Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - Sondag 18 Julie 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat die sleutels van twee radioamateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:
Don, ZS6ABC, op die 9de Julie en Fanna Botha, ZR6FPM, op die 15de Julie. Ons innige meegevoel aan hulle familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

RADIOAMATEUR EKSAMENPROSEDURES STROOMBELYN

KOMPETISIES SONDER SUKKEL

GAREC 2010 IN CURAÇAO IN OKTOBER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

RADIOAMATEUR EKSAMENPROSEDURES STROOMBELYN

Die Raad van die SARL het die prosessering van die resultate van radioamateureksamen stroombelyn ten einde die uitslae en roepseine vinniger aan die kandidate te besorg. Wat onmiddellik inwerking tree is dat kandidate nie vir meer as een klas eksamen ter gelyker tyd kan inskryf nie, maar slegs vir een klas op ’n keer dus net vir Klas A of Klas B. Daar sal ook streng by die sluitingsdatum gehou word en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. “Dit sal nodig wees dat kandidate al die dokumente indien soos uiteengesit in die RAE-riglyne wat op die webblad gepubliseer is, insluitende dié vir HF-assessering”, het Mark Zank, ZS6YES, die SARL se RAE-bestuurder gesê. ’n Kandidaat wie se registrasie teen sluitingsdatum onvolledig is, sal nie die eksamen kan aflê nie en sal ook nie ’n eksamennommer ontvang nie.

“Dit mag wreed klink, maar die waarheid is dat die enkele kandidate wat nie aan die riglyne voldoen nie, die is wat die lisensiëringsproses en toekenning van roepseine aan al die ander kandidate vertraag, soos wat na die Mei-eksamen gebeur het”, het Mark gesê. Deur te verseker dat alle dokumentasie teen die sluitingsdatum vir inskrywings ontvang is, sal dit OKOSA help om die lisensiëringsproses spoedig af te handel.

“In die toekoms sal suksesvolle kandidate hulle roepseine met die uitslae ontvang en sal hulle onmiddellik op die lug kan gaan. Die SARL sal ook sertifikate aan alle suksesvolle kandidate uitreik en sal administrateurs van Echolink in kennis stel om die houers van die sertifikate as ten volle gelisensieerd te beskou. “Hierdie proses kan alleenlik suksesvol wees indien klubs kandidate bystaan om hulle HF-assessering voor die sluitingsdatum vir inskrywings te voltooi”, het Mark gesê.

VOLGENDE NAWEEK SAL DAAR ‘N GEZOEM IN KAAPSTAD WEES

Noem dit ’n gezoem of ’n geraas, net soos u wil, dit is ’n demonstrasie van D-Star, die digitale rewolusie wat amateurradio tref. Dit sal alles gebeur met die SARL se Radiotegnologie-in-Aksie 2010 by die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie op Saterdag 24 April. Registrasie open om 08:15. Verkry die volle program by www.sarl.org.za, klik op rta en laai die PDF-lêer af. U kan ook ’n versoek rig aan www.rta.org.za met RTA CT in die onderwerplyn en ’n kopie sal aan u gepos word.

Die program sluit aanbiedings deur die Hermanus Magnetiese Observatorium en Multisource in. Leer meer aangaande digitale seinprosessering en amteurradiorigtingpeiling en besoek die laboratorium waar Suid-Afrika se eerste Cubesat gebou word. Die toegangsfooi is R50 wat verversings en deelname aan die bywoningstrekking, geborg deur RS Components, insluit. Toegang vir studente en skoliere is gratis, kom net daar!

Die ARRL 2010 Handboek en ARRL-Antennaboek sal beskikbaar wees. U word aangeraai om dit vooraf te bestel en dit tydens die RTA af te haal. Verkry besonderhede by www.amateurradio.org.za.

KOMPETISIENUUS

Vir die Topband-kompetisie wat van 17 tot 20 Junie 2010 gehou is, is 10 logstate ontvang. Uit die logstate blyk dit dat daar minstens 52 stasies aktief was, maar waarom is slegs 10 logstate ingestuur?

Probleme wat met die logstate ondervind is, is verkeerde RST-verslae en verkeerde frekwensies. Deelnemers aan kompetisies, lees asb. die reëls wat vir die kompetisies geld.

Die uitslae is as volg:
1ste ZS6YI - Gary Immelman 143 punte;
2de ZS6GRL - Geoff Levey 137 punte;
3de ZS6PVT - Phillip van Tonder 110 punte.

Die volledige uitslae sal op die forum en in HF Happenings gepubliseer word.

KOMPETISIES SONDER SUKKEL

Oor die volgende paar weke verskaf die SARL se Kompetisiebestuurder, Geoffrey Levey, inligting oor die kompetisies in die pyplyn. SARL-Nuus fokus vandeesweek op ’n paar SARL-kompetisies.

Die doelwit van die SARL HF-foonkompetisie is dat deelnemers soveel ander amateurs in Suider-Afrika as moontlik moet kontak op 20, 40 en 80 m. Die HF-foonkompetisie vind plaas op Sondag 1 Augustus 2010 van 13:00 tot 16:30 UTC. Die volgende frekwensies mag gebruik word: 14,125 tot 14,350 MHz; 7,060 tot 7,100 en 7,130 tot 7,200 MHz; 3,603 tot 3,650 en 3,700 tot 3,800 MHz.

Daar is vier deelnemerskategorieë – a) Enkeloperateur Enkelband; b) Enkeloperateur Alle Bande; c) Multi-operateur Enkelband of d) Multi-operateur Alle Bande. Die uitruiling is ’n RS-verslag en ’n opeenvolgende reeksnommer wat begin by 001. ’n Multi-operateurstasie wat gelyktydig op verskeie bande uitsaai, mag verkies om aparte nommerreekse vir elke band te gebruik.

Elke kontak tel 1 punt, elke roeparea gewerk op elke band tel 2 punte en elke stasie wat op al drie bande gekontak word, tel 2 punte. Kontakte met stasies buite hierdie areas word toegelaat; QSO-punte mag geëis word maar geen sone- of driebandpunte nie. Meer inligting oor die roepareas is in die kompetisiehandleiding vervat. U kan dit aflaai van www.sarl.org.za, deur ‘contests’ in die linkerkolom te kies.

Trofeë en sertifikate word uitgeloof vir die hoogste totale punt en vir die hoogste punt op ’n enkelband. Logstate moet binne 15 dae gestuur word na die Bloemfonteinse Radioamateurklub, Bus 12104, Brandhof, 9324, of per e-pos aan zs4bfn@netactive.co.za. Die sluitingsdatum vir logindienings is 16 Augustus 2010.

Deelnemers onder 19 jaar en ouer as 18 jaar mag deelneem aan twee afsonderlike trekkings vir ’n 2010 ARRL-handboek en ’n ARRL-antennaboek onderskeidelik.

Kry julle antennas slaggereed en raak radio-aktief in die SARL se HF-foonkompetisie op 1 Augustus.

Luister gerus Sondagaand na Geoffrey en Derek tydens Integnet, wanneer hulle oor kompetisies en deelname gesels. Integnet word om 19:30 SAT uitgesaai op verskillende herhalers en op HF op 3 718 kHz.

BOLAND 40-METER-NAELLOOP VOLGENDE NAWEEK

Die Boland-klub se 40 meter-naelloop is ’n pretaktiwiteit om kontakte op 40 meter te bevorder tussen radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande. Die naelloop duur van 13:00 tot 16:00 UTC op Sondag 25 Julie 2010. Radioamateurs mag as vaste of mobiele stasies deelneem; mobiele stasies sluit veld- en draagbare stasies in. Die uitruiling is u roepsein, ’n RS-verslag en die jaar waarin u die eerste keer gelisensieer is. Volle besonderhede op www.zs1BAK@bark.org.za.

Die volgende SARL 80 m-klubkompetisie vind plaas op Woensdagaand 28 Julie van 17:30 tot 18:30 UTC. Dit is ’n foonkompetisie en die uitruiling is ’n RS-verslag en ’n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin. Watter klub gaan die meeste deelnemers hê?

Ter viering van Nasionale Vrouedag op Maandag 9 Augustus, is die SARL se Jeugliga-naelloop op 40 meter op die lug van 09:00 tot 10:00 UTC. Die uitruiling is ’n RS-verslag en YL of OM. Kontakte tussen Jeugligastasies tel 5 punte; kontakte tussen JL- en OM-stasies tel 3 punte en kontakte tussen OM-stasies tel 1 punt.

Die reëls vir hierdie kompetisies is in die 2010 SARL-kompetisiehandleiding.

GAREC 2010 IN CURAÇAO IN OKTOBER

Die 2010 Globale Amateurradio Noodkonferensie (Global Amateur Radio Emergency Conference of GAREC) sal op 11 en 12 Oktober op die eiland Curaçao in die Nederlandse Antille gehou word.

Die doelwitte van die konferensie is om radioamateurs beter voorbereid te maak vir noodkommunikasie. Dit, deur wat beste genoem kan word universele bedryfspraktyke op beide nasionale en internasionale vlakke. Die konferensie is ook ’n geleentheid om inligting en ondervindings tussen radioamateurs en groepe wat belange in noodkommunikasie het uit te ruil. SARL-HAMNET sal by hierdie belangrike konferensie verteenwoordig word. In Augustus 2011 sal die SARL die gasheer vir die GAREC 2011 in Suid-Afrika wees.

Die beplanning van die gebeurtenis gaan voort met die eerste konsep program van gebeurtenisse wat op GAREC se webtuiste www.garec.net beskikbaar is. Die program sal verander na mate sprekers en aktiwiteite gedurende die komende maande bevestig word. Inligting aangaande registrasie en hotelverblyf kan ook van die webblad verkry word.

KLUBNUUS

Die Centurion Radioamateurklub het ’n baie suksesvolle Algemene Jaarvergadering op 10 Julie 2010 in die Padvindersaal in Wierda Park gehou waartydens die volgende lede tot sy nuwe komitee verkies is:
Voorsitter: Pam Momberg, ZS6APT;
Visevoorsitter: Ben Booysen, ZS6BTB;
Sekretaris: Sakkie Schoonraad, ZS6IJS;
Tesourier: Pam Momberg, ZS6APT;
Tegniese koördineerder: Pieter du Toit, ZR6ZDT.

Dank aan die uittredende komitee en voorsitter vir hulle goeie werk gedurende 2009-2010.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 087 het begin om stadig weg te kwyn. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 15 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Gedurende die middae tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië raak 'n moontlikheid op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Toestande na Brasilië en Suid-Amerika is besig om uitdagend te word.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie belonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. Met winter hier het 30 m by 20 m oorgeneem vir kontakte gedurende die middel van die dag oor die langer afstande. Met die laer ruisvlakke is 80 m vroegoggend en laatmiddag die beste keuse asook vir kontakte oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 Julie – Integnet, vanaand, om 19:30 oor kompetisie-aangeleenthede;
23 - 24 Julie - Voorbereiding en lansering van die HABEX-balloneksperiment;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;
25 Julie – Boland ARK 40 m Naelloop 13:00-16:00 UTC;
28 Julie – SARL 4de 80 m Klubkompetisie 17:30-18:30 UTC;
1 Augustus – SARL se HF Foonkompetisie 13:00 tot 16:30 UTC;
2 Augustus – Sluitingsdatum vir inskrywings vir die PIC-kursus in Pretoria op 14 Augustus;
2-7 Augustus – Nasionale Wetenskapweek te Sci Bono met ZS6SCI daagliks tussen 09:00 en 14:00 SAT op die lug;
9 Augustus – SARL LV-naelloop op 40 m 09:00 tot 10:00 UTC;
12 - 14 Augustus - Internasionale AMA-konferensie in Dallas, Texas;
14 Augustus – PIC-kursus in Pretoria;
16 Augustus – Logstate vir SARL HF-foonkompetisie moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp
#


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003