Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 18 JANUARIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Dave Miller, ZS6HO, stil geword het. Hy het stil heengegaan ongeveer 19:30 op Vrydag 16 Januarie in die ouderdom van 93 jaar. Besonderhede van die begrafnisdiens sal op die SARL-forum geplaas word. Ons betuig ons innigste meegevoel aan sy seun Gregory, ZS6GDM, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

HAMNET HELP SOEK NA VERLORE VLIEGTUIG

OKOSA REORGANISEER SY LISENSIEAFDELING

NAMIBIESE BHF-DXPEDISIE MAAK 245 AMA-KONTAKTE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

HAMNET HELP SOEK NA ‘N VERLORE VLIEGTUIG

Op Vrydagaand 9 Januarie om 19:30, het Hamnet inligting ontvang vanaf die Suid-Afrikaanse Soek- en Reddingsorganisasie (SASAR) in verband met ‘n vliegtuig wat laat was by die Lanserialughawe die middag.

Die vliegtuig, ‘n tweesitplek-Cessna op ‘n private vlug vanaf ‘n wildplaas naby Dwaalboom in die Limpopo-provinsie na Lanseria lughawe naby Randburg, het nie ‘n vlugplan ingedien nie, omdat die vlug na verwagting net tussen 30 en 45 minute sou neem. Die vliegtuig het ongeveer 12:30 van die plaas vertrek en was op die radar sigbaar totdat dit ‘n punt omtrent 27 km noord van die Pilanesberg bereik het. Dit was die laaste keer wat die vliegtuig gesien is.

AT&NS het Hamnet gevra om ‘n visuele waarnemingsoektog met behulp van die boere op die vlugroete te doen, ingeval van die boere iets gehoor of gesien het. HAMNET-lid Hans Potgieter, ZS6ALJ, in die Rustenburgarea is gekontak om die nodige stappe te doen. Vir die volledige storie, luister na die weeklikse Hamnet-verslag op Amateur Radio Mirror of laai die oudiolêer by www.sarl.org.za af, klik op Activities en kies HAMNET.

OKOSA REORGANISEER SY LISENSIEAFDELING

OKOSA sentraliseer tans sy lisensieafdeling, wat sal beteken dat alle amateurradiolisensies deur die hoofkantoor in Johannesburg hanteer sal word. ‘n Aantal haakplekke en die jaarlikse sluiting in Desember het die opdatering van alle stelsels vertraag. Dit beteken dat betalings deur die SARL en individue nog nie op die stelsel teenoor spesifieke lisensies gewys word nie, maar steeds in die nie-toegewysde betalings-ontvang-lêer lê. Dit beteken ook dat sommige amateurs wat die Oktober 2008 radioamateureksamen geskryf het, nog nie hulle lisensies of hernuwingsrekenings ontvang het nie. Dit is ‘n staande reeling dat kandidate wat die RAE slaag en ‘n kennisgewing met roepsein vanaf die SARL ontvang, op die lug mag gaan terwyl die dokumentasie later sal volg.

OKOSA is tans ook besig met herontplooiing van sy personeel en hoop om eersdaags alle stelsels op datum te hê. Die SARL en OKOSA behou deurentyd kontak en SARL-Nuus sal verslag lewer wanneer alle stelsels met die betrokke lisensie-inligting opgedateer is.

Sluit volgende Sondag om 19:30 by SARL-president Rassie Erasmus aan vir die Presidentsnet, wanneer lisensies en ander belangrike ontwikkelings bespreek word. Klubs word aangemoedig om hulle herhalers aan die netwerk te koppel. Stuur telefoon- en herhalerbesonderhede nie later nie as Dinsdag 20 Januarie aan armi@sarl.org.za.

NAMIBIESE BHF-DXPEDISIE MAAK 245 AMA-KONTAKTE

Teen Woensdag verlede week het die BHF-DXpedisie na Namibië 245 AMA-kontakte gemaak. Daarvan was 211 op 144 MHz en die res gelyk verdeel tussen 432 en 1 296 MHz. Die span het voldoen aan die kriteria vir ‘n Alle Kontinente Gewerk-toekenning op 144 MHz AMA.

Die kalm winde van die eerste paar dae het teen Woensdag oorgegaan in sterk winde van tot 125 kilometer per uur.

Bediening met opwekkerkrag het genoodsaak dat van die beplande werking ingekort is. 50 MHz is heeltemal gestop weens skade aan die antenna. Tropotoestande was swakker as verwag en die vernietiging van die lang 144 MHz Yagi het die projek se kans op sukses in die wiele gery.

Satellietwerking het stadig begin weens ‘n tekort aan operateurs, maar teen Woensdag was die volgende stasies in die satellietlog ingesluit: ZS1TX, ZS1UR, ZS2ACP, ZS2BK, ZS6AC, ZS6BB en ZS6TW. Alle kontakte is gemaak met ‘n twee-band-handstel en ‘n Arrow-antenna.

Volgens die huidige terugkeerplan bly ZS6OB en ZS6WB in Lüderitz vir die naweek en sal hulle aktief wees op OSCAR 51. Ondanks die wedervaringe en terugslae, kan die Lüderitz BHF-DXpedisie 2009 as baie suksesvol beskou word, met die doelwit wat bereik is en die verwagtinge wat oorskry is. Daar is baie AMA-operateurs wêreldwyd met glimlagte op hulle gesigte omdat hulle ‘n nuwe DXCC-entiteit gewerk het op pad na ‘n toekomstige 144 of 432 MHz DXCC-toekenning.

Gelukwense aan die span – hulle verdien dit.

SARL-LIDMAATSKAP NADER DIE 1 400-KERF

Die SARL-lidmaatskap het vandeesweek op 1 374 gestaan, net 26 kort van die teiken van 1 400 vir einde Januarie. Sluit nou by die SARL aan vir R170, wat lidmaatskap tot einde Junie 2009 dek. Geniet die voordele van lidmaatskap van die nasionale liggaam vir amateurradio wat op ‘n nasionale sowel as internasionale vlak vir amateurradio werk, en ontvang Radio ZS elke tweede maand.

Hierdie week verwelkom ons:
Helen Newton, ZR6HN;
Andrew Muir, G0IJI.

KLUBNUUS

Die Kempton Park Amateurradiovereniging bied in Maart ‘n Klas B RAE-kursus aan. Die eksamen vind in Mei plaas, tesame met die Nasionale RAE. Die klub gaan ook ‘n elektroniese kursus aanbied om studente se elektroniese vaardighede te verbeter, met 'n konstruksieprojek aan die einde van die kursus. Besoek asseblief die klub se webwerf by http://www.karts.zar.cc vir meer besonderhede.

KOMPETISIENUUS

Die 2009 SARL-Kompetisiehandboek en die 2009 Dagboek van Gebeure is beskikbaar op die HF Happenings-bladsy op www.sarl.org.za. Laai gerus die dokumente af en deel dit met u klublede. Geen datum is vir die SARL BHF/UHF-kompetisie vasgestel nie en daar is ook geen reëls daarvoor in die Kompetisiehandboek nie. Die Kompetisiebestuurder wag vir insette vanaf die BHF/UHF-gemeenskap oor hierdie saak.

SONAKTIWITEIT BLY VANDEESWEEK LAAG

Die huidige sonaktiwiteit is laag en dit behoort nie op die kort termyn dramaties te verander nie. Daar word verwag dat ‘n koronagat op die sonoppervlak teen die einde van die naweek na ‘n geo-effektiewe posisie sal draai. Voortplantingstoestande behoort redelik te wees, met onstabiele HF-werkfrekwensies. ‘n Bietjie sporadiese E is moontlik.

Die 20-meterband mag goed wees vir plaaslike kontakte teen die middel van die dag oor afstande van 600 km, soos van Johannesburg na Durban en van Kaapstad na Durban. Vroegmiddag kan daar 10 meter-openinge wees na Indië. Kyk vroegoggend teen sonop uit vir Nieu-Seeland en Australië wanneer 80 meter ‘n paar verrassings mag oplewer. Vyftien meter mag oop wees na die oos- en weskus van die VSA met pieke teen 18:00 SAT. Daar is ook moontlikhede vir Europa op 20 meter teen dieselfde tyd.

Voorspellings bly bloot voorspellings. Roep CQ, en jy mag verras wees met wie jy hoor. Besoek www.spaceweather.co.za vir meer gedetailleerde voorspellings en kaarte.

As jy DX gewerk het, deel dit met ons luisteraars deur ‘n e-pos te stuur aan armi@sarl.org.za.

Hierdie verslag is opgestel deur Hans, ZS6AKV, omdat Hannes, ZS6BZP, nie hierdie week beskikbaar is nie.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 tot 18 Januarie, dus nog vandag – PEARS BHF-/UHF-kompetisie;
25 Januarie – Presidentsnet;
31 Januarie – Mosies en agenda-items vir die SARL 2009 AJV moet in wees;
Gedurende Januarie – Stuur nominasies vir SARL-toekennings in;
15 Februarie – sluitingsdatum vir inskrywings vir Tinus Lange-toekennings;
21 Februarie – PIC-kursus in Durban.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz – let op die verandering in frekwensie. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003