Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 2 JANUARIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Ons kondig met leedwese aan dat die sleutel van Scotty Vallance, ZS5SV, ’n lid van die Highway-amateurradioklub, op 29 Desember 2010 stil geraak het. Ons innige meegevoel gaan aan sy vrou, Merle, gesin en vriende in hierdie moeilike tyd.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL STEL VOORLEGGING OP VIR GROTER 160 METERTOEKENNING

GROOT PROJEK OM SARL-DATABASIS SKOON TE MAAK

BESPREEK NOU VIR PIC-KURSUS IN GAUTENG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL STEL VOORLEGGING OP VIR GROTER 160 METERTOEKENNING

Die SARL wil groter toegang tot die 160 meterband vir amateurkommunikasie in Suid-Afrika bekom. U word uitgenooi om motiverings voor te lê oor waarom dit nodig is om die uiters eng toekenning wat tans aan Suid-Afrikaanse amateurs beskikbaar is, uit te brei. Sluit asseblief items in soos voortplantingstudies en noem die voordele wat ’n uitgebreide 160 metertoekenning inhou. Stuur die inligting teen die end van Januarie aan zs6akv@sarl.org.za. Die SARL-voorlegging word in Februarie 2011 op die volgende gesamentlike vergadering van die SARL en OKOSA voorgelê.

GROOT PROJEK OM SARL-DATABASIS SKOON TE MAAK

Die SARL-databasisadministrateur, Colin de Villiers, ZS6COL, en ’n span vrywilligers werk aan die SARL-databasis. Hulle werk die roepseinboek by en stel talle roepseine vry wat blykbaar vir baie jare nie meer gebruik word nie.

Die SARL hou ’n databasis van lede in stand by die SARL-kantoor by die Nasionale Amateurradiosentrum. Die databasis word gebruik om lede-inskrywings te bedryf, etikette vir die verspreiding van Radio ZS te skep en AJV-kommunikasies aan lede te stuur. Dit sluit duplikaatroepseine van lede en roepseine vir spesiale gebeurtenisse in. Die besonderhede van Stil Sleutels word ook vir ’n aantal jare gehou, omdat QSL-kaarte soms tot 10 jaar na ’n bepaalde kontak ontvang word. Die databasis help sodoende om die QSL-buro doeltreffend te bedryf. ’n Teksboodskapfunksie is ook onlangs ingevoer om lede in die verskillende streke te laat weet van SARL-geborgde gebeurtenisse in hul omgewing.

Lede kan ons help om die databasis skoon te maak. Doen asseblief die volgende:
1) Gaan na die roepseinboek op die webwerf en kontroleer u roepseininligting. Die span het talle regstellings aan die databasis aangebring en ons wil verseker dat geen foute ingesluip het nie.

2) As u vind dat u roepsein nie in die roepseinboek op die webwerf verskyn nie, en u weet dit was voorheen daar, beteken dit dat u een van die 650 mense is wie se roepsein die span uit die roepseinboek verwyder het omdat die OKOSA-databasis toon dat u nie gelisensieer is nie. Slegs roepseine waarvoor daar vir 16 jaar geen aktiwiteit aangeteken is nie en waar OKOSA toon dat die lid vir die meeste van daardie tydperk nie gelisensieer was nie, is verwyder.

As u voel dit is nie korrek nie, met ander woorde, as u ’n geldige, opbetaalde 2010-lisensie het, stuur asseblief vir Colin ’n geskandeerde kopie van u lisensie om te laat nagaan. Die e-posadres is dataproject@sarl.org.za.

3) Moet asseblief nie namens iemand anders kommunikeer tensy u ’n kopie van die persoon se lisensie kan voorlê nie. Ons kan slegs reageer op kommunikasies wat sulke bewyse bevat.

U kan volle besonderhede van die proses gaan nalees op die tuisblad by www.sarl.org.za.

BESPREEK NOU VIR PIC-KURSUS IN GAUTENG

Die SARL bied vanjaar wees sy gewilde kursus aan oor hoe om met programmeerbare geïntegreerde kringe, ook bekend as PIC’s, te werk, hulle te programmeer en in projekte te gebruik.

Net twee PIC-kursusse word in 2011 aangebied, op 29 Januarie in Gauteng en op 16 Julie in Kaapstad. U kan nou vir die Gauteng-kursus bespreek. Gaan na www.sarl.org.za en kies RTA op die linkerkantste keuselys en volg die skakels.

IS U ’N KORTGOLFLUISTERAAR?

Talle veranderinge word later vandeesmaand aangebring aan Amateur Radio Mirror International (ARMI). Dit behels ’n naamsverandering, nuwe webblaaie en nuwe eienskappe. Die SARL soek ’n geesdriftige kortgolfluisteraar om ’n vyfminutegeselsie oor alle aspekte van kortgolfluister aan te bied. As u lus het vir die uitdaging en graag u eie gereelde radiorubriek wil aanbied, e-pos armi@sarl.org.za tesame met u telefoonnommer. Ons sal u kontak om die besonderhede en logistiek te bespreek.

SATELLIETVERGADERING IN GAUTENG

Eddie Leighton, ZS6BNS, bied Saterdag 15 Januarie om 10:00 ’n vergadering oor satelliete aan by die Nasionale Amateurradiosentrum. Leer meer oor die werking van amateursatelliete, hoe om ’n eenvoudige satellietantenna te bou, hoe om te spoor, en al die geheime van hierdie boeiende aspek van amateurradio. U sal ook hoor hoe kan u betrokke raak in die SA AMSAT CubeSat-projek.

Die Nasionale Amateurradiosentrum is in die Sender-tegnologiepark, Radiokop, Roodepoort.

HUNTING LIONS IN DIE LUG

Die radioamateurs en die Lionsklub van Eshowe beplan om Saterdag 15 Januarie te gebruik as 'n geleentheid vir Lionsklubs om groetewense uit te ruil deur middel van amateurradio. Die geboortedag van die stigter van die Lionsorganisasie, Melvin Jones, gebore in 1879 in Ft. Thomas, Arizona, VSA, word op 13 Januarie gevier.

Die Eshowe Lions sal vanaf 14:00 SAT op die lug wees en wil graag met ander Lions- en radioklubs kontak maak in Suid-Afrika en/of die res van die wêreld - geen pryse nie - maar ruil QSL-kaarte en maak nuwe vriende.

As daar Lions- en radioklubs oor die land is wat belangstel om by die Eshowe Lions aan te sluit op 15 Januarie 2011, kontak asseblief vir Willie, ZS5WI, by e-pos zs5wi@telkomsa.net, en gee u inligting deur aan hom.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. 2010 is afgesluit met 'n skielike verskyning van nuwe sonvlekke. 'n Sonvlek het in die Aarde se gesigsveld roteer en terselfdertyd het drie nuwe sonvlekke hulle verskyning gemaak. Dit wil voorkom of ten minste een van hierdie sonvlekke teen 'n gesonde tempo groei. Mag 2011 vir ons almal vol sonvlekke wees! Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe bruikbaar wees. Kontakte met Australië is gedurende die laatmiddag op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer.

Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Januarie – Hunting Lions op die lug vanaf 10:0 SAT;
15 Januarie – Satellietvergadering om 10:0 by die NARS;
20 Januarie 2011 - Sluitingsdatum vir indiening van beursaansoeke vir Mei 2011 RAE, besoek www.amateurradio.org.za vir aansoekvorms;
20 Januarie - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir referate en opsommings vir Ruimtesimposium 2011 na saamsat@intekom.co.za;
29 Januarie – PIC-kursus in die NARS in Gauteng;
30 Januarie 2011 - Sluitingsdatum van Fase 1 van die konstruksiekompetisie;
31 Januarie – U redes vir groter 160 m-band moet in wees aan zs6akv@sarl.org.za;

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om interessante nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Afrikaans en Engels - na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending ("podcast") waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE, en vertaal en geredigeer deur Hester van der Walt.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003