Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 12 OKTOBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie - en vorige bulletins - kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

INTEGNET OOR SPREISPEKTRUMKOMMUNIKASIE

RTA DATUMS VIR 2009 AANGEKONDIG

SUMBANDILASAT GAAN VAnAF BAIKONUR GELANSEER WORD

OKTOBER RAE BEHAAL BYNA ’N REKORDGETAL INSKRYWINGS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

INTEGNET OOR SPREISPEKTRUMKOMMUNIKASIE

Die volgende Integnet sal op Sondag 19 Oktober plaasvind en sal handel oor spreispektrumkommunikasie aangebied deur John Williscroft, ZS6EF. ‘n Ekstensiewe PowerPointaanbieding sal vanaf die komende week op die web beskikbaar wees. On die af te laai besoek besoek www.sarl.org.za, kies publikasies en klik op RTA of volg die skakels vanaf die tuisblad

Klubs wat by die telekonferensiebediener wil inskakel moet asseblief voor Woensdag 22 Oktober ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za stuur.

RTA DATUMS VIR 2009 AANGEKONDIG

Die datums vir die SARL Tegnologie-in-Aksieprogram is as volg gefinaliseer:

Gauteng 9 Mei 2009;
KwaZulu Natal 30 Mei 2009;
Ooskaap 20 Junie 2009;
Weskaap 15 Augustus 2009.

Kyk asseblief na die dagboek van gebeure in u area en laat weet indien daar enige botsings is. Stuur asseblief die inligting aan armi@sarl.org.za.

OPROEP VIR LESINGS

Hioerdie is die eerste oproep vir lesings vir aanbieding by die RTA. Indien u ‘n voorlegging wil doen stuur asseblief ’n opsomming voor 31 Oktober na rta@sarl.org.za. Insette oor wat u graag op die 2009 RTA-agenda wil sien, is ook welkom, stuur dit ook aan die adres rta@sarl.org.za.

SUMBANDILASAT GAAN VAVAF BAIKONUR GELANSEER WORD

Dis amptelik! Suid-Afrika se tweede sateliet, SumbandilaSat, sal in die Desember tot Maart tydgleuf vanaf die Russiese Baikonur lanseerbasis gelanseer word.

Baikonur is die lanseringskompleks waarvandaan Sputnik 1, die Aarde se eerste sateliet, gelanseer was.

Alle ruimtestasievlugte deur Rusiesse vaartuie word van Baikonur gelanseer. Dit is ook die enigste lanseersentrum wat die Proton-vuurpyl wat vir Zarya, die eerste deel van die ISS, gebruik is.

Die naam Baikonur is misleidend. Die voormalige Sowjetunie het die naam en ko-ordinate van ’n klein myndorp, Baikonur, gebruik om die ligging van van hul vuurpylkompleks te beskryf. In werklikheid is dit sowat 322 km suidwes van die myndorp naby Tyuratam in Khazakhstan geleë. Hierdie wanvoorstelling was doelbewus gedoen om die werklike ligging te verbloem. Alhoewel die ware ligging nou bekend is, word die kompleks nog steeds Baikour genoem.

SumbandilaSat was eers geskeduleer om met ’n Sthil-vuurpyl vanaf ’n Rusiesse duikboot gelanseer te word, maar is weens politieke verskille tussen verskeie departemente gekanselleer waarna DWT van voor af na ’n geskikte lanseergeleentheid gesoek het. Dit het baie agter-die-skerms diplomatieke aksies geverg om die Russe te oortuig om die kontrak te eerbiedig en die lansering na Baikonur te skuif.

SumbandilaSat is uitgepak en ondergaan toetse by SunSpace in Stellenbosch voordat dit na Rusland gestuur word vir integrasie met die lanseertuig. Ingenieurs by die lanseerplek berei ’n spesiale aanpassingsring voor om SumbandilaSat aan die vuurpyl se struktuur te koppel.

Die hoofloonvrag van SumbandilaSat is ’n Multi-spektrum beeldvormer wat oor 6,5 m grondmonsters kan neem en dit oor 6 spektraalbande kan ontleed en gesteun word deur ’n aanboord stoor van 6 Gigagrepe, uitbreibaar tot 24 Gigagrepe.

Daar is verskeie eksperimentele loonvragte aan boord, insluitend:
SA AMSAT – 2 m / 70 cm amateurradio transponeerder en digitale spraak. Hierdie loonvrag sal nie slegs deur die amateurradiogemeenskap gebruik word nie maar sal ook ’n groot opvoedkundige funksie vervul om ruimtewetenskap na die klaskamer te bring. Dit sal die jongmense beïndruk!

OKTOBER RAE BEHAAL BYNA ’N REKORDGETAL INSKRYWINGS

Die nasionale RA-eksamens vind landwyd op 16 Oktober 2008 by verskeie eksamensentrums plaas.

Gewoonlik is die Oktoberinskrywings redelik laag maar hierdie keer het ons amper ‘n rekord behaal met 97 inskrywings van studente wat die eksamens gaan aflê.

Onthou dat alle studente wat die Klas A eksamens gaan skryf ook ‘n geleentheid kry om die klas B vraestel te beantwoord indien hulle voel hulle het nie in die Klas so goed gedoen soos verwag nie.

Die SARL wens alle studente voorspoed met die eksamens toe en sien uit daarna om nuwe amateurs in die opwindende tydverdryf te verwelkom.

CQ HOU KOERS

Die Voortrekkers se CQ Hou Koers vind op Saterdag 18 Oktober 2008 plaas.

Luister vir Voortrekkerstasies vanaf Kathu, Kuruman, Bloemfontein, Somerset-Wes, Die Zwartkop-lugmagmuseum, Brits en De Bank kampterrein by Oranjeville.

Voorkeurfrekwensies is 7 050 en 3 670 kHz. Hierdie frekwensies is slegs 'n riglyn - luister asseblief oral op die band.

Die program is:
08:30 SAT - Aktiwiteit begin - kontakte met ander Voortrekkers, Scouts en radioamateurs landwyd.

11:30 SAT - Hoofleier Piet Strauss se boodskap op 7 050 kHz (alternatiewe frekwensie 7 065 kHz), 3 670 kHz asook via Echolink vanaf ZS4HG-R en 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing. ZS4MS sal agterna die inroepe vanuit Bloemfontein hanteer.

Medeamateurs word versoek om 'n tydjie in te ruim om met die jongklomp te gesels - daar is ook 'n paar jong amateurs onder die Voortrekkers. Dankie vir u ondersteuning.

KOMPETISIENUUS

Die Antieke Draadloosvereniging kondig met graagte die tweede been van die AWA se buis-QSO-geselligheid op 18 & 19 Oktober 2008 aan.

Aangesien Jota en CQ Hou Koers stasies ook op 40 en 80 m aktief gaan wees, is daar besluit om die formaat te wysig. Saterdag die 18de sal slegs ESB en Sondag die 19de sal slegs AM gebruik word. Sodoende sal steuring tussen die oorvleulende geleenthede verminder word.

Die tye is van 15:00 - 19:00 SAST (13:00 - 17:00 UTC) op albei dae.

Gebruiksfrekwensies is 7 050 tot 7 100 en 3 603 tot 3 650 kHz.

Die uitsetkrag mag nie 100 Watt oorkry nie tensy die radio se uitsetkrag meer is en nie verstel kan word nie (FTDX400, ens.)

Ruil uit roepsein, RS-verslag en opeenvolgende reeksnommers, wat met 001 begin, plus tipe radio gebruik, bv. HT37 Tx.
Puntetellings word as volg bereken:
Kontakte tussen ‘n buisradios - 5 punte per kontak;
Hibried (buis- & transistorradio) - 2 punte per kontak;
Tussen transistorradios - 1 punt per kontak.
Vermenigvuldigers vir jou stasie:
Buisradio - 3 punte;
Hibried - 2 punte;
Transistorradio - 1 punt.

Sluit gerus by die AWA aan en hou die bande aktief.

Logstate moet aan Andy Cairns gestuur word deur middel van e-pos, slakkepos or faks. Kontakbesonderhede is op die SARL-webwerf of in die roepseinboek beskikbaar.

KLUBNUUS

ZS75PTA-SNUFFELMARK IN PRETORIA

Die Pretoria Amateurradioalub hou hul somersnuffelmark op Saterdag 1 November 2008. Die snuffelmark sal soos gewoonlik op die Suid-Kampus van die Universiteit van Pretoria, op die hoek van Universiteits- en Lynwoodweg, gehou word en die aanvangstyd is 08:00.

Almal is welkom. Kom besoek gerus hierdie Megasnuffelmark in Pretoria. Skakel Almero, ZS6LDP, by (H)012 567 3722 of op 082 908 3359, indien u 'n tafel wil bespreek of meer besonderhede benodig.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 27 Oktober. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 12:00 SAT na Indië. Daar is moontlike flou 40 en 80 m-openinge na Nieu-Zeeland om 20:00. Vanaf 06:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is om 08:00 vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 14:00 gewerk word.

Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike goeie 15 en 20 m-openinge na Europa. 10 m lyk of hy ook wil begin wakker word. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m om 18:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS2 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en statiese geraas bietjie uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Oktober - Radioamateureksamen;
17 to 19 Oktober - CQ Hou Koers en JOTA;
18 - 19 October - Tweede been van die AWA buis-QSO-geselligheid
15 November - Sluitingsdatum vir leerders se opstelkompetisie "Mensdom se bewoning van die maan: kan Amateurradio 'n rol speel?";
29 November - Kursus oor gebruik van PIC's.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003