Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 28 SEPTEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met diep leedwese dat die heengaan van twee radioamateurs aangekondig moet word.

Vic Hugo, ZS1LY, ‘n vorige President van die SARL in 1989, se sleutel het verlede week stil geword na ‘n lang tydperk van siekte. Sy begrafnis was op Maandag 15 September.

Ken Groom, ZR5AAD van Holland, Michigan in die VSA se sleutel het na ‘n kort siekbed stil geword. Hy het op Sondag 24 September ernstige beroerte gehad en daar is gevind dat hy ‘n kwaadaardige gewas op die brein het, sy toestand was terminaal.

Ken het ‘n groot rol gespeel in die totstandkoming van die Holland Amateurradioklub se Radiotegniese sentrum. Ter nagedagtenis is die Holland Amateurradioklub se klubhuis die Ken Groom, ZR5AAD, Tegniese en Opleidingsentrum vernoem.

Ons betuig ons innige meegevoel met die families en vriende van die afgestorwenes.

[POUSE]

In die nuus vandag:

DIE 2008 BERNARD PRICE GEDENKLESING

EERSTE METEORVERSTROOIINGKONTAK OP 4 METER

LEER HOE OM MET PIC’s TE WERK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

DIE 2008 BERNARD PRICE GEDENKLESING GAAN OOR "EXPLORING THE FIERY STAR, THE SUN"

Hierdie jaar se Bernard Price gedenklesingtoer word aangebied deur Prof Sami Solanki, ’n sonfisikus en besturende direkteur van die Max Planck Instituut vir Sonnestelselnavorsing.

Die son is ’n rustelose ster. Dit wys ’n wye verskeidenheid van kortstondige of aktiewe verskynsels, soos donker sonvlekke, die deurlopende veranderende warm korona, energieke fakkels en enorme koronale massauitwerpings, tesame met die gepaardgaande uitset van energieke uitstraling en deeltjies. Die veranderende sonuitset beïnvloed ons natuurlike omgewing, insluitende die wêreldklimaat en affekteer ’n groeiende hoeveelheid en verskeie tegniese stelsels in die ruimte en op aarde. Om die geheime van die son te ontbloot, is daar ’n armada van ruimtetuie wat na verskillende dele van die sonnestelsel vlieg, met nog opwindende sendings wat voorlê. Hoogtepunte van onlangse ruimtesendings, insluitende van die besonderse video-opnames gemaak deur hulle, sal aangebied word asook planne vir toekomstige ruimtesendings.

Die Bernhard Price gedenklesing word op die volgende datums aangebied: Maandag 13 Oktober in Johannesburg, Dinsdag 14 Oktober in George, Woensdag 15 Oktober in Port Elizabeth, Donderdag 16 Oktober in Durban en Vrydag 17 Oktober in Kaapstad. Besoek die Suid-Afrikaanse Instituut van Elektriese Ingenieurs se webwerf by www.saiee.org.za vir besonderhede van tye, lokale en waar om te registreer. Alhoewel die lesings gratis is en vir almal toeganklik is, is dit belangrik om te registreer.

SARL-KANTOOR GESLUIT

Die SARL-kantoor sal op 1 en 2 Oktober en dan weer vanaf 6 tot 17 Oktober gesluit wees. Vir dringende sake stuur ‘n e-pos aan secretary@sarl.org.za of los ‘n stemboodskap op die kantoortelefoon. Gedurende hierdie datums sal daar niemand by die Nasionale Amateurradiosentrum wees nie, maar die sekretaris sal die e-posse, fakse en stemboodskappe hanteer.

EERSTE METEOORVERSTROOIINGKONTAK OP 4 METER

Andre Botes, ZS2ACP, in Port Elizabeth en Paul Smit, ZS6NK, in Polokwane het wat moontlik die eerste meteoor-QSO op 4 meter in Afrika is, op 31 Augustus 2008 gemaak. Die twee stasies het om 03:00 UTC begin op 70,200 MHz HSB met ’n FSK441 QSO wat teen 04:18 UTC voltooi is. Andre, ZS2ACP, het gebruik gemaak van ’n gemodifseerde TenTec 6 m omsetter met 23 Watt na ’n 3-element Yagi en Paul, ZS6NK, het ’n tuisgeboude omsetter met 24 Watt na ‘n 7-element Yagi gebruik.

Hulle het nog ’n meteoorkontak gemaak tydens die BHF-kompetisie op 21 September. Tydens die kontak het Andre gebruik gemaak van ’n 5-element Yagi.

FSK441-programmatuur is ontwerp vir hoëspoed meteoorverstrooiingskommunikasie wat gebruik maak van die kort "pings" van seine gereflekteer vanaf die geïoniseerde stert van meteoriete sowat 100 km bokant die aarde se oppervlakte. Sulke pings is tipies enkele dB bo die ontvangergeraas en mag tussen tien tot ’n paar honderd millisekondes hoorbaar wees. Deur gebruik te maak van hierdie kort pings, fasiliteer FSK441-QSO’s in die 800 tot 2 200 km afstand in die amateur 2-meter en ander BHF- en UHF-bande.

Die WSJT FSK441 meteoorkommunikasiesagteware is deur Jo Taylor, K1JT ontwikkel. Jo Taylor is ’n 1993 Nobel Laureate in Fisika vir die ontdekking van ‘’n nuwe tipe pulsar, ’n ontdekking wat nuwe moontlikhede vir die studie van gravitasie geopen het.

Jo se belangstelling in amateurradio gaan terug na sy tienerjare. In ’n eielewensbeskrywing gepubliseer ten tye van die ontvangs van die Nobelprys, skryf hy "Van my beste kinderherinnerings is die versamel van klippylpunte wat deur vroeër inwoners daar gelos is, en die oprigting, saam met my broer Hal, van verskeie groot, roterende amateurradioantennas, hoog bokant die dak van die drieverdieping Victoriaanse plaashuis. Met een so ‘n projek, tot groot ontsteltenis van ons ouers, het ons dit reggekry om die baksteenskoorsteen tot op dakoppervlakte af te sny. Die insident was een van vele praktiese lesse van my jeug, nie almal betyds opgeneem nie en swak ingeligte kortpaaie om die doel te bereik”.

Baie geluk aan Andre, ZS2AC,P en Paul, ZS6NK.

LEER HOE OM MET PIC’s TE WERK BY ’N SPESIALE RTA-GELEENTHEID

Leer hoe om met PIC's te werk, hoe om hulle te programmeer en hulle te gebruik in amateurradioprojekte. ’n Spesiale Radio-Tegnologie-in-Aksie-geleentheid sal op Saterdag 29 November vanaf 09:00 tot 13:00 by die SARL Nasionale Amateurradiosentrum in Gauteng gehou word. Die koste van die kursus is R200 vir SARL-lede en R300 vir nie-lede. Die regsitrasiegelde sluit alle onderdele, programmatuur en ligte verversings in. John Willescroft, ZS6EF, sal die kursus aanbied en is beperk tot 20 persone.

Besoek asseblief www.sarl.org.za, klik op “activity” en kies “RTA” vir besonderhede van hoe om te bespreek en wat benodig word vir die kursus. Die volgorde van registrasie sal bepaal wie die kursus bywoon.

LIDMAATSKAP SPRING TOT 1 227

Hierdie week het weer ’n groei getoon in die hernuwings. Tans staan die lidmaatskap op 1 227.

Op 30 September sal lede wat nognie hulle lidmaatskap betaal het nie van die databasis verwyder word en sal diesulkes geen toegang hê tot lidmaatskapdienste nie. As u, u faktuur misplaas het of dit het u ontgaan, betaal nou R320. Vir die lidmaatskaptariewe van ander klasse van lidmaatskap, skakel 011 675 2393 of besoek www.sarl.org.za.

Hierdie week verwelkom ons die volgende nuwe lede van die SARL:

Japie Venter, ZSL566, Ria Olivier, ZSL573, Karel Kruger, ZSL574, Justin Phillips, ZSL554, Stephen Howell, ZSL555, Desmond Williams, ZSL556, Gabriel Schoeman, ZSL557, John Waberski, ZSL558, en Stephen Stuttard, ZU6ET.

CQ HOU KOERS EN JAMBOREE OP DIE LUG

Die jaarlikse CQ Hou Koers-aktiwiteit vir die Voortrekkerbeweging vind plaas op Vrydag 17 en Saterdag 18 Oktober, terwyl Jamboree op die Lug op Saterdag 18 en Sondag 19 Oktober 2008 plaasvind. Kontak u plaaslike Voortrekkerkommando, Padvindergroep en Meisiegidsgroep en bied u hulp aan om ‘n amateurstasie by hul vergaderplek of by ‘n kampeerterrein op te rig. Die Voortrekkers, Padvinders en Meisiegidse kan help met die oprigting van antennas, die logboek op datum hou, QSL-kaarte uitskryf en beslis met ander Voortrekkers, Padvinders en Meisiegidse hier in Suid-Afrika en in die buiteland gesels.

KOMPETISIENUUS

Die tweede skof van die SARL 80 Meter QSO-Geselligheid vind plaas op Donderdag 2 Oktober en dit begin om 19:00 en eindig teen 22:00 SAT. Dit is ‘n foonalleenkompetisie in die bandgedeelte 3,603 tot 3,700 MHz en u roepsein, ‘n RS-seinverslag en ‘n reeksnommer beginnende by 001 word uitgeruil. ‘n Kontak met ‘n Suid-Afrikaanse stasie tel 10 punte en ‘n kontak met ‘n stasie buite Suid-Afrika tel 15 punte. Die reels is beskikbaar in die SARL-Kompetisieboek.

BESTE WENSE VIR DIE HEILIGE DAE

Ons beste wense gaan aan an al ons Joodse lede en luisteraars vir ‘n gelukkige nuwejaar. Mag u ingeskryf en verseel wees vir ‘n goeie jaar en gelukkig wees gedurende die feestyd.

Wanneer die nuwe maan opkom, sal Moslems hulle fees op 30 September be-eindig. Ons wens voorspoed aan ons Moslemlede en –luistraars gedurende hulle ‘Eid ul-Fitr’.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 29 September waarna onrustige vlakke verwag word tot 5 Oktober. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie. Die goeie nuus is dat Kobus Olckers die frekwensievoorspellingsdiens uitgebrei het met twee teikengebiede in Suid Amerika.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m openinge vanaf 12:00 SAT na Indië. Daar is moontlike flou 40 en 80 m openinge na Nieu-Zeeland om 19:00. Vanaf 06:00 is daar moontlike 20 m openinge na Australië. Kontakte met Peru is om 08:00 vir 'n kort rukkie moontlik. Brasilië kan waarskynlik op 20 m vanaf 18:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m om 20:00 moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sonsonder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS2 lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Met somer om die draai is dit is nou die ideale tyd om kontakte vir jou 80 m WAZS te maak. Een van die dae is die donderstorms en statiese steurings weer terug.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

02Oktober – SARL 80 m QSO-geselligheid;
03 Oktober - Jongdamestoer van SA begin;
04 Oktober – Oosrand Vlooimark;
08 Oktober - Rig 'n stasie by 'n skool op as deel van ruimteweekaktiwitete;
16 Oktober – Radioamateureksamen;
17 to 19 Oktober – CQ Hou Koers en JOTA;
29 November – Kursus oor gebruik van PIC’s.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003