Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – Sondag 30 MEI 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)


In die nuus vandag:

HET JY, OF JOU KLUB AL REËLINGS GETREF OM AMATEURRADIO OP 16 JUNIE 2010 ONDER DIE JEUG TE BEVORDER?

FRANSE QSL-RAAISEL OPGELOS

LUISTER NA AMATEURRADIO VANUIT DIE VERRE RUIMTE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

HET JY, OF JOU KLUB AL REËLINGS GETREF OM AMATEURRADIO OP 16 JUNIE 2010 ONDER DIE JEUG TE BEVORDER?

Klubs en individuele radioamateurs word aangemoedig om stasies op te rig in openbare plekke soos winkelsentrums om Jeugdag 2010 te vier. Dit is ‘n uitstekende geleentheid om amateurradio bekend te stel as die grootste van alle wetenskaplike stokperdjies en is ‘n unieke geleentheid om jongmense aan te moedig om toe te tree tot ’n loopbaan in elektronika en kommunikasie.

In verlede week se SARL-nuusbulletin het Gerhard Coetzee, ZS3TG, dit juis uitgewys dat, met die Wêreldbeker in volle swang en skole gesluit, radio-amateurs ‘n gulde geleentheid het om Jeugdag op 16 Junie te vier met die SARL-naelloop en sodoende die jeug van Suid-Afrika bloot te stel aan amateurradio met die gebruik van die stasies.

Talle pryse kan gedurende die naelloop opgeraap word en daar is ‘n gelukstrekking vir dié deelnemers wat logstate met ten minste 10 inskrywings daarop indien.

Klubs wat van plan is om stasies op te rig word versoek om hul inligting deur te stuur na armi@sarl.org.za vir insluiting in mediavrystellings wat deur die SARL se PIO-netwerk gehanteer sal word.

Volledige inligting is op www.sarl.org.za se tuisblad beskikbaar. Klik op “youth activity”.

Nooi jongmense gerus in u radiostasie in en laat hulle toe om die toerusting onder u toesig te gebruik.

FRANSE QSL-RAAISEL OPGELOS

Vroeër in die jaar is ‘n besending QSL pakkies na Buro’s oorsee gestuur – ook een vir Frankryk. Kort daarna het Suid-Afrikaanse radioamateurs van die “Franse” kaarte begin terugkry. Hierdie raaiselagtige verskynsel is nou opgeklaar en die saak is met Die Poskantoor opgeneem.

Dit blyk dat, gedurende die staking deur Die Poskantoor se personeel, van die stakers een van die QSL-pakkies oopgebreek het – waarskynlik op soek na iets waardevols. Gelukkig het die Franse buro die leë verpakking aan ons teruggestuur wat dan bevestig dat die SARL se QSL-buro se vermoedens korrek was.

Ons wil hiermee ons spyt uitspreek vir die nalatigheid van Die Poskantoor en wag tans hulle terugvoer af.

Die QSL-buro het alreeds veranderings aangebring met die gebruik van verpakkingsmateriaal om dit moeiliker te maak om pakkies oop te breek. Die Buro het egter geen beheer oor die wanpraktyke van die personeel van Die Poskantoor nie – iets wat blyk ‘n algemene klagte te wees!

LUISTER NA AMATEURRADIO VANUIT DIE VERRE RUIMTE

‘n Informele netwerk amateurradionavorsers, wetenskaplikes en GG-entoesiaste genaamd FlyVenusCom – ‘n niewinsgewende, kruiskulturele poging – is gestig om die kommunikasiepogings van Japanese wetenskaplikes met hul CubeSat Venussending, UNITEC-1, te ondersteun.

UNITEC-1 is ontwikkel deur 20 universiteite van die Universiteite Ruimte-Ingenieurs-Konsortium (UNISEC), die Japanese gemeenskap wat die nano-satelliete ontwikkel, Die Japanese UNITEC-1-span het ‘n beroep gedoen op amateurradio wêreldwyd om hulle by te staan met die verbetering en toetsing op twee gebiede van hul CubeSat-sending:

• Tegnologieë om baie swak en lae greeptempo seine wat vanuit die diep-ruimte afkomstig is, op te vang en te dekodeer, en
• Tegnologieë om omwenteling en sein-Doppler skuiwe van die satelliet te bereken gebaseer op die ontvangs van RF-seine, wat noodsaaklik is vir die volg en ontvangs van seine vanaf die satelliet in die diep-ruimte.

Bill Vartorella, KJ4ORX, wat aan die hoof van hierdie informele FlyVenusCom-poging staan, sê: “In die toekoms sal satellietpogings gemik wees op kleiner, goedkoper, privaat en nie-winsgewende-organisasie-satelliete. Dit is egter so dat talle van hierdie satelliete nie oor voldoende krag sal beskik om effektiewe kommunikasie moontlik te maak nie. Amateurradio se belangstelling sal aangevuur word deurdat UNITEC-1 op amateurradio se telemetriese baken by 5,840 GHz sal uitsaai.

Vartorella sê verder dat die sein vanaf UNITEC-1 hoofsaaklik ‘n GG-baken is van ongeveer 1 bps spoed. Die uitstaande kenmerk is egter die Japannese konsortium se nadruk dat hierdie, die eerste interplanetêre satelliet wat deur universiteite ontwikkel is, unieke en stimulerende geleenthede aan radioamateurs gaan bied om te eksperimenteer met die ontvangs van seine vanuit die diepruimte. Meer inligting sal beskikbaar gestel word soos wat die projek vorder.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 072 is besig om weg te kwyn en tot op hede is daar nie 'n opvolger vir hom nie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 10 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 17 en 20 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Ook gaan kontakte met die VSA uitdagend wees. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 m na Brasilië bruikbaar wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag goed op 40 m wees. Oor die langer afstande is 20 m nog bruikbaar. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse asook vir kontakte oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
5 Junie – Snuffelmark om 10:30 by die ZERABI onthaalsentrum, halfpad tussen Klerksdorp en Potchefstroom;
16 Junie – Jeugdagvierings, SARL-naelloop;
26 Junie – BHF-indaba by die NARS beginnende om 12:00;
18 Julie – Integnet om 19:30 oor BHF/UHF/MIKROGOLF-aangeleenthede;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek;
18 September - RTA-simposium in Gauteng;
30 September – sluitingsdatum vir fase 1 van die innovasieprojek.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is met vertalings deur Leon, ZS4V,

Dankie dat u saamgeluister het.

73, tot volgende Sondag.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003