide SARL-lidmaatskapaansoekvorm.

Die SARL-kantoor bedank almal by voorbaat vir die hulp om te verseker dat registrasie en voltooiing van die betrokke dokumentasie glad sal verloop.

Alle navrae in verband met die voltooiing van die vorms, of enige ander aangeleentheid in verband met die RAE, moet direk aan Vee by die SARL-kantoor gerig word.

KOMPETISIENUUS

UITSLAG VAN BOLAND AMATEURRADIOKLUB 40 METERKOMPETISIE

Die uitslag van hierdie kompetisie wat op Sondag 27 Julie plaasgevind het, is as volg:

In die 1ste plek met 112 punte is Barry, ZS2EZ. In die 2de plek met 101 punte is Mitch, ZS2DK. In die 3de plek met 100 punte is Jan, ZS4JAN. Barry en Jan het dus ook die hoogste puntetellings in Afdelings 2 en 4 respektiewelik. Die met die hoogste puntetellings in die ander afdelings is as volg:
Afdeling 1, Jacques, ZS1WC, Afdeling 3, Gerhard, ZS3TG, Afdeling 5, John, ZS5J en Afdeling 6, Hans, ZS6KR. Sertifikate sal eersdaags aan hierdie deelnemers gepos word.

'n Totaal van 44 logstate is ontvang waarvan 38 deelnemers meer as 20 kontakte behaal het. Die wenner van 'n pragtige Yaesu VX3 handradio, wat deur Let's Play Radio geborg is, en deur 'n gelukkige trekking bepaal is, is Tiffany ZU1PPG. Baie geluk aan Tiffany.

BARK bedank graag die borg vir hierdie prys en vertrou dat daar volgende jaar nog meer deelnemers sal wees.

KLUBNUUS

NUWE KOMITEE VIR MAGALIES RADIOAMATEURKLUB

Tydens die klub se AJV wat op 16 Augustus 2008 gehou is, is die volgende lede tot die bestuurskomitee vir die Magalies Radioamateurklub verkies, vir die 2008/2009 termyn:
Voorsitter Johan, ZS6JPN;
Visevoorsitter Nico, ZS6OI, onlangs nog ZR6AFJ;
Sekretaris Nick, ZR6NSP;
Tesourier Thomas, ZS6TJS;
Ander lede Sam, ZS6JZ, Hannes, ZS6JDE, Johan, ZS6PSS, Jenny, ZS6JWN, Pieter, ZS6LC, Marco, Z66MJ, Hester van der Walt, nog sonder roepsein.

Ons dank en waardering aan die komiteelede wat uitgetree het vir hulle waardevolle bydraes en sterkte word toegewens aan die komitee wat herverkose en nuwe lede insluit vir sy ampstermyn.

WESRAND SNUFFELMARK

Die Wesrand Amateurradioklub nooi almal hartelik uit na sy volgende snuffelmark wat op Saterdag 06 September 2008 om 12:oo begin by hul klubhuis te Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Vir verdere inligting skakel Willem by 082 890 6775.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen wissel tussen aktiewe tot onrustige vlakke tot 3 September waarna stil toestande verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlike flou 40 en 80 m openinge na Nieu-Zeeland om 18:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Zeeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer om die draai is dit is nou die ideale tyd om kontakte vir jou 80 m WAZS te maak. Een van die dae is die donderstorms en statiese steurings weer terug. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

30 Augustus – AJV van die Oos-Rand Radioklub;
31 Augustus – Laaste dag vir betaling van ledegelde teen korting;
06 September – Wesrand snuffelmark;
11 September – Sluitingsdatum vir inskrywings vir Oktober RAE;
13 September – Radiotegnologie in Aksie by die Nasionale Amateurradiosentrum;
03 Oktober – Jongdamestoer van SA begin;
08 Oktober – Rig ‘n stasie by ‘n skool op as deel van ruimteweekaktiwitete.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003