Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 28 Februarie 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ‘ARMI’ en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB.(Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

WEN ’n MICROCHIP PICDEM TOUCH SENSE 1 ONTWIKKELINGSBORD EN DIAGNOSTIESE GEREEDSKAP IN DIE 2010 KONSTRUKSIEKOMPETISIE

LEER BINNE VIER UUR HOE OM ’n PIC-MIKROBEHEERDER TE PROGRAMMEER

SLEGS 5 DAE OOR OM VIR DIE TINUS LANGE TOEKENNINGS IN TE SKRYF

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

WEN ’n MICROCHIP PICDEM TOUCH SENSE 1 ONTWIKKELINGSBORD EN DIAGNOSTIESE GEREEDSKAP IN DIE 2010 KONSTRUKSIEKOMPETISIE

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust wag inskrywings in vir die 2010 konstruksiekompetisie wat hierdie jaar anders is. Daar word uitgesien na ’n innoverende benadering tot ’n konstruksieprojek met aanwending in amateurradio wat gebaseer is op mikroskyfietegnologie.

’n PICDEMT Touch Sense 1 ontwikkelingsbord en diagnostiese gereedskap en ’n PICkit 2-boustel, van Microchip, sowel as ’n ARRL-handboek sal aan die algehele wenner toegeken word.

Die kompetisie strek oor drie stadiums. Stadium 1 is die voorlegging van ’n ontwerp op papier waarin die deelnemer die ontwerp van sy keuse, en die werking daarvan, kortliks beskryf. ’n Kringdiagram moet ingesluit word. Die ontwerp moet op die gebruik van ’n mikroskyfie gebaseer wees. Die sluitingsdatum vir stadium 1 is 31 Maart 2010.

Drie inskrywings, wat volgens die opinie van die beoordelaars die mees oorspronklike is, gekoppel aan hul bruikbaarheid in amateurradio, sal elk R500 ontvang vir die bou van ’n prototipe vir inskrywing in die tweede stadium van die kompetisie.

Die inskrywing in die tweede stadium moet ’n volledig saamgestelde, werkende eenheid wees. Dit moet vergesel wees van al die benodigde papierwerk sowel as ’n artikel met kringdiagram en illustrasies geskik vir publikasie in Radio ZS.

Die sluitingsdatum vir stadium 2 is 7 Mei 2010. Volle besonderhede en inskrywingsvorm vir stadium 1 kan gevind word op www.amateurradio.org.za.

LEER BINNE VIER UUR HOE OM ’n PIC-MIKROBEHEERDER TE PROGRAMMEER

Om by PIC-mikrobeheerders te bly, die SARL het sy PIC-kursus volledig hersien en opgedateer en sal dit in Gauteng, Port Elizabeth, Durban en Kaapstad aanbied. Die hersiene kursus is uitstekend vir beginners in die programmering van mikrobeheerders en ook ideaal as ’n opknappingskursus vir hulle wat reds besig is om met PIC’s te bou.

Die kursusfooi sluit onderrig, benodigde programmatuur op ’n laserskyf, ’n demonstrasiebord volledig met ’n PIC, ’n programmeringsprogram vir die PIC en twee projekborde wat gekies kan word wanneer vir die kursus ingeskryf word. ’n USB-programmeerder is teen geringe ekstra koste vir kursusgangers beskikbaar.

Die eerste kursus sal op 13 Maart 2010 by die NARS aangebied word. Besprekings kan nou gedoen word. ’n Maksimum van 20 persone kan by elke kursus geakkommodeer word, moet dus nie uitstel nie.

Verkry volle besonderhede en ’n inskrywingsvorm by www.sarl.org.za, klik op RTA en volg die koppelings.

INTEGNET VANAAND

Die eerste Integnet vir 2010 sal vanaand, Sondag 28 Februarie, om 19:30 op die lug wees. Die bespreking sal gaan oor wat in ’n amateurloonvrag behoort te wees indien daar ’n geleentheid met toekomstige Suid-Afrikaanse satelliete sou opduik. Sluit by die bespreking aan deur een van die herhalers of luister daarna deur Echolink of deur die uitsending op die web deur Chris Smit, ZS6FCS. Verkry al die besonderhede by www.sarl.org.za en klik op armi.

SLEGS 5 DAE OOR OM VIR DIE TINUS LANGE TOEKENNINGS IN TE SKRYF

Die SARL se Tinus Lange 7066-Tegniese Uitmuntendheidstoekenning en die Tinus Lange 7066-Junior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning word jaarliks toegeken aan persone wat ‘n tegniese projek in een van die volgende kategorieë inskryf:

Ontwerp- en/of konstruksie van projekte soos ’n voorversterker, SGV-brug, koppeleenheid, outomatiese ID-identifiseerder, praktiese antenna-idees, maste, draagbare toerusting, kragbronne, ens.

Die projek wat u vir u ARK (amateurradiokamer) gebou het, kan ‘n goeie inskrywing wees;

OF

enige programmatuur vir gebruik in amateurradio.

Die inskrywing moet die volgende insluit: Die item sélf (as grootte en massa dit toelaat) of foto’s (veral in die geval van antennas en maste) en ‘n volledige beskrywing in ‘n artikel met illustrasies en/of foto’s, gereed vir plasing in Radio ZS. Die artikel moet in MS Word wees.

Die fisiese item en die ondersteunende dokumentasie, m.a.w. die persgereed-artikel vir Radio ZS en enige ander dokumentasie moet gelewer en/of gepos word na die NARS om dit nie later as Vrydag 5 Maart 2010 te bereik nie. Die beoordeling vind die oggend van Saterdag 6 Maart plaas.

Alle inskrywings sal vertoon word (waar praktiese moontlik, of andersins foto’s) by die AJV en die toekennings sal tydens die jaarlikse dinee op Saterdag 24 April 2010 in Port Elizabeth gemaak word.

Die twee toekennings is die Junior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning (onder 25 jaar), ’n geraamde sertifikaat en ’n kontantbedrag van R500 en vir die Senior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning – ’n geraamde sertifikaat en ’n kontantbedrag van R500. Die wenners sal ook elk ’n ARRL-logboek ter waarde van R75, geborg deur die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust, ontvang asook ’n komplimentêre uitnodiging vir een persoon om die toekenningsdinee by te woon (vervoer nie ingesluit nie).

KOMPETISIENUUS

Geluk aan Pierre, ZS6BB, wat weer die hoogste punte in die Antieke Draadloosvereniging se GG-aktiwiteitsdag behaal het. Weereens het Pierre sy vaardigheid getoon deur nie net die meeste kontakte te maak nie, maar deur van QRP gebruik te maak om die meeste punte te behaal.

Die uitslae is as volg:
ZS6BB, Pierre - 48 punte
ZS4JAN, Jan - 34 punte
ZS1TTZ, Adrian -11 punte

Daar het 27 stasies aan die aktiwiteit deelgeneem. Baie dankie aan al die deelnemers.

Die jaarlikse SARL HAMNET 40 Meter Gesimuleerde Noodkompetisie sal vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op Sondag 7 Maart op die lug wees. Dit is 'n foon alleen kompetisie met werking in die bandgedeelte 7,060 tot 7,100 MHz.

Radioamateurs in Suider-Afrika word genooi om deel te neem as 'n enkeloperateur stilstaande mobiele stasie, 'n enkeloperateur draagbare stasie, 'n multi-operateur draagbare stasie of 'n enkeloperateur basisstasie. 'n RS.-verslag en 'n reeksnommer wat bepaal word deur die klas van deelname word uitgeruil.

Die RSGB Gemenebes Kompetisie is op die lug die naweek van 13 en 14 Maart en dit is 'n GG-alleen kompetisie.

Die SARL BHF/UHF Digitale Kompetisie begin om 16:00 UTC op Vrydag 19 Maart met die eerste sessie wat om 12:59 UTC op Saterdag 20 Maart eindig. Die tweede sessie begin om 13:00 UTC op Saterdag en eindig om 12:00 UTC op Sondag 21 Maart.

Die SARL BHF/UHF Analoogkompetisie begin om 10:00 UTC op 20 Maart en eindig om 10:00 UTC op 21 Maart.

Die reëls vir die SARL Hamnet 40 meter kompetisie en die SARL-BHF/UHF-Kompetisies kan gevind word in die 2010 SARL Kompetisiehandboek.

KLUBNUUS

Die volgende snuffelmark van die Pretoria Amateurradioklub vind op Saterdag 27 Maart 2010 om 08:00 by die Pretoria Motorklub in Silverton Plaas. Dit begin om 08:00 en kan tot 11:00 duur. Vir verdere inligting, of 'n tafelbespreking, skakel Almero du Pisani, ZS6LDP, by 082 908 3359 of stuur 'n e-pos aan almero@up.ac.za.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat daar in 2009, 260 dae sonder sonvlekke was. Sovêr, gedurende 2010, was daar net 2 dae sonder sonvlekke gewees. Die sonaktiwiteitsvlak is steeds laag. Tans doen die matige sonvlekke 1 050 en 1 051 hulle ding vir HF-kommunikasie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week sal minder as 20 wees.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Gedurende die oggende en smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik te wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m het weer van sy glorie herwin en daar kan gedurende daglig goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 Februarie – Integnet om 19:30 oor wat loonvragte kan wees vir moontlike toekomstige Suid-Afrikaanse satelliete.
28 Februarie – sluitingsdatum vir die SumbandilaSat-opstelwedstryd.
28 Februarie – laaste datum om inskrywings in die ARRISS-SAT-projek in te dien na youth@sarl.org.za.
5 Maart – Laaste dag vir inskrywings vir die Tinus Lange-toekennings.
7 Maart - SARL HAMNET 40 m gesimuleerde noodkompetisie, 12:00 tot 14:00 UTC.
13/14 Maart – RSGB Gemenebes GG-alleen kompetisie.
19/21 Maart - SARL BHF/UHF Digitale kompetisie.
20/21 Maart - SARL BHF/UHF Analoogkompetisie.
27 Maart - Snuffelmark van die Pretoria Amateurradioklub om 08:00.
31 Maart – SARL-80 m-klubkompetisie met PSK en RTD.
31 Maart – Sluitingsdatum vir stadium 1 van konstruksiekompetisie.
17 April – 2010- SA AMSAT-ruimtesimposium.
23-25 April – SARL -Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.
7 Mei - Sluitingsdatum vir stadium 2 van konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “ARMI” en volg die skakels. ‘n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel en geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003