Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 14 Februarie 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB.(Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

Weens veranderde omstandighede is Craig, ZS6RH, en Nico, ZS6AQ, nie meer in staat om herleidings op die volgende frekwensies te doen nie: 28,325,14,235, 52,750 en 1 296 MHz. Die 438,825-herhaler word nie meer gebruik nie weens ’n verkoelingsprobleem op die hoogliggende standplaas.

Nico het reeds die meeste van sy toerusting van die hand gesit en tree eersdaags in die Kaap af.

Craig studeer nou en het sy stasie dienooreenkomstig verklein.

Ons is baie dankbaar vir Nico en Craig vir die dienste wat hulle vrywillig oor ’n lang tydperk gelewer het, dit word deur almal waardeer. Mag Nico sy aftrede in die aangename Kaap geniet, en aan Craig, sukses met jou studies.

Indien enigiemand beskikbaar en bereid is om die herleiding van die bulletins op bogenoemde frekwensies te behartig, is u welkom om dit per e-pos met Craig, ZS6RH, op te neem. Sy adres is: craigsym@global.co.za.

Vandag verwelkom die nuusspan vir Leon Swart, ZS4V, tans van Grahamstad, wat vrywillig by die nuusspan aansluit. Hy het hierdie bulletin saamgestel. Ons vertrou dat Leon ’n gelukkige en lang verbintenis met die span sal hê.

In die nuus vandag:

PE-TUISKONSTRUKSIEKURSUS GAAN VOORT

NUWE 2 METER-TROPOREKORD

ZS10WCS NUUS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

PE-TUISKONSTRUKSIEKURSUS GAAN VOORT

Ten spyte van die lae aantal inskrywings, het die SARL en John Willescroft, die aanbieder, besluit om wel voort te gaan met die kursus op Saterdag 20 Februarie 2010.

U kan nog tot Dinsdag 16 Februarie 2010 inskryf vir die kursus. Besoek www.sarl.org.za en kies RTA vir inligting en die inskryfvorm.

Die kursus in Durban was net so suksesvol soos dié in Gauteng en Kaapstad. ’n Deelnemer het opgemerk dat hy sy eerste suksesvolle etskringbord die Saterdagmiddag na die kursus kon bou as gevolg van die kennis wat hy vroeër die dag ingewin het.

NUWE 2 METER-TROPOREKORD

Op 9 Februarie 2010 teen ongeveer 21:00 SAST het Andre, ZS2ACP, van Port Elizabeth en Phil, FR5DN, op Réunion-eiland ‘n nuwe rekord-afstand van 3 205 km op 144,401 MHz opgestel, met die gebruik van die JT65b digitale modus. Dit is ‘n nuwe SARL 2 meter-DX digitale rekord. Glenn, ZS2GK, het die opening aan Andre uitgewys en die Hepburn-indeks het ook aangedui dat daar uitstekende toestande oor die Indiese Oseaan was.

Veels geluk aan Andre, ZS2ACP, en Phil, FR5DN, met hierdie grootse prestasie.

ZS10WCS-NUUS

Die ZS10WCS roepsein is nou deel van die ARRL se Logboek van die Wêreld-program. Op Donderdagaand 10 Februarie het Dennis, ZS4BS, 3 588 QSO-rekords opgelaai na die Logboek. Die DXCC-totale staan tans op 61 gemengde entiteite, 39 GG-entiteite, 51 foonentiteite en 13 bevestigde digitale entiteite asook 37 VSA-state bevestig vir die Alle State Gewerk-toekenning.

Op Donderdag 10 Februarie het ZS10WCS ook gekwalifiseer vir die SARL se Alle ZS Gewerk-toekenning.

Tans kan SARL se elektroniese QSL’s vir Oktober 2009 nie bevestig word nie, omdat daar nog geen logstaat ontvang is nie.

ITU DIGITALISEER HISTORIESE ARGIEWE

Op 11 Februarie het die Internasionale Telekommunikasie-unie (ITU) die projek, Geskiedenis van die ITU, bekend gestel. Die program se oogmerk is om die ITU se argiewe van historiese dokumente te digitaliseer sodat toegang tot inligting verbeter kan word, en om die evolusie van die unie te karteer sedert sy ontstaan in 1865. Sodoende sal historiese dokumentasie beskerm word en inligting vryelik toeganklik gemaak word. Die digitalisasieprogram katalogiseer dokumente deurlopend en sleuteldokumente en besluite van belangrike konferensies word ingelees sodat dit op die Web beskikbaar is.

Danksy optiese karakterherkenning (OKH) is sulke dokumente ten volle deursoekbaar. Dokumente van die ITU se Uitvoerende Konferensies en ander uit die ouer dae van radio-, telegraaf- en telefoonkonferensies – is nou danksy hierdie projek beskikbaar. Die webblad bevat ook agtergrondinligting, belangrike data en skakels na dokumente en ander materiaal van elke konferensie. Die digitalisasieprogram sal aanhou om dokumente van historiese belang beskikbaar te stel, insluitende dié van Radiokommunikasiekonferensies sedert 1903.

NUWE DATUM VIR SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM

Weens skool- en universiteitsvakansies, asook die beskikbaarheid van die Direkteur-Generaal van die Departement van Wetenskap en Tegnologie, wat die geleentheidspreker is, is die datum van die SA Amsat-simposium verander na Saterdag 17 April 2010. Die sluitingsdatum vir sprekers om aanbiedingsvoorstelle in te dien, is ook verander. Registrasie vir die konferensie open volgende week. Besoek www.amsatsa.org.za vir verdere inligting.

BACAR-LANSERING IN DIE WES-KAAP

BACAR se 2010-lansering in Januarie in die Wes-Kaap is op die nippertjie uitgestel weens ’n misverstand aangaande ’n lugverkeersreel.

Tydens ’n opvolgnavraag by Lugverkeerbeheer en Navigasiedienste in Gauteng, het ’n senior beampte bevestig dat BACAR as ’n klein onbemande ballon of weerballon geklassifiseer word. Ingevolge internasionale regulasies mag enigiemand ’n weerballon in Suid-Afrika lanseer. Geen permit of ander dokument word benodig nie. Geen toestemming of kontak met LVB is nodig nie, solank die ballon aan sekere grootte- en gewigsbeperkinge voldoen, soos wat die geval met BACAR is.

BACAR gaan steeds vanjaar in die Wes-Kaap gelanseer word. Twee moontlike datums word oorweeg, 9 Mei of 25 Julie, na die PIC-kursus in Kaapstad of die RTA. Die finale datum sal eersdaags aangekondig word.

2010-PIC-KURSUSSE – BESPREKINGS OPEN

Inligting oor die 2010 PIC-kursusse is nou onder RTA op die SARL se webtuiste beskikbaar. Die kursus sal in Kaapstad, Port Elizabeth, Durban en Gauteng aangebied word. Elke kursus word beperk tot 20 deelnemers.

SARL- NASIONALE KONVENSIE

Het u al geregistreer vir die SARL- Nasionale Konvensie, aangebied deur die Port Elizabethse Amateurradioklub, in Port Elizabeth? Meer inligting is beskikbaar by www.sarl.org.za. Die konvensie vind plaas van 23 tot 25 April, dieselfde naweek as die Ystermankompetisie. Port Elizabeth gaan ‘n besige plek wees!

KLUBNUUS

Op Dinsdag 9 Feb 2010 tydens `n klubvergadering is die nuwe bestuur van ZS6JVT, die radioamateurklub van Die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster, verkies.

Die nuwe komitee sien soos volg daar uit:
Voorsitter: Jan Smit, ZU6JAN
Ondervoorsitter: Morne Coetzer, ZR6RC
Sekretaris: Gideon Grobler, ZU6GG
Penningmeester: Phillip Cronje, ZS6JPC
RAE-opleiding: Phillip Cronje, ZS6JPC
Projekte: Phillip Cronje, ZS6JPC
Jeugkoördineerder: Johann du Plessis, ZS6PSS

Die nuwe komitee het sy dank uitgespreek teenoor die ou komitee wat vir drie jaar die leiding geneem het. Die klub beplan ’n snuffelmark in Mei by Die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster se Radio-opleidingsentrum, om ZS6JVT aan die breër amateurgemeenskap bekend te stel.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die Solar Dynamic Observatory gedurende die week gelanseer is. Dit is die begin van 'n vyfjaarsending om die wispelturigheid van ons son te ondersoek. Dit sal ons kennis van die son verbreed en ook hoëkwaliteitbeelde van ons ster na die aarde stuur. Die sonaktiwiteitsvlak is steeds laag. Tans is sonvlek 1 045 besig om te kwyn, maar sonvlek 1 046 is besig om te groei. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week is tussen 30 en 35. Inderdaad goeie nuus!

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa gematig wees. Gedurende die oggend een smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik te wees. Gedurende die middae is daar goeie kanse vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

13 en 14 Februarie – SARL Nasionale Velddag.
20 Februarie – tuiskonstruksiekursus in Port Elizabeth.
28 Februarie – sluitingsdatum vir die SumbandilaSat-opstelwedstryd.
28 Februarie – laaste datum om inskrywings in die ARRISS-SAT-projek in te dien na youth@sarl.org.za.
5 Maart – sluitingsdatum vir die Tinus Lange-toekennings.
31 Maart – SARL-80-m-klubkompetisie met PSK en RTTY.
17 April – 2010- SA AMSAT-ruimtesimposium.
23-25 April – SARL -Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “ARMI” en volg die skakels. ‘n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Leon, ZS4V/2 saamgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003