Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG – 21 SEPTEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie – en vorige bulletins – kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SARL PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

MOET NIE ‘GRYS’ TOERUSTING KOOP NIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

Sluit vanaand aan by SARL President Rassie Erasmus, ZS1YT, en die SARL se Toekenningsbestuurder, Tjerk Lammers, ZS6P, om 19:30 terwyl hulle toekennings bespreek op ‘n herhaler naby u. Om via echolink aan te sluit of om na die web cast te luister, gaan na www.sarl.org.za, klik op “publications”, kies ARMI en volg die skakels.

MOENIE ‘GRYS’ TOERUSTING KOOP NIE; DAAR IS GEEN WAARBORG NIE

Radioamateurs word aangeraai om nie ‘grys’ ingevoerde produkte te koop nie; as hulle dit doen is dit op eie risiko omdat die produkte geen waarborg dra, en nie deur ‘n geakkrediteerde handelaar in Suid-Afrika gediens sal word nie. Hierdie waarskuwing kom van Multisource, verspreiders van ICOM-amateurtoerusting.

Multisource het aan die SARL gesê dat die maatskappy onder geen omstandighede enige ondersteuning sal verskaf aan ICOM-amateurprodukte wat nie oorspronklik deur hulle of hulle goedgekeurde agente verskaf is nie – dit sluit in waarborge, naverkoopdiens en herstel. Vir alle waarborgomruilings of herstel, moet ‘n reeks- en faktuurnommer, tesame met ‘n voltooide RMA-vorm verskaf word. As die reeksnommer/s van die toerusting nie op die rekords van Multisource verskyn nie, sal die waarborg nie geldig wees nie. Dit is ook van toepassing op toerusting wat in die buiteland gekoop is.

Volgens wet moet invoerders van ‘grys’ toerusting hulle klante inlig dat die produkte nie die waarborg van die vervaardiger dra nie.

NEEM AMATEURRADIO SKOOLTOE OP 8 OKTOBER

Het u al met u plaaslike skool gereël om ‘n amateurradiostasie op te rig as deel van die Wêreld-ruimteweek op 8 Oktober? Neem u klub deel in die bevordering van amateurradio vir die jeug. Besoek www.sarl.org.za en klik op “Youth Activity” om meer inligting te bekom.

Die opstelkompetisie waar groot pryse soos ‘n Acer-skootrekenaar gewen kan word, sluit op 30 September. Leerders word genooi om ‘n opstel te skryf oor die onderwerp “Mensdom se bewoning van die maan: kan Amateurradio ‘n rol speel?” Volledige besonderhede oor die kompetisie is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

SARL ONTVANG ‘N TOEKENNING TYDENS 'INSITE' 2008

Die SARL-uitstalling het ‘n toekenning ontvang vir sy deelname by 'INSITE' 2008, ‘n tegnologieuitstalling wat verlede week in Sandton gehou is. Die SARL het die Uitstallerstoekenning van die Departement van Wetenskap en Tegnologie ontvang ter erkenning van die SARL se bydrae tot die sukses van die 'INSITE'-uitstalling.

WAT IS AMATEURRADIO? – ‘N GROOT BEKOMMERNIS

Jong besoekers van alle gemeenskappe aan die SARL-uitstalling by ‘INSITE’-2008 het die vraag gevra “Wat is Amateurradio?”

Dit wil blyk asof die idee van ‘n “hands-on” tegnologie-stokperdjie iets vreemd is vir vandag se jeug. Tydens verlede week se RTA in Gauteng is die saak tydens die voorsittersforum bespreek en konsensus is bereik dat amateurradio meer sigbaar moet wees. Die vraag bly nog steeds “Wat is Amateurradio?” Ons weet almal wat dit beteken het toe ons betrokke geraak het, maar dit tel nie meer vandag nie.

Die SARL werk aan ‘n 2009-amateurradio-bevorderingsprojek en ons benodig u insette. Hoe vertel ons die jeug van vandag wat is amateurradio? Stuur u idees oor die onderwerp aan armi@sarl.org.za.

ERFENISDAGHERDENKING EN DIE BLOKHUISPROJEK

Die Sasolburg Radioklub, ZS4SRK, en die Vaalddriehoek ARK, ZS6VTB, sal op 24 September 2008 Erfenisdag herdenk en ook deelneem aan die ‘Blokhuise op die Lug’. Die Sasolburg ARK sal by die Witkop Blokhuis op die R59 wees, terwyl die Vaaldriehoek ARK die spesiale roepsein, ZS08TV, sal gebruik ter herdenking van die Vrede van Vereeniging.

ZS4SRK sal GG werk tot by 7,020 MHz en ESB van 7,050 tot 7,090 MHz van ongeveer 13:00 tot 15:00 SAT. Besoek die SARL-forum vir volle besonderhede oor die Blokhuisprojek.

ZS08TV beplan om aktief te wees op GG van 7,015 – 7,030 MHz en ± 14,025 MHz asook op ESB 7,055 MHz en op ongeveer 14,225 MHz, maar dit sal bepaal word deur toestande vanaf 10:30 SAT.

INTERNASIONALE JONGDAMESTOER SUID-AFRIKA 2008

‘n Internasionale Jongdamestoer is geskeduleer om hier in Suid-Afrika plaas te vind gedurende Oktober 2008. Radioamateurs, beide jongdames en mans, sal vanaf Japan, Korea, Duitsland, Swede, Noorweë, Kanada, Australië, Frankryk en ander dele van die wêreld hier aankom.

Hulle land op 3 Oktober 2008 en sal tuisgaan by die Lesedi Kultuurdorp tot 5 Oktober, dan vertrek hulle na die Pilansberg Wildreservaat op 6 Oktober en daarna KwaZulu-Natal op die 8ste en na Kaapstad op die 13de.

Janet Musto, ZS5JAN, en Vee Antal, ZS6ZEN, is aangestel as die amptelike organiseerders van die ‘Internasionale YL ontmoet Suid-Afrika, 2008’ en was ook betrokke tydens die ‘Internasionale YL ontmoet Mumbai, Indië, 2006. Hulle vra Suid-Afrikaanse amateurs om by hulle aan te sluit.

In Johannesburg is plaaslike radioamateurs welkom om ‘n dinee by die Lesedi Kultuurdorp by te woon saam met die Internasionale Radioamateurs op Saterdag 4 Oktober 2008. Die dinee begin om 19:00 en kos R130,00 per persoon. RSVP teen 26 September 2008 na faks 088 011 675 2793.

In Durban word plaaslike radioamateurs en hulle gades genooi vir die bywoning van die produksie "Dancing Queen” by die Barnyard Teater, Gateway, op Sondag 12 Oktober 2008 om 14:00. Daarna volg ‘n vroeë aandete by ‘n plaaslike restaurant in Gateway. Die koste van die Barnyard-produksie is R70,00 per persoon en die koste van die ete word bepaal deur wat u bestel. RSVP direk aan Janet teen 26 September 2008 by selfoon 082 321 1158 of e-pos accsol@thenet.co.za.

In Kaapstad is plaaslike radioamateurs welkom om ‘n dinee en bymekaarkom met die internasionale radioamateurs op Vrydag 17 Oktober 2008 om 19:00 by die Breakwater Lodge by te woon. Die buffetdinee kos R125,00 per persoon. RSVP teen 26 September 2008 per faks na 088 011 675 2793.

Die Jongdamesgroep gaan ook ‘n besoek aflê by die HMO op Hermanus op 15 Oktober 2008. Radioamateurs in die Hermanus-omgewing is welkom om by die groep aan te sluit en hulle te ontmoet.

Betalings word gedoen by die bymekaarkomplek. As u ‘n RSVP stuur maar nie bywoon nie, word u verantwoordelik gehou vir die betaling. Janet en Vee hoop om almal daar te sien.

NUWE GEDRUKTE SARL-BROSJURE BESKIKBAAR

Die nuwe SARL-brosjure wat beskikbaar is vir aflaai vanaf die webwerf, is nou ook beskikbaar in ‘n gedrukte volkleurformaat. Klubs kan die brosjure bestel deur die hoeveelheid aan te vra vanaf die SARL-kantoor. Stuur ‘n e-pos aan admin@sarl.org.za met die hoeveelheid benodig en u posadres. Klubs in die omgewing van die NARS kan dit daar afhaal, maar reël eers met Vee Antel by 011 675 2393.

WELKOM AAN NUWE LEDE

Ons het nognie die 1 200 merk behaal nie. Teen Vrydag was die lidmaatskap 1 197. Hierdie week verwelkom ons:

John Waberski, ZSL558, Jaco Steyn, ZSL559, Donald Bowen, ZSL560, Brian McKenzie, ZSL561, Alan Harrington, ZSL562, Alan Dial, ZSL563, Liam Harrison, ZSL564, Courage Mudsingwa, ZSL565, en Nico Truter, ZS1KT.

Verlede week het ons begin om in te haal met die verwelkoming van nuwe lede wat sedert 1 Julie aangesluit het. Hierdie week ‘n spesiale woord van welkom aan: Deon Erwin, ZS1ZL, Thomas Theron, ZS2TF, A de Reuck, ZS4ADR, E Jansen van Vuuren, ZS6AVV, Andries van Wyk, ZS6CEG, Coalfields Amateur Radio Club, ZS6CRC, Yasuhiro Hiruma, ZS6GUH, Richard Stapelberg, ZS6RGS, Yogi Botha, ZS6YGI, Constand de Villiers Volschenk, ZSL549, Friedrich Metz, ZSL550, Jacques Prinsloo, ZSL551, Patrick Msomi, ZSL552, en Rory G.V. Meyer, ZSL553.

Ons vertrou dat u lidmaatskap van die wenspan genotvol en bevredigend sal wees.

KLUBNUUS

Die Oosrandtak bied die Oosrandvlooimark aan op 4 Oktober agter die Burgersentrum in Plantationweg in Springs. Aktiwiteite duur van 08:00 tot 12:00 SAT met ‘n APRS-spesiale belangstellingsgroep-vergadering om 10:00 binne Echo Charlie. Tafels kan bespreek word teen R20,0 elk, en eet- en drinkgoed sal beskikbaar wees. Om ‘n tafel te bespreek stuur ‘n e-pos aan zs6erb@gmail.com of bel die takvoorsitter Chris, ZS6COG, by 083 543 5668.

Die Oosrandtak se AJV is onlangs gehou en na ‘n eenparige besluit op die mosie is die Oosrandklub verander na die Oosrandtak van die SARL. Dit is met die SARL bespreek en die aansoek is goedgekeur. Daar is nog ‘n klompie administratiewe reëlings om af te handel, maar die Oosrandklub sal nou bekend staan as die Oosrandtak.

Tydens die AJV is die volgende komitee verkies:

Voorsitter: Chris Gryffenberg, ZS6COG;
Ondervoorsitter: Harry Harris, ZS6HHH;
Sekretaris: Lydia Upfold, ZS6MTB;
Tesourier: Ria Olivier;
Toesighoudende tesourier: Pieter Jacobs, ZS6XT;
Marcel Upfold, ZS6OTB, hanteer skakeling en ander sake. Baie geluk aan die nuwe komitee en dankie aan die uittredende lede.

Die Highveld Amateurradioklub se AJV was op 6 September 2008. Ons bedank die uittredende voorsitter en wens hom alles van die beste met sy nuwe uitdagings.

Voorsitter: Frank van Wensveen, ZS6TMV;
Ondervoorsitter: Frank Mercier, ZS6MER;
Sekretaris/tesourier: Berridge Emmett, ZS6BFL;
Assistentsekretaris: Marianne Treyvellan, ZR6JMT;
‘Shacknews’: Berridge Emmett, ZS6BFL, Marianne Treyvellan, ZR6JMT, en Harry Lautenbach, ZS6LT;
Webwerf: Yvonne van Dijk, ZR6TBL, en Marianne Treyvellan, ZR6JMT;
Herhalers/pakketradio en tegnies: Ton Van Dijk, ZS6ANA.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 29 September waarna onrustige vlakke verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die noordelike rigtings maar swakkerig vir die hoofsaaklik noordwestelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nieu-Seeland om 19:00. Vanaf 07:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Australië. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6 te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS2 lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Met die somer bykans hier is dit is nou die ideale tyd om kontakte vir u 80 m-WAZS te maak. Een van die dae is die donderstorms en statiese toestande weer terug.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u steeds kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

21 September - Presidentsnet;
24 September - Blokhuise op die Lug;
03 Oktober - Jongdamestoer na SA begin;
08 Oktober - Rig 'n stasie by 'n skool op as deel van ruimteweekaktiwiteite.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS/1, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003