Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 13 DESEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750; 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

LEWER U INSET VIR DIE SARL SE STRATEGIE VIR 2010

SLEGS VIER PLEKKE NOG BESKIKBAAR VIR DIE KAAPSTADSE TUISKONSTRUKSIEKURSUS

SPESIALE ERKENNING VIR ZS5MU

OOSRANDKLUB GEREED OM BOLAND SE REKORD VIR 2010 TE VERBETER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

LEWER U INSET VIR DIE SARL SE STRATEGIE VIR 2010

Vroeg in Maart 2010 sal die SARL se Raad en genomineerdes by die Nasionale Amateurradiosentrum byeenkom om ’n strategie en aktiwiteite vir 2010 en 2011 te ontwikkel. Die strategieplan sal tydens die Nasionale Konvensie en Algemene Jaarvergadering, wat van 23 tot 25 April in Port Elizabeth gehou sal word, ter tafel gelê word.

Lede kry die geleentheid om insette te lewer aangaande waarop SARL die behoort te fokus. Sluit op Sondag 31 Januarie 2010 met die Presidentsnet om 19:30, by Rassie Erasmus, ZS1YT, die SARL se President, aan. Teken hierdie datum aan en bespreek u idees met medeamateurs tydens u klub se volgende vergadering.

SLEGS VIER PLEKKE NOG BESKIKBAAR VIR DIE KAAPSTADSE TUISKONSTRUKSIEKURSUS

Daar is slegs vier plekke nog beskikbaar vir die tuiskonstruksiekursus wat 23 Januarie in Kaapstad aangebied gaan word. Diegene wat graag hierdie beskikbare plekke wil vul, besoek www.sarl.org.za, klik op activities en dan op RTA vir besonderhede en ’n registrasievorm. Besprekings vir die kursusse in Durban en Port Elizabeth groei ook mooi aan.

BOU ’n WEERLIGWAARSKUWINGSAPPARAAT

U kan nou deur hierdie handige apparaat gewaarsku word wanneer weerlig in u nabyheid is. Hierdie maklike konstruksieprojek is in boustelvorm beskikbaar vanaf die Suid-Afrikaanse Amateurradiotrust teen R120 elk, wat verpakking en posgeld insluit. Om meer hieroor te wete te kom en hoe om te bestel, besoek www.amateurradio.org.za.

OPSTELKOMPETISIE VIR LEERLINGE

In opvolging van ’n versoek deur die Gautengse Departement van Onderwys, is die sluitingsdatum vir die opstelkompetisie, oor die lansering van Sumbandilasat, verskuif na 28 Februarie 2010. Dit gee aan leerlinge die geleentheid om na die terugkeer van hul vakansie, aan die kompetisie deel te neem. Die hoofprys is ’n Acer Aspire One Netbook en daar is baie troospryse wat boustelle en Symantec programmatuur insluit. Besonderhede is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

SPESIALE ERKENNING VIR ZS5MU

Francois Botha, ZS6BUU, Raadslid van die SARL het Alastair Campbell, ZS5MU, met ’n geraamde sertifikaat vereer waarin erkenning verleen word aan die ondersteuning wat hy en sy eggenote Davina gedurende die afgelope 30 jaar aan die seiljaggemeenskap verleen het. Die sertifikaat lees:
"SPECIAL RECOGNITION TO ALASTAIR CAMPBELL ZS5MU
who, supported by Davina ZS5GC ,has operated the South African Maritime Mobile Net serving the yachting community at sea for 30 years".

OOSRANDKLUB GEREED OM BOLAND SE REKORD VIR 2010 TE VERBETER

Desembermaand is dit die Oosrandklub se beurt om ZS10WCS te bedryf. Die klub gaan sy volle kragte aanwend om te verbeter op die rekord wat deur die Boland Amteurradioklub opgestel is. Boland het die onderneming in September begin en het 2 639 kontakte in meer as 100 lande aangeteken. Hulle het 1 522 ESB-kontakte, 1 050 d.m.v. GG en 37 d.m.v. PSK31 gemaak, wat ’n uiterste poging van die Oosrandklub sal verg om op te verbeter. Kyk op alle bande vir hulle uit.

2009 BORGSKAP VIR KLAS A EN B RAE

Kobus Conradie van LetsPlayRadio in Kaapstad het SARL-Nuus meegedeel dat die 2009 borgskap uitgebrei is en die ontvanger is deur ’n onpartydige trekking tydens die jaareindfunksie van die Oakdaleklub in Bellville bepaal. Die trekking het geslaagdes in beide Klas A en Klas B ingesluit.

Die borgskap was vir ’n Yaesu FTM10E verstewigde tweeband mobiele radio, geskenk deur Verstay, die Yaesu-invoerders.

Die gelukkige ontvanger is ZS6WWG, G Williscroft. Veels geluk!

Die SARL bedank LetsPlayRadio en Verstay vir hul ondersteuning aan amateurradio in Suid-Afrika.

HAMNET, GAUTENG-SUID

’n Uit die vuis oefening vir lede van HAMNET Gauteng-Suid is geskeduleer vir 19 Desember 2009. Lede wat beskikbaar is, en gewillig is, word uitgenooi om deel te neem.

Aksie ‘Water Save’ sal vanaf 08:00 tot 10:00 plaasvind. Die doel van die oefening is om mobiele kommunikasievaardighede te bepaal en te toets ter voorbereiding vir 2010. Antwoord asb. voor of op 18 Desember ten einde te mag deelneem.

Vir meer inligting kontak Chris Gryffenberg, ZS6COG, per e-pos aan zs6cog@gmail.com.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. 'n Klein maar aktiewe sonvlek het Woensdag sy verskyning gemaak. Die sonvlek het 'n voorlopige einde aan die reeks vleklose dae gebring.

20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en in die aande gaan toestande na Europa gematig wees. Kontakte met Nieu-Zeeland en Australië gaan op 15 m vir 'n kort rukkie gedurende die oggende moontlik wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 Desember - ARRL 10 Meterkompetisie;
18 Desember – Sluitingsdatum vir die PEARS-gelukstrekking;
19 Desember - Oefening vir lede van HAMNET Gauteng-Suid, 08:00 tot 10:00;
1 Januarie 2010 - Handsleutelnag met OSCAR’s, 2010;
15 tot 17 Januarie 2010 – PEARS BHF/UHF-kompetisie;
23 Januarie - Tuiskonstruksiekursus in Kaapstad;
31 Januarie – Presidentsnet om 19:30;
28 Februarie - Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor Sumbandilasat;

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003