Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 2 NOVEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met hartseer dat ons die heengaan van twee radioamateurs moet aankondig:

Noel Donaldson, ZS6XC, is op 28:10:2008 oorlede. Daar sal ‘n gedenkdiens Maandag om 11:00 in die Metodistekerk in Rustenburg, gehou word. Sy seun Philip se selnommer is 083 234 8898 vir nadere besonderhede.

Ons het nuus van ‘n amateur in die VSA ontvang dat Ken Groom, ex ZR5AAD, wat in Durban gebore is, en sedert 2000 in die VSA woonagtig, gedurende Oktober oorlede is.

Ons innige meegevoel gaan aan die oorledenes se naasbestaandes en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

RADIO ZS IN DIE POS

BELANGRIKE BOODSKAP AANGAANDE HERHALERS

PRESIDENT SE NET VANAAND OM 19:30

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIO ZS IN DIE POS

Die September/Oktober-uitgawe van Radio ZS is in die pos. Dit is weereens lekker leesstof. Vir ’n vinnige eenuurbouprojek is daar die eentransistorwonder in Dave Ingram se gereelde stuk “Ham pride and our legacies”. Lees oor Glen Kraut, ZS2KG, se tropo-QSO in “VHF can be full of surprises”. Byvoeging van die 5de band aan die “Force 12 antenna”, “Getting on APRS” met ZS6BNE, ’n mini SGV-meter en ’n koffiekan 4-1 balun is tussen die ander interessante artikels om te lees.

Lede sal toegang hê tot Radio ZS op die webblad by www.sarl.org.za. Indien u nognie ’n lid is nie vind uit wat u misloop. Stuur ’n e-pos aan armi@sarl.org.za met Radio ZS in die onderwerplyn en ons sal vir u ’n PDF-kopie stuur om aan te proe.

BELANGRIKE BOODSKAP AANGAANDE HERHALERS – U DRINGENDE AANDAG WORD BENODIG

OKOSA en die SARL het ’n proses begin om rekords oor herhalers, bakens en onbemande radiostasies op datum te kry soos wat deur die wet vereis word. Klubs en herhalergroepe word dringend versoek om die inligting op die SARL-webwerf by te werk en aan vhf@sarl.org.za per e-pos te rapporteer of die gegewens korrek is of bygewerk is.

U terugvoering word teen 30 November benodig. Indien geen bevestiging of veranderings teen 30 November 2008 ontvang is nie, sal die lisensies gekanselleer en die besonderhede van die databasisse van beide die SARL en OKOSA verwyder word.

Dit ook onder die aandag van die SARL gekom dat verskeie APRS- en ander herhalers opgerig is sonder dat hulle gelisensieer is. Indien u of u klub hieraan skuldig is , maak onmiddellik ʼn begin aan die proses om ’n lisensie te bekom. Om ’n ongelisensieerde radiostasie te bedryf is ’n misdryf en kan uitloop op ’n groot boete en konfiskering van die apparaat. Neem asseblief hierdie versoek ernstig op. U samewerking word hoog op prys gestel. Indien u enige navrae of besorgdhede het, skryf gerus aan Nico van Tonder met e-posadres vhf@sarl.org.za.

PRESIDENT SE NET VANAAND OM 19:30

Sluit vanaand aan by die President se net vir ’n bespreking oor agenda-items vir die IARU se Streek Een Konferensie wat later vandeesmaand in Kroasië gehou gaan word. Rassie Erasmus en Dennis Green sal Suid-Afrika verteenwoordig. Daar is ’n groot aantal agenda-items waarvoor die afgevaardigdes u inset benodig. U kan die verskeie items aflaai vanaf die SARL-webwerf www.sarl.org.za, selekteer “publications” en klik op ARMI.

KOMPETISIENUUS

Die tweede been van die SARL se HF-Velddag vind plaas vanaf 12:00 SAT op Saterdag 15 November tot 12:00 SAT op Sondag 16 November met foon- en GG-aktiwiteit op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter. Hierdie is 'n gulde geleentheid om jou Radioklub of -Tak op 'n naweekuitstappie te neem en 'n veldstasie op te rig vir deelname. Wat van "stasie in 'n sak" en "chasing maidens" oor hierdie naweek?

Die reëls is beskikbaar in die 2008 SARL-kompetisieboek.

KLUBNUUS

SASOLBURG AMATEURRADIOKLUB AJV

Tydens die Sasolburg Amateurradioklub se AJV op 25 Oktober 2008 is die volgende lede tot die klubkomitee verkies:

Voorsitter: Marius Preston, ZS4MP;
Ondervoorsitter: Malcolm Kriel, ZS4SM;
Tegnies: Johan Steyn, ZS4SS, Ockerd Taljaard, ZS6LZ;
Sekretaris: Riaan Greeff, ZS4PR;
Webmeester en nuusbriefredakteur: Andries Visagie, ZS6VL;
Tesourier: Corné Cronje, ZU6C.

Ons bedank die uittredende lede vir hul harde werk en wens die nuwe komitee voorspoed vir die taak vorentoe.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 6 November. Daarna sal dit toeneem tot lae stormvlakke bereik word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 12:00 SAT na Indië. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan baie uitdagend wees. Vanaf 08:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is om 10:00 vir 'n kort rukkie op 15 m moontlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 10:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike swak 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m om 18:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en statiese ontladings toestande bietjie uitdagend maak.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

2 November - Vanaand - Presidentsnet;
15 November - Sluitingsdatum vir leerders se opstelkompetisie "Mensdom se bewoning van die maan: kan Amateurradio 'n rol speel?";
15 November - Sluitingsdatum vir insending van kommentaar oor die kompetisiehandboek;
15/16 November – HF-Velddag;
29 November - Kursus oor gebruik van PIC's;
30 November - Nominasies vir raadslede moet in wees;
30 November – Databasis van herhalers moet op datum wees;
31 Januarie 2009 - Mosies en agenda-items moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003