Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 12 DESEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SUID-AFRIKA KRY SY EIE NASA

TWEE NUWE SATELLIETPROJEKTE VIR SA

HABEX 3 OP 18 DESEMBER 2010 GELANSEER TE WORD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

SUID-AFRIKA KRY SY EIE NASA

Die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor, het op Donderdag 8 Desember die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (South African National Space Agency afgekort SANSA) offisieel tydens ’n galageleentheid in Midrand gelanseer. Sy het gesê die primêre mandaat, egter nie die alleenmandaat nie, van SANSA is die implementering van Suid-Afrika se Nasionale Ruimteprogram en om die regering te lei in belegging in ruimtewetenskap en –tegnologie.

Die doel is om die land se ruimteaktiwiteite te integreer en te bestuur vir die beste nut en ’n effektiewe, volhoubare, langtermyn nasionale ruimteprogram in ooreenstemming met Suid-Afrika se sosio-ekonomiese planne in werking te stel.

In antwoord op ’n vraag deur die SARL tydens die media-inligtingsessie of SANSA die amateurradiosatellietprogram sal ondersteun het die Hoof Uitvoerende Beampte van SANSA gesê:”definitief, die radioamateurs is deel van ons planne”.

TWEE NUWE SATELLIETPROJEKTE VIR SA

SA AMSAT sal twee-twee satellietprojekte lanseer, beide CubeSats, maar met totaal verskillende ontwerpbenaderings en tydskale.

Die eerste projek sal fokus op die voorsiening van ’n FM-transponeerder wat met die meeste verbyvlugte oor Suid-Afrika beskikbaar sal wees en binne ’n kort tydsverloop lanseer sal word.

Die tweede projek, genoem SAiSAT sal fokus op ’n innoverende benadering tot die ontplooiing van uitvou sonpanele. Die projek is daarop gerig om Meestersgraad- en Ph.D.-studente betrokke te kry in die ontwikkeling en ontwerp van verskillende loonvragte en substrukture. ’n Gedetailleerde inligtingstuk oor SAiSAT gedurende die volgende twee weke op www.amsatsa.org.za beskikbaar gestel word.

Die FM-transponeerder, wat nog ’n naam moet kry, sal gebaseer word op ’n standaard beskikbare ruimteraamwerk en subsisteem met ’n plaaslik ontwerpte loonvrag. Die projek sal deur Hannes Coetzee, ZS6BZP, gekoördineer word.

SA AMSAT nooi radioamateurs wat in satelliete belangstel uit om by die projekspan aan te sluit. Die span se eerste vergadering sal teenmiddel Januarie per telekonferensie plaasvind.

Ten einde lid van die projekspan te word, stuur asb. u volle besonderhede, ’n beskrywing van u kundigheid in elektronika, kommunikasie, satellietvolging, programmatuur-ontwerp, antennaontwerp en enige ander velde van kundigheid wat die projek kan ondersteun. In ware amateurgees moet deelnemers entoesiasties wees. Benewens tegniese ondervinding benodig die span ook radioamateurs met bestuurs-, finansiële en kommunikasievaardighede. Stuur u besonderhede aan saamsat@intekom.co.za teen 31 Desember 2010. U sal gedurende vroeg Januarie aangaande die besonderhede van die telekonferensie in kennis gestel word.

Beide satellietprojekte sal die onderwerpe van lesings wees wat tydens SA AMSAT se Ruimtesimposium op 26 Maart 2011 by Vodaworld gehou sal word.

HABEX 3 OP 18 DESEMBER 2010 GELANSEER TE WORD

Die HABEX-span sal die derde hoëvlugballon op 18 Desember 2010 lanseer. Dit sal verskillende loonvragte dra tot voorbereiding vir ’n lansering vir skole in 2011.

Die loonvrag sal bestaan uit 4 aparte modulêre eenhede wat ’n in die 40 m-band insluit wat ’n boodskap in GG op 7 023 kHz sal uitsaai. HABEX se vlugroete sal lewendig via internet gevolg kan word. Gaan na “aprs.fi” en tik zs6sci-3 in die kassie vir “track callsign”.

Verkry volle besonderhede van www.amsatsa.org.za/habex.htm.

WENNERS IN DIE ZS85SARL SE VELDDAGKOMPETISIE

Tydens die onlangse velddag is 111 kontakte met ZS85SARL gemaak. Die wenner in die gelukstrekking in die kategorie vir SARL-lede is Andre Botes, ZS2ACP. Sy prys, ’n hardebanduitgawe van die ARRL se handboek sal hierdie week in die pos wees. Veels geluk Andre. Die wenner in die kategorie vir nielede is ZS5IE, I D McAllister. ZS5IE sal vir ’n jaar gratis lidmaatskap van die SARL ontvang. Welkom in ons geledere.

SARL-KANTOOR VIR VAKANSIETYD GESLUIT

Die SARL se kantoor sal gedurende die somervakansie vanaf Maandag 13 Desember gesluit wees en sal weer op Woensdag 12 Januarie 201 heropen. Vir dringende sake stuur asb. e-pos aan secretary@sarl.org.za.

LIDMAATSKAP MIK NA 1 500

Die huidige lidmaatskap is 1 465, heel goed op pad na 1 50. Indien u nognie hernu het nie, is dit nou die tyd om dit te doen. Bel Mariska nog op Maandag, die laaste kantoordag vir hierdie jaar, die nommer is 01 675 2393.










HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlekke 1 131 en 1 133 hou uit met hulle stille bestaan. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 25 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met Australië is gedurende laatmiddag op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met opening na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer.

Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 Desember – Lansering van derde HABEX hoëvlugballon, papegaaiherhaler op
438,500 MHz en GG-baken op 7 023 kHz, besonderhede op
www.amsatsa.org.za/habex.htm;
31 Desember – Laaste dag vir indiening van logstate vir die PEARS HF QSO-
geselligheid aan contest@pears.ham-radio-op.net;
31 Desember – Laaste dag vir indiening van besonderhede vir insluiting as lid van SA AMSAT se satellietprojekspan aan saamsat@intekom.co.za;
20 Januarie 2011 - Sluitingsdatum vir indiening van beursaansoeke vir Mei 2011 RAE, besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms;
20 Januarie - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir referate en opsommings vir Ruimtesimposium 2011 na saamsat@intekom.co.za;
30 Januarie 2011 - Sluitingsdatum van Fase 1 van die konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om interessante nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Afrikaans en Engels - na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending ("podcast") waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George,ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003