Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 23 AUGUSTUS 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

VOLGENDE BACAR-LANSERING

SUMBANDILASAT-LANSERING NOG OP KOERS VIR 15 SEPTEMBER

AFSLAG OP LEDEGELDHERNUWING EINDIG 31 AUGUSTUS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

VOLGENDE BACAR-LANSERING

SA AMSAT gaan BACAR Saterdag 12 September 2009 weer lanseer. Die BACAR-span het al die loonvragte herwin en werk aan die probleme wat veroorsaak het dat die laaste BACAR-vlug baie gou ontspoor het. Soos die span die besonderhede van die volgende lansering finaliseer, sal www.amsatsa.org.za bygewerk word. Die lansering sal weer tussen 08:00 en 08:15 plaasvind.

SUMBANDILASAT-LANSERING NOG OP KOERS VIR 15 SEPTEMBER

Die tegniese lanseringspan van Sunspace, die maatskappy wat SumbandilaSat gebou en al die loonvragte geďntegreer het, het Donderdag na Baikonur Cosmodrome vertrek en gister daar aangekom. Die span sal die satelliet uitpak en dit aan verskeie streng toetse onderwerp om seker te maak dat alles werk. Die span sal nege dae op Baikonur deurbring en een spanlid bly agter om te verseker dat die batterye gelaai is voor lansering.

Met hulle terugkeer na Stellenbosch, sal die Sunspace-span die grondstasie klaar opstel. SumbandilaSat sal sowat drie uur na lansering in die vlug oor Afrika van die vuurpyl skei, ongeveer 30 minute voordat dit binne bereik van die grondstasie in Suid-Afrika sal wees.

Na die lansering word deeglike toetsing van twee tot drie maande beoog. Radioamateurs kan ’n Kersbonus verwag, omdat die amateurloonvrag ook getoets sal word en periodiek aangeskakel mag wees.

SA AMSAT werk nou saam met Sunspace en die Departement van Wetenskap en Tegnologie om ’n bedryfskedule saam te stel, wat vroeg in 2010 beskikbaar gestel word.

AFSLAG OP LEDEGELDHERNUWING EINDIG 31 AUGUSTUS

Daar is slegs ’n paar dae oor om u lidmaatskap van die SARL te hernieu teen die afslagbedrag van R320 vir gewone lede en R200 vir senior lede. Vanaf 1 September is die bedrag R340 vir gewone lede en R212 vir senior lede. Maak gebruik van die afslagaanbod en hernieu u lidmaatskap voordat dit verval.

SARL RIG VERTOË BY VERHORE OOR TABEL VAN FREKWENSIES

Die SARL het verlede week vertoë voorgelę tydens openbare verhore insake die Tabel van Frekwensies. Die SARL-raadslid vir Regulatoriese sake, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, het voorstelle aan OKOSA gemaak om die 160 meterband van 1 800 kHz tot sy volle ITU-bestek van 2 000 kHz te vergroot. Nuwe toekennings rondom 500 kHz en 5 MHz asook verskeie mikrogolffrekwensies vir amateur-WiFi-netwerke is ook versoek.

OKOSA se besluit oor die voorstelle word afgewag.

GEEN Q-KODE-AGTERVOEGSELS

OKOSA het bevestig dat die owerheid ’n beperking geplaas het op roepseinagtervoegsels wat deel van die Q-kodes asook SOS bevat. Daar is steeds ’n klompie amateurs en een radioklub wat roepseine in die Q-kodegroep het. Sodra die roepseine nie meer gebruik word nie sal hulle ook tot die beperkte lys gevoeg word. Radioamateurs met roepseine met Q-kode-agtervoegsels word dringend gevra om hul roepsein te verander.

Die SARL ondersteun OKOSA se besluit ten volle.

NUWE LEDE

Die SARL heet nuwe lede welkom wat in die afgelope maande aangesluit het. Ons is seker dat u die voordele geniet wat SARL-lidmaatskap bied en stel u ondersteuning van amateurradio hoog op prys:

David Whitehouse, ZSL-1841 George Klein, ZR1GRK I.R Westwood, ZS1WY
Karel van Reenen, ZS1JZ Scott Maltby, ZR2SAM Derek Stuart, ZR2WB
Neville Bowden, ZS2N Edward Smook , ZS2ES W.G Hewitt, ZS2CC
Rudi Mostert, ZS3RM Hennie Greyling, ZS4HG Thys Janse van Rensburg, ZR5TVR
Anrč Kehlert, ZR6ANK Martin Nortman, ZR6TMN Charlotte Miller, ZU6CEM
Peter Miller, ZR6PCM Jacques van der Merwe, ZR6JA Russel Patterson, ZR6WAX
Gert Combrink, ZR6PY Dylan De Witt, ZU6D Anton Janovsky, ZR6AIC
Deon Kruger, ZS6DKR Braam Devenier, ZS6AYE

KOMPETISIENUUS

Die SARL se HF-GG-kompetisie is Sondag 30 Augustus vanaf 16:00 tot 18:00 SAT op die lug op 20, 40 en 80 meter. ’n RST-verslag en ’n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin, word vereis. Die reëls is beskikbaar in die 2009-SARL-kompetisiehandboek.

IARU Streek 1 se ESB-velddag vind oor die naweek van 5 en 6 September plaas.

Die QRP-lentenaelloop word op Sondag 13 September gehou.

KLUBNUUS

Tydens die AJV van die Highway Amateurradioklub, gehou op Dinsdag 18 Augustus 2009, is die volgende komitee verkies:

Brian Roodt, ZS5BBR, Craig Hardman, ZS5CD, Gary Potgieter, ZS5NK, Keith Lowes, ZS5WFD en Odette McManus, ZU5OM.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds op 'n laagtepunt is. Daar was nou vir meer as 40 dae geen amptelike sonvlekke nie. Pynlik!

20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die ooste en die weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die noorde goed wees. Soggens is daar 'n kans om kontakte met Australië te maak. Saans is kontakte met Nieu-Seeland op 40 m moontlik. Saans en vroegoggende is daar ook 'n moontlikheid van 40-m-kontakte met Brasilië.

Vincent, ZS6BTY, publiseer 'n uitstekende, grafiese voorstelling van die kommunikasieskakel-betroubaarheid vir elke amateurband op die Pretoria-amateurradioklub se webwerf. Die voorspelling word uurliks opgedateer. Besoek gerus www.parc.org.za en kies dan "Propagation”.

Plaaslike toestande gaan bedags op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

24 Augustus – sluitingsdatum vir LV-naelloop en 40-m- mobiele logstate;
30 Augustus – SARL se HF-GG-kompetisie;
5 September – Wes-Rand-snuffelmark;
5 en 6 September – IARU Streek 1 ESB-velddag;
12 September – BACAR-lansering;
13 September –QRP-lentenaelloop;
15 September – Lansering van SumbandilaSat.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS/2 vanuit Barkly-Oos opgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003