Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 1 AUGUSTUS 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van twee radioamateurs gedurende die afgelope week stil geraak het. Hulle is:
Bennie Schoeman, ZS6ABS, op Dinsdag 27 Julie, vyf dae na sy 95ste verjaardag op 22 Julie en
Craig Bergsteedt, ZS6CKB, op Donderdag, 29 Julie na ‘n lang stryd teen kanker.

Ons innige meegevoel gaan aan die oorledenes se familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

REëLS VIR KOMPETISIES

VERGEET OM JOU LEDEGELD TE BETAAL?

ARRL HUB VRA AMATEURS OM VOORTPLANTINGSANOMALIEë WAAR TE NEEM EN VERSLAG TE DOEN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

REëLS VIR KOMPETISIES

Soos voorheen genoem moet ‘n hersiene konsepuitgawe van die Blouboek vir 2011 reeds voor die einde van Augustus 2010 voltooi word. Hierdie is ‘n versoek aan alle geïnteresseerde partye om deur die huidige Blouboek V2 2010 te gaan en enige reëls/verklaring wat verandering/wysiging benodig te merk.

Die hoofarea waarop gelet moet word is Seksie 1 “Algemene Reëls”.

Stuur asseblief voorstelle aan Geoff Levey, ZS6GRL, by die volgende e-posadres: glevey@gmail.com.

Hierdie is die enigste weg waardeur deursigtigheid verkry kan word.

VERGEET OM JOU LEDEGELD TE BETAAL?

Indien jy nog nie jou ledegeld vir 2010/2011 betaal het nie, doen dit tog nou. Teen die einde van Augustus sal lede wat nog nie hernu het nie hul voordele verloor en ons is seker dat jy nie een van hulle wil wees nie.

Dikwels hoor ons die vraag “Wat doen die SARL vir my”? Daar is ‘n paar aksies waaraan ons jou wil herinner. Dit is die SARL se interaksie met OKOSA wat ons toegang tot ‘n groter hap van die 40 meterband verleen teenoor baie ander lande. Dit was die SARL wat onlangs ‘n indringerherhaler op die 70 cm-band laat verwyder het.

Ons stem is steeds sterk, dis slegs jou lidmaatskap wat dit kan doen. Kom ons draai die vraag om en vra onsself af “wat kan ek vir die SARL en Amateurradio doen?” die antwoord is ooglopend, sluit aan by die Nasionale Liggaam vir Amateurradio, ondersteun die SARL-geleenthede en -inisiatiewe. Verkry volle besonderhede op www.sarl.org.za of bel 011 675 2393. Indien jy alreeds ‘n lid is en reeds betaal het, baie dankie dat jy die regte ding gedoen het. Ons waardeer jou ondersteuning.

ARRL HUB VRA AMATEURS OM VOORTPLANTINGSANOMALIEë WAAR TE NEEM EN VERSLAG TE DOEN

In sy redaksionele brief in die Augustus uitgawe van QST het ARRL Hoof Uitvoerende Beampte, Dave Sumner, K1ZZ, ‘n beroep op radioamateurs gedoen om aan te hou om voortplantingsanomalieë waar te neem en op te teken. Hy skryf “ons is moontlik die enigste mense wat dit steeds doen. Daar was ‘n tyd toe enigeen met ‘n televisiestel die effekte van sporadiese E kon sien, of hulle wou of te nie; dis wat die bofbalwedstryd onderbreek het toe die prent van jou plaaslike stasie uitgeknikker is deur een van Miami of St Louis.”

In elke geslag is daar persone wat natuurlike kragte wat lewe op ons planeet beïnvloed beter wil verstaan. Vir meer as ‘n eeu het amateurradio ‘n uitlaat vir sulke nuuskierigheid gegee. Dit is vandag nog so – en sal môre nog so wees.

Die SARL werk saam met die Hermanus Magnetiese Observatorium om ruimtelike weersomstandighede aanlyn te verskaf. Die eerste stap is om ‘n uitstalling te maak by die NARS betyds vir die September Radio Tegnologie in Aksie 2010 wat daarna op die SARL-web beskikbaar gaan wees.

Die SARL ook ‘n verslaggewingstelsel opstel om ongewone voortplantingstoestande op rekord te stel. Indien jy ongewone voortplantingstoestande ondervind, maak ‘n nota daarvan en stuur ‘n verslag aan unusalprop@sarl.org.za.

IARUMS GAAN TOESPITS OP SKOONMAAK VAN METERS

Die SARL se Raadslid vir die IARU-moniteringstelsel (IARUMS), Fred Scheepers, ZS1FCS, nooi radioamateurs en kortgolfluisteraars uit om aan te sluit by ‘n veldtog om nie-amateurstasies te verwyder van die 40 meter amateurband. Dit benodig baie mense om die band van 7,000 – 7,200 MHz te monitor vir indringers en hul besonderhede soos stasie-ID, frekwensie en tyd op te skryf. Baie indringer uitsaaistasies saai hul ID op die uur en halfuur uit. Indien jy nie die taal kan verstaan maak ‘n mp3-opname of ‘n golflêer en sluit dit by jou verslag in. Fred het ‘n spesiale e-posadres wat maklik is om te onthou. Dit is intruder@sarl.org.za.

KOMPETISIENUUS

SLUITINGSDATUMS VIR INDIENING VAN LOGSTATE

Klubs en indiwidue wat hul eie kompetisies reel, sal julle asseblief vir Geoff, ZS6GRL, laat weet of julle bereid is om die sluitingsdatum vir die indien van logstate te verskuif van 15 dae tot 7 dae na die afloop van die kompetisie. Die UHF/BHF-kompetisie word nie hierdeur geraak nie

Tans kom die resultate van ‘n kompetisie eers beskikbaar nadat almal al daarvan vergeet het. Die volgende e-posadres kan gebruik word: glevey@gmail.com.

SARL HF FOONKOMPETISIE 1 AUGUSTUS 2010

Die doel van die SARL HF Foonkompetisie is om aan deelnemers die kans te bied om kontakte te maak met soveel moontlike radioamateurs in Suider-Afrika op die 20, 40 en 80 m bande. Die HF Foonkompetisie vind op Sondag 1 Augustus, dit is vanmiddag, vanaf 13:00 tot 16:30 UTC, plaas.

Die volgende frekwensies mag gebruik word - 14 125 tot 14 350 kHz; 7 060 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz; 3 603 tot 3 650 en 3 700 tot 3 800 kHz. Daar is vier klasse van deelname; a) Enkeloperateur enkelband; b) Enkeloperateur multi-band; c) Multi-operateur enkelband of d) Multi-operateur multiband.

'n RS-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin, word uitgeruil. 'n Multi-operateurstasie op multibande mag op hulle eie diskresie aparte reeksnommers per band gebruik. Elke kontak tel 1 punt, elke roepseingebied tel 2 punte en elke stasie wat op al drie bande gewerk is tel 2 punte. Kontakte met stasies buite die 8 roepseingebiede is toelaatbaar maar geen sone- of 3-bandpunte mag bygetel word nie.

Meer besonderhede, insluitende die roepseinareas, is beskikbaar in die kompetisiehandboek wat by www.sarl.org.za afgelaai kan word. Daar is trofees en sertifikate vir die hoogste puntetelling asook die hoogste telling op 'n enkelband. Logstate moet binne 15 dae versend word aan die Bloemfontein Radioamateurklub, Posbus 12104, Brandhof, 9324 of per e-pos aan zs4bfn@netactive.co.za. Die sluitingsdatum vir die indien van logstate is 16 Augustus 2010.

Deelnemers jonger as 18 jaar en deelnemers ouer as 19 jaar kan in twee aparte trekkings 'n 2010 ARRL-handboek of 'n ARRL Antennahandboek wen. Kry daardie antennas reg en word radioaktief in die SARL HF Foonkompetisie vandag.

DIE RESULTATE VAN DIE 2010 QRP-KOMPETISIE VRYGESTEL

1ste ZS3Y - Volker 460 punte;
2de ZS2ACP - Andre 414 punte;
3rde ZS4JAN - Jan 390 punte;
4de ZS6BB - Pierre 264 punte;
5de ZS2J - Derek 210 punte;
6de ZR1AAH - Allen 208 punte

Die volledige resultate sal in “HF Happenings” gepubliseer word.

KLUBNUUS

Tydens die Jaarvergadering van die Zoeloeland Amateurradioklub, wat op 11 Julie 2010 te Richardsbaai plaasgevind het, is die volgende komiteelede verkies:

Voorsitter: John Kramer, ZS5J;
Onder Voorsitter: Andrew Jansen, ZS5AND;
Tesourier: Willie Axford, ZS5WI;
Sekretaris: Dawn Snyders, ZS5ME;

Lede: Jo Snyders, ZS5PO (Redakteur)
Thys v Rensburg, ZS5ZS;
Warren Snyders, ZS5WOZ;
Brian Utterson, ZS5AE.

Ons wens hulle sterkte toe gedurende hul termyn van diens, en bedank die uittredende lede vir hul harde werk gedurende hulle dienstermyn.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 089 het begin om te kwyn maar gelukkig gaan die nuwe Sonvlek 1 092 die sonaktiwiteitsvlak 'n hupstoot gee. Gedurende 2009 was 71% van die dae sonder enige sonvlekke. Vir 2010 is dit tans 17% van die dae wat sonvlekloos was. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 40 m. Gedurende die middae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende sonsondergang gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Zeeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Swak 15 m-openinge is na Brasilië en Suid-Amerika gedurende die middae moontlik.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Vir die SARL se HF-wedstryd vanmiddag gaan 20 m met die aanvang van die wedstryd die beste presteer. Vir die meerderheid van die middag gaan 40 m die beste keuse wees. Laatmiddag en met sonsondergang gaan 80 m tot sy reg kom.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag 1 Augustus - SARL se HF-foonkompetisie 13:00 tot 16:30 UTC;
2 Augustus - Sluitingsdatum vir inskrywings vir die PIC-kursus in Pretoria op 14 Augustus;
2-7 Augustus - Nasionale Wetenskapweek te Sci Bono met ZS6SCI daagliks tussen
09:00 en 14:00 SAT op die lug;
9 Augustus - SARL LV-naelloop op 40 m 09:00 tot 10:00 UTC;
12 - 14 Augustus - Internasionale AMA-konferensie in Dallas, Texas;
14 Augustus - PIC-kursus in Pretoria;
16 Augustus - Logstate vir SARL HF-foonkompetisie moet in wees;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel en deur George, ZS6NE, geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003