Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 9 AUGUSTUS 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

BACAR: TWEE LANSERINGS, MAAR BEIDE MARGINAAL

SUMBANDILASATLANSERING WEER VERTRAAG

HAMNETFREKWENSIES

WIL U ’N EKSOTIESE ROEPSEIN GEBRUIK?

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

BACAR: TWEE LANSERINGS, MAAR BEIDE MARGINAAL

Daar was groot opwinding toe die BACAR-ballonne die drie loonvragte in die lug op geneem het, almal, die HF-, die BHF- en die APRS-bakens het foutloos gewerk. Die opwinding was egter van korte duur toe die loonvrag kort na lansering van die ballonne losgekom en per valskerm na die grond gedaal het. BACAR is ’n afstand van die lanseringsterrein herwin en vir ’n tweede lanseringspoging teruggebring. Met inspeksie het dit geblyk dat ’n las in twee toe losgekom het.

Met slegs twee ballonne beskikbaar, is ’n span na Brits gestuur om so veel as moontlik partytjieballonne op te koop as wat hulle kon vind. Na die vulling van al die ballonne en ’n aantal plastieksakke het BACAR weer opgestyg, maar hierdie keer redelik stadig. Dit ongeveer 2 400 meter bereik waar dit oënskynlik bly hang het. Alle seine was goed en veral die die APRS-sein het baie aandag getrek. Dit was moontlik om die roete van BACAR op die internet op die BACAR-webwerf te volg. Die APRS-data het duidelik getoon waar BACAR hom bevind het, die rigting waarin dit beweeg het en sy hoogte bo seevlak.

Die partytjieballonne en die plastieksakke het egter vinnig afgeblaas en BACAR was weer op pad terug grondtoe. Die kommentator op die terrein het dit beskryf as ’n “partytjie in die lug”.

Die groot skare wat op die terrein teenwoordig was, het gehardloop om BACAR te volg en die loonvrag terug te vind, wat gou gebeur het.

Indien u oor enige foto’s beskik, of ’n verslag wil instuur, e-pos dit asb. aan bacar@sarl.org.za.

Die algemene vraag was: wanneer sal ’n volgende BACAR-vlug probeer word? Ons vertrou binnekort. Verskeie datums in September word oorweeg en ’n aankondiging sal volgende week gemaak word.

SUMBANDILASATLANSERING WEER VERTRAAG

Probleme met die hoofloonvrag het die lansering van Suid-Afrika se tweede satelliet, SumbandilaSat, weer vertraag. Die verwagte nuwe lanseringsdatum is 15 September. Sodra hierdie datum gefinaliseer is, begin aanvoorwerk vir die lansering, wanneer die span van SunSpace na Baikonur reis vir die finale toetse en voorbereiding van SumbandilaSat vir lansering. Lees meer oor SumbandilaSat en sy loonvragte by www.amsatsa.org.za.

HAMNETFREKWENSIES

Daar is besluit om terug te gaan na die vorige frekwensie van 7,060 MHz in die 40 m-band vir Hamnetdoeleindes. Die besluit is onmiddellik van krag.

Op 28 Maart 2009 het die meerderheid kommersiële radiostasies, lede van die internasionale uitsaaiersorganisasie, die bandgedeelte van 7,100 tot 7,200 MHz verlaat soos bepaal tydens WRC-03. Ongelukkig het baie nie-lede van hierdie organisasie nie die band verlaat nie en een sodanige stasie is nog aktief rondom 7,110 MHz. Dit veroorsaak probleme met die effektiewe monitering en gebruik van 7,100 MHz as die middelpunt van noodkommunikasie.

Daar is besluit om 7,110 MHz verder te moniteer, al is dit voorlopig net om vas te stel of die frekwensie nou skoon is van die AM-uitsendings. Hamnet sal dan later besluit of 7,060 MHz behou sal word en of daar weer van die gekose Streek 1-noodfrekwensie van 7,110 MHz gebruik gemaak sal word.

Die frekwensie van 7,060 MHz is dus die gekose frekwensie in Suider-Afrika en al die ander noodfrekwensies bly onveranderd. Daar kan ook gekyk word na ‘n moontlike frekwensie in die 30 m-band, hoewel ZR- en ZU-lisensiehouers nie toegang tot die band het nie.

Die huidige dagomstandighede maak die 30 m-band ’n uitstekende alternatiewe band vir langer afstande.

WIL U ’N EKSOTIESE ROEPSEIN GEBRUIK?

As u ’n eksotiese roepsein vanaf u tuiste wil gebruik, gesels met u klub en moedig die komitee aan om aansoek te doen vir een van die gleuwe wat tussen September 2009 en Julie 2010 beskikbaar is. Die roepsein is ZS10WCS, ’n spesiale geleentheidsroepsein om die Sokkerwêreldbekertoernooi te vier wat in Suid-Afrika aangebied word.

Inligting is weke gelede in die SARL-brief aan alle klubs gestuur. Die brief kan ook afgelaai word by www.sarl.org.za. Gaan na ‘News’ en kies ‘Clubtalk’ en u sal die skakel vind.

Die gleuwe word toegeken soos aansoeke ontvang word, behalwe die 10 daggleuwe tydens die toernooi self, wat per trekking toegeken sal word tydens die SARL se Radiotegnologie in Aksie-simposium in Kaapstad op 22 Augustus. September is reeds opgeneem deur die lede van die Boland-amateurradioklub wat die roepsein op verskeie bande sal bedien.

Die sluitingsdatum om aan die trekking deel te neem vir ’n gleuf is 15 Augustus. Klubs word gevra om die vorm wat saam met die SARL-brief gestuur is, te voltooi en dit aan wcs@sarl.org.za te stuur.

PRESIDENTSNET

Die volgende SARL-presidentsnet vind Sondag 16 Augustus om 19:30 plaas. Klubs word genooi om in te skakel by die telekonferensie en die net lewendig oor hulle herhalers uit te saai sodat klublede kan deelneem. Om ’n skakel aan te vra, stuur ’n e-pos aan armi@sarl.org.za met die telefoonnommer wat gekoppel moet word. Ongelukkig kan slegs landlyne gekoppel word.

OIB-NETWERK BEGIN OP ’N HOË NOOT

Die OIB-Netwerk het verlede Maandagaand goed afgeskop met 11 deelnemers. Sedertdien het nog twee klubs aangesluit. As u wonder wat die OIB-netwerk alles behels, dit is ’n netwerk van openbare inligtingsbeamptes wat gewillig is om amateurradio, hulle klubs en die SARL in die media te bevorder. As u meer inligting oor die netwerk wil bekom, stuur ’n e-pos aan pionetwork@sarl.org.za.

KOMPETISIENUUS

Ter viering van Nasionale Vrouedag, word die eerste SARL-LV-naelloop later vanoggend tussen 11:00 en 12:00 SAT op 40 meter gehou. Alle dames-radioamateurs word uitgenooi om vanoggend aktief te wees op die lug en om die naelloop te geniet.

Vanmiddag is die SARL-40-m- mobiele kompetisie op die lug van 15:00 tot 17:00 SAT. Deelnemers word aangemoedig om vanuit hulle motors te werk. Die antenna moet deel van die motor wees. ’n RS-verslag en u roepsein word uitgeruil.

Draagbare “SiaS’e” (Stasie in ’n Sak) word genooi om vanmiddag deel te neem aan die 40 m- mobiele kompetisie. Hierdie stasies is draagbaar en werk weg van enige ondersteuning en voertuie. Die toerusting word te voet na die bedieningspunt geneem. Antennas moet selfstandig wees (waar nabye bome ontbreek) en met batterykrag werk. Uitsetkrag tot 100 watt is toelaatbaar, maar die meerderheid SiaS’e werk met lae krag van minder as 5 watt. Die organiseerders van die 40 m- mobiele kompetisie word geloof vir die vergunning dat SiaS’e kan deelneem as mobiele operateurs wat nie tot ’n voertuig beperk is nie.

Die Internasionale Vuurtoringnaweek sal oor die naweek van 15 en 16 Augustus op die lug wees. Tien Suid-Afrikaanse vuurtorings sal op die lug wees, sewe vanaf die ZS1-roepseingebied en drie vanaf die ZS5-roepseingebied.

KLUBNUUS

Tydens die AJV van die Zoeloeland-amateurradioklub wat op 2 Augustus gehou is, is die volgende komiteelede verkies:

Voorsitter: John Kramer, ZS5J;
Ondervoorsitter: Andrew Jansen, ZR5MH;
Tesourier: Willie Axford, ZS5WI;
Sekretaresse: Dawn Snyders, ZS5ME;
Lede: Jo Snyders, ZS5PO, Thys van Rensburg, ZR5TVR, en Warren Snyders, ZS5WOZ.


HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Daar is nou vir meer as 27 dae geen amptelike sonvlekke nie maar hopelik sal dit nie meer vir te lank voortduur nie.

20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Gedurende die oggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië te maak. Gedurende die aand is kontakte met Nieu-Zeeland op 40 m moontlik. Gedurende die aand is daar ook 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Die Noord Kaliforniese DX stigting se internasionale bakennetwerk word by die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens onlangs, en nie so onlangs nie, gehoor is.

Vincent, ZS6BTY, publiseer op die Pretoria Amateurradioklub se webwerf 'n uitstekende, grafiese voorspelling van die kommunikasieskakelbetroubaarheid vir elke amateurband. Die voorspelling word uurliks opgedateer. Besoek gerus www.parc.org.za en kies dan "Propagation".

'n Goeie antennastelsel is die antwoord vir die huidige, minder gunstige sonvlektoestande. Dipole, of verkieslik winsantennas wat ten minste 12 m bokant die grond is word benodig om die stralingshoek laag genoeg te kry vir kontakte met DX-stasies. 'n Goeie antennaopstelling is die beste belegging wat 'n amateur kan maak.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. Dit is goeie nuus vir vanoggend en vanmiddag se SARL-wedstryde. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese ontladings besig om af te neem, wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak. Nou is die tyd om kontakte te maak vir u 80 m "Worked-All-ZS" toekenning.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

09 Augustus – SARL-LV-naelloop en SARL-40-m- mobiele kompetisie;
15 en 16 Augustus – Internasionale Vuurtoringnaweek;
22 Augustus – RTA in die Kaap;
30 Augustus – SARL-HF-GG-kompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003