Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 21 Februarie 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB.(Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Ons kondig met leedwese aan dat Graeme Gathercole, ZS2OD, van Port Elizabeth op Saterdag 13 Februarie die lewe gelaat het tydens herstel na ’n heupoperasie. Ons innige meegevoel aan sy twee dogters Dianne and Glynis, ander familie en vriende, in besonder die BHF-gemeenskap.

(POUSE)

In die nuus vandag:

VOLGENDE SONDAG SE INTEGNET FOKUS OP SA-SATELLIETE, INDIEN WAT?

EERSTE SUID-AFRIKA NA REUNION 70 cm QSO

HOE OM INDRINGERSTASIES IN ONS BANDE TE RAPPORTEER

EMV-STANDAARDE NOU GEPUBLISEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

VOLGENDE SONDAG SE INTEGNET FOKUS OP SA-SATELLIETE, INDIEN WAT?

Volgende Sondag span die SARL en SA AMSAT tydens Integnet saam in ’n bespreking aangaande die aard van loonvragte wat radioamateurs sou verlang wat ingesluit moet word in een of meer toekomstige Suid-Afrikaanse satelliete indien hulle weer ’n geleentheid daarvoor gebied sou word.

Die Departement van Wetenskap en Tegnologie is vennoot in die Afrika Konstellasie van Satellietprojekte bekend as African Resource and Environmental Management Constellation (ARMC). Uit ’n Afrikaperspektief sal dit ’n uitstekende geleentheid wees om ’n amateurloonvrag in te sluit wat amateurradio op die vasteland sal stimuleer.

Julle radioamateurs word uitgenooi om gedurende die bespreking te praat oor wat julle idees is oor waaruit so ’n loonvrag behoort te bestaan. Die satelliet sal heel waarskynlik in ’n lae polêre baan, soortgelyk as die van SumbandilaSat, wees.

Die Universiteit van Tegnologie van die Kaapse Skiereiland is besig om ’n 3-vlak Cubesat te bou. Kan hulle dalk oorgehaal word om ’n amateurloonvrag in te sluit? En, indien wel, wat moet dit wees?

U kan u deelname vooraf registreer deur ’n kort opsomming aangaande u idees te stuur aan armi@sarl.org.za. U sal dan gedurende die eerste helfte van die program ingeroep word. Die tweede helfte is oop vir andere om aan die bespreking deel te neem deur middel van lokale herhalers.

Klubs wat verlang dat hulle herhalers aan die telekonferensienetwerk gekoppel moet word, moet nie later nie as Woensdag 24 Februarie hulle besonderhede stuur aan armi@sarl.org.za.

Moenie hierdie interessante bespreking volgende Sondag om 19:30 misloop nie. Dit sal ook d.m.v. Echolink en webcast gevolg word.

EERSTE SUID-AFRIKA NA REUNION 70 cm QSO

Om 16:48 UTC op Woensdag 10 Februarie het Derek Gravett, ZS5Y, in Scottburgh en Phil Mondon, FR5DN, die eerste ooit QSO op 70 cm tussen Reunion en Suid-Afrika oor ’n distansie van 2 655 km voltooi. Die kontak was gemaak met gebruik van JT65B. Daarna het Derek en Phil ook d.m.v. ESB kontak gemaak met seinrapporte van 41 en 55.

Veels geluk aan Derek, ZS5Y, en Phil, FR5DN, met hierdie prestasie.

Die vorige aand, ongeveer ’n uur nadat Andre, ZS2ACP, en Phil hul historiese kontak van 3 205 km gemaak het, het Dave, ZS5DJ, van Ramsgate, Lee, ZS5LEE, in Durban en Derek, ZS5Y, ook met Phil d.m.v. JT65B kontak gemaak. Beide Lee en Derek het ook daarin geslaag om met Phil d.m.v. ESB kontak te maak. Die Hepburn Tropo-Index het uitstekende tropotoestande oor die Indiese oseaan vir daardie tydperk voorspel.

HOE OM INDRINGERSTASIES IN ONS BANDE TE RAPPORTEER

Die SARL ontvang baie klagtes oor stasies wat nie gemagtig is om die amateurbande te gebruik nie. Dit sluit seerowers, vragmotorbestuurders en uitsaaistasies in.

Om die klagtes suksesvol te hanteer, word die volgende inligting verlang: tye op die lug, frekwensies en ’n moontlike identifikasie. Indien dit ’n uitsaaistasie is, die naam van die stasie, ligging ens. plus ’n klankopname in MP3-formaat. M.a.w. so veel inligting as moontlik word benodig en ’n klankopname is absoluut noodsaaklik.

Die IARU bedryf ’n wêreldwye moniteringsdiens genoemd IARUMS afgekort van “International Amateur Radio Union Monitoring Service”. Die SARL verskaf inligting aan die stelsel en waar moontlik rapporteer verskeie lede van IARUMS hierdie voorvalle aan hulle nasionale moniteringsdiens wat dit dan op ’n vlak van Goewerment na Goewerment opneem.

Indien indringing van ’n lokale bron is, soos byv. van ’n vervoermaatskappy, wat onwettig binne die 20 m-band bedryf, sal die SARL dit met OKOSA opneem. Deur te luister en ’n opname van die gesprek te maak, kan vasgestel word aan watter instansie die voertuig behoort en kan die nodige stappe gedoen word. Ons was al in die verlede suksesvol. Dit vereis egter baie monitering ten einde al die benodigde inligting te bekom.

Rapporteer enige indringing per e-pos aan secretary@sarl.org.za maar maak seker dat die verlangde inligting, sowel as ’n MP3-opname ingesluit is. Laat ons ons bande skoon hou van indringers. Met u hulp kan ons vêr vorder.

NOG ’n SUPER UITGAWE VAN RADIO ZS IN DIE POS

Lede sal binnekort ’n volgende kopie van Radio ZS ontvang wat van voor tot agter met interessante artikels volgepak is. Dit sal ook gedurende die naweek op die webwerf verskyn.

In ’n artikel deur Peter Tottle, ZS2ABF, skryf hy wat D-Star is. John Green, ZS1JHG, beskryf hoe om self ’n antenna-analiseerder te bou. , Eddie Leighton, ZS6BNE, gee ’n oorsig van die satellietscenario terwyl Ean Retief, ZS1PR, skryf oor "die S-meter- 'n groot leuenaar". Maar dit is nie al nie. Daar is ook “Amateur Radio - the most versatile hobby on earth”, “Awesome Amateur Radio” deur Victor P du Preez, ZS6EA, ’n artikel oor toekennings en die gereelde inset oor die museum en amateurradio deur ZS6AAW.

EMV-STANDAARDE NOU GEPUBLISEER

OKOSA het ’n lys van EMV-standaarde in die Staatskoerant van 22 Januarie 2010 gepubliseer. Dit beteken dat immuniteitsvereistes verpligtend sal wees op alle elektroniese produkte vanaf 22 Januarie 2011.

SARL-lede kan ’n afskrif uit die ledegedeelte van die SARL se webwerf aflaai. Die dokument bestaan uit twee afdelings. Afdelings 1 – 9 bevat die wetlike aspekte en besonderhede van die struktuur terwyl Afdeling 10 die offisiële lys is van OKOSA se Regulerende Standaarde vir tegniese toerusting en elektroniese kommunikasiefasiliteite.

Vanoggend (Sondagoggend) om 10:00 in die program Amateur Radio Mirror International, sal daar ’n bespreking wees met Eric Winter van EMC Assist, ’n raadgewende maatskappy wat in EMV-aangeleenthede spesialiseer. Frekwensies en uitsaaitye word aan die einde van hierdie bulletin aangegee, of besoek www.sarl.org.za en klik op ARMI.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat daar sedert 2004, 772 dae sonder sonvlekke was. Tipies is daar slegs 485 dae sonder sonvlekke gedurende 'n sonvleksiklusminimum. Ons het dus 'n baie lang en diep minimum beleef. Die goeie nuus is dat daar sovêr gedurende 2010 net 2 dae sonder sonvlekke was. Die sonaktiwiteitsvlak is steeds laag. Tans is sonvlek 1 049 besig om sy ding te doen alhoewel dit maar 'n klein sonvlekkie is. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week sal ongeveer 20 wees.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa gematig wees. Gedurende die oggende en smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik te wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 Februarie – Integnet om 19:30 oor wat loonvragte kan wees vir moontlike toekomstige Suid-Afrikaanse satelliete.
28 Februarie – sluitingsdatum vir die SumbandilaSat-opstelwedstryd.
28 Februarie – laaste datum om inskrywings in die ARRISS-SAT-projek in te dien na youth@sarl.org.za.
5 Maart – sluitingsdatum vir die Tinus Lange-toekennings.
31 Maart – SARL-80-m-klubkompetisie met PSK en RTTY.
17 April – 2010- SA AMSAT-ruimtesimposium.
23-25 April – SARL -Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “ARMI” en volg die skakels. ‘n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003