Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 16 AUGUSTUS 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

SARL-PRESIDENTSNET KYK NA JEUGAKTIWITEIT

SARL SE RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE VOLGENDE SATERDAG IN KAAPSTAD

HAMNET VERTEENWOORDIG BY GAREC 2009

SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE VANAF TURKYE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-PRESIDENTSNET KYK NA JEUGAKTIWITEIT

SARL se President, Rassie Erasmus, ZS1YT, gesels vanaand, Sondag 16 Augustus, met Gerhard Coetzee, ZS3TG, op die Presidentsnet wat om 19:30 SAT begin.

Om ’n verbinding te bespreek na die telebrug, stuur asseblief vandag voor 12:00 SAT ’n e-pos aan armi@sarl.org.za. Weens tegniese redes by die telekonferensiesentrum kan slegs Telkom-landlyne gekoppel word.

SARL SE RADIOTEGNOLOGIE IN AKSIE IN KAAPSTAD

SARL se Radiotegnologie in Aksie-simposium begin op Saterdag 22 Augustus 2009 om 08:45 SAT. Dit vind plaas by die stadskampus van die Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Die volledige program is beskikbaar by www.sarl.org.za. Diegene wat die vorige byeenkomste in Gauteng, Durban en Port Elizabeth bygewoon het, was gaande oor die program.

HAMNET VERTEENWOORDIG BY GAREC 2009

Die Nasionale Direkteur van SARL Hamnet, Francois Botha, ZS6BUU, gaan die jaarlikse konferensie oor globale amateurradio in noodtoestande, oftewel GAREC, in Tokio bywoon. GAREC word op 24 en 25 Augustus gehou.

Francois dien op een van die besprekingspanele wat sake sal bespreek rondom die Middelpunt van Aktiwiteit-frekwensies saam met Greg Mossop, G0GUD, van die VK. Greg is die IARU Streek 1-verteenwoordiger vir noodkommunikasie. Francois gaan twee aanbiedings doen, een oor Hamnet se aktiwiteite en strukture in Suid-Afrika. Die ander aanbieding handel oor IRESC, die węreldwye koalisie van vrywilligerkommunikeerders. IRESC-lede is węreldwyd verspreid en kan enige tyd van die dag of nag hulp verleen.

GAREC se kollig val vanjaar op aanbiedings oor die veldbrande wat onlangs verwoesting in Australië veroorsaak het, die aardbewings in Sjina en meer onlangs die een in Italië ’n paar maande gelede.

SARL Hamnet is na GAREC genooi deur Seppo Sisatto, OH1VR, van die reëlingskomitee. Die groot nuus is dat GAREC 2011 in Suid-Afrika plaasvind onmiddellik na die IARU-konferensie, wat van 12 tot 19 Augustus 2011 in Sun City plaasvind.

Die bywoning van SARL Hamnet is moontlik gemaak deur ’n skenking van die Departement van Vervoer.

SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE HERDENK TURKSE AARDBEWING VAN 1999

Op 17 Augustus 2009 gaan ’n spesiale geleentheidstasie met die roepsein TC17EQ deelneem aan die herdenking van die tragiese aardbewing wat tien jaar gelede die dorp en omgewing van Izmit in Turkye verwoes het. Verteenwoordigers van die lande wat na die ramp internasionale hulp verleen het, gaan die geleentheid bywoon. Ter erkenning van hulle rol in noodkommunikasie, is die Turkse IARU-ledevereniging, TRAC, genooi om deel te wees van die amptelike program met ’n spesiale geleentheidstasie en twee van hulle noodkommunikasievoertuie.

TC17EQ sal na verwagting aktief wees op 20 en 40 m, hoofsaaklik op ESB naby die onderskeie middelpunt van aktiwiteit-frekwensies vir noodkommunikasie, en ook op 30 m met GG en PSK. Die stasie gaan reeds Sondag 16 Augustus om 16:00 UTC op die lug wees, tot ten minste 01:00 UTC op 17 Augustus. Die gedenkdiens is geskeduleer vir 00:02 UTC op 17 Augustus.

NARS MAANDAG GESLUIT

Die NARS is Maandag 17 Augustus gesluit omdat ons kantooradministrateur ’n dag verlof neem. Die kantoor sal weer Dinsdag oop wees.

LAASTE KANS OM AANSOEK TE DOEN VIR DIE ZS10WCS-ROEPSEIN

’n Trekking vind Saterdag 22 Augustus plaas tydens die Radiotegnologie in Aksie-simposium in Kaapstad om die klubs te kies wat die ZS10WCS-roepsein sal bedien tydens die Węreldbeker-sokkertoernooi. Klubs wat wil deelneem, het nog tot Woensdag 19 Augustus om hulle aansoeke in te stuur. Volledige inligting en die tydperke is beskikbaar op die SARL-webwerf by www.sarl.org.za, klik op ‘News’ en kies ‘Club Talk’.

KOMPETISIENUUS

Die SARL se HF GG-kompetisie is Sondag 30 Augustus vanaf 16:00 tot 18:00 SAT op die lug op 20, 40 en 80 meter. ’n RST-verslag en ’n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin, word vereis. Die reëls is beskikbaar in die 2009-SARL-kompetisiehandboek.

Slegs 30 logstate van die SARL-HF-foonkompetisie is tot dusver ontvang, baie minder as die rekord van 52 wat die SARL se Jeugdagnaelloop opgestel het. Die sluitingsdatum vir u logstate is middernag op Maandag 17 Augustus 2009. Maar seker dat u logstaat al die besonderhede soos versoek in paragraaf 4 en 5 van die Algemene Reëls bevat. Alle logstate wat ontvang word, sal in die gelukstrekking vir die ARRL se basiese antennahandboek ingesluit word.

KLUBNUUS

Die Wesrand-amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark op Saterdag 5 September 2009 om 12:00 by die klubhuis in Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir verdere inligting skakel Willem, ZS6WWJ, by 082 890 6775.

Tydens die AJV van die Wesrand-amateurradioklub op 4 Julie 2009 is die volgende komiteelede verkies:

Voorsitter: Joop Hesp, ZS6C
O/voorsitter: Geoff Levey, ZS6GRL
Sekretaris en Herhaler: Phillip van Tonder, ZS6PVT
Tesourier: Craig Woods, ZS6CRW
SARL skakeling en OIB: Willem Weideman, ZS6WWJ
Lede: Romeo Nardini, ZS6ARQ, Ron Eva, ZR6RON en John Brook (Anode-nuusbrief)

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Daar is nou vir meer as 33 dae geen amptelike sonvlekke nie maar hopelik sal dit nie meer vir te lank voortgaan nie.

20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Gedurende die oggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië te maak. Gedurende die aand is kontakte met Nieu-Zeeland op 40 m moontlik. Gedurende die aand is daar ook 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Die Noord Kaliforniese DX stigting se internasionale bakennetwerk word by die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens onlangs en nie so onlangs nie gehoor is.

Vincent, ZS6BTY, publiseer op die Pretoria Amateur Radio Klub se webwerf 'n uitstekende, grafiese voorspelling van die kommunikasieskakelbetroubaarheid vir elke amateurband. Die voorspelling word uurliks opgedateer. Besoek gerus www.parc.org.za en kies dan "Propagation".

'n Goeie antennastelsel is die antwoord vir die huidige, minder gunstige sonvlektoestande. Dipole, of verkieslik winsantennas wat ten minste 12 m bokant die grond is word benodig om die stralingshoek laag genoeg te kry vir kontakte met DX-stasies. 'n Goeie antennaopstelling is die beste belegging wat 'n amateur kan maak.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese ontladings laag wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak. Nou is die tyd om kontakte te maak vir u 80 m "Worked-All-ZS" toekenning.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Augustus – Presidentsnet om 19:30;
16-17 Augustus – Spesiale stasie TC17EQ op die lug;
17 Augustus– sluitingsdatum vir HF-foonlogstate;
19 Augustus – sluitingsdatum vir ZS10WCS-aansoeke;
22 Augustus – Wes-Kaapse RTA;
30 Augustus – SARL se HF GG-kompetisie;
5 September – Wesrand-snuffelmark.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel en deur Hester van der Walt taalversorg is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003