Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 9 NOVEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

JAARLIKSE GEDENKDIENS VANDAG

WEERLIGVOORSPELLINGSBOUSTEL NOU BESKIKBAAR

GROOT BHF-DX-PEDISIE BEPLAN VIR JANUARIE

78 NUWE AMATEURS SPOEDIG OP DIE LUG

MIKROSKYF PIC-PROGRAMMERINGSKURSUS SAL IN PORT ELIZABETH, DURBAN EN KAAPSTAD AANGEBIED WORD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

JAARLIKSE GEDENKDIENS VANDAG

Die Jaarlikse Gedenkdiens sal vanoggend om 10:45 SAT gedurende “Amateur Radio Mirror International” se uitsending plaasvind. Die diens is ter nagedagtenis aan al die radioamateurs wat hul lewens opgeoffer het in diens van hul land.

Die diens sal in Afrikaans gelei word deur Ds. Hannes Enslin, ZS6JDE, en kan op 7 082 kHz, 7 205 kHz en 17 860 kHz, asook op verskeie herhalers gehoor word. Om na die diens op die web of echolink te luister, gaan na www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die nodige skakels.

Daar sal Maandagaand ’n herhaling van die uitsending om 21:05 SAT op 3 215 kHz wees.

Radioamateurs word versoek om vandag tussen 10:45 en 11:00 radiostilte te handhaaf as ’n teken van respek vir mede-amateurs wat die hoogste tol vir ons almal betaal het.

WEERLIGVOORSPELLINGSBOUSTEL NOU BESKIKBAAR

Indien u in ’n omgewing woon waar donderstorms voorkom, is hier nou ’n geleentheid om uself te bederf deur ’n interessante en nuttige konstruksieprojek aan te pak. ’n Volledige stel vir ’n weerligvoorspeller is nou beskikbaar vanaf die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust teen R100 plus R20 vir verpakking en posgeld. Deur die stel te bestel maak u ook ’n bydrae tot die nuutgestigte Studietoekenning om jong radioamateurs te help om in elektronika en kommunikasie – by ’n tersiêre inrigting – te studeer.

Die weerligvoorspeller meet die statiese lading tussen die wolke en die aarde en as die lading voor ’n storm opbou, wys die LED-aanwysers hoe die lading in sterkte toeneem. Dit is baie interessant om die golftipe en beweging dop te hou wanneer die LED-seine toeneem en afneem soos die storm nader, en die skielike daling wanneer die ontlading plaasvind.

Volledige bestellingsbesonderhede kan op www.amateurradio.org.za gevind word.

GROOT BHF-DX-PEDISIE BEPLAN VIR JANUARIE

’n Groot BHF-DX-pedisie na Namibië word beplan om die gebruik van ’n hele aantal BHF-bande en modusse in te sluit. Die span sal gelei word deur HB9CRQ, een van Europa se top AMA-operateurs, en sal maankaatsingsbedryf op 50,144, 432 en 1 296 MHz insluit.

Januarie is ook een van die piekmaande vir Troposferiese kanaalvoortplanting in die Suid-atlantiese oseaan en tropo-operateurs met ondervinding, insluitend Glenn, ZS2GK, en Dave, N7BHC, sal groot pogings aanwend om die eerste 144 MHz kontak te bewerkstellig wat oor die Atlantiese Oseaan strek. Glenn was onlangs aan die een kant van ’n 2 m-kontak met FR5DN op Reunion-eiland, ’n afstand van net duskant die 3 000 km. Dave, ’n boorling van Port Elizabeth, bedryf ’n 144 MHz baken vanaf die ooskus van die VSA, wat na Europa gerig is.

Satellietwerking word ook beplan deur die gebruik van satelliete in lae wentelbane om die aarde; dit behoort goeie dekking van die hele Afrika en groot dele van die Suid-Amerikaanse ooskus te gee.

Die groep sal op 5 Januarie in Pretoria bymekaarkom en vroeg die volgende oggend vir die rit na Luderitz vertrek en die stasie met aankoms in bedryf stel. Die laaste dag van werking behoort om op 16 Januarie te wees.

Daar is nog ’n geleentheid om aan te sluit by die ekspedisie. Besoek www.sarl.org.za vir nadere besonderhede en gereelde opdatering.

78 NUWE AMATEURS SPOEDIG OP DIE LUG

101 Kandidate het vir die Oktober radioamateureksamen ingeskryf. Al die kandidate het die eksamen afgelê en 78 van hulle het geslaag; 58 in die klas A eksamen en 20 in die klas B eksamen.

M de Lange, ZR6DOT, het die hoogste punte in klas A behaal en B McKenzie, ZU6BMC, die hoogste punte in klas B.

P Verster, ZS1AJ, 14 jaar oud, is die jongste kandidaat wat die klas A geslaag het en M Mynhardt, ZU6MM, 9 jaar oud die jongste wat die klas B geslaag het.

Baie geluk aan al die kandidate wat die eksamen geslaag het en ons sien daarna uit om julle op die lug te hoor. Aan die wat nie nou die paal gehaal het nie, probeer weer volgende jaar.

MIKROSKYF PIC-PROGRAMMERINGSKURSUS SAL IN PORT ELIZABETH, DURBAN EN KAAPSTAD AANGEBIED WORD

Na aanleiding van versoeke van radioamateurs in ander dele van Suid-Afrika het John Williscroft toegestem om die PIC-programmeringskursus in Kaapstad, Durban en Port Elizabeth aan te bied. Die kursus is deel van wat SARL se Radiotegnologie-in-Aksieprogram uitmaak.

Die eerste kursus word op 29 November by die NARS aangebied. Hierdie kursus is reeds ten volle bespreek. Slegs ’n maksimum van 20 kandidate kan gehuisves word. Vir besonderhede van die kursus besoek www.sarl.org.za,, klik op “activities” en selekteer RTA.

Radioamateurs in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal moet met hul plaaslike klubs gesels. Die RTA-span het ’n uitnodiging aan klubs in elk van hierdie gebiede uitgereik om saam te werk om die kursus plaaslik beskikbaar te maak. Die koste beloop R200 vir SARL-lede plus R235 vir ’n programmeerder. Die koste vir nie-lede beloop R400 plus die koste van die programmeerder.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 24 November. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 12:00 SAT na Indië. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan baie uitdagend wees. Om 08:00 is daar moontlike flou 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is om 08:00 vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 12:00 gewerk word en op 20 m vanaf 18:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike swak 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m om 18:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en geraas van statiese ontladings die maak van kontakte ‘n bietjie uitdagend maak.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15/16 - November - 2de been van SARL-HF-velddagkompetisie;
15 November - Sluitingsdatum vir leerders se opstelkompetisie "Die mensdom se bewoning van die maan: kan Amateurradio 'n rol speel?";
15 November - Sluitingsdatum vir insending van kommentaar oor die kompetisiehandboek;
29 November - Kursus oor die gebruik van PICs;
30 November - Nominasies vir raadslede moet in wees;
30 November - Databasis van herhalers moet op datum wees;
31 Januarie 2009 - Mosies en agenda-items moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003