Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 19 JULIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die volgende radioamateurs by die geledere van stil sleutels aangesluit het:

Hubertus Paquay, ZS6EO, alreeds op 23 Junie 2008.

Kobus Geldenhuys, ZR6ABG, op die 19de Junie 2009.

Cornelis Brits, ZS6CBG, op die 2de Julie 2009 in die ouderdom van 92 jaar. Hy en Ita, ZS6MJG, wat agterbly, was vir 69 jaar getroud.

Hans Jurgens Brits, ZS6HJB, op Sondag 05 Julie 2009 in die ouderdom van 69 jaar.

Ons meegevoel aan die familie en vriende van die oorledenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

LANSERING VAN BACAR VIR SATERDAG 8 AUGUSTUS BEPLAN

PROGRAM VIR DIE RTA IN DIE KAAP NOU OP DIE WEB

VIER 2010 WęRELDBEKERSOKKER MET ’N SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE

KOM GEDURENDE WETENSKAPWEEK IN KONTAK MET DIE JEUG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

LANSERING VAN BACAR VIR SATERDAG 8 AUGUSTUS BEPLAN

Die langverwagte BACAR-vlug sal op 8 Augustus plaasvind. Die lansering word beplan om tussen 08:00 en 08:15 plaas te vind. BACAR sal ’n veelvuldige loonvrag dra wat landswyd vir radioamateurs en kortgolfluisteraars interessant sal wees.
Die lanseringsterrein is nognie gefinaliseer nie maar sal later gedurende die week aangekondig word. BACAR-spanlede is besig om verskeie terreine te besoek ten einde vas te stel watter die beste sal wees vir die uitsending van kommentaar na herhalers in GAUTENG, uitsending op 7 082 kHz en ook na die web d.m.v. echolink. Nog ’n probleem met die keuse van ’n terrein is die voldoening aan lugverkeersregulasies. Sodra ’n geskikte lanseringsterrein gekies is, sal weerstoestande op groter hoogtes, soos windspoed en –rigting, vasgestel word ten einde ’n vlugplan by lugverkeersbeheer in te dien.
Die loonvrag sluit ’n APRS-stelsel, met roepsein ZS6SAT, op 144,800 MHz in wat 2 minute voor lansering aangeskakel sal word en APRS-stasies in staat sal stel om die vlugroete van BACAR te volg. ’n Bakensein op 144,825 MHz d.m.v. spraak, MGG en GG sal elke 2 minute gedurende die eerste 30 minute uitgestuur word, daarna elke 5 minute vir die volgende 119 minute en daarna weer elke 2 minute.
Telemetrie-inligting oor die binne- en buitetemperature en lugdruk in millibar sal met intervalle van 1 minuut op 7 022 kHz uitgestuur word.
Besoek www.amsatsa.org.za vir meer inligting aangaande die vlug.
Kommentaar sal op 7 082 kHz, op 2 m in Gauteng en per echolink na die web gestuur word. Meer inligting sal in die bulletin van 2 Augustus verskaf word.
Radioamateurs wat ’n telemetrielyn van die uitsending op 40 m instuur, tesame met besonderhede van hulle ligging, sal ’n BACAR-sertifikaat van deelname ontvang. Besonderhede moet gedurende die dag van die vlug gestuur word aan bacar@sarl.org.za.

PROGRAM VIR DIE RTA IN DIE KAAP NOU OP DIE WEB

Het u 22 Augustus 2009 in u dagboek aangeteken? Die RTA sal op daardie dag aan die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie se stadskampus aangebied word. Die bywoningspryse word geborg deur RS. Components wat ’n soldeerstasie en multimeter insluit. Die registrasiefooi is R40 en sluit ’n ligte middagete in. Die program het gehore in Johannesburg, Durban en Port Elizabeth begeester. Moet nie hierdie gebeurtenis misloop nie. Laai die program af van www.sarl.org.za.

VIER 2010 WęRELDBEKERSOKKER MET ’N SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE

SARL-geaffilieerde klubs word uitgenooi om aansoek te doen vir die gebruik vir ’n spesiale geleentheidstasie van die roepsein ZS10WCS, “World Cup Soccer”. Klubs sal deur middel van loting uitgesoek word. Daar is twee kategorieë: die maande wat die gebeurtenis voorafgaan en die periodes tydens die gebeurtenis.
Die 2010 wëreldbekersokkerreeks sal van 11 Junie tot 11 Julie 2010 plaasvind. Gedurende hierdie tyd sal daar 4 gleuwe beskikbaar wees, 1 Junie tot 10 Junie, 11 Junie tot 21 Junie, 22 Junie tot 1 Julie en 2 Julie tot 12 Julie. Gedurende hierdie vier gleuwe word van die suksesvolle klubs verwag om elke dag ’n HF-stasie ooreenkomstig heersende voortplantingstoestande op die lug te hę. Die tweede kategorie bestaan uit gleuwe van elk ’n maandlank vanaf September 2009 tot Mei 2010. Gedurende hierdie tydperke word van suksesvolle klubs verwag om van Vrydagaand tot Sondagnag stasies op die lug te hę. Klubs moet hulle eie skedules uitwerk en mag enige van hulle lede, wat geldige HF-roepseine hou, insluit.
Elke klub aan wie ’n gleuf toegeken word, sal verantwoordelik wees om alle logstate binne een week na verstryking van die toegekende tydgleuf in te samel, QSL-kaarte, wat voorsien sal word, in te vul en dit aan die SARL-kantoor te stuur. Versoeke vir direkte QSL’s sal deur die QSL-buro hanteer word.
’n Gedetailleerde dokument sal vroeg volgende week as deel van die nuusbrief aan klubs gestuur word. Belangstellende klubs moet hulle aansoeke teen 15 Augustus indien. Die loting sal op 22 Augustus tydens die RTA in die Kaap plaasvind.

GRYS PRODUKTE

Die SARL bulletin van Sondag 5 Julie 2009 het foutiewe inligting bevat. Daar is berig dat die sogenaamde grys amateurradiotoerusting nie deur die vervaardiger gewaarborg word nie en dat die plaaslike agente nie die toerusting sal herstel of diens nie. Hierdie veralgemening is foutief en moet `n voornemende koper van toerusting homself vergewis welke voorwaardes en waarborge op die kontrak van toepassing sal wees voordat hy die aankoop maak . Die situasie kan van vervaardiger tot vervaardiger verskil. Geen algemene riglyn kan neergelę word nie.
Die SARL is gesteld op sy onafhanklikheid en dien slegs die belang van die breë amateurgemeenskap. Enige nadeel wat voortgespruit het uit daardie foutiewe berig word betreur.

KOM GEDURENDE WETENSKAPWEEK IN KONTAK MET DIE JEUG

Die SARL sal aan Wetenskapweek 2009 van 3 – 7 Augustus by die Sci Bona Wetenskapontwikkelingsentrum in Newtown, Johannesburg, deelneem.
Die SARL sal twee werkswinkelsessies aanbied en sal ’n inligtingstalletjie buite die radiokamer beman. Vrywilligers word daagliks van Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 14:30 benodig. Veilige parkering is beskikbaar. Operateurs word ook vir die Sci Bonastasie benodig.
Indien u kan help, stuur ’n e-pos aan youth@sarl.co.za met u besonderhede. Behalwe om ’n diens aan amateurradio te lewer sal u ook u tyd by Sci Bona geniet.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Tans is daar geen sonvlekke op die sigbare oppervlakte van die son nie maar hopelik sal dit nie vir te lank duur nie.
15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Vroegoggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië en Nieu-Zeeland te maak. Gedurende die aand is daar 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Die Noord Kaliforniese DX stigting se internasionale bakennetwerk word by die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens onlangs, en nie so onlangs nie, gehoor is.
Vincent, ZS6BTY, publiseer op die Pretoria Amateurradioklub se webwerf 'n uitstekende, grafiese voorspelling van die kommunikasieskakelbetroubaarheid vir elke amateurband. Die voorspelling word uurliks opgedateer. Besoek gerus www.parc.or.za en kies dan "Propagation".
'n Goeie antennastelsel is die antwoord vir die huidige, minder gunstige sonvlektoestande. Dipole, of verkieslik winsantennas, wat ten minste 12 m bokant die grond is, sal weer die opwinding van HF vir u terugbring. 'n Goeie antennaopstelling is die beste belegging wat 'n amateur kan maak.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal tot die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.
Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese ontladings tans redelik laag wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak. Nou is die tyd om kontakte te begin maak vir u 80 m "Worked-All-ZS"-toekenning.
Onthou hierdie is net 'n voorspelling en HF kan u aangenaam verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

KOMPETISIENUUS

35 Stasies het aan die 2009 SARL PSK-kompetisie deelgeneem en 8 stasies het logstate ingestuur. Kontrolestate is deur Jan, ZS6BMN, en Eddie, ZS6BNE, ingestuur. Die uitslae is as volg:
QRP Stasies (< 5 Watt):
Colette, ZS2CR, Enkeloperateur (40 m) - 425 Punte
Jan ZS4JAN , Enkeloperateur (40 en 80 m) - 400 Punte
QRO Stasies (> 5 en < 100 Watt):
Pierre, ZS6BB, (20, 40 en 80 m) - 138 Punte;
Johan, ZS2I, (40 en 80 m) - 112 Punte;
Geoff, ZS6GRL, (20, 40 en 80 m) - 108 Punte;
Phillip, ZS6PVT, (20, 40 en 80 m) - 31 Punte;
Tienie, ZS6MHH, (40 en 80 m) - 24 Punte;
Bert, ZS6HS, (2 en 6 m) - 3 Punte.
Dit wil voorkom asof die laat verandering na die 40 m-band alleen deur almal verwelkom is. Dit was ook goed om deelname in die BHF-bande plaasgevind het.
Gelukwense aan Colette, ZS2CR, die algehele wenner van die kompetisie, met QRP-werking! Veels geluk ook aan Jan, ZS4JAN, wat met ’n kortkop tweede is. Colette, jou sertifikaat , wat deur die Lichtenburg Amateurradioklub (LARK) geborg word, sal binnekort aan jou gepos word.

KLUBNUUS

Die volgende Megasnuffelmark van ZS6PTA word op Saterdag 1 Augustus vanaf 08:00 tot 11:00 by die Pretoria Motorklub in Silverton, Pretoria gehou. Vir meer inligting, of om 'n tafel te bespreek, kontak Almero, ZS6LDP, op 082 908 3359.

DAGBOEK VAN GEBEURE

25-26 Julie – Eilande-op-die-lug-kompetisie26 Julie – 40 ARK 40 m naelloop;
1 Augustus – ZS6PTA se Megasnuffelmark;
2 Augustus – SARL-HF-ESB-kompetisie;
3-7 Augustus – Nasionale Wetenskapweek en ZS6SCI op die lug;
03 Augustus – Telekonferensie deur beamptes van die Publieke Inligtingsnetwerk om 20:00;
08 Augustus - BACAR-vlug;
22 Augustus – RTA in die Kaap;
30 Augustus – SARL-HF-GG-kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003