Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 19 SEPTEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word, en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons bekendmaak dat die sleutel van Johan Koster, ZS3JMK, op 9 September, asook die sleutel van Rennie van Rensburg, ZS6REN, op Sondag 12 September stil geword het. Ons innige meegevoel aan hul LV's, kinders, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

DIE SARL GAAN ʼn ENGELS - AFRIKAANSE WOORDELYS OPSTEL

AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL NOU OP FM IN NIEU-SEELAND

“NEEM-U-HANDSTEL-WERK-TOE-DAG”

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

DIE SARL STEL ʼn ENGELS - AFRIKAANSE WOORDELYS OP

Tydens ʼn vergadering van die redakteurs van SARL-nuus is daar besluit om ʼn Engels - Afrikaanse woordelys op te stel wat op die web beskikbaar gestel sal word. Die lys sal primêr fokus op die vertaling van Engelse tegniese terme na Afrikaans. Die SARL-nuuswebblad sal ook riglyne insluit van hoe om nuusitems saam te stel vir insluiting in die SARL se nuusbulletins. Dit word verwag dat die nuwe bladsye binne die volgende weke beskikbaar sal wees. Toevoegings tot die Engels - Afrikaanse woordelys sal verwelkom word en moet gestuur word aan armi@sarl.org.za.

AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL NOU OP FM IN NIEU-SEELAND

Van hierdie week af gaan Amateur Radio Mirror International weekliks op in Tawa, ʼn voorstad van Wellington in Nieu-Seeland, die lug wees. WorldFM sal die program om 16:00 op Dinsdae en 21:00 op Donderdae (Nieu Seeland-tyd) uitsaai (dit is 04:00 UTC en 09:00 UTC, totdat hulle na somertyd oorskakel). WorldFM kan op 88,2 MHz gehoor word. Dié uitsendings word ook op die internet gestroom by www.worldfm.co.nz.

“NEEM-U-HANDSTEL-WERK-TOE -DAG”

Soos verlede week aangekondig is, is Vrydag 1 Oktober “Neem-u-handstel-werk-toe-dag”. Die idee is sodat u die betowering van amateurradio gedurende teetye en middagete aan u kollegas kan demonstreer. ʼn Nuwe brosjure oor amateurradio word tans geredigeer en sal voor dié geleentheid van die web afgelaai kan word.

Om van “Neem-u-handstel-werk-toe-dag” ʼn sukses te maak is dit belangrik dat radioamateurs wat afgetree is, asook dié wat van die huis af werk, op plaaslike herhalers aktief sal wees.

Die SARL het ook ʼn fotokompetisie aan die geleentheid gekoppel, genaamd “Amateurradio-in-aksie”. Neem u kamera werktoe en laat een van u kollegas ʼn foto van u aktiwiteite neem. Stuur ‘n hoë-resolusiefoto na afloop van dié dag aan armi@sarl.org.za, tesame met ʼn paar besonderhede. Alle inskrywings wat ontvang word sal tydens ʼn gelukstrekking meeding vir ʼn nuwe ARRL-handboek, genaamd “Basic Antenna - understanding practical antennas and design”. Die sluitingsdatum vir die instuur van u amateurradio-in-aksie-foto is 15 Oktober 2010.

NUWE EUROPESE STELSEL VOORSIEN WAARSKUWINGS OOR SONUITBARSTINGS

Navorsers by die Universiteit van Bradford in die Verenigde Koninkryk meld dat ʼn nuwe metode bekendgestel is om sonuitbarstings (“sun storms”) te voorspel. Dit kan help om wydverspreide krag- en kommunikasie-onderbrekings te voorkom.

Tot op hede is sonuitbarstingvoorspellings gedoen deur kundiges wat tweedimensionele satellietbeelde van die son bestudeer, en dan die moontlikheid van toekomstige sonaktiwiteit voorspel. Die span van die “Centre for Visual Computing” het die eerste aanlyn-geoutomatiseerde voorspellingstelsel ontwerp wat driedimensionele beelde genereer vanaf die “Solar and Heliospheric Observatory” (SOHO-) satelliet.

NASA en die Europese Ruimteagentskap gebruik reeds die “Bradford Automated Solar Activity Prediction System” (ook bekend as ASAP) wat sonvlekke identifiseer en klassifiseer, en dan dié inligting modelleer om die moontlikheid van sonvlekke te voorspel. Die stelsel kan, met akkuraatheid, ’n sonvlek ses ure vooruit voorspel. Die span werk daaraan om, met soortgelyke akkuraatheid, in die nabye toekoms groot son-uitbarstings te voorspel.

Sonuitbarstings behels die loslating van groot hoeveelhede warm gas en magnetiese kragte teen ʼn miljoen myl per uur. Die volgende groot son-uitbarstings word in 2012 - 2013 verwag, tydens die son se 11 jaar-siklus. In ʼn verslag, wat in 2008 deur die VSA se Nasionale Akademie vir Wetenskappe gepubliseer is, word geskat dat die vertroue in moderne elektronika en satellietkommunikasie beteken dat ʼn groot sonuitbarsting meer as twintig keer die ekonomiese skade kan aanrig as wat deur Orkaan Katrina veroorsaak is.

Alhoewel groot sonuitbarstings en koronale massa-uitstralings gewoonlik dae neem om die aarde te bereik, het die grootste, wat in 1859 waargeneem is, slegs 18 uur geneem. Sonfakkels, wat ook betekenisvolle ontwrigting aan kommunikasiestelsels kan aanrig, neem slegs ʼn paar minute. As gevolg hiervan is voortydige waarskuwings van uiterste belang, sodat stappe geneem kan word om die ergste uitwerking van sonaktiwiteit te vermy. (Met dank aan Newsline.)

KOMPETISIENUUS

Die uitslag van die ZS6JVT 40 m-jeug-lentekompetisie.

Die groep bo 26 jaar:

1. ZS1OB - Neels van Eeden
2. ZS2EC - Theunis Potgieter
3. ZS2J - Derek Stuart

Onder 25 jaar:

1. ZU6JAN - Jan Smit
2. ZS6JPC - Philip Cronje
3. ZU6GG - Gideon Grobler
4. ZU6GVS - Gerdie van Staden

Namens ZS6JVT bedank ons almal wat deelgeneem het. Dankie ook aan al die amateurs wat punte toegeken het, maar nie aan die kompetisie deelgeneem het nie. U sertifikate sal binnekort per e-pos aan u gestuur word.

Die wenner van die gelukstrekking is Jan Smit, ZU6JAN. Baie geluk Jan.

Vervolgens die uitslag van die Bolandse Amateurradioklub se 40 m-naelloop:

Hoogste punte behaal:

1. ZS2A - 121
2. ZS4JAN - 77
3. ZS1CF - 63

Hoogste punte per Afdeling:

1. ZS1CF - 63
2. ZS2A - 121
4. ZS4JAN - 77
5. ZS5C - 17
6. ZS6APT - 49

Die Pretoriase radioamateurklub, ZS6PTA, neem deel aan die BHF/UHF-kompetisie vanaf Gemsbokberg. Kyk uit vir hulle by ruitverwysing KG42RM. ZS6PTA gaan voorts ook aan die komende SARL-erfenisdagnaelloop vanaf Fort Skanskop, KG44cf, deelneem.

KLUBNUUS

Die Highway-amateurradioklub nooi alle radioamateurs en belangstellendes uit na hul snuffelmark op Saterdag 25 September om 11:30, by die huis van John Fielding, ZS5JF, by St. Andriesstraat, Monteseel. Indien u nie die pad ken nie, kan u op die Alverstone-herhaler roep op 145,600 MHz vir aanwysings. Tafels sal beskikbaar wees om u ware uit te stal en braaivure sal voorsien word. Highway hoop om baie van u daar te sien.

Die Wesrand-amateurradioklub hou hul volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 2 Oktober by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Phillip, ZS6PVT, by 083 267 3835.

Die Pretoria-amateurradioklub, ZS6PTA, het die volgende komitee vir 2010/2011 verkies:

Voorsitter - Pierre Holtzhausen, ZS6PJH
Ondervoorsitter - Almero du Pisani, ZS6LDP
Sekretarisse - Richard Peer, ZS6UK, en Graham Reid, ZR6GJR
Tesourier - Richard Peer, ZS6UK
SARL-skakeling - Pierre Holtzhausen, ZS6PJH
Tydrenkoördineerder - Johan de Bruyn, ZS6JHB
Kompetisiekoördineerder - Pieter Human, ZS6PA
Tegniese aangeleenthede en herhaleronderhoud - Craig Symington, ZS6RH
Web-koördineerder - Graham Reid, ZR6GJR
Sosiale koördineerders - Willie Greyling, ZR6WGR, en Doreen de Bruyn, ZR6DDB
Opleidingskoördineerder (gekoöpteer) - Fritz Sutherland, ZS6ASF
Snuffelmark - Almero du Pisani, ZS6LDP
Skakelbeamptes - Willie Greyling, ZR6WGR, en Almero du Pisani, ZS6LDP

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 106 is relatief onaktief maar ‘n nuwe sonvlek, 1108, bars uit sy nate met B- en C-klas-sonfakkels wat goeie openinge vir HF tot gevolg kan hê. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 25 wees.

20 m is die beste keuse vir DX, gevolg deur 15 m. Smiddae en tot na sonsondergang gaan die toestande na Indië goed wees. In die middae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Seeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m, na sonsondergang. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met goeie 15- en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met opening na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 30 m, wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag, 18 - 19 September - BHF/UHF-kompetisie;
20 September - Morsekodeklasse deur ZS6APS begin op die 145,775 herhaler in Pretoria;
24 September - Erfenisdagnaelloop;
24 September - Inskrywings vir Oktober-RAE sluit;
25 September - Lansering van HABEX vanaf Klerksdorp;
25 September - Spesiale geleentheidstasie by Hermanus Laerskool, om saam te val met die Walvis- en Wielefees;
25 September - Highway ARK se snuffelmark aan huis van John Fielding, ZS5JF. Inroepe op 145,600 MHz;
29 September - Die SARL se 80 m-digimodusse-klubkompetisie;
30 September - Sluitingsdatum vir inskrywings vir Fase 1 van die Innovasieprojek;
2 Oktober - Die Wesrandse ARK hou ʼn snuffelmark om 12:00 by die klubhuis. Kontak Phillip, ZS6PVT by 083 267 3835;
15 Oktober - Sluitingsdatum vir die indiening van foto’s van “Neem-u-handstel-werk-toe”.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program “Amateur Radio Mirror International” wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n “podcast”-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is. Die bulletinredakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX




======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003