Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 28 NOVEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

DIE SARL GAAN DIE KONSEPBANDPLAN TER TAFEL LÊ

HET AMATEURRADIO VERNUWING NODIG?

NOMINASIES VIR SARL-TOEKENNINGS INGEWAG

MOBIELE TV KOM NA SUID-AFRIKA

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems

DIE SARL GAAN DIE KONSEPBANDPLAN TER TAFEL LÊ

In opvolging van die bespreking met OKOSA by die kwartaallikse skakelvergadering is daar ooreengekom dat die SARL ʼn bandplan ter tafel sal lê tydens ʼn openbare verhoor. Dit sal die probleem ondervang wat mag ontstaan wanneer die ou regulasies herroep word, en dat daar dan geen bandplan bestaan nie totdat die nuwe regulasies in die staatskoerant gepubliseer word.

Die SARL het ʼn konsepbandplan saamgestel in terme van die tabel van frekwensietoekennings wat vroeër vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit is nie moontlik om hiervan af te wyk nie. Byvoorbeeld: die uitbreiding van die 160 m-band is heeltemal ʼn ander saak en sou eers met toestemming van OKOSA aangebied word as ʼn verandering aan die tabel van frekwensietoekennings, wat dan deur die Minister van Kommunikasie goedgekeur moes word. Eers nadat die tabel van frekwensietoekennings verander is kan die amateurradiobandplan dan verander word om die uitbreiding toe te laat.

Verhoging van kraguitset is ʼn ander tameletjie en sal nie noodwendig die goedkeuring van die wyer lidmaatskap geniet nie. Daar is voorgestel dat lede wat glo dat ʼn verhoging in die kraguitset op sekere, of alle bande nodig is, aangeraai word om ʼn besprekingsdokument op te stel waarin uiteengesit word wat verlang word, asook ‘n motivering, vir bespreking by die SARL se AJV. So ʼn dokument benodig ʼn voorsteller en ʼn sekondant en moet voorgelê word vir toevoeging tot die AJV-agenda, voor 31 Januarie 2011.

Die konsepbandplan kan afgelaai word vanaf www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. Kommentaar word ingewag en moet gestuur word aan armi@sarl.org.za voor middernag vannag. Die finale dokument sal op Dinsdag 30 November gepubliseer word en op 1 Desember aan OKOSA voorgelê word.

HET AMATEURRADIO VERNUWING NODIG?

Innovasie is ʼn veelbesproke onderwerp op beide akademiese as industriële vlak. Die vraag wat nou gevra word is of as almal om ons op innovasie konsentreer, moet radioamateurs nie dieselfde doen nie? Die vraag is “ Het ons innovasie in Amateurradio nodig? “. Sluit op Sondag 5 Desember om 19:30 op Integnet by ons aan wanneer ons die vraag van innovasie in Amateurradio gaan debatteer.

NOMINASIES VIR SARL-TOEKENNINGS INGEWAG

Lede en klubs word genooi om nominasies aan die Raad van die SARL in te dien vir die volgende SARL-toekennings:

Lewenslange erelidmaatskap – dit is die SARL se hoogste toekenning.

Willie Wilson goue wapen.
Vir die amateur wat uitsonderlike en verdienstelike diens aan die Liga verleen het.

Jack Twine-toekenning
Ter erkenning van kwaliteite soos onselfsugtigheid, goeie radiobedryfsprosedures en ‘n egte belangstelling in amateurradio. Hierdie besondere toekenning word gegee aan amateurs, volgens die mening van hul mede-amateurs en die Raad, wat oor die kwaliteite besit wat in amateurradio nagestreef behoort te word.

Arthur Hemsley-2 metertoekenning
Aan ‘n radioamateur vir sy/haar individuele uitsendings op die 2 meter-frekwensie. Dié toekenning geld vir buitengewone prestasie op AMA- of andermodusse, soos troposferiese voortplanting. Die geld nie vir die langste afstand bereik nie, maar vir volgehoue deursettingsvermoë om iets besonders op 2 meter te bereik.

Barney Joel Trofee
Vir enige lid van die SARL vir die beste prestasie op HF deur ‘n mobiele stasie. Dié toekenning kan aan ‘n individu toegeken tydens ‘n tydren of ander openbare kommunikasiegeleentheid, ensovoorts.

Icom-toekenning vir uitnemendheid
Vir ‘n amateur wat deur sy/haar aktiwiteite internasionale erkenning vir amateurradio in Suid-Afrika besorg het deur langafstand BHF-/UHF-langafstandwerking, of deur diens aan die Republiek van Suid-Afrika op die veld van wetenskaplike navorsing in Amateurradiospektrum, of deur die bevordering van amateurradio internasionaal, of van tyd tot tyd deur die Raad bepaal.

Joseph White-skild
Vir enige lid van die SARL vir buitengewone prestasies In die 432 MHz-band deur die afgelope jaar. Dit word nie toegeken vir die langste afstand behaal nie, maar vir beste algehele prestasie.

Bert Buckley 6-metertrofee
Vir ‘n amateur vir sy/haar individuele prestasies in die 6-meterband. Hierdie trofee geld nie vir die langste afstand bereik nie, maar vir uitmuntende prestasies op die 6-meterband.

Klubs en individue stuur asb. u nominasies so gou moontlik aan secretary@sarl.org.za.

MOBIELE TV KOM NA SUID-AFRIKA.

Mobiele TV het in Suid-Afrika aangeland met die bekendstelling van ‘n uitsaainetwerk deur Multichoice, wat die hoof sentra in Suid-Afrika sal dek. Die volle digitale TV-netwerk is gemik op selfoon- en notaboek-gebruikers. ʼn Aantal selfone op die mark is alreeds opgestel om die nuwe TV-diens te ontvang wat uiteindelik 15 kanale sal ondersteun. Tans is daar 7 kanale by DSTV en 2 by E-TV.

Die strelsel gebruik etlike hoogliggende plekke in elke gebied wat ʼn enkel frekwensietransmissiestelsel genoem word. Alhoewel ʼn gekompliseerde sinkronisasiestelsel komplementeer elke posisie die ander. Dit beteken dat u miskien ʼn sein van verskeie posisies ontvang maar nie soos met analoogstelsels die seine mekaar steur nie maar ondersteunend werk om die beste ontvangs te verseker. ʼn “Dongle” wat ʼn Drifta genoem word is beskikbaar wat die sein, wat op ʼn notaboek of nie-mobiele TV-selfoon ontvang moet word, toelaat deur die wifi sender in die dongle ingebou.

RADIO ZS OP DIE WEB

Die September/Oktober-uitgawe van Radio ZS is vir aflaai op die web beskikbaar. ʼn Aantal produksievertragings is ondervind wat verdere vertragings veroorsaak het. Dit behoort binnekort in die pos te wees.

In dié uitgawe is ʼn interessante reeks artikels soos “Enkele Eksperimente met ʼn 741”, Die maak van ʼn QSL-kaart deur die gebruik van MS Power-Point, wat beteken die term “ham spirit” regtig? Moxon-Yagi balkantenna vir 20 en 15 m, Amateurradiosatelliet gaan in ruimte gedruk word en ʼn Universele PC/Radio tussenvlak vir digitale bedryf. Laai u kopie nou af. Indien u nie ʼn lid is nie en ʼn toetskopie wil hê, stuur ʼn e-pos aan armi@sarl.org.za met Radio ZS in die onderwerplyn.

Die November/Desember uitgawe sal gou gereed wees vir die drukker met ʼn afleweringsdatum teenmiddel-Desember.

KOMPETISIENUUS

RESULTATE VAN DIE 2DE SARL-RaDARKOMPETISIE

73 Roepseine is gedurende die kompetisie aangeteken. Bandtoestande vir langafstandkommunikasie was nie goed nie. Uit die logs wat ontvang is blyk dit die meeste aktiwiteit het op op 40 m plaasgevind, met ʼn paar LEO FM-satelliet-kontakte en een PSK-kontak op 20 m. al die ZS-afdelings was aktief. Die reën en ander omstandighede het dit moeilik gemaak om vir die hele 6 ure aktief te wees. Die donkerte het, in teenstelling met die winterkompetisie, eers teen die einde ingetree.

Slegs 6 logs is ingestuur en die resultate is as volg:

X1: Alle tuisstasies met gebruik van normale antennas en huiskrag:
Theunis, ZS2EC, (QRP) 25 punte.

X2: Alle tuisstasies wat nie van normale antennas en huiskrag gebruik gemaak het nie:
Geen inskrywings nie.

X3 : Draagbare werking d.w.s.: Weg van normale tuisstasie en sonder gebruik van huiskrag. Dit sluit alle mobiele stasies in.
Christo, ZR6LJK, (QRP) 75 punte;
Derek, ZS2J, (QRP) 66 punte.

X4: Ware RaDAR-draagbare bedryf wat nie van bestaande antennas of huiskrag gebruik gemaak het nie.
Geen inskrywings.

X5: Ware RaDAR draagbare bedryf soos bo met gebruik van QRP. Uitsetkrag beperk tot 5 Watt PEP.
Stephen, ZS6SKY, (QRP) 125 punte;
Eddie, ZS6BNE, (QRP) 100 punte;
Pierre, ZS6BB, (QRP) 75 punte.

Christo, ZR6LJK, het digitale modusse gebruik terwyl Eddie, ZS6BNE, en Stephen, ZS6SKY d.m.v. Satelliet kontak gemaak het, wat vir elkeen 5 bonuspunte vir hul eerste kontak besorg het.

Dit wil voorkom asof daar baie is wat die soort dinamiese kompetisie geniet, meer vir die plesier as vir die kompeterende aspek. Die manier van puntetoekenning is bygewerk vir toekomstige kompetisies en is in die “Blouboek” opgeneem.

HF VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 127 bly onaktief. 'n Klein, nuwe sonvlek het sy verskyning gemaak en behoort binnekort Nr 1 128 gedoop te word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20-m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met Australië is met sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die laat middag en vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolf-entoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer.

Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag 28 November - JD-net begin om 15:00 SAT in Pretoria op 145,750 MHz;
5 Desember – Integnet om 19:30 – Debat oor innovasie in amateurradio;
20 Januarie 2011 - Sluitingsdatum vir indiening van beursaansoeke vir Mei 2011 RAE, besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms;
30 Januarie 2011 - Sluitingsdatum van Fase 1 van die konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om interessante nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Afrikaans en Engels - na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending ("podcast") waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is. Die bulletinredakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003