Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 12 JULIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SUITSAT-2 VERLOOR DIE “SUIT”-GEDEELTE, MAAR SAL STEEDS VLIEG

AUGUSTUS IS SARL-HF-KOMPETISIEMAAND

NASIONALE WETENSKAPWEEK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SUITSAT-2 VERLOOR DIE “SUIT”-GEDEELTE, MAAR SAL STEEDS VLIEG

Die SuitSat-2 amateurradio in die ruimte se transponeerder sal nie in ’n ruimtepak wees nie, maar die pakket sal heelwaarskynlik steeds in die ruimte vlieg. Weens beperkte stoorplek in die IRS is die twee Russiese ruimtepakke wat daar geberg was, mee weggedoen via die Progress vragvaartuig. Een van hierdie pakke sou gebruik word om die elektronika van die beplande Suitsat-2 se sending te huisves.
Maar alles is nie verlore nie. ARISS Internasionaal is in kennis gestel dat dat daar steeds ruimte beskikbaar is vir vervoer van die elektronika vir Suitsat-2 op ’n vragvlug na die IRS in Januarie 2010. Ook is ’n Suitsat-2-ontplooiing ingesluit in ’n ruimtewandeling wat vir April 2010 geskeduleer is. As gevolg daarvan fokus die AMSAT-span, wat die elektronika vir Suitsat-2 ontwikkel, op voltooiing van die projek met die verwagting dat die ontplooiing gedurende die tweede kwartaal in 2010 sal plaasvind, maar hulle maak gebruik van ’n ander struktuur om die vlugpakket in te huisves.
Die verwydering van die surplus ruimtepakke uit die IRS verwyder dus ook die “Suit”-komponent van hierdie ontplooiing van amateurradio in die ruimte. AMSAT sê dat op ’n tydstip in die toekoms sal ’n nuwe naam aan die projek gegee word om die verandering in die samestelling van die apparatuur vir die rekenaarhardeware aan te dui.

AUGUSTUS IS SARL-HF-KOMPETISIEMAAND

Dit is nou tyd om te begin om voorbereidings te tref vir twee SARL-HF-kompetisies. Die HF-ESB-kompetisie sal op 2 Augustus plaasvind en die GG-weergawe op 30 Augustus. Met meer ruimte op 40 meter en goeie toestande mag hierdie jaar se aktiwiteite rekorddeelname ondervind. Kry u antenna in goeie toestand, of rig daardie ekstra 40 en 80 dipool of omgekeerde V-antenna op en neem deel aan die pret. As ’n aanvullende aansporing sal alle logs wat vir elke kompetisie ontvang word ingeskryf word vir ’n gelukkige trekking vir die nuwe boek van die ARRL "Practical Antennas", wat tans ’n rekordverkoper in die VSA is.
Luister weekliks na SARLNUUS vir opdaterings en wenke oor hoe om aan die kompetisies deel te neem. Die reëls is in die kompetisieblouboek by www.sarl.org.za beskikbaar.

LUISTER D.M.V. “PODCAST” NA AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL

Die weeklikse program Amateur Radio Mirror International is nou deur die goedgunstigheid van Dick Stratford, ZS6RO, op Podcast beskikbaar. Luister tuis op u rekenaar of met u selfoon na die program wanneer u in ’n verkeersophoping stilstaan. Om toegang te verkry gaan na www.sarl.org.za, klik op publikasies en kies die Podcastkoppeling.

NASIONALE WETENSKAPWEEK

Nasionale wetenskapweek sal van 3 tot 7 Augustus 2009 by die Sci Bono Ontdekkingsentrum in Johannesburg aangebied word.
Vrywilligers word benodig om die spesiale geleentheidstasie vanaf 08:00 tot 14:00 elke dag van Maandag tot Vrydag te beman.
Vrywilligers word ook benodig om amateurradio te demonstreer aan die duisende kinders wat as besoekers verwag word. Daar word verwag dat nie minder nie as 6 000 leerders Sci Bono gedurende die wetenskapweek sal besoek.
Is u geesdriftig genoeg om amateurradio onder die jongmense aan te moedig? Wil u ’n belangrike rol speel ter versekering van die toekoms van amateurradio?
Kom raak betrokke by die Sci Bono Ontdekkingsentrum se amateurradiostasie ZS6SCI. Kontak vir Chris per e-pos na chrisg@gpg.gov.za of zs6cog@gmail.com.
U hulp word by SCI Bono benodig.

KOMPETISIENUUS

Baie geluk, Barry, ZS2EZ. Barry het aan die 2009 CQ WPX RTD-kompetisie vroeër vanjaar deelgeneem. Die uitslae is in die Julie-uitgawe van CQ Amateur Radio tydskrif gepubliseer en die trofee vir die hoogste telling in Afrika in die enkeloperateur hoëkragklas is aan Barry toegeken. Mooi so, Barry!

Die Boland ARK het die uitslae van die Welkom aan die Nuwe 40 Meter-kompetisie, wat op 14 Junie gehou is, bekend gemaak. Negentien logs is ontvang, een log was laat en is as 'n kontrolelog hanteer. Die presteerders is:
1ste, Daniel Mans, ZS3D, 90 punte;
2de, Jan Botha, ZS4JAN, 88 punte;
3de, Jacques Vermeulen, ZS1WC, en Gerhard Coetzee, ZS3TG, 79 punte;
4de Mitchell Mynhardt, ZS6YH, 55 punte.
Die volledige uitslae sal in die komende week in HF Happenings gepubliseer word.

Die Sasolburg Radioklub het die 21 logstate verwerk wat uit 5 afdelings vir die ZS4-Naelloop ontvang is. Bandtoestande was oor die algemeen meer gunstig oor langer afstande en 40 m was ’n uitdaging vir meeste stasies oor korter afstande. Daar was oor die algemeen nie veel van die belangrike bonusstasies gewerk nie. Die eerste drie posisies word beklee deur:
1ste – Jan, ZS4JAN, 107 punte;
2de - ZS1SKR, bedien deur Johan, ZS2CX, 82 punte;
3de - ZS4MP, Marius, SRK-voorsitter, 66 punte.
Puntetellings van die res van die deelnemers is as volg:
ZS2EC 60;
ZS1PC 52;
ZS4SRK 41;
ZS1AX 37;
ZS6PSS 30;
ZS4BFN 30;
ZS5AYC 30;
ZS4PG 27;
ZS6RAP 21;
ZS5BG 20;
ZS6APT 17;
ZR4LP 15;
ZS6YZ 14;
ZS6GRL 11;
ZS4AFV 11;
ZS6BB 9;
ZS6BTB 8;
ZS4BS 2.
Die naelloop het gepoog dat spesifieke stasies in ZS4 gekontak word vir bonuspunte. Meeste kontakte is met ZS4SRK gemaak, tweede meeste met ZS4BFN en derde meeste kontakte is na ZS4AFV "the wildcard" gemaak. Baie geluk aan almal. Sertifikate word tans voorberei en sal daarna uitgestuur word. Navrae kan aan die klubsekretaris, Riaan, ZS4PR, gerig word per e-pos na zs4pr@qsl.net.

Die RSGB Eilande-op-die-Lug-kompetisie vind plaas oor die naweek van 25 en 26 Julie. Die Boland ARK 40 meter naelloop vind plaas op Sondag 26 Julie tussen 15:00 en 18:00 SAT.

Die Boland ARK 40 Meter Naelloop vind op Sondag 26 Julie tussen 15:00 en 18:00 SAT plaas. Dit is 'n foonkompetisie met aktiwiteit tussen 7,060 en 7,100 asook 7,130 tot 7,200 MHz. Na twee QSO’s op 'n frekwensie moet die stasie van frekwensie verander. Die roepsein, RS.-verslag en poskode word uitgeruil. Elke kontak tel 1 punt en 'n kontak met ZS1BAK tel 5 punte.

KLUBNUUS

Die Oosrand Radioklub nooi alle radioamateurs na sy maandelikse vergadering wat om 14:00 op 18 Julie 2009 by die QTH van die Upfolds te Paul Krugerlaan 1, Dalview, Brakpan, gehou sal word. Marcel en Lydia gaan na Afdeling 1 verhuis en baie radioverwante items sal nie saamgaan nie. Na die vergadering sal ’n ‘neem en skenk’ verrigting rondom die baie items plaasvind. ’n Bring en braai sal ter afskeid aan die Upfolds gehou word. Kom en ondersteun hulle op 18 Julie.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Sonvlek 1 024 het in die son se Suidelike halfrond gevorm en is die beste sonvlek wat tot op hede deur die jong sonvleksiklus opgedis is.
15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddae en in die aande gaan toestande na die Noorde goed wees. Vroegoggend is daar moontlike geleenthede om kontakte met Australië en Nieu-Zeeland te maak. Gedurende die aande is daar moontlikhede van kontakte op 40 m met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpadvoortplanting na die VSA is ook gedurende die middae moontlik.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
'n Goeie antennastelsel is die antwoord vir die huidige, minder gunstige sonvlektoestande. Dipole, of verkieslik winsantennas wat ten minste 12 m bokant die grond is sal weer die opwinding van HF vir u terugbring. 'n Goeie antennaopstelling is die beste belegging wat 'n amateur kan maak.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal tot die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.
Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese geraasvlakke besig om af te neem wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak. Nou is die tyd om kontakte te begin maak vir u 80 m "Worked-All-ZS" toekenning.
Onthou dat die Noord-Kaliforniese DX-stigting se internasionale bakennetwerk by die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor word. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens onlangs en nie so onlangs nie gehoor is.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 Julie - Sluitingsdatum vir instuur van logstate vir digitale kompetisie;
16 Julie - Sluitingsdatum vir instuur van logstate vir Durban ARK se midwinternaelloop;
18 Julie – Oosrand se byeenkoms;
25 Julie – BACAR-vlug;
25-26 Julie – Eilande-op-die-lug-kompetisie26 Julie – 40 ARK 40 m naelloop;
2 Augustus – SARL-HF-ESB-kompetisie;
3-7 Augustus – Nasionale Wetenskapweek en ZS6SCI op die lug;
03 Augustus – Telekonferensie deur beamptes van die Publieke Inligtingsnetwerk om 20:00;
30 Augustus – SARL-HF-GG-kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan. Moet asb. nie nuusberigte aan die Administratiewe Beampte of direk aan een van die bulletinsamestellers stuur nie – die kanse is goed dat u berig nie die regte samesteller sal bereik nie en dus nie in 'n bulletin ingesluit word nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003