Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 26 DESEMBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SARL-KURSUSSE

TOEKENNING VAN NUWE LF AMATEURRADIOBAND MAG BY WRC 2012 VERSOEK WORD

HABEX BEHAAL SY EERSTE GROOT SUKSES

IS DAAR ’n LES IN TEGNOLOGIE VIR AMATEURRADIO IN DSTV-MOBIEL?

Besonderhede van die eerste kursus wat in 2011 aangebied sal word, is nou op www.sarl.org.za beskikbaar. Die kursus gaan oor die programmering van PIC’s en sal op Saterdag 29 Januarie by die Nasionale Amateurradiosentrum van die SARL aangebied word. Die kursus is oop vir almal wat meer oor die programmering van PIC’s wil leer. Vir SARL-ledegeld ’n afslagtarief.

TOEKENNING VAN NUWE LF AMATEURRADIOBAND MAG BY WRC 2012 VERSOEK WORD

Newsline rapporteer dat die ITU Streek 3 heel waarskynlik ’n voorstel sal steun vir die toekenning van ’n nuwe lae frekwensie naby 500 kHz aan amateurradio.

Die Asia Pacific Telecommunity, of APT, is tans die gas vir ’n vergadering van die gebied se telekommunikasieowerhede. Dit is een van ’n reeks vergaderings wat daarop gemik is om eenvormige standpunte tot stand te bring vir die hele Streek 3 voordat die Wêreldradiokommunikasiekonferensie vroeg in 2012 in Geneve gehou word.

Item 1.23 van die WARC-agenda is van besondere belang vir die amateurgemeenskap. Dit is ’n aansoek vir ’n toekenning van ongeveer 15 kHz in gedeeltes van die band 415 tot 525,6 kHz op ’n sekondêre basis aan die amateurradiodiens.

Verteenwoordigers van die ITU Streek 3 woon hierdie voorbereidende vergaderings as waarnemers by. Dit word nie verwag dat hierdie besondere vergadering ’n finale standpunt sal inneem nie, maar, dit is ’n belangrike stap in die proses wat lei tot besluite wat tydens WRC 2012 met betrekking tot enige nuwe Lae Frekwensie band vir die amateurradiodiens geneem sal word.

HABEX BEHAAL SY EERSTE GROOT SUKSES

Die hoof loonvrag van die HABEX het ’n hoogte van meer as 33 000 m bereik voordat dit na die grond teruggekeer het. Die papegaaiherhaler was die hoogtepunt van die dag met baie radioamateurs wat kontakte so vêr as Harrismith en Victoria-Wes gemaak het.

Die ballon is om 07:10 gelanseer en het aan die begin in ’n algemeen suidelike rigting beweeg en later suid-oos gedraai. Net suid-wes van Koppies, op ’n hoogte van ongeveer 18 00 m, het die ballon heeltemal van rigting verander en direk weswaarts in die rigting van Bothaville beweeg. Dit was op hierdie stadium dat die ballon gebars het.

Herwinningspanne wat die ballonvlug gevolg het, het op die herwinningsterrein toegesak en op die grond die soektog begin. Ongeveer ’n uur later is die loonvrag in die land van ’n boer opgespoor. Ongelukkig was die vlug van die tweede ballon wat ’n eenvoudige beheerbord en hulptoerusting gedra het onsuksesvol. Die projek was egter ’n verdere stap op die leerkurwe vir die span wat vir verdere lanserings sal staatmaak op die kennis wat opgedoen is.

IS DAAR ’n LES IN TEGNOLOGIE VIR AMATEURRADIO IN DSTV-MOBIEL?

Multichoice het ’n groot taak verrig om die regte tegnologie te kies om vir sy mobiele diens ’n goeie sein oor ’n groot geografiese gebied te lewer. Is daar vir amateurradio ’n les hieruit te leer?

DSTV-Mobiel het ’n netwerk van gesinchroniseerde senders aangewend wat almal identiese seine op dieselfde frekwensie uitsaai. In ’n enkelfrewkwensienetwerk ontvang die ontvanger seine van verskillende senders wat op hoë plekke in die dekkingsgebied geleë is. Onder normale omstandighede sou hierdie seine mekaar steur aangesien hulle weens voortplantingspadvertragings op verskillende tye by die ontvanger aankom.

Deur die gebruik van kort, beurtelingse uitsendings en tyd- en frekwensiesinchronisering sowel as die voorsiening van ’n waaktydinterval, word seine wat gedurende die waaktyd arriveer as konstruktief gereken en dra hulle tot die seinsterkte by. Seine buite die waaktyd word verwerp.

Die stelsel kan beskou word as soortgelyk aan diversiteitsontvangs wat vir kortgolfdienste aangewend word. Ontvangsantennas is ’n kort afstand uitmekaar ten einde kwyning te verminder en beter ontvangs te verseker. Die diversiteitsbeginsel was by die radiostasie te Olifantsfontein gebruik wat in die vroeër dae vir telefonie na oorsee gebruik is voordat satelliete en ondersese kabels ’n werklikheid geword het.

Hoe lyk dit om dit as ’n innovasieprojek te beskou? Gaan na www.amateurradio.org.za vir kompetisiebesonderhede.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Die sigbare gedeelte van die son is nou al vir meer as 6 dae sonvlekloos. Ou sonvlek 1 132 sal hopelik binnekort weer terug in die aarde se gesigsveld roteer. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 15 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met Australië is gedurende laat middag op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer.

Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

31 Desember – Laaste dag vir indiening van logstate vir die PEARS HF QSO-
geselligheid aan contest@pears.ham-radio-op.net;
31 Desember – Laaste dag vir indiening van besonderhede vir insluiting as lid van SA AMSAT se satellietprojekspan aan saamsat@intekom.co.za;
20 Januarie 2011 - Sluitingsdatum vir indiening van beursaansoeke vir Mei 2011 RAE, besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms;
20 Januarie - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir referate en opsommings vir Ruimtesimposium 2011 na saamsat@intekom.co.za;
30 Januarie 2011 - Sluitingsdatum van Fase 1 van die konstruksiekompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om interessante nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Afrikaans en Engels - na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending ("podcast") waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George,ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003