Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 26 JULIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

SARLNUUS maak verskoning dat die van van stil sleutel ZS6CBG in verlede week se bulletin verkeerdelik as Brits aangegee is. Die korrekte naam is Cornelis Genis.

(POUSE)

In die nuus vandag:

BACAR VAN ’n PRIVATE VLIEGVELD GELANSEER TE WORD

OKOSA GAAN OPE VERHORE AANGAANDE FREKWENSIETABEL HOU

REKORDDEELNAME AAN JEUGDAGNAELLOOP

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

BACAR VAN ’n PRIVATE VLIEGVELD GELANSEER TE WORD

BACAR sal vanaf ’n private vliegveld naby Hartbeespoortdam gelanseer word. Die vliegveld is gekies omdat dit buite die gebied van lugverkeersbeheer geleë is. Die aangrensende gebied is plat en ideaal geskik vir ’n ballonlansering. Die verwagte heersende wind sal heel waarskynlik die ballon verder uit die lugverkeersbane neem.
Die loonvrag sluit ’n APRS-stelsel, met roepsein ZS6SAT, op 144,800 MHz in wat 2 minute voor lansering aangeskakel sal word en APRS-stasies in staat sal stel om die vlugroete van BACAR te volg. ’n Bakensein op 144,825 MHz d.m.v. spraak, gemoduleerde GG en GG sal elke 2 minute gedurende die eerste 30 minute uitgestuur word, daarna elke 5 minute vir die volgende 119 minute en daarna weer elke 2 minute.
Telemetrie-inligting oor die binne- en buitetemperature en lugdruk in millibar sal met intervalle van 1 minuut op 7 022 kHz uitgestuur word. Besoek www.amsatsa.org.za vir meer inligting aangaande die vlug.
Verkry ’n sertifikaat. Radioamateurs wat ’n telemetrielyn van die uitsending op 40 m instuur, tesame met besonderhede van hulle ligging, sal ’n BACAR-sertifikaat van deelname ontvang. Besonderhede moet gedurende die dag van die vlug gestuur word aan bacar@sarl.org.za.
Grondbeheer sal vanuit die SARL se Nasionale Amateurradiosentrum gedoen word waar die vlug ook op video gevolg kan word. Indien u nie beplan om self die vlug te volg nie, word u na die NARS uitgenooi en om daar aan die aktiwiteite deel te neem. Skoliere word ook uitgenooi om daar deel te neem aan die verskeie volging- en telemetrie-eksperimente. Die NARS sal vanaf 07:00 operasioneel wees met die lansering wat tussen 08:00 en 08;15 verwag word.

HET U U SARL-LIDMAATSKAP HERNU?

Daar is slegs nog kort tydjie beskikbaar om van die afslag op u jaarlikse lidmaatskapsfooi, wat op 1 Julie betaalbaar was, gebruik te maak. Vanaf 31 Augustus verval die afslag en sal die volle fooi van R340 betaalbaar wees. Die afslagfooi is R320. Vir seniorlede is die afslagfooi R200 teenoor die volle fooi van R212.
Afslagfooie geld ook vir nuwe lede wat voor 31 Augustus aansluit.
Herinnerings is in die proses om uitgestuur te word. Indien u nie seker is van u lidmaatskap nie, bel Mariska by 011 675 2393 of stuur ’n e-pos aan admin@sarl.org.za.

OKOSA GAAN OPE VERHORE AANGAANDE FREKWENSIETABEL HOU

OKOSA gaan vanaf 17 Augustus ope verhore hou aangaande die voorgestelde hersienings aan die tabel van frekwensietoekennings in Suid-Afrika. Die SARL sal die saak van amateurradio voorlę. Verlede jaar het die SARL ’n voorstel ingedien dat nuwe amateurtoekennings naby 500 kHz en 5 MHz oorweeg word, dat die 160 m-band na die volle 1 800 tot 2 000 kHz uitgebrei word en vir toekennings 2 300 – 2 450 MHz en 3 300 – 3 500 MHz.
Die SARL berei tans sy voorlegging in meer detail voor en motiveer sy redes waarom hierdie toekennings vir amateurradio voordelig sal wees en sy bydrae te lewer tot voortplanting- en ander studies. U word versoek om insette te lewer oor waarom hierdie versoeke vir toekennings deur OKOSA oorweeg moet word. Stuur asb. u insette aan armi@sarl.org.za. Dit sal waardeer word indien u insette en kommentaar teen Dinsdagaand ontvang kan word aangesien die SARL-Raad Woensdagaand vergader om die SARL se benadering te finaliseer.

REKORDDEELNAME AAN JEUGDAGNAELLOOP

Die SARL se jeugdagnaelloop wat tydens Nasionale Jeugdag op 16 Junie gehou is, het rekorddeelname gelok. Die kompetisiekomitee het 46 logstate ontvang waarvan 38 deur jongmense en 8 deur nie so jong mense ingestuur is. 8 logs is uit Namibië ontvang. Die jongste deelnemer was 8 jaar oud en die oudste 87 jaar jonk. Welgedaan aan almal en veels geluk aan die wenners.
Die volledige uitslae is op die SARL-Forum en in HF Happenings beskikbaar. Alle deelnemers wat logstate ingestuur het, sal ’n sertifikaat van deelname ontvang.
Die wenners is:
1ste Andrew Mans, ZR3AM, (20) 189 punte, wat ’n ARRL Bedryfshandboek wen;
2de Dylan Walsh, ZU3DW, (13) 62 punte, wat ’n boustel vir ’n 40 m direkte omsettingsontvanger wen;
Die derde plek word gedeel deur 15-jarige broers Edwin and Heinz Breitenbach. Beide het van V51PP, in Walvisbaai deelgeneem en albei het 53 punte behaal. Elkeen sal ’n boustel vir ’n weerligvoorspellingsapparaat ontvang sodra voorrade teen die middel van Augustus aanland.
Die wenners in die gelukkige trekking is:
Silvia Schenk (12) Namibië;
Morne Coertzen, ZR6RM (14);
Sane Erasmus (13);
Tiaan van Eeden, ZS6TVE (16);
Rieks Kampman, ZR6HK (17).
Elkeen sal ’n draadloosmikrofoonstel ontvang.
Baie dankie aan al die deelnemers wat van hierdie gebeurtenis ’n groot sukses gemaak het en baie geluk aan die wenners.

SARL-HF-ESB-KOMPETISIE

U word uitgenooi om op Sondag 2 Augustus aan die hoofkompetisie van die SARL, nl. die HF-foonkompetisie deel te neem. Die doel van die deelnemers is om met soveel moontlik radioamateurs in Suidelike Afrika kontak te maak op die 20, 40 en 80 meterbande. Deur deel te neem en ’n logstaat in te stuur word ’n deelnemer outomaties ingeskryf in ’n trekking vir ’n kopie van die nuwe “ARRL Basic Antenna Handbook”. Volle besonderhede is verkrygbaar by www.sarl.org.za.

KLUBNUUS

Oos-Transvaal Laeveld Radioklub beplan n veldnaweek te Steenkampsberg vanaf 31 Julie tot 2 Augustus. Alle belangstellendes moet op die uitkyk wees vir kontakte op 2 meter alle modusse asook HF en 6 meter. Steenkampsberg is geleë tussen Roossenekal en Lydenburg. Nico, ZS6MAJ, kan gekontak word op 083 281 2049 of Dawid, ZS6VS, by 082 872 4081 of e-pos kan gestuur word aan zs6vs@vodamail.co.za.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Daar is tans geen amptelike sonvlekke nie maar hopelik sal dit nie vir te lank duur nie.
15, 17 en 20-m is nog steeds die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Vroegoggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië te maak maar Nieu-Zeeland gaan uitdagend wees. Gedurende die aand is daar 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Die Noord-Kaliforniese DX-stigting se internasionale bakennetwerk word by die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens onlangs en nie so onlangs nie gehoor is.
Vincent, ZS6BTY, publiseer op die Pretoria Amateurradioklub se webwerf 'n uitstekende, grafiese voorspelling van die kommunikasieskakelbetroubaarheid vir elke amateurband. Die voorspelling word uurliks opgedateer. Besoek gerus www.parc.org.za en kies dan "Propagation".
'n Goeie antennastelsel is die antwoord vir die huidige, minder gunstige sonvlektoestande. Dipole, of verkieslik winsantennas wat ten minste 12 m bokant die grond is, word benodig om die stralingshoek laag genoeg te kry vir kontakte met DX-stasies. 'n Goeie antennaopstelling is die beste belegging wat 'n amateur kan maak.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal tot die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.
Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese ontladings besig om af te neem wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak. Nou is die tyd om kontakte te maak vir u 80 m "Worked-All-ZS"-toekenning.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

25-26 Julie – Eilande-op-die-lug-kompetisie;
26 Julie – 40 ARK 40 m naelloop;
28 Julie – Insette aangaande frekwensietoekennings moet in wees;
1 Augustus – ZS6PTA se Megasnuffelmark;
2 Augustus – SARL-HF-ESB-kompetisie;
3-7 Augustus – Nasionale Wetenskapweek en ZS6SCI op die lug;
03 Augustus – Telekonferensie deur beamptes van die Publieke Inligtingsnetwerk om 20:00;
08 Augustus - BACAR-vlug;
22 Augustus – RTA in die Kaap;
30 Augustus – SARL-HF-GG-kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003