Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG – 31 AUGUSTUS 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

OKOSA SE VOORGESTELDE TABEL VAN FREKWENSIETOEKENNINGS SLUIT VERANDERINGS AAN SOMMIGE AMATEURFREKWENSIES IN

DIE SARL-HMO-BAKENPROGRAM SAL TYDENS DIE RTA TOEGELIG WORD

WONDERLIKE PRESTASIE DEUR SUID-AFRIKAANSE AMATEUR IN “CQWW” GG-KOMPETISIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

OKOSA SE VOORGESTELDE TABEL VAN FREKWENSIETOEKENNINGS SLUIT VERANDERINGS AAN SOMMIGE AMATEURFREKWENSIES IN

Op 22 Julie 2008 het OKOSA, in ooreenstemming met ‘n proses wat deur die Elektroniese Kommunikasiewet vereis word, ‘n hersiene tabel van frekwensietoekennings gepubliseer. Die SARL het die tabel bestudeer en het sy kommentaar by OKOSA ingedien. Die volgende stap is vir OKOSA om al die kommentaar na te gaan en om publieke verhore te hou, indien nodig. Sodra oor die finale tabel ooreenstemming bereik is, sal dit in die Staatskoerant gepubliseer word, tesame met die datum wanneer die nuwe tabel die oue sal vervang.

Die SARL het die tabel nagegaan met inagneming van ‘n wêreldwye dokument getiteld “Spectrum Requirements for the Amateur and Amateur-satellite Services” wat op 22 Augustus 2008 deur die Administratiewe Raad van die IARU gepubliseer is.

Die voorgestelde Suid-Afrikaanse tabel sluit alreeds uitbreiding van die 40 meterband na 7 200 kHz in sowel as ‘n nuwe toekenning van 135,7 – 137,8 kHz in die langgolfspektrum.

Die bestaande beperking vir ZRre in die 14 MHz-band is ook verwyder.

‘n Tyd gelede het die SARL ‘n aansoek aan OKOSA gerig waarin gevra word vir die uitbreiding van die 160 meterband tot 2 000 kHz en ook ‘n nuwe toekenning in die 5 MHz-spektrum. Die SARL het ook ‘n verdere voorstel ingedien vir oorweging as deel van die hersieningsproses van die toekenningstabel.

Die SARL het ook die spektrumbehoeftes in die 2 300 - 2 450 MHz-band aangespreek en ook gevra vir ‘n toekenning in die 3 300 - 3 500 MHz-band, ten einde Suid-Afrika in ooreenstemming te bring met ander wêrelddele waar hierdie band vir satellietgebruik oorweeg word. Hierdie toekenning word in die algemeen nie in ITU Streek 1 gedoen nie, behalwe in sekere CEPT-lande wat toekennings in 3 400 – 3 410 MHz-band het.

Die Suid-Afrikaanse tabel van frekwensietoekennings sluit ‘n interessante toekenning in vir gebruik deur radioamateurs in die 40 MHz-band in. Die frekwensies 40,675 - 40,685 MHz mag vir voortplantingstudies gebruik word, beperk tot ZS-lisensiehouers, en tot ‘n effektiewe uitgestraalde krag van 10 W.

Let daarop dat alle bestaande regulasies en toekennings van krag bly en dat enige nuwe toekennings beskikbaar sal kom eers wanneer dit in die Staatskoerant gepubliseer word.

DIE SARL-HMO-BAKENPROGRAM SAL TYDENS DIE RTA TOEGELIG WORD

Die SARL-HMO se 40 m-bakenprogram se toetsstatus sal spoedig be-eindig word en sal reg wees om in gebruik te stel. ‘n Aantal ernstige tegniese uitdagings, wat langdurige toetsing van al 30 stelle vereis het, moes oorkom word. ‘n Lesing wat hierdie uitdagings beskryf, en hulle oplossings, sal tydens die RTA op 13 September in Gauteng aangebied word. Al 30 bakens sal ten toon gestel word en daar sal gesien kan word hoe hulle tydvolgorde werk. Die lesing sal aangebied word deur Lindsay Magnus van die Hermanus Magnetiiese Observatorium.

Die RTA word aangebied in die Nasionale Amateurradiosentrum in Radiokop. Die volledige program, hoe om daar te kom en die reeks van bywoningspryse wat per gelukkige trekking gewen kan word, kan gevind word by www.sarl.org.za, of stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za en verskaf jou faksnommer of e-posadres en ‘n kopie van die program sal aan jou gestuur word. Toegang is R20 per persoon maar dit is gratis vir studente en leerders.

NEEM OP 8 OKTOBER AMATEURADIO NA ‘N SKOOL

Die wêreld vier Ruimteweek 2008 oor 4 – 8 Oktober. Die SARL beplan om op Woensdag 8 Oktober amateurradio na so veel as moontlik skole te neem. Die hulp van klubs en individuele radioamateurs word benodig om dit moontlik te maak. ‘n Integnettipe koppeling word vir 10:00 tot 12:00 beplan. Die gebeurtenis sal ook op HF ondersteun word vir gebiede waar herhalertoegang nie beskikbaar is nie.

Jou hulp word benodig om ‘n stasie by ‘n skool naby jou op te rig. Verkry meer besonderhede vanaf www.sarl.org.za.

HELP ONS BY “INSITE” 2008

“INSITE” 2008 is ‘n uitstalling aangaande wetenskap, innovering en tegnologie. Dit word van 15 - 17 September in die Sandton Konvensiesentrum gehou en is oop van 10:00 tot 17:00. Amateurradio sal daar wees en ons benodig hulp om die stalletjie te beman. Kom en deel vir ‘n aantal ure, of ‘n hele dag, jou entoesiasme vir amateurradio. Stuur asb. ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za en ZS6AKV sal jou kontak en besonderhede met jou uitwerk.

SARL-LEDETALHERNUWINGS STYG TOT ‘N NUWE REKORD

Op verlede Vrydag het die SARL-ledetal 1 132 bereik, ‘n nuwe rekord vir die getal lede wat teen die einde van Augustus hernu het. Die spesiale afslagtarief is nog tot vannag, 31 Augustus, beskikbaar vir elektroniese oorplasings. Indien jy per tjek betaal, sal alle tjeks wat 1 September, of vroeër gedateer is, teen die laer tarief aanvaar word. Vanaf 1 September verhoog die tarief vir gewone lede tot R320 en vir senior lede tot R200.

Vir besonderhede oor hoe om te betaal, besoek www.sarl.org.za of kontak Vee Antal by 011 675 2393 tussen 09:00 en 13:00.

Baie dankie aan almal wat hernu het en ‘n spesiale welkom aan al die nuwe lede.

WONDERLIKE PRESTASIE DEUR SUID-AFRIKAANSE AMATEUR IN “CQWW” GG-KOMPETISIE

Andrew, ZS6AA, is tiende geplaas in die in die wêreld in die enkeloperateur, alle bande, laekragkategorie van die “CQWW” GG-kompetisie vir 2007. Sy puntetelling van 2,36 miljoen punte met 2 717 QSO’s breek ook die Suid-Afrikaanse rekord van 582 920 punte vir hierdie kategorie, wat in 1995 deur ZS6AJS opgestel is.

Wonderlik Andrew, baie geluk.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 4 September waarna aktiewe vlakke verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nieu-Zeeland om 18:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Zeeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroeg oggend en laat middag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer om die draai is dit is nou die ideale tyd om kontakte vir jou 80 m WAZS te maak. Een van die dae is die donderstorms en statiese steurings weer terug. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Augustus – Laaste dag vir betaling van ledegelde teen korting;
06 September – Wesrand snuffelmark;
11 September – Sluitingsdatum vir inskrywings vir Oktober RAE;
13 September – Radiotegnologie in Aksie by die Nasionale Amateurradiosentrum;
15 – 17 September – “INSITE” 2008 in die Sandton Konferensiesentrum;
03 Oktober – Jongdamestoer van SA begin;
08 Oktober – Rig ‘n stasie by ‘n skool op as deel van ruimteweekaktiwitete.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radio-amateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003