Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 12 APRIL 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met droefheid dat die SARL verneem het van die afsterwe van Dr Ivy Matsepe-Casaburri, Minister van Kommunikasie. Aan haar familie en die Departement van Kommunikkasie bied ons ons innige meegevoel.

(POUSE)

In die nuus vandag:

INSKRYWINGSDATUM VIR NASIONALE KONVENSIE UITGESTEL

GEWYSIGDE REGULASIES SPOEDIG VERWAG

BELANGRIKE AKTIWITEITE VOLGENDE SATERDAG BY DIE NARS

NOMINASIES VIR DIE NSN-RADIOAMATEUR-VAN-DIE-JAAR-TOEKENNINGS INGEWAG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

Die sluitingsdatum vir besprekings vir die Nasionale Konvensie, wat van 24 tot 26 April in Kaapstad gehou gaan word, is uitgestel tot 17 April ten einde laatslapers die geleentheid te bied om hul inskrywings te doen. Dit is ‘n gebeurtenis wat u nie mag misloop nie.
Die besprekingsvorm kan van www.sarl.org.za afgelaai word. Die AJV-dokumente is in die afdeling vir lede alleen van die web beskikbaar. Klik op die blokkie vir lede alleen in die regterhandse boonste hoek van die tuisblad. Daar is ook ‘n magtigingsvorm beskikbaar. Enige lid wat nie die AJV kan bywoon nie, mag ‘n gevolmagtigde benoem. Voltooi die vorm en faks dit aan die kantoor by die NARS. Die faksnommer kom op die vorm voor.
Die Nasionale Konvensie begin op Vrydagaand 24 April met ‘n spitbraai. Die AJV begin die volgende oggend met registrasie om 08:00. Die werklike vergadering begin om 09:00. Behalwe die gewone aangeleenthede wat by ‘n AJV bespreek word, sal daar ‘n bespreking wees oor die konsepdokument wat die SARL se standpunt oor die voorgestelde verhoging in lisensiegelde uiteensit. Die SARL se President sal ook in sy jaarverslag die hoogtepunte van die SARL se strategie vir die komende finansiële jaar uiteensit.
Vir die Saterdagmiddag sal daar ‘n keuse wees om of op ‘n seevaart te gaan of om Kaapstadradio te besoek. Die jaarlikse dinee begin om 19:00 by die Oakdaleklub waar Sias Mostert die gasspreker sal wees. Sondagoggend sal die Nasionale konvensie afsluit met gesellige ontbyt in ‘n idilliese Kaapse omgewing.
Verkry al die besonderhede by www.sarl.org.za, maar die mees belangrike, moenie dit misloop nie! Wees daar!

Gedurende die afgelope week het OKOSA die konsep gewysigde regulasies vir publikasie in die Staatskoerant voltooi. Die twee hoofitems is die regstelling van die ZR-toegang tot meer van die 20 meterband en die uitbrieding van die 40 meterband tot 7 200 kHz. Die dokument moet deur die OKOSA-Raad goedgekeur word alvorens dit na die Staatsdrukker vir publikasie in Staatskoerant gestuur word. Hou hierdie spasie en die SARL se webwerf dop vir besonderhede soos dit beskikbaar kom.

Volgende Saterdag 18 April sal die SARL Wêreldamateurradiodag vier met ‘n groot gebeurtenis by die Nasionale Amateurradiosentrum. Kom kyk hoe waterstof opgewek word vir die volgende Bacarvlug en sien hoe die eksperimentele loonvrag deur ‘n geankerde ballon in die lug opgelig word. Die loonvrag sluit ‘n 2 m APRS-baken sowel as ‘n HF-baken op 7 022 kHz in wat ‘n spraakboodskap sal uitsaai. Laai die besonderhede aangaande die BACAR-aktiwiteit van www.amsatsa.org.za af.
Kopieer die spraakboodskap en stuur dit aan armi@sarl.org.za sodra dit deur u ontvang is. Om 13:00 sal alle boodskappe wat ontvang is aan ‘n trekking vir ‘n 2008 ARRL-handboek deelneem.
Hamnet en ZS6SRL sal by die Nasionale Amateurradiosentrum aktief wees, roep hulle op 7 082 of 14 150 kHz.
Die aktiwiteite begin om 10:00 en sluit om 14:00. Neem deel aan die pret. Gratis verversings sal beskikbaar wees.

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust wag nominasies in vir die toekennings vir die Nokia Siemens Netwerke Radioamateur-van-die-Jaar. Daar is drie kategorieë:
GARTH MILNE TEGNIESE INNOVASIETOEKENNING:
Dit word gedoen vir die ondersteuning, ontwikkeling en toepassing van tegnologiese innovasie in amateurradio in Suid-Afrika. Die ontvanger sal ‘n persoon wees wat die gebruik van tegnologie in amateurradio op klubvlak, nasionaal, in skole of op tersiêre vlak bevorder het.
NSN RADIOAMATEUR-VAN-DIE-JAAR-TOEKENNING:
Hierdie toekenning is vir die ondersteuning en ontwikkeling van die amateurradiodiens in Suid-Afrika, maar nie vir individuele prestasies soos DXCC of ander operasionele toekennings of prestasies nie. Die ontvanger sal ‘n persoon wees wat sy kundigheid en tyd bestee het aan die bevordering van amateurradio in Suid-Afrika.
NSN AMATEURRADIOGEMEENSKAPSDIENSTOEKENNING:
Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust verleen jaarliks erkenning aan ‘n radioamateur, of ‘n groep radioamateurs, vir diens aan die gemeenskap. Diens aan die gemeenskap kan wees hulp aan ‘n gestremde radioamateur, kommunikasieondersteuning tydens ‘n sportbyeenkoms of ‘n rampsituasie soos ‘n oorstroming, veldbrande of ‘n aardbewing. Nominasies word ingewag vir ‘n individu of ‘n groep persone soos ‘n radioklub of ‘n vereniging.
Die inskrywingsvorm is beskikbaar by www.amateurradio.org.za. Die sluitingsdatum is 15 Mei 2009.

NADERENDE GEBEURTENISSE

Die eerste simposium in die reeks Radiotegnologie-in-Aksie sal op Saterdag 9 Mei 2009 by die SARL se Nasionale Amateurradiosentrum in Gauteng gehou word. Bywoningskoste is R30 per persoon wat ‘n kaartjie vir die bywoningstrekking insluit. Daar is geen koste vir studente en leerders nie. Volle besonderhede is nou beskikbaar op www.sarl.org.za, gaan af en klik op die RTA-item.

Hierdie naweek bied vele geleenthede vir die jagters vir die “ZS Worked All Grid Squares”. Verskeie skaars ruite sal oor die naweek ge-aktiveer word.
KG02, KG03 en KG04 sal deur Gerhard, ZS3TG, ge-aktiveer word. KF09 sal by Verneukpan deur die span ZS3ARC en KG47 deur John, ZR6HLT, as A25HLT ge-aktiveer word.
Op Maandag 13 April kan u Charles, ZS1CF, vanuit JF86 hoor, en ZS1RAP sal uit JF87 aktief wees.
Meeste aktiwiteite sal vroegoggende en laat in die middae op 80 m wees en op 40 m tussen hierdie tye.
Gaan kyk op die inskrywings op die SARL-forum vir meer besonderhede.

Die Antieke Draadloosvereniging bied hulle ope dag op Saterdag 25 April by die Lions-klubhuis in die Boulders-inkopiesentrum in Midrand aan.
‘n Kaart met GPS-ko-ordinate is beskikbaar by Andy,ZS6ADY, van wie dit verkry kan word deur ‘n e-posversoek aan andy.cairns@xsinet.co.za of ‘n oproep na 082 448 4368.
Ongelukkig is die gewone bymekaarkomplek by die TAC by die Randse lughawe weens probleme met die hernuwing van die huurooreenkoms nie beskikbaar nie.
Snuffelmarktafels is beskikbaar en Rad, ZS6RAD, moet daaroor gekontak word. Daar sal ook radiouitstallings, goeie geselskap, ‘n kontantkroeg en vir ma en die kinders die inkopiesentrum beskikbaar wees. Almal word uitgenooi, gaan en geniet uself.

KLUBNUUS

Oakdale Amateurradio, ZS1OAK gaan met voortplanting op die 12 meterband eksperimenteer. Vanaf Dinsdag 14 April gaan hulle hul weeklikse bulletin elke Dindagaand om 20:00 ook op 24,965 Mhz herlei. U word vriendelik versoek om assebleif te luister en te rapporteer as u hulle ontvang.

Tydens die pas afgelope Veldkamp, 'n jaarlikse graad elf voortrekkerkamp op Doornkloof, het vyf-en-tagtig jongmense hul Radiospraak-kentekens verwerf. Effektiewe radiokommunikasie en goeie radioprosedure is van groot belang vir die sukses van hierdie kamp waar die kinders lang tye in die veld spandeer en talle opdragte per radio ontvang. Andries, ZS6VL, Corné, ZU6C, en Butch, ZR6SPB, (almal van die Sasolburg Amateurradioklub) het as instrukteurs opgetree.
Baie dankie, en die SARL sien daarna uit dat hierdie jongelinge almal radioamateurs sal word.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die son se onvermoëe om nuwe sonvlekke te produseer het 'n negatiewe uitwerking op sommige frekwensievoorspellingspakkette, wat van gestoorde sonvlektellings gebruik maak, en natuurlik ook op ons HF-kommunikasie! Die frekwensievoorspellingspakkette begin nou om optimistiese waardes te voorspel.
Die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionsofeer bereik is besig om af te neem met die seisoensverandering wat om die draai is. Dit het alreeds 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15 en 20 m is nog steeds die beste keuse vir DX met moontlike 15 m-openinge na Indië vanaf 13:00 SAT gevolg deur 20 m om 16:00. 17 m kan ook baie goeie resultate gedurende die middag na die Ooste oplewer. Kontakte met Nieu-Seeland en Australië gaan baie uitdagend wees. Kontakte met Peru is onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 14:00 tot 18:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike goeie 15 m-openinge na Europa wat deur 20 m-openinge om 18:00 gevolg gaan word. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Met die winter op pad maak 20 m reg om te gaan slaap alhoewel goeie resultate nog voor middagete verkry kan word.
Saans is 80 m die beste keuse. Ongelukkig is die geraasvlakke agv. statiese ontladings nog hoog wat dinge uitdagend kan maak.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

9 – 12 April – ZS3ARC aktief van Verneukpan en ander WAGS-aktiwiteite ook aan die gang;
17 April – Laaste dag vir inskrywings vir deelname aan SARL se AJV- funksies;
18 April – Bacardemonstrasie by die NARS en ZS6SRL en Hamnet aktief ter viering van Wêreldamateurradiodag;
19 April - Herfs QRP-wedloop;
23 April – Laaste dag om vir die Mei-RAE in te skryf;
24-26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad;
25 April – Antieke Draadloosvereniging se ope dag;
9 Mei – RTA by die NARS;
15 Mei – Sluitingsdatum vir nominasies vir die SARDT-toekennings.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 570 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is. Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003