Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 30 AUGUSTUS 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van twee radioamateurs vanoggend aangekondig moet word. Ons betuig innige meegevoel met hul naastes.

Die sleutel van Peter Hoyle, ZS6TAO, ’n lid van die Sandtonse ARK, het op Donderdag 27 Augustus 2009 stil geword.

Die sleutel van Roy Smith, ZS6ROI, ’n lid van die Oos-Randse ARK, het ook op Donderdag 27 Augustus 2009 stil geword.

POUSE

In die nuus vandag:

SARL-HF-GG-KOMPETISIE VANMIDDAG

WERK ZS10WCS – SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE VIR 2010-WÊRELDBEKERSOKKER

PLANNE VLOT VIR BACAR-LANSERING OP 12 SEPTEMBER

RADIO ZS IS IN DIE POS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL-HF-GG-KOMPETISIE VANMIDDAG

Die SARL se HF-GG-kompetisie is vanmiddag, Sondag 30 Augustus vanaf 16:00 tot 18:00 SAT op die lug op 20, 40 en 80 meter. 'n RST-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin, word vereis. Elke kontak tel 2 punte, elke sone gewerk per band tel 2 punte en elke stasie op al drie bande gewerk tel 2 punte. Lees asseblief die reëls voor die kompetisie en neem kennis van reël 4 en 5 van die Algemene Reëls. Die reëls is beskikbaar in die 2009 SARL-kompetisiehandboek, asook HF Happenings 367 en 368.

WERK ZS10WCS – SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE VIR 2010-WÊRELDBEKERSOKKER

Vanaf 1 September sal lede van die Boland-amateurradioklub die 2010-Wêreldbekersokker se spesiale geleentheidstasie bedien. Die roepsein sal oor naweke op die lug wees soos voorplantingstoestande toelaat. Volle besonderhede van voorkeurfrekwensies en QSL-inligting is beskikbaar op www.sarl.org.za.

PLANNE VLOT VIR BACAR-LANSERING OP 12 SEPTEMBER

Die reëlings vir ’n BACAR-lansering op 12 September vorder baie goed. Die lansering sluit dieselfde loonvrag in as die Augustus-lansering, naamlik ’n 40 m-baken, ’n 2 meter-baken en ’n APRS-baken.

Aktiwiteit by die lanseringsterrein begin om 06:00 en by die NARS om 07:30. Die lanseringsvenster is tussen 08:00 en 08:30 SAT.

U kan die lansering tuis of by die Nasionale Amateurradiosentrum by Radiokop, Roodepoort volg.

Besoek www.amsatsa.org.za vir gereelde opdatering.

HET U GEBRUIK GEMAAK VAN DIE AFSLAG OP LEDEGELDHERNUWING?

Die spesiale tarief vir die 2009/2010-ledegeldhernuwing eindig op Maandag 31 Augustus. Maak gebruik van die geleentheid om te hernieu teen R320. Vanaf Dinsdag 1 September 2009 styg die tarief na R340. Lede wat teen 30 September nog nie hernieu het nie, verloor hulle lidmaatskapvoorregte en sal daarna deur die nuwe aansoekprosedure moet gaan, wat beteken dat die begindatum die datum van aansluiting sal wees.

Tans staan die getal opbetaalde lede op 1 071, baie meer as verlede jaar dié tyd, maar ver kort van die 1 600-teiken wat gestel is. As u nog nie u lidmaatskap vir 2009/2010 betaal het nie, doen dit asseblief so gou moontlik. As u die faktuur verloor het en ’n afskrif benodig, kontak Mariska asseblief Maandag by 011 675 2393 of stuur ’n e-pos aan admin@sarl.org.za.

RADIO ZS IS IN DIE POS

Radio ZS is Vrydag gepos en behoort eersdaags in u posbus te wees. Die elektroniese uitgawe is nou beskikbaar by www.sarl.org.za. Daar is baie om te lees. Leer meer oor horisonkommunikasie deur middel van glimdiodes of LED’s, bou ’n maklike batterytoetser, vind meer uit oor ’n VIP-sleutel (’n moet vir die GG-entoesias).

Ean Retief bespreek die elektroniese fop-operasies wat deur die Geallieerdes voor die D-Dag-landings in Junie 1944 gebruik is. Die doel van hierdie operasies was om die Duitse magte in Frankryk te mislei oor die landings.

Oor satelliete is daar Eddie, ZS6BNE, se gereelde rubriek en ’n artikel getiteld "Amateur Radio gets another voice in the sky,” wat meer vertel oor SumbandilaSat. Vir die BHFers, leer meer oor hoe om ’n koppelbegroting uit te werk.

As u nog nie ’n lid van die SARL is nie, en graag ’n eksemplaar wil ontvang, stuur in e-pos aan armi@sarl.org.za met Radio ZS Julie/Augustus in die onderwerpblokkie.

GROOT VERRASSING VIR RTA-AFGEVAARDIGDES

Afgevaardigdes wat die SARL se Radiotegnologie in Aksie-simposium in Kaapstad bygewoon het, het ’n groot verrassing gekry toe daar buiten die bywoningprys, geskenk deur RS, ook ’n twee-meter draagbare handradio uitgeloof is. Kobus Conradie, ZS1K, van Let’s Play Radio het die radio geskenk. Dankie, aan Let's Play Radio en RS vir hulle borgskappe.

Die Kaapstadse RTA was die laaste in die 2009-reeks. Werk aan die 2010-reeks het reeds begin. Skryf die volgende datums nou in u dagboek: Durban – 29 Mei 2010, Kaapstad – 24 Julie 2010, PE – 14 Augustus 2010 en Gauteng – 18 September 2010.

KOMPETISIENUUS

Die QRP-lentenaelloop word op Sondag 13 September gehou.

Die SARL se BHF/UHF-kompetisie is geskeduleer vir die naweek van 18 tot 20 September 2009, met ’n digitale kompetisie en ’n analoogkompetisie. Derek, ZS5Y, wil graag insette oor die kompetisie ontvang van klubs en radioamateurs. Derek kan per e-pos by derek@fotogravett.com gekontak word.

KLUBNUUS

Tydens die AJV van die Magalies Radioamateurklub op 22 Augustus is die volgende lede tot die komitee verkies.

Voorsitter: Johan Nel, ZS6JPN;
Ondervoorsitter en Tesourier: Nico du Toit, ZS6OI;
Sekretaris: Nick Smit, ZR6NSP;
Lede: Sam van Zyl, ZS6JZ (Tegnies); Thomas Scott, ZS6TJS (Digitaal); Marco Nel, ZS6MJ (Redakteur Teenspanning); Chris Smit ZS6FCS (OIB en SARL-skakel); Chris van Eeden, ZS6CVE (Bulletinkoördineerder); Johann du Plessis, ZS6PSS (Jeugkoördineerder); Thys Maree, ZS6MJM (Webmeester) en Peet Greyling, ZS6PGN (Sosiaal).

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds op 'n laagtepunt is. Daar is nou vir amper 50 dae geen amptelike sonvlekke nie. Pynlik!

20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Smiddae gaan die toestande na die ooste en die weste goed wees. Laatmiddae en saans gaan toestande na die noorde goed wees. Soggens is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië te maak. Saans is kontakte met Nieu-Seeland asook met Brasilië op 40 m moontlik.

Plaaslike toestande gaan bedags op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

30 Augustus – SARL se HF-GG-kompetisie, 16:00 tot 18:00;
31 Augustus – laaste dag vir SARL-lidmaatskaphernuwings teen korting;
5 September – Wes-Rand-snuffelmark;
5 en 6 September – IARU Streek 1 ESB-velddag;
12 September – BACAR-lansering, 08:00 tot 08:15;
13 September -QRP-lentenaelloop;
15 September – Lansering van SumbandilaSat;
18 tot 20 September – SARL-BHF/UHF-kompetisie.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, opgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003