Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 7 NOVEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word, en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

UITSLAE VAN OKTOBER-RAE VRYGESTEL

VEROWER ’n 2011 ARRL HANDBOEK IN DIE VELDDAGKOMPETISIE

2011 KONSTRUKSIEKOMPETISIE MET GROOT PRYSE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

UITSLAE VAN OKTOBER-RAE VRYGESTEL

“Ek is bekommerd dat die eksamen nie deur sommige kandidate ernstig opgeneem word nie, dat nie voldoende poging aangewend word om die studiemateriaal te bemeester nie”, het Mark Zank die RAE-bestuurder, gesê toe hy die uitslae Vrydag bekend gemaak het. “Ek glo dat dit vir kandidate baie belangrik is om klasse by te woon wat deur baie klubs aangebied word aangesien daar baie meer geleer kan word d.m.v. die kennis en interaksie met ander kandidate.”

“Ek is bewus van drie SARL-geaffilieerde klubs wat ’n 100% slaagsyfer behaal het. Hulle is Oakdale, Sandton en Kempton Park. Hierdie klubs voorsien uitstekende onderrig en hulle dosente doen baie moeite om onderrigmateriaal te skep. Daar mag ander klubs wees wat ook 100% slaagsyfers behaal het, maar dit is nie onder die aandag van die SARL gebring nie.”

’n Aantal nuwe vrae is in die afgelope eksamen ingesluit en nuwe vrae sal ook in toekomstige eksamens ingesluit word. Dit word gedoen ten einde te verseker dat ons ten alle tye maan die HAREC-vereistes voldoen,” het Mark gesê.

Veels geluk aan al die kandidate wat die RAE geslaag het. Aan hulle wat nie die paal gehaal het nie, moet asb. nie tou opgooi nie, julle sal weer ’n geleentheid gebied word om die eksamen in Mei 2011 aan te pak.

Die SARL wag steeds op eksamenpapiere wat in die posstelsel vasgeval het en die SARL bly op die spoor van daardie papiere en sodra hulle ontvang word, sal hulle nagesien word en sal die name van die kandidate wat slaag by die lys van suksesvolles bygevoeg word.

Die SARL verwag dat roepseine binne die volgende aantal dae uitgereik sal word. Sodra dit vrygestel is, sal die die SARL se webtuiste opgedateer word en die nuut gelisensieerde amateurs mag dan op die lug begin bedrywig wees. Dit mag weke neem voordat die druk van lisensies ’n aanvang neem. Moet asb. nie by OKOSA navraag doen nie, dit sal slegs die prosedure vertraag.

Die jongste kandidaat wat die RAE afgelê het, was 9 jaar oud en die oudste 66 jaar. Die hoogste persentasie behaal in Klas A was 98 en in Klas B, 96. Die slaagsyfer in Klas A was 85% en in Klas B, 66%.

Die uitslae is beskikbaar op www.sarl.org.za.

DIE SARL-LEDETAL KRY NOG ’n HUPSTOOT

An die einde van verlede week het die SARL se ledetal op 1 425 te staan gekom, wat slegs 35 minder is as die teiken van 1 460 vir vanjaar. Met u ondersteuning behoort 1 500 binnekort bereik te word. Om aan te sluit of om ledegeld te betaal, bel Mariska Maandag by 011 675 2393.

VEROWER ’n 2011 ARRL HANDBOEK IN DIE VELDDAGKOMPETISIE

Die Boland Amateurradioklub nooi alle radioamateurs uit om deel te neem aan die laaste bedrywigheid van die SARL se viering van sy 85ste herdenking deur ’n kontak te maak met ZS85SARL tydens die SARL se velddagnaweek. Die kompetisie vind plaas vanaf 10:00 UTC Saterdag 20 November tot 10:00 UTC op Sondag 21 November.

BARK sal ’n veldstasie oprig en as ZS85SARL bedryf. Alle amateurs wat met die spesiale geleentheidstasie kontak maak, sal aan ’n gelukstrekking deelneem. U hoef nie ’n veldstasie te bedryf ten einde vir die gelukstrekking te kwalifiseer nie.

Die eerste deelnemer wat getrek word, en ’n SARL-lid is, sal ’n hardebanduitgawe van die 2011 ARRL-handboek ontvang. Die eerste naam getrek uit nie-SARL-lede sal vry lidmaatskap van die SARL vir die res van die finansiële jaar ontvang.

Verkry die kompetisiereëls by www.sarl.org.za.

2011 KONSTRUKSIEKOMPETISIE MET GROOT PRYSE

Tydens sy Raadsvergadering op Donderdag verlede week het die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust besonderhede van sy 2011 konstruksiekompetisie aangekondig. Aangesien een van die hoof doelstellings van die ontwikkelingstrust is om innovasie in amateurradiotegnologie te bevorder en uit te brei, sal aktiwiteite gedurende 2011 fokus op verskeie aspekte wat amateurradio die mees belonende van alle wetenskaplike stokperdjies maak.

Die 2011 konstruksiekompetisie fokus op konstruksie en bedryf en nie op stroombaanontwerp nie. Deelnemers mag op die web en in literatuur vir enige ontwerp soek. Die fokus is op die vertoon van vindingrykheid met die konstruksie van een van die volgende twee projekte:

’n QRP-sender met ’n maksimum lewering van 5 W, met die gebruik van minimum onderdele vir bedryf in enige amateurband of ’n minimum onderdele transistorontvanger vir bedryf in enige amateurband.

Die kompetisie is in twee fases. Fase 1 behels die papierinskrywing met ’n bondige beskrywing, ’n kringdiagram en ’n foto van die prototipe of broodborduitleg.

Uit die Fase 1 se inskrywings sal drie finaliste gekies word vir deelname aan Fase 2 waartydens die projek gebou, getoets en volledig operasioneel in ’n geskikte omhulsel gehuisves moet wees en tesame met ’n volledige beskrywing en kringdiagram voorgelê moet word. Aan elke finalis sal R500 geskenk word vir die bou van die projek.

Die wenner sal uitgenooi word na die jaarlikse prysuitdelingsete in Mei 2011 en sal ’n 2011 ARRL-handboek ontvang asook ’n keuse van drie SARL-boustelle en ’n jaar vry lidmaatskap van die SARL.

Die sluitingsdatums is as volg: Fase 1, 30 Januarie 2011. Die drie finaliste sal op 15 Februarie aangekondig word en die sluitingsdatum vir Fase 2 is 15 April 2011.

Volle besonderhede en ’n inskrywingsvorm is beskikbaar op www.amateurradio.org.za.

OP DIE LUG AKTIWITEIT

Herdenkingsdagdiens.

Die jaarlikse diens vir herdenkingsdag sal volgende Sondag 14 November om 10:45 in die program Amateur Radio Mirror International uitgesaai word. Die diens sal waargeneem word deur Ds. Jan Kramer, ZS6JRK, van die Hervormde Kerk, Elsburg. Die jaarlikse diens is ter herinnering van die radioamateurs wat hulle lewe in diens van hulle land verloor het. Die skriflesing sal in Engels wees terwyl die boodskap in Afrikaans sal wees. As ’n teken van respek word radiostilte volgende Sondagoggend tussen 10:45 en 11:00 SAT versoek.

Klubs wat die diens op hulle plaaslike herhaler wil uitsaai, kan ’n MP3 oudiolêer aflaai. Stuur ’n e-pos aan armi@sarl.org.za om besonderhede van die URL.

SATnetwerk

SA AMSAT nooi u uit om op Sondagaand 21 November deel te neem aan die SATNETWERK wanneer Eddie Leighton, ZS6BNE, sal praat oor "APRS via die IRS". Dit sal om 19:30 op die lug wees. Meer besonderhede in volgende Sondag se SARLNUUS.

JD-NET

Die JD-net het verlede Sondag, 31 Oktober in Pretoria afgeskop.

Die JD’s wat aan Anette, ZR6D, gerapporteer het, was Pam Momberg, ZS6APT, Rene de Witt, ZU6MA, en Koba Maree, ZR6CMA. Elrika van der Merwe, ZS1BEL, van Dana Baai, het via Echolink aangesluit. Heather Holland, ZS6YE, het verskoning aangebied aangesien sy by die Vaaldam met vakansie was. Corinna Carstens, ZS1CC, het per e-pos uit die Kaap laat weet dat ontvangs op 40 m daar baie swak was. Baie dankie aan die dames wat deelgeneem het. Al die JD’s word uitgenooi om deel te neem aan die volgende byeenkoms op die lug wat op 28 November 2010 om 15:00 weer op die Magaliesklub se herhaler op 145,750 MHz sal plaasvind. Dames kan ook via Echolink aansluit, verbind met ZS6FCS-R. Anette kan ook gekontak word per telefoon by 073 199 9032 of per e-pos aan zr6d@ymail.com.

VERGADERING VIR RUSTENBURG SE RADIOAKTIEWES

ZS6RTB beplan om Saterdag 27 November 2010 'n klubvergadering te hou. Hierdie vergadering sal saamval met 'n groter vergadering wat gehou word vir die rolspelers in tweerigtingradio in die omgewing.

Die doel van hierdie vergadering is om betrekkinge tussen die verskillende groepe bv. Burgerband, Radioamateurs, Kommersiële gebruikers, Burgerlike Beskerming ens. aan te moedig en om 'n plan van aksie daar te stel, sou 'n noodsituasie ontstaan. Alle belangstellendes is welkom.

Vir meer inligting besoek gerus die webtuiste www.zs6rtb.co.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Ou sonvlek 1 112 sal binnekort weer in die aarde se gesigsveld roteer terwyl sonvlek 1 120 besig is om vinnig weg te kwyn. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 25 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 en 10 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later 20 m na Europa goed wees. Kontakte met Australië is met sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is uiteindelik weer op 15 m gedurende die laat middag en vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

20 November – 10:0 UTC, velddagnaweek met ZS85SARL op die lug begin;
21 November – 10:0 UTC, velddagnaweek en ZS85SARL sluit af;
21 November – 19:30 SAT, SATnetwerk op die lug;
28 November – JD-net begin om 15:00 SAT;
20 Januarie 2011 – Sluitingsdatum vir indiening van beursaansoeke vir Mei 2011 RAE, besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms;
30 Januarie 2011 – Sluitingsdatum van Fase 1 van die konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Mirror International" wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003