Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 20 SEPTEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

SUMBANDILASAT SUKSESVOL GELANSEER

HERHALERS: FREKWENSIEBEPLANNING

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SUMBANDILASAT SUKSESVOL GELANSEER

Sukses met die derde probeerslag! SumbandilaSat is op 17 September om 17:55:09 SAT (Sentraal Afrika Tyd) suksesvol gelanseer nadat die lansering tweemaal uitgestel moes word, eers deur sterk wind en die tweede keer omdat die druk in die brandstoftoevoer vier maal laer as normaal was en dus sou die inpompproses te lank geneem het om betyds vir die beplande lansering voltooid te wees.
Die satelliet is oor Antarktika van die vuurpyl losgelaat en was tien minute later binne bereik van die grondstasie by Stellenbosch Universiteit waarvandaan die eerste bevel gestuur is om die satelliet “wakker te maak”. Ondanks die lae hoogtehoek van minder as 10 grade is SumbandilaSat se eerste telemetrie goed ontvang. Tydens ’n verbyvlug Vrydagoggend het die SunSpacespan bevestig dat die transponeerder, wat ook die amateurradiofasiliteit insluit, goed werk.
Vroeër in September het ’n span ingenieurs van SunSpace die satelliet by die Baikonur lanseerterrein in Kazakhstan uitgepak en ’n volledige stelseltoets gedoen. Alle stelsels het volgens spesifikasies gewerk. Die amateurradioloonvrag is oor ‘n kort afstand getoets om die radioseinvlakke te bepaal. Al drie stelsels, die stembaken, papegaaiherhaler en die BHF/UHF-FM-herhaler het foutloos gewerk.
Daarna is Sumbadilasat op die lanseerplatvorm geïntegreer en gereedgemaak vir lansering. Voordat die samestelling na die lanseerplatvorm vervoer is, is die batterye ‘n finale lading gegee.
’n Intensiewe periode van loonvragkwalifisering sal nou volg waartydens alle stelsels getoets sal word. Dit word verwag om tot 3 maande te neem waarna beheer oorhandig sal word aan die WNNR se Satelliettoepassingsentrum te Hartbeeshoek, wes van Pretoria.
Die stembakenboodskap is van Anton Coetzee opgeneem, terwyl hy ’n leerder by die Tegniese Hoërskool in Kimberley was. Sy boodskap is gekies uit inskrywings in ’n kompetisie vir die beste boodskap om SumbandilaSat aan te kondig. Dit lees as volg: "This is ZS0SUM in space. I am the voice of the South African youth. We are knocking on the door of opportunity, marking our place in the orbit of space research and communication. Hear us! Listen to us!”
Besoek www.amsatsa.org.za om die bakenboodskap te hoor en ook om die eerste Kepleriaanse elemente te verkry.
Sodra die hoofloonvrag, ’n multi-spektrale beeldaftaster wat ’n 6,25 m grondmonsternemingsdistansie het met 6 spektrale bande en ondersteun deur ’n aanboord stoorgeheue van 24 Gigagrepe en ’n hoof afwaartse skakel van 72 Mb/s, volledig in werking is, sal ’n skedule opgestel word waarvolgens verskeie eksperimentele loonvragte bedryf sal word. Die SA AMSAT-web sal gereeld opgedateer word met die skedule. Luister op 435,350 MHz tydens vlugte oor Suid-Afrika. SunSpace sal een of ander tyd die amateurloonvrag toets. Indien kennisgewing vroegtydig ontvang word, sal dit op www.amsatsa.org.za gepubliseer word.

HERHALERS: FREKWENSIEBEPLANNING

Tydens die herhalerfrekwensiebeplanningsvergadering, verlede Saterdag, het Riaan Greeff, ZS4PR, onderneem om ’n werkgroep te reël om alle herhalerinligting op datum te bring. As deel van die proses word alle klubs en herhalerko-ordineerders versoek om die besonderhede van hul herhalers voor 30 September op datum te bring. Op 30 September sal die herhalerblad van die web verwyder word en ’n proses begin word om frekwensies en data met lisensies te vergelyk. Dit is die eerste stap in die proses. Verdere besonderhede oor hoe die proses daarna sal verloop sal dan bekend gemaak word. Die belangrike punt is om u herhalerinligting op die SARL-web voor 30 September op datum te bring.
’n Proses is in plek om kontak te maak met klubs en hul herhalerko-ordineerders om enige probleem op te los voordat verdere stappe gedoen sal word. U dringende samewerking sal waardeer word. Vir enige navrae kontak vir Riaan Greeff per e-pos na riaang@vut.ac.za.

KOMPETISIENUUS

J B Coetzee, die 3-jarige seun van Gerhard, ZS3TG, het Woensdagaand die trekking behartig vir die ARRL Basiese Antennahandboek vir logs ingedien vir die SARL-HF-foonkompetisie. Die wenroepsein behoort aan Geoff Levey, ZS6GRL. Baie geluk Geoff.

Agt logs is vanaf die mooi dames en twee logs vanaf die mans ontvang vir die eerste LV-naelloop (9 Augustus). Die naelloop is goed ontvang en sal op die 2010 almanak verskyn.

1ste Rosalie van Loggerenberg, ZR2RL, 140 punte [sy is nou ZS2DN]
2de Colette Rundle, ZS2CR 131 punte
3de Pam Momberg, ZS6APT, 100 punte
4de Dawn Snyders, ZS5ME, 62 punte
5de Melinda Mynhardt, ZU6MM, 45 punte
6de Michelle Harris, ZS4M, 33 punte
7de Pauline Hollis, ZS1PLN, 32 punte
8ste Martin Smith, ZS5M, 14 punte
9de Mary Ann Meyer, ZU5MAM, 5 punte

Kontrolelog:
Jan Botha, ZS4JAN, 12 punte

ZS4SRK nooi almal om te begin beplan vir 24 September 2009. Ondersteun jou erfenis deur die aktivering van blokhuise, erfenisplekkies of selfs net die historiese gedagte waar jy laas jou bril vergeet het! Stuur jou idees na ZS4SRK se sekretaris per e-pos aan zs4pr@qsl.net sodat hulle ’n idee kan kry aangaande die plekke wat op die lug gaan wees. Die frekwensies wat gebruik mag word, is 7,000 tot 7,025 MHz vir gelykgolf en vir spraak 7,060 tot 7,100 MHz en 7,130 tot 7,200 MHz. Logstate moet gestuur word aan Die Sasolburg Amateurradioklub, ZS4SRK, Posbus 28194, Sonlandpark, 1944, of per e-pos aan riaanzs4pr@gmail.com . Die sluitingsdatum vir die indien van logstate is 6 Oktober 2009.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds op 'n laagtepunt is. Tans is daar geen amptelike sonvlekke nie.
20 en 40-m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Gedurende die oggende is daar moontlike geleenthede om kontakte met Australië te maak. Gedurende die aande is kontakte met Nieu-Zeeland op 40 m moontlik. Daar ook 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië gedurende die aande.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 tot 20 September - SARL-BHF/UHF-kompetisies;
19 September - Hamnet Gauteng-Suid en Ekurhuleni Rampbestuur Spesialiskommunikasievrywilligers opleidingsoefening;
24 September - Erfenisdagnaelloop;
24 September - Inskrywings vir Oktober RAE moet in wees.
06 Oktober - Logstate vir Erfenisdagnaelloop moet in wees na riaanzs4pr@gmail.com.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger ZR3RC opgestel en deur George, ZS6NE, geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003