Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 2 MEI 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

DRIE URE NAELLOOP OM DIE 85STE HERDENKING VAN DIE SARL TE VIER

SUMBANDILASAT GOU TERUG IN AMATEURRADIOMODUS

LASTE KANS VIR NOMINASIES VIR DIE NOKIA-SIEMENS AMATEURRADIOTOEKENNINGS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

DRIE URE NAELLOOP OM DIE 85STE HERDENKING VAN DIE SARL TE VIER

Op Sondag 16 Mei, 4 dae voor die werklike dag, sal ’n drie uur lange naelloopkompetisie die stigting van die SARL op 20 Mei 1925, 85 jaar gelede, herdenk. Die spesiale roepsein, ZS85SARL, sal ook vir die eerste keer tydens die kompetisie gebruik word.

Die Naelloop sal vanaf 12:00 tot 15:00 UTC (14:00 tot 17:00 SAT) op die 20, 40 en 80 meter bande gehou word. Daar is baie pryse om te wen vir individuele prestasies, asook ’n gelukkige trekking vir ’n ARRL Handboek vir alle logs met meer as 10 kontakte in. Daar is ’n ARRL Handboek vir die deelnemer onder 18 met die hoogste telling op die dag van die kompetisie.

’n Spesiale 85ste Herdenking QSL-kaart sal ook beskikbaar wees vir stasies wat ZS85SARL werk.

Volle besonderhede is beskikbaar by www.sarl.org.za en is gepubliseer in SARL HF Happenings.

SUMBANDILASAT GOU TERUG IN AMATEURRADIOMODUS

SA AMSAT het aangekondig dat SumbandilaSat eersdaags weer in amateurradiomodus beskikbaar sal wees. Tans sal Sunspace CTR2 herprogrammeer met ’n regstelling vir die SA AMSAT PTT-probleem. Dit word verwag dat dit teen middel Mei voltooi sal wees.

Die WNNR se satelliettoepassingsentrum by Hartebeeshoek sal in die toekoms die programmering van die amateurradioloonvrag hanteer. SA AMSAT sal saam met STS werk om operasionele versoeke te koördineer. Meer besonderhede oor hoe om ’n operasie te rig sal binne die volgende twee weke bekend gemaak word en gepubliseer word by www.amsatsa.org.za.

As ’n vroeër kennisgewing, begin met jou beplanning om werking met SumbandilaSat by jou jeugdagaktiwiteite in te sluit.

LASTE GELEENTHEID VIR NOMINASIES VIR DIE NOKIA-SIEMENS AMATEURRADIOTOEKENNINGS

Die finale sluitingsdatum vir nominasies is teen sluiting van besigheid op Maandag 3 Mei. Daar is drie toekennings: die Garth Milne-toekenning vir tegniese innovasie; die Radioamateur van die Jaar-toekenning vir die bevordering van amateurradio en die Amateurradio Gemeenskapsdienstoekenning. Volle besonderhede is beskikbaar by www.amateurradio.org.za. Die wenners sal hulle toekennings tydens ’n galadinee op 17 Mei ontvang. Die gasspreker is Clem Sunter.

LAASTE GELEENTHEID OM VIR DIE PIC-KURSUS IN KAAPSTAD IN TE SKRYF

Wil u leer hoe om ’n PIC-mikrobeheerder binne 4 uur te programmeer? Hier is die laaste geleentheid om u plek vir die kursus in Kaapstad op 8 Mei 2010 te bespreek. Die kursusfooi is R300 vir lede en R450 vir nie-lede. Die kursus sluit ’n CD, ’n leerderbord en ’n hele aantal ander nuttige items in wat in waarde meer as die kursusfooi is. Dit is moontlik gemaak as gevolg van die borgskap deur Microchip. Elke kursusganger ontvang ook ’n sertifikaat van Microchip.

Die sluitingsdatum vir inskrywing is om middernag, Maandag 3 Mei. Geen laatinskrywings kan aanvaar word nie. Volle besonderhede is op www.sarl.org.za, klik op RTA en volg die koppelings.

RADIO ZS VOLGENDE WEEK IN DIE POS

Radio ZS sal volgende week gepos word en sal die naweek op die web beskikbaar wees. Dit is weer gevul met interessante leesstof. Victor du Preez, ZS6EA, deel sy gedagtes oor Amateurradio – die mees veelsydige stokperdjie in die wêreld – in Proudly Amateur Radio. Andre Botes ZS2ACP, se wenprojek vir die Tinus Lange Tegniese uitmuntendheidstoekenning word volledig gedek in ’n artikel getiteld ”The PW MEON 70 MHz Transverter revisited". Kry meer inligting oor die WIA Eeufeestoekenning, lees meer van die nuwe antenna aan boord die internasionale ruimtestasie, Radioamateurs met hul visiere op 500 kHz en die G3EJS 2-aanpasser deur Steve Warwick-Oliver, G3EJS / ZS5WO. Daar is ook die gereeldes: Amateurradio in die Ruimte, die Museum-kolom en meer interessante items.

As u nog nie ’n lid is nie, ontvang ’n proefeksemplaar deur ’n versoek te stuur aan armi@sarl.org.za met RZS April 2010 in die onderwerplyn.

ZS10WCS VANAF GAUTENG/MPUMALANGA

Gedurende Mei gaan die Rietkol Amateurradioklub van Gauteng/Mpumalanga die Wêreldbekersokker spesiale geleentheidstasie, ZS10WCS, bedien. Luister uit en werk die stasie.

Die Noordkaap Amateurradioklub word bedank vir hulle bediening van die stasie gedurende April.

KOMPETISIENUUS

Geoff Levey, ZS6GRL, is aangestel as die SARL se Kompetisiebestuurder en sal SARL asook klubkompetisies op HF- en BHF-koördineer.

Die jaarlikse ZS3 Naelloop word vanmiddag vanaf 14:00 tot 15:00 UTC gehou. Hierdie is ’n pretaktiwiteit om kontakte tussen radioamateurs in die Noord-kaap en lande in Suider-Afrika te bevorder. Dit is ’n foon- en GG-kompetisie in die 40 meter band. ’n RS(T) verslag en die provinsiale of landsafkorting word uitgeruil.

Logstate moet binne 15 dae na die kompetisie versend word aan ZS3 Naelloop, Posbus 1049, Kathu, 8446 of per e-pos aan zs3tg[by]vodamail[punt]co[punt]za. Die sluitingsdatum vir logstate is 17 Mei 2010. ’n Sertifikaat sal toegeken word vir die 1ste, 2de en 3de plekke in die kompetisie.

Die Antieke draadloosvereniging se Buis QSO-geselligheid word oor die naweek van 8 en 9 Mei gehou en sal tussen 13:00 tot 17:00 UTC op beide dae op die lug wees. Die AM QSO-geselligheid word op Saterdag 8 Mei gehou en die ESB QSO-geselligheid op Sondag 9 Mei. Kompetisiewerking geskied op 40 m - 7 053 tot 7 100 kHz en op 80 m - 3 603 tot 3 650 kHz. ’n Roepsein, RS en ’n opeenvolgende reeksnommer asook die tipe radio gebruik, bv., HT37 Tx word uitgeruil. Die puntetelling is soos volg – Alle buisradios - 3 punte per kontak; baster (buis en soliede staat) - 2 punte per kontak en soliede staat radios - 1 punt per kontak.

Logstate moet gestuur word aan die Suider-Afrikaanse Antieke Draadloosvereniging, Posbus 12320, Benoryn,1504 of per e-pos aan andy[punt]cairns[by]xsinet[punt]co[punt]za. Die sluitingsdatum vir logstate is 28 Mei 2010. Sertifikate sal toegeken word vir die eerste 3 plekke in elke afdeling.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Die mikrosonvlek 1 063 dra nie veel by nie. Daar was amptelik vir meer as dertien opeenvolgende dae geen sonvlekke nie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan tussen minder as 10 wees. NASA se "Solar Dynamics Observatory" doen veel meer as net om hoë kwaliteit foto's van die son te neem. Dit onthul ons ster as 'n plek met ongelooflike en somtyds ruimtelike prag. Gaan kyk na die beelde by www.spaceweather.com.

15 m is die beste keuses vir DX gevolg deur 17 en 20 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan in die oggende om ongeveer 08:00 vir 'n kort rukkie moontlik wees. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m is baie bruikbaar gedurende die dag en goeie kontakte kan oor die langer afstande gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse. Met die seisoensverandering is die geraasvlakke ook besig om te daal. 160 m behoort ook binnekort goeie kontakte op te lewer.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
Vandag – ZS3 Naelloop;
3 Mei – Sluitingsdatum vir Nokia-Siemens Amateurradiotoekennings;
3 Mei - Sluitingsdatum vir inskrywings vir PIC-programmeringskursus in Kaapstad op 8 Mei;
7 Mei - Sluitingsdatum vir Fase 2 van Konstruksiekompetisie;
8 Mei - Tegnologiese Hoërskool John Vorster Amateurradioklub se snuffelmark;
8 en 9 Mei – Antieke Draadloosvereniging se Buis QSO-geselligheid;
16 Mei – SARL se 85ste Herdenkingsnaelloop, 12:00-15:00 UTC;
29 Mei - RTA-simposium in Durban;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek;
18 September - RTA-simposium in Gauteng;
30 September – sluitingsdatum vir fase 1 van die innovasieprojek.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Ek kan nie met sekerheid sê of dit al voorheen gebeur het nie, maar dit is uniek dat die bulletin waarna U geluister het deur ’n President van die SARL opgestel is. Nadat ek Dennis, ZS4BS, gister tydens ’n telefoonoproep met sy verkiesing tot President gelukgewens het, moes ek hom meedeel dat ek hom ongelukkig as bulletinopsteller “fire”. Dennis baie dankie vir jou diens wat jy ook as lid van die nuusspan gelewer het, maar, jy kan natuurlik nog steeds bydraes lewer. Die nuusspan wens jou ’n suksesvolle en vrugbare dienstermyn as President toe en wees verseker van ons ondersteuning. (Woorde van George, ZS6NE.)

Dankie aan al die luisteraars dat u saamgeluister het.

73, tot volgende Sondag.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003