Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 15 MAART 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Met leedwese moet ons berig dat twee amateurs die afgelope week Stil Sleutels geword het.
Mike, ZS6AFG, is verlede naweek na ‘n lang siekte oorlede. Ons betuig ons meegevoel gaan aan sy vrou, Rae, hulle kinders John, Mikki, Michelle en Lorrain, en agt kleinkinders.

Chris A J Els, ZS2CJ, voorheen ook ZS6CCM, van Graaff-Reinet het op 12 Maart ‘n Stil Sleutel geword. Hy was 75 jaar oud. As gevolg van swak gesondheid was hy etlike jare onaktief.

(POUSE)

In die nuus vandag:

NASIONALE KONVENSIENUUS

SARL-RAADSVERGADERING OP 27 EN 28 MAART

WEN ’N ICOM IC7200 IN DIE 2009-KONSTRUKSIEKOMPETISIE

PROBEER GERUS HIERDIE NAWEEK PSK31

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NASIONALE KONVENSIENUUS

Die Algemene Jaarvergaderingdokumentasie, wat verlede jaar se notule, finansiële state, die agenda, begrotings en ’n volmagvorm insluit, is nou op die lededeel van die SARL-webwerf vir aflaai beskikbaar. Gaan na www.sarl.org.za; regs bo op die tuisblad is daar ‘n skakel: “Members Only”. Klik daarop en voeg u pin in. Die nommer verskyn op jou lidmaatskapsertifikaat wat u ontvang het na u die jaargeld betaal het. Vir bystand of om die PDF dokumente per e-pos te ontvang, skakel asseblief vir Mariska op 011 675 2393 of stuur vir haar ‘n e-pos na admin@sarl.org.za

Die AJV word op Saterdag 25 April 2009 by die Oakdale klub in Bellville gehou. Indien u nie die AJV kan bywoon nie, nomineer asseblief ’n ander lid as u gevolmagtigde. Bywoning van die AJV is belangrik aangesien u as lid daar die geleentheid sal kry om die rigting waarin die SARL Amateurradio in Suid Afrika stuur, te beïnvloed.

Daar is vanjaar weer eens uitstekende pryse te wen tydens die jaarlikse dinee. By elke Nasionale Konvensie-geleentheid sal u ’n kompetisiekaartjie ontvang vir die loting Saterdagaand. Hoe m eer aktiwiteite u bywoon, hoe meer wenkanse het u.

Die volledige Nasionale Konvensieprogram is op die SARL webwerf sowel as op die registrasievorm. Voltooi al die besonderhede, doen ‘n elektroniese betaling of betaal die bedrag in die SARL rekening. Die sluitingsdatum vir Nasionale Konvensie registrasie is 10 April 2009. Wanneer u die fooie inbetaal, gebruik asseblief u roepsein as verwysing.

Indien u slegs die AJV bywoon en nie enige van die ander geleenthede nie, voltooi slegs die registrasievorm en pos dit aan die SARL. Geen fooi word gehef vir die Algemene Jaarvergadering nie. Voorafregistrasie vir die AJV vergemaklik egter die reel van verversings voor en tydens die vergadering.

SARL-RAADSVERGADERING OP 27 EN 28 MAART

Die SARL-raad sal op 27 en 28 Maart vergader vir die jaarlikse strategiese indaba. By die vergadering sal die raad die huidige stand van sake in Amateurradio in oënskou neem en planne vir die komende jaar finaliseer. Die President sal in sy jaarverslag aan die AJV verslag doen oor hierdie vergadering.

Lede word genooi om aangeleenthede en idees wat hulle graag deur die raad oorweeg wil hê, voor te lê. U insette moet voor 20 Maart 2009 aan die Sekretaris se e-posadres, secretary@sarl.org.za, gestuur word.

WEN ’N ICOM IC7200 IN DIE 2009-KONSTRUKSIEKOMPETISIE

Die Suid Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust het die besonderhede van die 2009 Konstruksie Kompetisie bekend gemaak. Inskrywings word noe afgewag. Die hoofprys waarvoor beding word is ’n ICOM IC-7200 HF Sendontvanger wat 50MHz insluit. Die IC-7200 is die nuutste produk van ICOM wat IF DSP en vele ander eienskappe om uitstekende kommunikasie te vergemaklik aanbied. Die prys word geborg deur Multisource Communications, die ICOM handelaar in Suid Afrika.

Die kompetisie is daarop gemik om tuiskonstruksie te bevorder. Dit behels twee rondtes. In die eerste word deelnemers genooi om ’n konstruksievoorstel voor te lê vir enige projek wat op Amateurradio van toepassing is en vir minder as R750 gebou kan word. Inskrywingsvorms is op www.amateurradio.org.za beskikbaar. Die sluitingsdatum vir die eerste rondte is 15 April 2009.

Drie finaliste sal gekeur word om aan die tweede rondte deel te neem. Elk sal R1000 ontvang om ’n werkende prototipe te bou. Die sluitingsdatum vir rondte twee is 15 Junie wanneer die voltooide prototipes aan die beoordelaars gelewer moet word.

Die wenner sal tydens die jaarlikse funksie van die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust in Julie aangewys word. Die twee naaswenners sal elk ’n eksemplaar van die 2009 ARRL-handboek ontvang.

PROBEER GERUS HIERDIE NAWEEK PSK31

Die Spaanse Amateurradiovereniging, URE, borg hierdie naweek ’n PSK-kompetisie. Dit het gister om 16:00 UTC begin en eindig vandag om 16:00 UTC. Die kompetisie-roep is "CQ EA TEST".

KOMPETISIENUUS

Die eerste been van die SARL BHF/UHF-kompetisie vind oor die naweek van 20 tot 22 Maart 2009 plaas. Daar is daardie naweek twee kompetisies, naamlik 'n analoogkompetisie en 'n digitale kompetisie.

Die eerste sessie van die SARL BHF/UHF digitale kompetisie begin Vrydag 20 Maart om 16:00 UTC en eindig Saterdag om 12:59 UTC. Die tweede sessie begin om 13:00 UTC en eindig Sondag 22 Maart 2009 om 12:00.

Deelnemers kan 'n tuisstasie, 'n veldstasie of 'n reisende stasie wees en alle goedgekeurde digitale modusse is toelaatbaar. Die roepsein en 'n ruitsubblok (6 karakters) word uitgeruil.

Die SARL BHF/UHF analoogkompetisie begin Saterdag 21 Maart om 10:00 UTC en eindig Sondag 22 Maart 2009 om 10:00 UTC. Deelname is as 'n enkeloperateur of multi-operateur en slegs FM en ESB mag gebruik word. 'n RS-verslag, roepsein en 'n 6-karakter-ruitverwysing word uitgeruil.

Die eerste been van die SARL se 80-m-QSO-geselligheid word op Donderdag 2 April 2009 vanaf 17:00 tot 20:00 UTC gehou.

Die volledige reëls vir die drie kompetisies is beskikbaar in die 2009 SARL-Kompetisieboek op die HF Happenings-bladsy op www.sarl.org.za. Maak seker dit is weergawe 4 gedateer Maart 2009.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die son se onvermoë om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette wat van gestoorde sonvlektellings gebruik maak, en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie.

Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het reeds 'n merkbare effek op HF-toestande. 15 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX met moontlike 15-m-openinge na Indië vanaf 13:00 SAT gevolg deur 20 m om 16:00. Kontakte met Nieu-Seeland gaan baie uitdagend wees. Om 07:00 is daar moontlike 20-m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 14:00 tot 18:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike 15-m-openinge na Europa wat deur kort 20-m-openinge om 18:00 gevolg gaan word. Kort, flou kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m om 20:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te hiberneer.

Saans is 80 m die beste keuse. Die donderstorms en statiese geraas kan dinge ’n bietjie uitdagend maak.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ m seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

14 en 15 Maart – RSGB-Gemenebeskompetisie;
20 Maart – Sluitingsdatum vir S21 Maart – BACAR-lansering;
21 en 22 Maart – SARL se BHF-/UHF-kompetisies;
2 April – Eerste been van die SARL 80-m-QSO-geselligheid;
18 April – Wêreldamateurradiodag, en
24-26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003